Suid-Afrika se tweede klag by die Wêreldhof: Israel pleeg volksmoord

  • 7

Volksmoord het deel geword van Israel se arsenaal van staatsgeweld. Om dit duideliker te stel: Die staat Israel probeer doelbewus om die Palestyne uit te roei. So lui die klag wat Suid-Afrika op 28 Oktober 2024 by die Internasionale Geregshof, die hoogste hof van die Verenigde Nasies, aanhangig gemaak het.

Dié hof, ook bekend as die Wêreldhof, is in Junie 1945 gestig, kort na die beëindiging van die Tweede Wêreldoorlog waarin die Nazi-bewind ses miljoen Europese Jode en vyf miljoen ander uitgemoor het. Genoside of volksmoord behels die doelbewuste totstandbringing van toestande om ’n nasionale, etniese, rasse- of godsdienstige groep mense, in die geheel of gedeeltelik, uit te wis.

Dis die tweede maal binne ’n jaar dat Suid-Afrika vir Israel aankla. Vroeër vanjaar, op 26 Januarie, het die Internasionale Geregshof Suid-Afrika se aanklag dat Israel moontlik volksmoord pleeg, toegestaan. Die hof het toe vir Israel beveel om dringend alles moontlik te doen om (a) die genoside van die Palestyne en (b) enige aanhitsing daarvan te verhoed. Israel moes ook (c) dadelik en doeltreffend sorg vir dringende basiese dienste en humanitêre bystand in die Gaza-strook.

In daardie stadium was die ontworteling, verminking, dood en ontbering van die sowat 2,1 miljoen Palestyne in die smal strook van 41 km lank en 6 tot 12 km breed reeds katastrofies. Teen November laas jaar het Israel reeds die ekwivalent van twee kernbomme op die digbevolkte area losgelaat.

Dis nou agt maande later. Israel se verskroeide aarde-beleid woed voort en die staat het al die hof se opdragte verontagsaam. Trouens, Israeliese politici, joernaliste, militêre bevelvoerders en andere gaan ongebreideld voort om die uitroei van die Palestyne aan te hits. Daar is honderde voorvalle opgeteken waarvan ek ’n paar voorbeelde noem:

7 Februarie 2024: It’s like you took a glass cup, and hit it with a hammer, now you have shards, then you hit the shards again and again until you’re left with [small] squads or individuals – and that’s what we’re doing. (Benjamin Netanyahu, eerste minister)

12 Februarie 2024: We only deal with terrorists in Gaza, the ones who got shot probably deserved it. (Nissim Vaturi, adjunk-speaker van die Knesset)

21 April 2024: These people there deserve death. A hard death, an agonizing death [...]. There are no innocent people there in the Gaza Strip. (Yehuda Schlesinger, joernalis)

29 April 2024: Moments before redemption, we must not hesitate. We must destroy Rafah, Nusseirat, and Dir al-Balah, wipe out the memory of Amalek! […] There’s no half- measure – Rafah, Dir al-Balah, Nusseirat – absolute destruction! (Bezalel Smotrich, minister van finansies)

14 Junie 2024: I prefer that North Gaza until further notice will be unpopulated area [...]. I wouldn’t object seeing [Israeli] tractors plowing fields of Khirbet Khizea. I think there’s poetic justice in that. (Amichai Chikli, minister van diaspora sake)

Die Gaza-strook se ekosisteem – die lug, bo- en ondergrondse water, landbougrond en meer – is bykans onherstelbaar beskadig en vergiftig deur lugaanvalle, swaar voertuie en bomme en ammunisie met wit fosfor. Sedert Januarie 2024 is nog derduisende Palestyne, meestal vroue en kinders, vermoor – meer as 40% hiervan kinders volgens die VN se Menseregte-kantoor. Nog nooit het soveel kinders in een gebied soveel ledemate verloor nie. Die kinders “hoop” nou bloot dat wanneer die bomme hulle tref, hulle sal sterf met ’n liggaam wat nog in een stuk is.

Die titel van Suid-Afrika se huidige klag dat Israel beslis volksmoord pleeg stuur daarom koue rillings deur my: The Memorial (Die Gedenkteken). Teen die tyd dat die Wêreldhof in Den Haag een of meer uitsprake lewer, sal nog derduisende kinders, vrouens en mans in Gaza dood en vermink wees. Israel mag tot Julie 2025 teenargumente voorberei. Eers dan volg die mondelinge aanhoor van getuienis. Die saak kan dus jare duur.

Suid-Afrika se regspan, in samewerking met ’n professor in internasionale reg en ’n Britse advokaat, bestaan uit byna 100 kundiges. Hulle het vir meer as nege maande lank inligting versamel met nog en nog bewyse wat daagliks ingestroom het. Die omvattende dokument van 750 bladsye, met bylaes en besonderhede op ’n verdere 4 000 bladsye, toon aan dat Israel bedoel om genoside te pleeg. Met ander woorde, Israel se militêre aanslag op die Palestyne is nie lukraak of bloot dade van individue nie. Dis programmaties en aangevoor deur die staat self.

’n Optog in Kaapstad in 2014 tydens ’n vorige oorlog op Gaza (Foto: Marthie Momberg)

Volgens Zane Dangor, direkteur-generaal van die Departement van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, is Suid-Afrika se saak waterdig. Die dokument se presiese besonderhede mag nie bekend gemaak word nie, maar volgens ’n persverklaring van die presidensie toon dit aan dat Israel nie die aanhitsing of die implementering van volksmoord keer nie. Inteendeel, Israel roei die Palestyne (veral kinders, swanger vroue en babas) in Gaza uit met ’n verskeidenheid van militêre toerusting en ander maniere wat oorlewing bemoeilik, soos om huise en noodsaaklike infrastruktuur te vernietig en die mense sonder kos, water, skuiling, gesondheidsdienste en humanitêre hulp te laat.

Etniese suiwering en propaganda was van die begin af deel van die Joodse Sioniste se plan. Toe Theodor Herzl die Sionistiese beweging in 1897 in Europa gestig het, het Jode, Moslems, Christene, Druze, ateïste en andere al eeue lank vreedsaam in Palestina saamgeleef. Maar Europese Sioniste soos Herzl en David Ben-Gurion wou nie inskakel by dié Palestynse samelewing nie. Hulle wou ontslae raak van almal wat nie Joods is nie en alle bates en grond oorneem. Teen 14 Mei 1948 toe Ben-Gurion die Sionistiese staat afkondig op 78% van die destydse Palestina, was sowat 85% van die destydse Palestynse bevolking vlugtelinge. Sedertdien, jaar in en jaar uit, het dinge vir die Palestyne meer benard geraak: dunum vir dunum, wet vir wet. Ek het reeds hierdie geskiedenis elders op LitNet bespreek, en wil hier twee ander punte uitlig:

1. Diegene wat meen dat Netanyahu en sy regering nie ’n plan het nie, slaan die bal mis. Israel gebruik Hamas se inval van 7 Oktober 2023 as ’n verskoning om nou die Gaza-strook volledig te konfiskeer, sonder die mense.

2. Gaza was tot laas jaar ’n vlugtelingkamp en die grootste opelug tronk ter wêreld. Dis nou ’n uitwissingskamp. Israel se web van staatsgeweld teenoor Palestyne behels nie meer “net” etniese suiwering, setlaar-kolonialisme, besetting en apartheid nie. Daar is nou ’n nuwe term op die tafel: volksmoord, oftewel genoside.

Ek wil dit duidelik stel: Israel het nie ’n reg op “selfverdediging” teenoor die Palestyne nie. Wanneer een staat ’n ander se grondgebied beset soos wat Israel met die Palestynse gebiede doen, dan geld die reg op selfverdediging nie. Anders gestel, volgens Artikel 51 van die VN-verdrag mag een land nie ’n ander gebied beset en dan selfverdediging pleit as die onderdruktes weerstand bied nie. Dus, Israel mag onder geen omstandighede militêre aanvalle rig op Gaza, die Wesoewer en Oos-Jerusalem nie. Israel mag wel wetstoepassing gebruik om burgerlikes binne sy eie grense te beskerm teen aanvalle soos dié van Hamas op 7 Oktober 2023. Maar daar is ’n reuseverskil tussen wetstoepassing en militêre aanvalle.

’n Mens moet ook onthou dat enige besetting van ander mense se grondgebied veronderstel is om van korte duur te wees. Trouens, volgens internasionale reg moet Israel as besetter na die welsyn en belange van die Palestyne omsien. En die Palestyne, as die besette party, het ’n wettige reg op gewapende verset om hulself te bevry van oorheersing solank hulle nie burgerlikes teiken nie. Dit het Hamas wel gedoen op 7 Oktober 2023 toe daar burgerlikes was onder die 1 139 mense wat op daardie dag in Israel gesterf het. Israel se besetting van Palestina hou egter al so lank aan dat die Wêreldhof op 19 Julie 2024 bevind het dat dié besetting onwettig is. Hierdie uitspraak plaas ’n vraagteken selfs op Israel se reg tot wetstoepassing.

Dis die eerste maal dat aantygings van volksmoord voor ’n internasionale tribunaal gelê word terwyl dit nog besig is om te ontvou. Dit verdiep die internasionale implikasies, want Israel is dalk nie alleen aandadig aan die wandade nie. Terwyl die uitwissing van Gaza voor ons oë uitspeel, verskaf lande soos die VSA, Duitsland, Denemarke wapens aan Israel. België, Brittanje, Italië, Kanada, Nederland en Spanje wat dieselfde gedoen het, het intussen hulle verkope gestaak of verminder. Dan is daar die ondersteuning van die breë publiek. Dis skrikwekkend dat soveel mense glo dat “Israel God se volk” is – asof ’n suiwer bloedlyn deur derduisende jare moontlik is. Het Hitler nie ’n soortgelyke siek argument gebruik om nasionaal-sosialisme en die uitmoor van Europese Jode te regverdig nie? Judaïsme is nie die probleem nie, Sionisme is. Sionisme weerspreek die lesse van die Tweede Wêreldoorlog: dat geen groep mense ooit weer gedeeltelik of in die geheel uitgeroei mag word nie. Alle Jode is egter nie Sioniste nie. Hoewel in die minderheid, is hulle stemme van kritiese belang. “Israel tree selfdestruktief op” en “help ons om ons van onsself te red deur die Palestyne te bevry,” pleit hulle.

Sake soos ons regering se versuim in 2015 om op te tree teenoor die voormalige Soedannese president Omar al-Bashir, die verwarrende reaksie op Rusland se inval in Oekraïne en die versuim om doeltreffend basiese dienste aan ons eie landburgers te bied, moet sekerlik gekritiseer word. Maar beteken dit dat ons iets anders wat ooglopend verkeerd is, nie mag aanmeld nie?

Daar kan en moet veel meer gedoen word as ’n klag by die Wêreldhof. Die Palestynse publiek het die wêreld reeds in 2005 gevra om boikotte, disinvestering en sanksies teen Israel in te stel. Maar die wêreld het dié oproep grootliks geïgnoreer. Toe gaan Hamas oor tot geweld en nou gebruik talle dit as ’n rede om Palestyne verder te verfoei. Dis hoogtyd om dinge te sien soos dit is. Nie net die Palestyne word bedreig nie. Die integriteit van die res van die wêreld en ons wil om hierdie groteske mensgemaakte onreg te stop is ook op die spel.

Lees ook in LitNet Akademies (Geesteswetenskappe):

Sionistiese propaganda (hasbara) of morele integriteit? President Joe Biden oor die Israel-Hamas-oorlog van 2023

Israeliese en Suid-Afrikaanse burgers se redes vir toetrede tot die Palestynse stryd

.

.

Kyk en lees ook op LitNet:

.

.

.

.

.

.

.

.

How to consider the ICC prosecutor’s request for arrest warrants

.

.

.

.

  • 7

Kommentaar

  • Gerhard Genis

    Marthie, dankie vir die artikel. Ek worstel al lank met die Palestyne se volksmoord en het amper heeltemal my vertroue in die mensdom verloor. Dit lyk op die stadium dat Israel met steun van die VSA en andere dit gaan regkry om die Palestyne uit te wis. Ek probeer my uiterste frustrasie uit te leef om, soos jy, daaroor te skryf. Ek is besig met 'n artikel oor die Palestynse gedigte oor die Nakba. Ek gaan definitief jou boek lees.

  • Johann van Heerden

    Ek dink wat in Gaza, Israel en Libanon gebeur is afgryslik. Ek wens dit niemand toe nie. Maar, wat doen 'n staat (Israel) as hy aangeval word deur 'n ander staat (Gaza en Libanon)? Onthou die mense van Gaza en Libanon het dit ooglopend toegelaat, en selfs toegejuig, dat mense gedood, ontvoer en gyselaar gehou word. Beide Gaza en Libanon skiet ook steeds vuurpyle af op Israel. Moet Israel nou sy soldate tot hulle dood stuur in beboude gebiede met gevaarlike mense en wapens? Hamas en Hezbola kan kapituleer en die gyselaars ongedeerd vrylaat. As dit gebeur het, sou daar lankal vrede gewees het. Ek sien dus geen ander keuse as die werkswyse van Israel nie. Jammer. In oorloë ly onskuldiges altyd. Dit moes die mense wat dit begin het, geweet het. Maar hulle wil dit dalk so hê sodat naïewe mense kan skrywe en betoog. Ek staan by Israel.

  • Marthie Momberg

    Gerhard, dankie vir jou reaksie. Ek sal graag ook jou artikel lees. Gaan jy dit hier op LitNet publiseer?

  • Marthie Momberg

    Johann, Gaza is nie 'n staat nie, maar word al dekades beset deur Israel. Ek verduidelik dit in die artikel, ook wat internasionale reg bepaal m.b.t. gewapende weerstand in die geval van besetting.

  • Johann van Heerden

    Israel het nie tans Gaza beset nie. Hoekom het Egipte sy grens met Gaza toegemaak en gehou? Wat is die doel van al die tonnels en fortifikasies? Keur u hulle optrede op 7 Oktober goed?

  • Hoe Kafkaesk van die ANC-kabaal om met gruwelik-valse aanklagte (lees: propaganda) teen die legitieme eienaars van Gaza sowel as van Samaria en Judea (die sg. "Wesbank") te probeer toesmeer dat hulle self bedmaatjies met die uiters wrede Rooi Chinese diktatuur is - dis nou die land waar egte misdade teen die mensdom 'n daaglikse werklikheid is.

    En waar is hul protesaksies teen die wreedaardige behandeling en onderdrukking van vroue deur hul liewe vriend, Iran?

    In elk geval waar op aarde is die veelgeroemde "Palestina" en wie is die sg. "Palestyne"?

    Nee wat: Am Yisrael Chai!

  • Marthie Momberg

    Israel beset Gaza, en die res van Palestina, reeds vir dekades. As jy bevestiging hiervan benodig, besoek gerus die VN se webwerf. Dis: https://www.ochaopt.org/. En as jy by 'n boekwinkel kom, kan jy deur 21 Voices blaai en lees dat nie-Sionistiese Jode van Israel en Suid-Afrika hierdie besetting ("occupation") en Israel se imperialisme skerp kritiseer. Redelik aan die begin van die boek is daar vier kaarte wat 'n grafiese oorsig bied van hoe Israel deur die jare Palestina oorgeneem het.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top