
Elke gesprek oor vryheid van spraak wat ek nog ooit gehoor het, of self aan deelgeneem het, gaan oor twee dinge: sprekers se reg op vryheid om te sê wat hulle wil, solank dit nie haatspraak is nie, en sprekers se reg op vryheid om aanstoot te gee. “Freedom of speech and the right to offend.” Baie keer is daardie aanspraak op die reg op vryheid van spraak maar ’n yl verskuilde poging om die reg om vooroordele uit te spreek te intellektualiseer.
Die reg om aanstoot te gee is nie opgeneem in enige handves van menseregte waarop ek al my hande kon lê nie, maar goed, kom ons aanvaar vir doeleindes van hierdie meningstuk dit bestaan wel as ’n tipe natuurlike reg.
Die fokus in sulke beroepe op vryheid van spraak is gewoonlik op die spreker en sy regte en verpligtinge, maar wat van die aanhoorder? Aanhoorders word hanteer asof hulle eintlik irrelevant is en maar geïgnoreer kan word. Natuurlik is dit egter nie korrek nie. Soos die spreker, het ook die aanhoorder regte. Soos die spreker, het die aanhoorder ook die reg op vryheid van spraak, en die reg op vryheid om aanstoot te gee. Maar ek wil verder gaan en aan die hand doen dat die reg op vryheid om aanstoot te gee ook die reg op vryheid om aanstoot te neem impliseer. Wanneer die aanhoorder dan aanstoot neem, behoort hy nie ook sy reg op vryheid van spraak en die gepaardgaande vryheid om aanstoot te gee, te kan uitoefen nie? Dis tog nie eensydige regte nie; dis regte wat aan elke persoon behoort.
........
Maar ek wil verder gaan en aan die hand doen dat die reg op vryheid om aanstoot te gee ook die reg op vryheid om aanstoot te neem impliseer.
........
Wat staan die aanhoorder (kom ons noem hom Y) te doen wanneer hy aanstoot neem oor iets wat gesê word tydens die uitoefening van spreker X se uitoefening van vryheid van spraak? Is daar enige verpligting op Y om X toe te laat om sy vryheid ten volle uit te oefen? Of anders gestel, rus daar ’n verpligting op Y om na X te luister? Natuurlik nie.
Wanneer Y gekonfronteer word met iets aanstootlik, het hy ten minste drie opsies. Eerstens kan hy, soos reeds gemeld, sy reg op vryheid van spraak uitoefen. Hy kan reageer op X se uitsprake. Tweedens kan Y kies om eerder stil te bly en te hoop X hou op sy vryheid uitoefen. Derdens kan hy kies om nie te reageer op X nie, maar om homself eerder uit die situasie te verwyder. Anders gestel, hy kan sy vryheid om te assossieer uitoefen deur nie met X te assossieer nie. Al drie is geldige keuses, wat die X’e van hierdie wêreld skynbaar nie in ag neem wanneer hulle hulle uitsprake maak nie.
Spreker X is geneig om aanspraak te maak op sy reg op vryheid van spraak, met ’n kopknik in die rigting van ’n verpligting om nie haatspraak te beoefen nie, maar selde besef X’e, of so wil dit my voorkom, dat die uitoefening van hul reg ook gevolge het. Een van daai gevolge is dat iemand kan aanstoot neem en iets doen omtrent hulle aanstoot. Dan wil X’e hulleself soms as die slagoffer in die interaksie voorstel, of erger, Y blameer vir die feit dat hulle aanstoot neem. Is dit X se plek om te besluit waaroor Y mag aanstoot neem? Natuurlik nie. Geen mens kom as ’n tabula rasa na ’n interaksie nie. Elke persoon het ’n geskiedenis en ervarings wat hulle interaksies kleur. Om uitlatings te maak wat aanstoot gee, en dan die persoon se ervaring van aanstoot neem te misken, is om daai persoon se menswees te misken. Dis ’n ongemaklike klein treetjie van daar na al die aaklige ismes waarvan ons as ’n land so hard probeer wegbeweeg.
........
Stilswye impliseer instemming, soos die gesegde lui. Ek het lank gelede die besluit geneem om nie aanwesig te bly in gesprekke of aan tafels waar ek vergiftig word nie. Hoekom aanwesig bly? Om te verhoed dat iemand wat bereid is om aanstoot te gee, nie aanstoot neem nie? Nie meer nie.
........
Wat is die implikasies vir Y om teenwoordig te bly in ’n gesprek waar daar uitsprake gemaak word wat ’n intense reaksie in Y ontlok, of wat nie strook met Y se oortuiginge nie? Uit my ervaring, deur aanwesig te bly, selfs al neem jy nie aktief deel aan die gesprek nie, beteken dat jy legitimiteit aan die uitsprake verleen. Stilswye impliseer instemming, soos die gesegde lui. Ek het lank gelede die besluit geneem om nie aanwesig te bly in gesprekke of aan tafels waar ek vergiftig word nie. Hoekom aanwesig bly? Om te verhoed dat iemand wat bereid is om aanstoot te gee, nie aanstoot neem nie? Nie meer nie.
Maar baie keer wonder ek wat sou gebeur as ons nie sou optree asof ons net bestaan uit ’n pakket regte en verpligtinge nie. Wat sou gebeur as ons mekaar se inherente menswees raaksien en dit eer?
Soms sien ek piepklein spoortjies van die wêreld wat ons sou kon bou. Tot iemand dit weer vertrap.
Lees ook:
"Wees geduldig, maar wees braaf": Anton Kannemeyer se raad aan jong kunstenaars


Kommentaar
Nee gits, ek sukkel ma' om kop te hou met al die x'e en y'e. Ek sou dink elke saak het 'n eie meriete en kan nie oorkoepelend op die manier verklaar word nie. Dan dink ek ook nie dit moet onwettig wees om mekaar aanstoot te gee nie. Maar as dit ooit onwettig word, dan gaan ek more in Genis verander en permanent verontreg wees. En aktief foute soek in andere se woorde en gedrag. Maar omdat verontregting binne woke-kultuur 'n pecking order van verontregting het, sal dit my seker maar min baat, waarskynlik niks. Die departement van justisie sal dan spesiale howe moet oprig vir al die eindelose stroom verontregtes. Hulle gaan so besig wees, dat hulle by nog minder moorde, verkragtings, diefstal en korrupsie sal kan uitkom.
En om te dink, daar is mense wat in stilte suffer. Ons besef dit eers wanneer die berig eindig met die waarskuwing: as jy met geestesgesondheid sukkel, kontak asseblief die volgende nommer 021 XYZ ZXYZ.
Mense sal mekaar ook nooit net as mense sien nie. Daarvoor sorg die kapitalisme te goed. Die DA wil juis nou weer 'n stokkie voor die minimumloon steek. Hulle soek meer slawe om vir hulle besighede te kan arbeit.
Stilswye is ook ‘n antwoord: positief of negatief – take your pick. Ons geskiedenis kan nooit verander nie – it’s there for keeps! En nou om voete te stamp oor ’n era waarin ons oues van dae grootgeword het en hoendervleis kry as ons "Uit die blou van onse hemel" hoor en ons ou landsvlag sien, dink ek is geweldig kinderagtig en kleinlik!