Wat sê Bettina? Nobs Mkhize en swart op swart rassisme

  • 1

  • Bettina Wyngaard skryf ’n gereelde rubriek op LitNet.

Is rassisme so Suid-Afrikaans soos biltong en braaivleis? Of sou dit, na aanleiding van gebeure op ’n vlug tussen Durban en Kaapstad, ewe gepas wees om te vra of dit so Suid-Afrikaans is soos umqombothi en umfino.

Maar die voorval waarby Nobs Mkhize, handelsmerkbestuurder by SABC, betrokke was, werp ook lig op ’n aspek van rassisme waaraan daar nie naastenby genoeg aandag gegee word nie: swart op swart rassisme. Ek vermoed die enigste rede hoekom hierdie voorval soveel aandag gekry het, is dat daar soveel video’s deur verskillende sosialemediagebruikers geneem en geplaas is. Dit kon eenvoudig nie onder die mat ingevee word nie.

@mazansiwilding is ’n TikTok-gebruiker wat verskeie video’s oor die voorval geplaas het. Ek moet erken, met elke video het my mond net verder oopgehang in absolute verstomming. Mkhize was, volgens verskeie getuies, alreeds beskonke toe sy die vliegtuig betree het. Hoekom sy toegelaat is om aan boord te gaan, is sekerlik ’n gesprek vir ’n ander dag. Sy was na beweer word spoedig oproerig, maar sake is op ’n spits gedryf toe die lugwaardin geweier het om vir haar drank te bedien. Die konfrontasie wat gevolg het, is van verskeie hoeke opgeneem.

Beelde waar Mkhize een of ander vloeistof, waarskynlik ’n koeldrank, uitgooi en ander passassiers natspat, asook waar sy die lugwaardin, Emmeridge September, aan die hare probeer beetkry, is wyd gesirkuleer. Terwyl dit alreeds kriminele oortredings is, en ook oortredings van die baie streng wetgewing wat op vliegtuie geld, is dit die uitlatings wat Mkhize maak wat haar verder in die sop laat beland het.

Sy het na bewering gesê dat mense van Mitchells Plain (wat sy skynbaar as kode vir alle bruin mense aanvaar) onopgevoed is, nie kan bestuur nie en nie hulle eie voertuie het nie. In haar verklaring aan die polisie toe sy ’n klag van aanranding en crimen iniuria by Bishop Lavis-polisiestasie gaan indien het, beweer September ook Mkhize het gesê bruin vroue is net goed daarvoor om hulle bene oop te maak.

Die DA en die PA het dadelik klagtes van crimen injuria gelê, en ook klagtes van rassisme by die Menesregte Kommissie gaan lê. Die ANC, van wie Mkhize skynbaar ’n lid is, was heelwat meer traag om kommentaar te lewer, en ten spyte van die feit dat sy ’n lid van ’n hoëprofielfamilie is, sou hulle moes ondersoek instel of sy wel ’n lid van die party is. Malema se EFF, wat in ander omstandighede (as die oortreder wit en die slagoffer swart was) in ’n oogwink ’n optog sou gereël het, het ’n taamlik louwarm verklaring uitgereik waarin hulle die voorval betreur.

........
Kan ons verbaas wees dat organisasies nie transformeer as dit die tipe denke is wat bestuurders openbaar nie? Hoe wyd verspreid is daardie denke, in hierdie geval veral binne die SABC?
........

Die SABC het ’n kort verklaring uitgereik dat hulle die saak intern sal ondersoek. In die week sedert die voorval plaasgevind het, op Welwillendheidsdag, is daar niks verder gedoen waaroor berig is nie. Die verwagting sou gewees het dat sy dadelik geskors sou word, of dat die erns van die oortreding op ander wyses beklemtoon sou word, maar sover lyk dit nie of enigiets gedoen is nie. Dalk hoop die SABC dat die stof sal gaan lê en dat ander dinge mense se aandag sal besig hou?

Dan wonder ek ook hieroor: As ’n persoon op bestuursvlak by ’n organisasie nog sulke kru rassistiese denke vertoon, watter invloed het dit op die wyse waarop sy besluite oor aanstellings maak? Kan ons verbaas wees dat organisasies nie transformeer as dit die tipe denke is wat bestuurders openbaar nie? Hoe wyd verspreid is daardie denke, in hierdie geval veral binne die SABC?

........
Swart op swart rassisme kom nie van vandag aan nie. Xenofobie ruk kort-kort handuit, soms met steun van politici. Mikroaggressie tussen bruin en swart kom gereeld voor, maar dit word geïgnoreer. 
........

Swart op swart rassisme kom nie van vandag aan nie. Xenofobie ruk kort-kort handuit, soms met steun van politici. Mikroaggressie tussen bruin en swart kom gereeld voor, maar dit word geïgnoreer. Selfs wanneer dit blatante aggressie is, en blatante rassisme soos in hierdie geval, sleep swart politici hulle voete. Of dit is omdat dit moeilik is om te erken swart mense kan ook rassisties wees, en of dit is omdat hulle eintlik heimlik saamstem met die sentiment, is onduidelik.

Wat vir my wel duidelik is, is dat rassisme op alle vlakke nog steeds problematies is, en dat tensy ons dit oral veroordeel, ons nooit as ‘n ware reënboognasie kan vooruitgaan nie.

Dis jammer dat hierdie tipe dinge nog steeds in 2025 voorop in ons nasionale gesprek moet wees. Een ding is seker: Indien ons nie rassisme in al sy vorme veroordeel nie, gaan dit volgende jaar en die jaar daarop en verder ’n probleem bly.

Het dit nie tyd geword dat ons, soos wat ons saamstaan wanneer ons sportspanne wen, ook saamstaan wanneer ons sulke kwessies die hoof moet bied nie?

Lees ook:

Wat sê Bettina? Kersfees in ’n oorlogsone

Wat sê Bettina? Oor vryheid van spraak en die reg om aanstoot te gee

Wat sê Bettina? Oor erfenis

Wat sê Bettina? Die Kolisi-egskeiding: Roem is die derde party

Uncle Cyril se government van national unity: ’n huis met baie wonings?

Menseregtedag, maar waar is ons waardigheid?

Boekfeeste as "veilige" ruimtes

  • 1

Kommentaar

  • Barend vd Merwe

    Die konsep van die reënboognasie was maar doodgebore. Tyd om dit te erken. Desmond Tutu het dit eerste gekonseptualiseer as 'n vergelyking tussen Suid-Afrika se oorgang van 1994 met die mitiese Bybelse verhaal van Noag en die Ark. Na afloop van die rampspoedige vloed waarin God die ganse mensdom en alle ander wesens uitgewis het, laat God 'n reënboog verskyn. Die reënboog dien as simbool van 'n belofte wat God aan die mense maak. God beloof om nooit weer die wêreld met 'n vloed te verwoes nie. Tutu het gereken God sluit 'n soortgelyke ooreenkoms met die mense van Suid-Afrika dat God die land sal beskerm en apartheid nooit weer sal herhaal nie.

    Die storie van Noag is 'n tipiese etiologiese verhaal waarmee antieke mense natuurverskynsels vir mekaar verduidelik het. In die spesifieke geval: waar kom reënboë vandaan? Daar is baie sulke sulke verhale: Hoe sebra sy strepe gekry het, die toring van Babel (hoe mense verskillende tale gekry het), ens.

    God self is 'n mitiese karakter en kon geen verbond met Suid-Afrika in 1994 sluit nie.

    Vandag, meer as 30 jaar na apartheid, is die ongelykhede nog groter as ooit tevore. Die liberale grondwet beskerm misdadigers, belastingontduikers en gewetenlose kapitaliste wat die land se rykdomme melk vir eie gewin. Die GNU probeer moedig, maar die politiek het nie die antwoorde of oplossings vir die krummelende infrastruktuur nie. Paaie, watersisteme, brûe, hawens en ander infrastruktuur gaan ten gronde.

    Die verval is besig om 'n bedreiging vir die landbou, te word. Lees bietjie wat skryf Johann Kotze van AgriSA onlangs op LandbouWeekblad:

    https://www.landbou.com/landbou/nuus/ek-is-onrustig-oor-ons-reaksie-nie-ons-ekonomiese-vooruitsig-nie-johann-kotze-20241228?fbclid=IwY2xjawHo3PBleHRuA2FlbQIxMQABHaZMsiEeUpnUTlflK6zIrLOlpbRVgDw8cRMOmWjB6l9dBDhQe_Y4PaWMfw_aem_M572ndQiLo-kwXTQ4clZxg

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top