Kuns, godsdiens en daai Olimpiese openingstoneel

  • 16

Illustrasie: Gordon Johnson op Pixabay

Het jy geweet Olympus was die woonplek van die gode en die plek waar Zeus se troonkamer was? Het jy geweet dat die Olimpiese Spele aanvanklik gehou was om Zeus, koning van die Griekse gode, te eer, en dat atlete tot hom gebid het voordat hulle deelgeneem het? Het jy geweet dat tydens elke Olimpiese Spele 100 beeste as slagoffers en brandoffers vir Zeus geoffer is?

Nader aan ons tyd: Het jy geweet dat literatuur, musiek, skilderkuns, argitektuur en beeldhouwerk tussen 1912 en 1948 Olimpiese items was?

Wat probeer ek met hierdie historiese feite sê? Godsdiens en kuns was altyd deel van die Olimpiese Spele, en dalk het die Franse hierdie jaar daarin geslaag om ons daaraan te herinner. Hulle grootste fout was nie dat hulle Christendom oneer aangedoen het nie, dis dat hulle die diepte van skynheiligheid en die absolute gebrek aan basiese ingeligtheid van mense onderskat het.

.........
Hulle grootste fout was nie dat hulle Christendom oneer aangedoen het nie, dis dat hulle die diepte van skynheiligheid en die absolute gebrek aan basiese ingeligtheid van mense onderskat het.
........

Snoop Dogg en Pharrell Williams het die Olimpiese fakkel gedra. Dis nie vreemd of nuut nie. In 1992 het Marián Aguilera, een van my gunsteling- Spaanse aktrises, die fakkel in Barcelona gedra. Celine Dion se triomfantelike terugkeer na die verhoog is simbolies van alles wat ons van die Olimpiese gees verwag.

Waarom dan die omstredenheid oor een toneel uit vele by die opening in Parys? Daar was tog dansers wat op dakke gedans het, ’n sweefstokarties wat meters hoog in die lug bo die strate van Parys gebalanseer het, rookmasjiene, en heelwat meer wat dit in die gietende reën ’n absolute skouspel gemaak het.

Boonop is dieselfde mense wat kla oor die feit dat die Christelike geloof aangeval is, baie min gepla wanneer ander gelowe, soos die Moslem-geloof, die spot mee gedryf word. En wie is die groepe wat die meeste verontreg was, en luidkeels beswaar gemaak het?

........
En wie is die groepe wat die meeste verontreg was, en luidkeels beswaar gemaak het?
........

Heel eerste was dit die Katolieke biskoppe, hulle wat nie dieselfde graad van verontwaardiging kan optower wanneer daar gepraat word oor die seksuele misdrywe van priesters teenoor kinders nie. Een of twee diktators het ook stem dik gemaak, hulle wat hulle skuldig maak aan menseregtevergrype van die ergste graad.

Wat was die toneel? ’n Diverse groep word uitgebeeld waar hulle aan ’n feesmaal deelneem. Onder andere is daar ’n blou man wat Dionusos, die god van drank en vrugbaarheid, verteenwoordig. Een interpretasie van die toneel is dat dit die Olimpiese ideaal van omarming van diversiteit uitbeeld. ’n Ander, meer problematiese interpretasie is dat dit ’n bespotting maak van Da Vinci se uitbeelding van die Laaste Avondmaal, ’n kunswerk wat meer as 1 000 jaar na die gebeurtenis gemaak is.

Die kanse dat Jesus en sy dissipels almal aan een kant van die tafel sou gesit het, en nie rondom die tafel nie, is bitter skraal. Da Vinci het dit so uitgebeeld sodat hy die gesigsuitdrukkings en liggaamstaal van elke persoon teenwoordig beter kon uitdruk. En die kanse dat daar nie vroue sou gewees het om hulle te bedien nie, is minder as nul. Boonop het Da Vinci onder invloed van die denke van die tyd Jesus en sy genote as wit, Westerse mans in relatiewe weelde uitgebeeld. Die skildery is nie histories akkuraat nie. Da Vinci was nie daar nie, dus kon hy nie enigiets akkuraat uitbeeld nie. Die skildery is sy verbeeldingsvlug van wat kon gewees het. Maar Da Vinci het ook nie voorgegee dat hy ’n akkurate toneel uitbeeld nie.

Selfs al was die uitsluitlike doel van daardie toneel om die spot te dryf met ’n skildery, ’n interpretasie wat nie sonder meer aanvaar kan word nie, hoekom is dit erger as wanneer ’n korrupte politikus soos Donald Trump Bybels teken asof hy die skrywer was?

........
Maar dis mos makliker om te oordeel as om waarlik Christenskap uit te leef soos Jesus dit wou hê, of hoe?
........

En as die spot dryf met ’n skildery as godslasterlik beskou word, beteken dit dan dat die skildery as goddelik beskou word? In elke weergawe van die Bybel wat ek nog ooit onder oë gehad het, is daar ’n spesifieke gebod in die Tien Gebooie wat sê: “Jy mag geen ander gode voor my aangesig hê nie. Jy mag vir jou geen gesnede beeld of enige gelykenis maak van wat bo in die hemel is, of van wat onder op die aarde is of van wat in die waters onder die aarde is nie.”

My wens is dat elke persoon wat nou so opstandig is omdat hulle oortuig is dat hulle geloof aangeval word, net een week lank elke les wat Jesus in die vier Evangelies predik, sal uitleef. Hulle sal vir die armes sorg; hulle sal oorloë staak; hulle sal hul naaste liefhê; hulle sal nie steel of egbreuk pleeg of moor of skinder nie. Dit sou ons wêreld oornag omkeer.

Maar dis mos makliker om te oordeel as om waarlik Christenskap uit te leef soos Jesus dit wou hê, of hoe?

Lees ook:

Elders gesien: Op Olimpus word die gode bymekaargemaak

Die Olimpiese Spele, feminisme en sumo

  • 16

Kommentaar

  • Barend vd Merwe

    Jinne, Bettina! You're on a roll here, regtigwaar. Dié is tone-omkrul-lekkerlees. Ek stem sooo saam met hierdie stuk van jou. Nes met jou vorige artikel oor Hlope. Well done!

  • Ek is 'n sondaar wat uit genade gered is. Ek gooi geen klip nie. As dit is hoe mense feesvier laat dit so wees. As ons met al die geld vir hierdie fees kon kos koop, sou ons duisende kon voed.

  • Ek jammer ek stem glad nie saam nie. Dit gaan nie soseer oor die spot alleen nie. Niemand kan vinger wys nie, want almal is iewers skuldig. Dit gaan oor die bemarking en wat hulle uitbeeld, die normalisering daarvan. Mens maak nie verkeerd reg met verkeerd nie. En tweedens praat ons nie net van n handjievol mense nie, ons praat van mense reg oor die wêreld. As Christene net gaan stilbly oor hierdie tipe “bemarking” gaan dit meer word. Ons moet opstaan vir onsself sodat hierdie tipe bemarking beperk sal word in die toekoms. Trots op die Christene wat saamgestaan het in Parys en deelgeneem het aan gebed in die strate. Dit wys daar is nog mense met murg en been wat saam staan oor geloofskwessies.

  • Die skrywer noem een element, nl die van die laaste avondmaal. Daar was egter verskeie ander afstootlike items. Die goue kalf is 'n groot afgodery-element en dan was daar ook die "doodsperd", wat die optog gelei het. My afleiding is: naaktheid, afgodery, dood, hedonistiese perversiteite is hier gevier! Alles direk teenstrydig met Christenwaardes. Frankryk is, dank Vader, 'n meestal Christen-land. Hoe op aarde het die komitee gedink hulle sal hiermee kan wegkom. Moenie mislei word nie. Die padda is in die pot en die water is al warm. Die ingeligtes hier is beslis die wat kapsie aanteken!

  • Wat 'n wonderlike skrywe om dinge net in perspektief te plaas. Die Franse flair was duidelik te sien in kleur en geur. Ek, as Christen en ook sondaar, het nooit gevoel my geloof en leefwyse word aangeval of bespot nie! Bettina skryf voort asseblief!

  • Marthinus Willemse

    Sou die Jode en Moslems dit aanvaar het as dit met hulle godsdiens gedoen is? Waarom altyd ons Christene afkraak? Daar is 'n toneel waar 'n manlike seksorgaan duidelik "rondhang". In enige land behalwe Frankryk sou dit as onvanpas beskou gewees het.

  • Tien uit Tien. Ditsembedonderd om te besef jy is nie die enigste wie daagliks deur al die skynheiligheid worstel nie. Boerepompie en ander smaaklose, losbandige seksliedere en Sondagrugby en dop (in plaas van bybelstudie en kerk), ens, ens, ens. En dan die gewetens probeer sus deur te velde te trek teen ander se "sondes". En weer eens Die Onkunde ontbloot.

  • Wat raas julle so? Die Spele is 'n Franse herlewing van die ou Griekse olimpiades waartydens slegs manne toegelaat was dit my te woon en as jy 'n deelnemer was is jy verplig om dit kaalgat te doen. Ou Pierre de Coubertin wat die Spele laat herleef het, het Katoliek groot geword maar hom tot "atletisme" gewend, die verafgoding van die sogenaamde "Atletiese Siel". Hy kan nie beskou word as 'n opregte gelowige Christelike nie en is die Spele tog ook nie op Christelike waardes gegrond nie. Die openingseremonie was maar so reg in die Franse psige. Kyk nou maar na die afsluitingsermonie.

  • Willem Geerlings

    Die probleem is nie oorsensitiewe Christene nie, maar dat vryheid van meningsuiting in die Westerse wêreld uiters selektief toegepas word. Die Vlaamse skrywer, Dimitri Verhulst, wat allermins nie as 'n voorstaander van die Christelike geloof bestempel kan word nie, het al 'n paar jaar gelede gewys op die gevaar wat self-sensuur inhou en veral ten opsigte van kritiek teenoor Islam. Na die aanvankelike bohaai oor die Charlie Hebdo insident het die hoofstroom Westerse media bykans eenparig verseg om wesenlike kritiek teen Islam uit te spreek – 'n geloof wat nie bepaald bo kritiek staan nie. Verskeie bekendes uit die vermaaklikheidswêreld, oa John Cleese, het al uitgewys dat humor 'n slagoffer geword het van “self-sensuur”. Die sportkommentator Bob Ballard is afgedank nadat hy spottenderwys verwys het na hoe lank vrouens neem om te grimeer. Ras en LBGTQ is temas waarmee met groot omsigtigheid omgegaan moet word – wat dalk soos 'n onskuldige grappie lyk kan jou duur te staan kom. As Christene egter pleit vir respek word hulle uitgelag. Lees gerus Francis Fukuyama se Liberalism and its discontents. As 'n Christen maar ook ‘n ondersteuner van klassieke Westerse liberalisme pleit ek vir 'n ewewigtige benadering wat in ons woke wêreld nie bestaan nie. Dink ook 'n oomblik aan die talle Christene wat as atlete aan die Spele deelneem. Die Spele gaan oor sport en nie oor Franse opvattings wat moreel aanvaarbaar is of nie.

  • Coenraad Walters

    Ek hoop dat mense onthou van ons silwermedaljewenner by 1948 se Somerspele in Londen: Ernst van Heerden, wat bekroon is vir 'n groep van ses sportgedigte uit sy eerste drie bundels. Ek kon nog nooit presies vasstel watter gedigte ingesluit is nie, maar 'Die gewigopteller', 'Die bokser' en 'Die hardloper' is sekerlik voor die hand liggende kandidate. Weet enigiemand meer?

  • Maandagaand tydens die manspaalspringfinaal kom dit by my op dat dit waarskynlik is wat Pierre de Coubertin ingedagte gehad het met sy “Siel van die Atleet”.
    Hulle wat dit gekyk het sal weet. Ek verwys na die uiteindelike en weereens Sweedse kampioen Armand Duplantis se manewales, hy wat reeds die vorige Olimpiese –en Wêreldkampioen in die item is verbeter toe beide hierdie rekords tydens die huidige olimpiade, eersgenoemde 6.0m na 6.10m, die WR was op 6.24m.
    Die Swede hou plakkate op met 6.25 en raas dat dit bars.
    Hulle juig en waai en hy wuif terug, laat die beamptes die paal lig tot 6.25m. Hy durf die hoogte aan en misluk tweekeer.
    Verstel sy uitrusting en terwyl hy daarmee besig is word daar eers medaljes in vorige items gewen, oorhandig en wag vir dit – die 70-80k toeskouers sit bankvas. Hy hou hulle, hulle roer nie. Dis die allerlaaste item en sprong – niemand hardloop vir hek, bus, trein of kar nie. Ek het nog nie so iets tydens ‘n groot geleentheid gesien nie, wat nog te sê van in die Stade de France. Franse raak gou gatvol, behalwe vir hul eie wat elke slag luidrugtig toegejuig word.
    Hy gebruik sy ses minute en uiteindelik tel hy sy paal op en… Stade de France bars uit in ‘n allemintige toejuiging!
    Hy word na die tyd gerapporteer dat hy gesê het en ek knip-en-plak.
    “I haven’t processed how fantastic that moment was," said Duplantis. "It’s one of those things that you don’t really feel is real. It's such an out of body experience”.
    Van die os op die jas – daar is ‘n moerse klok met bel en al baie sigbaar ( sodat almal kan weet wat gaan vir wat?) en wat skynbaar op uitnodiging deur wenners gelui word (dit gaan glo na die tyd in ‘n museum gebêre word).
    Wonder of dit Franse humor is, jy weet, met diè dat die eerste olimpiërs kaalgat hul naellope gedoen en ander items afgehandel het.
    Dink net aan al daai klokluiery...

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top