Wat sê Bettina? Vroueregte in 2025

  • 0

Gisèle Pelicot is ’n 72-jarige Franse vrou wat gedurende 2024 ’n huishoudelike naam geword het nadat haar man en 50 ander mans aangekla was daarvan dat hulle haar oor ’n tydperk van nege jaar, tussen 2011 en 2020, verkrag het.

Haar man, Dominique Pelicot, het haar sonder haar wete verdowingsmiddels ingegee, ander mans uitgenooi om haar te verkrag, en die verkragtings verfilm. Die verkragtings het aan die lig gekom eers toe haar man gearresteer is nadat hy ander vroue in ’n plaaslike supermark ge-upskirt het, maw foto’s onder hulle rokke probeer neem het. Van die vroue het klagte gaan lê, en terwyl die polisie Pelicot se rekenaar deurgegaan het vir getuienis oor die upskirting, het hulle op beeldmateriaal van die verkragtings afgekom.

51 mans is aangekla van verkragting, alhoewel daar vermoed is dat soveel as 80 mans dalk betrokke kon gewees het. Die polisie was nie in staat om 20 mans positief te identifiseer nie. 47 mans is skuldig bevind aan verkragting, twee aan poging tot verkragting en twee aan seksuele aanranding. Die 51ste man is daaraan skuldig bevind dat hy sy eie vrou verdoof en verkrag het.

........
In die VSA het heelparty mans na Trump se verkiesingsoorwinning begin om “Your body, my choice” as ’n slagspreuk te gebruik.
........

Intussen het ’n jaar lange ondersoek deur die Duitse uitsaaier ARD en hul ondersoekspan STRG_F ’n Telegram-groep ontmasker waar tot 70 000 mans  in verskeie lande inligting gedeel het oor maniere om vroue te verdoof met die doel om hulle te verkrag. Hulle het na beweer word inligting gedeel oor waar om die regte verdowingsmiddels te bekom en  hoe om dit toe te dien. In sommige gevalle het die mans inligting gedeel oor wat hulle self gedoen het. Hulle het verder ook uitnodigings aan ander mans gerig om hulle vroue, susters, dogters, moeders en ander vroulike  lede van hul huishouding te kom verkrag. Hierdie ondersoek is gepubliseer op dieselfde dag dat die beskuldigdes in  die Pelicot-verhoor gevonnis is.

In die VSA het heelparty mans na Trump se verkiesingsoorwinning begin om “Your body, my choice” as ’n slagspreuk te gebruik. Dis ’n verwysing nie net na vroue se keuse om reproduktiewe sorg uit te oefen nie, maar veel meer basies ’n aanval op vroue se reg om nee te sê vir onwelkome seksuele toenadering. Trump self is daarvan beskuldig dat hy vroue verkrag het, en het met sy eerste presidensiële veldtog openlik gesê: “When you’re famous, you can grab them by the pussy.”

Steeds in die VSA het die aktrise Blake Lively siviele aksie begin teen haar medester en regisseur van die fliek It ends with us. Nie net beweer Lively dat Justin Baldoni haar seksueel geteister het op die stel van die fliek en op ander maniere die stel toksies gemaak het nie, maar sy lewer bewyse dat hy ’n openbareskakelwerkkenner aangestel het om haar reputasie te vernietig. Dis terloops dieselfde persoon wat deur Johnny Depp gehuur is om sy reputasie te herstel en in die proses Amber Heard se reputasie te vernietig. Lively, ’n gewilde glanspersooonlikheid, is aan ongekende negatiewe publisiteit onderwerp in die aanloop tot die bekendstelling van die fliek. Sy beweer dat dit deel was van ’n berekende veldtog om haar te straf omdat sy Baldoni gaan verkla het na sy teistering.

Dit laat die vraag ontstaan: As Blake Lively, ’n bekende glanspersoonlikheid met ’n baie bekende man, nie veilig is teen dié tipe georkestreerde aanvalle nie, watter kans het ’n minder bekende aktrise om geglo en veilig gehou te word indien sy oor haar behandeling op ’n filmstel sou kla?

.........
Vir die eerste keer in dekades wil dit voorkom asof vroue nou minder regsbeskerming het en blootgestel word aan meer gevare as geslagte vroue voor hulle. ’n Jong vrou in 2025 het minder regte as wat haar ouma in die 1950’s gehad het.
.........

Die effek van die veldtog verseker  dat ander klaagsters in die toekoms twee keer sal dink voor hulle ’n klag lê, uit vrees dat hulle eie reputasie beskadig sal word.

Die effek van die Pelicot-verhoor en die ADR-ondersoek is dat die wye omvang van die aantal mans wat hul eie eggenotes en ander familie aan seksuele geweld blootstel, oopgevlek is. Dit dui daarop dat daar in sommige dele van die samelewing, regoor die wêreld, oorlog tussen die geslagte is.

Vir die eerste keer in dekades wil dit voorkom asof vroue nou minder regsbeskerming het en blootgestel word aan meer gevare as geslagte vroue voor hulle. ’n Jong vrou in 2025 het minder regte as wat haar ouma in die 1950’s gehad het.

Dis nie nuut nie. Sedert 2021 is vroue in Afghanistan se regte feitlik vernietig. Hulle mag nie meer opgevoed word nie; hulle kleredrag word streng gereguleer. Onlangs is daar ook berig dat die Taliban opdrag gegee het dat alle nuwe wonings nie vensters mag inbou in dele waar vroue mag bymekaarkom nie, om obsene dade te verhoed. Hulle gaan verder en het gebied dat vensters in bestaande geboue wat uitkyk op areas waar vroue bymekaarkom, geblokkeer moet word of die uitsig op ander maniere versper moet word.

Dit lyk asof die Weste notas neem. ? Bedoel sy dit so, byna letterlik, of bedoel sy "taking note" soos in neem kennis of so iets?

Lees ook:

Wat sê Bettina? Nobs Mkhize en swart op swart rassisme

Wat sê Bettina? Kersfees in ’n oorlogsone

Wat sê Bettina? Empatie en die kerk

Trump en Zuma: katalisators vir vroulike aktivisme?

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top