
Skermgreep (links) | Jan van Bijlert (regs)
*
Jean Oosthuizen skryf op Facebook:
En toe verwys die toneel by die Olimpiese spele waaroor die mense hulle so betjorts nie eers noodwendig na die Laaste Avondmaal nie, maar na die fees van die gode uit die Griekse mitologie.
Die hele opskudding wat dit veroorsaak, is toe eintlik ’n storm in ’n teekoppie.
Die Calvinistiese ooms en tannies moet nou maar self besluit of hulle dit as ’n goddelike fees, of as ’n belediging vir geloof wil sien.
Op Olimpus word die gode bymekaargemaak vir ’n banket ter viering van die huwelik van Thetis en Peleus. Aan die linkerkant staan Minerva, Diana, Mars en Venus vergesel deur Cupido.
Flora, die godin van die lente, is agter hulle. Gekroonde Apollo, identifiseerbaar aan sy lier, sit in die middel van die tafel. Ons herken verder Hercules met sy knuppel en Neptunus met sy drietand. Heel regs het Eris die onmin-appel op die tafel geplaas. Sommige gode ontbreek, waarskynlik as gevolg van die sny wat die doek aan die linkerkant opgedoen het; die teenwoordigheid van Juno se pou suggereer dit. Die tema van die fees van die gode was gewild in Holland. Die huwelik van psige en liefde deur Hendrick Goltzius het ’n oorvloedige produksie van werke laat ontstaan wat hierdie onderwerp illustreer.
Die skilder Jan van Bijlert het in die vroeë 1620’s in Rome gebly en, soos sy medestudente in Utrecht, was hy beïndruk deur Caravaggio se kuns. Die sater wat voor die tafel dans en die Bacchus wat op die voorgrond lê en ’n tros druiwe bo sy mond druk, herinner op ’n mindere manier aan die naturalisme van laasgenoemde: ’n lyf met ’n oker tint, lywe van naby gesien in onortodokse houdings.
Daar het jy dit. Om te dink party Christene het gedink die hele storie gaan net oor hulle. Natuurlik kan mens dit seker ook sien as ’n herinterpretasie van Leonardo da Vinci se Laaste Avondmaal, as jy wil. Daaroor het ek ewe min van ’n probleem, want dis kuns. Die meeste mense weet van daardie skildery ewe min.
Die Laaste Avondmaal was die teiken van baie spekulasie deur skrywers en historiese revisioniste. Gewoonlik sentreer dit op beweerde verborge boodskappe of wenke wat in die skildery gevind word, veral sedert die publikasie van Dan Brown se roman The Da Vinci Code, waarin een van die karakters suggereer dat die persoon aan die regterkant van Jesus (links van Jesus vanuit die kyker se perspektief) eintlik Maria Magdalena is.
Ek wil glo dat die gay Leonardo en Jesus self breed sou glimlag oor die huidige opskudding. Een ding is waar, die Franse het hier ’n gesprek aan die gang gesit en mens laat nadink oor goed waaroor hulle selde dink, en dis goed.
En ek dink nie die Franse is in sak en as oor die Heinz Wincklers van die wêreld en die res soos hy wat meen die spele se opening voorspel die val van die Westerse wêreld nie. Sak Sarel.
- Lees ook: Le Festin des dieux
Kommentaar
Gestel Oosthuizen is reg dat dit hoegenaamd nie die Franse se bedoeling was om die Laaste Avondmaal uit te beeld nie, sou mens met hulle kon gesels oor die misverstand. Kan jy jou voorstel hoe die Moslems sou reageer as hierdie "misverstand" hulle godsdiens in diskrediet sou bring? Dit sou die einde van Frankryk kon beteken.
As Oosthuizen egter skryf dat hierdie toneel "nie noodwendig" na die Laaste Avondmaal verwys nie, laat hy die moontlikheid oop dat dit wel daarna kan verwys. Indien wel, was die Franse voorwaar uit plek met dit wat hulle uitgebeeld het, en sou die Christene met reg onsteld kon wees oor die heiligskennis daarvan.
Oosthuizen "wil glo" dat die gay Leonardo en Jesus breed sou glimlag oor die opskudding van hierdie gebeure. Ek weet nie van Leonardo nie, maar Jesus sou nie geglimlag het oor 'n bespotting van dit wat Sy dood aan die kruis ook vir hierdie mense se redding wou wees nie. Hy sou waarskynlik ook vir hulle aan die kruis gebid het: "Vader, vergewe hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie."
Dankie vir die regte feite! Mense ken nie sulke "geskiedenis" nie, en sien en glo goed wat nie so is nie. Dan soek hulle ook die duiwel in alles en speel eintlik so reg in sy hande en hy lag lekker!
As dit dan wel so is, waarom het die Olimpiese komitee dan om verskoning gevra? Sekerlik sou hulle die saak kon regstel en verduidelik wat eintlik daar uitgebeeld is ... So ek is nie so seker dat jy reg is nie. 🤔
Dat dit wel moontlik Griekse mitologie en uitbeelding van die fees van gode kan wees, is inderdaad so. Die feit dat hietdie nou wêreldwyd opslae maak agv die platform waar dit vertoon is, asook die tydsberekening, maak dit n sensitiewe aangeleentheid. Elkeen ervaar dit ook op sy eie waarneming en oortuigings. Die Olimpiese Spele gaan oor sport en die fisiese meedinging van lande ongeag politiek of godsdiens. Dit sluit ook definitief nie in die afkraking van ander se geloofswaardes, verspotte karakters en fopdossers wat se geslagsdele uithang waarna kinders moet kyk nie. Dan ook boonop geen karakters in die sage wat ’n sportiewe fisieke openbaar nie. Nee man, om egosentriese stellings te maak op ’n publieke forum dat dit kuns is en ander se opinies met kragwoorde te probeer vleuel, is ongevraagd. Is daar nog respek oor in hierdie waansin of word dit ook nog ’n mite?
As die kommentator hierdie verduidelik het toe dit gebeeldsend is, sou die verwarring nie ontstaan het nie. Dit sou dit beslis ook meer kykbaar gemaak het. Die middeldeel van die opening het vir my so 'n bietjie soos 'n Sewe dae by die Silbersteins uitgerafel. My ouma sou sê: Is dit nou nodig?
Dit is ongtwyfeld oor die paganistiese bacchanaal, maar hierdie is steeds 'n uiters pseudo-intellektuele stuk. Die wêreld is nie net verdeel in Calvinistiese ooms en tannies vs gay, opgevoede en oopkop mense nie. In die eerste plek is 'gay' 'n betreklik moderne begrip. Die Grieke - en Renaissance - het pederasty - seksuele dade gehad - nie gaywees as 'n permanente identiteit nie. Lees bietjie Foucault. Verder het die vet drag queens meer 'n estetika van Amerikaanse gemorskosdiete gehad as burlesque of die festin de dieux. vergelyk bietjie figure.
Wat ook al die verduideliking is, dié openingseremonie was totaal aan Satan gewei.
Stefan de Jager, dalk sal christene, wat nog krities kan dink, besef hoe die paganisme en mites in die christelike geloof ingeweef is.
"Die praatjies tans dat dit 'n verwysing na 'n ander skildery is, verteenwoordig 'n angsvallige poging om hulle te verontskuldig. Daardie vet Barbara Butch het 'n stralekrans met sewe strale gedra. Dionisos het nog nooit 'n stralekrans gehad nie. Dit was vir seker 'n parodie van "Die Laaste Avondmaal" en niks anders nie. Ek het nie na ander Franse video's gekyk voor ek myne gemaak het nie, maar noudat dit opgelaai is, kyk ek wel. Géén van die Franse wat kommentaar lewer, sien dit anders as die Laaste Avondmaal en as 'n aanval op die Christendom nie." - Dan Roodt - https://www.youtube.com/watch?v=Dqd6h6_L0CY
Stefaan de Jager ek sê duidelik in my stuk natuurlik kan mens dit seker ook sien as ’n herinterpretasie van Leonardo da Vinci se Laaste Avondmaal, as jy wil.
Ek sê ook dat ek ewe min van ’n probleem daarmee het want dis in elk geval net ʼn skildery wat deur die gay Leonardo geskilder is.
Ek het veel meer van ’n probleem met mense soos jy wat seker die mees homofobiese dominee was wat die NG kerk nog gehad het. Ek het ook veel meer van ’n probleem met die Katolieke Kerk wat so te kere gaan oor die opening van die Spele maar soos die graf geswyg het toe sy priesters talle en talle jong seuns verkrag en gemolesteer het en dit onder die tafel probeer vee het..
My probleem is met mense soos jy wat so klompie jare terug op ʼn koerant se webwerf geskryf het jy stem saam met die Zoeloe-koning se uitlating dat gay mense vrot is. Dieselfde met jou uitlating destyds oor ʼn ateïste wat maar hulle kinders soos honde moet laat uitsit as hy of sy ly en dan so bietjie oor hulle moet en dan ’n ander kind kry.
Ons het mos al voorheen die gesprek gehad dat Jesus nooit ’n woord gerep het oor homoseksualiteit nie maar wel oor egskeiding. Mense wat in glashuise woon moet liewer nie met klippe gooi nie.
Om te dink dat ou Jean eens by die Kerkbode doenig was.
Stefaan de Jager, Hanno Visagie en Raad-op-na Gawerjal se kommentaar het die onderstaande wysheid van CJ Langenhoven spontaan by my laat opspring:
"...Ledige pyp hou toe jou kraan. Dan sien ons jou vir 'n volle aan..."
Ai tog, wéét julle dis 2024?
Ons behandel Sondag by die kinderkerk Noag se Ark met die kinders. Ons gesels oor wat God se bedoeling daarmee was, Noag se geloof en gehoorsaamheid en ek kan nie help om te wonder wat ons Liewe Heer dink van hierdie wêreld nie. Dink van dit wat mense hulself mee besig hou en hoe ver ons gedwaal het van Sy woord nie. Vergeet van die dinge van die wêreld en hou jou oë op Hom. I raise a Halleluja!
Die humanis Jean Oosthuizen.
Wat meer verstom as enigiets is die onverdraagsaamheid wat deurdrup uit die kommentare van gelowiges. Ek kies duisendmaal eerder daai blou smurf vir geselskap as hierdie verkrampte, veroordelende individue wat hulself christene noem. Fokus vir 'n verandering op jul dade eerder as holruggeryde preke.
Donnie,
so jy veroordeel nie christene nie?
Ek het die hele openingseremonie gekyk en die skouspel daaragter baie geniet en waardeer. Mens besef net weer hoeveel moeite en werk in die konseptualisering en uitvoering ingegaan het. Die seremonie het baie uiteenlopende vermaakelemente gehad, van popuitvoerings tot dansitems, en dan die veelbesproke modeparade met feestelikheid op die brug. As Christen het ek geen aanstoot geneem en geen ‘laaste avondmaal’ assosiasie gesien nie. Trouens, dit het nie eens by my opgekom nie. Wat ek wel gesien het was nog ‘n vermaakelement (een van vele) van ‘n seremonie wat wou bydra tot die verskeidenheid van die elemente en ter bevrediging van uiteenlopende smake. Ek het dadelik vir Bacchus herken en geweet hierdie stuk gaan oor ‘n paganisitese fees (ons kunsleke ken Bacchus en sy wynassosiasie baie goed) en verder het die parade met sy eiesoortige deelnemers, wat onder andere fopdossers en mense met kunsledemate ingesluit het, onmiddellik vir my die boodskap van diversiteit oorgedra. Nou ek is geen kunspuris nie, net ‘n gewone, gemiddelde mens met redelike goeie waardes, en bogenoemde was my interpretasie van die openingseremonie-element onder bespreking. Verder was die geheel vir my veel meer vermaaklik en blywend as spesifieke elemente. Soos ander skrywers hier reeds genoem het, gaan dit oor interpretasie van die waarnemer (in hierdie geval die kyker). Of gaan dit oor bedoeling (vanuit die oogpunt van die skepper van die stuk), en weet ons regtig wat die bedoeling was? Het iemand al gevra?
Troos nonsens lyk vir my 'n regverdige definisie van mite. Dis hoe Angela Carter dit gestel het en dit sluit dus die laaste ete en al sy apostels en dissipels en ook die simpel ou Bacchus-karakter ook in, en allerhande verdere snert wat eintlik ook nie nonsens is nie, maar die kreatiewe verbeelding wat eintlik altyd briljant werk is. Ek moes net aanvaar dat konflik deel is van die speserye van ons lewe en die menswees voel vreeslik gekonfronteer wanneer dit waarvan jy hou in die gesig gevat word.
So, ek was woedend oral in die hel en buite myself vir uitsprake van Christene ook al in my lewe, en nou dat ek so geseënd oud geword het, het ek soms tot so 'n mate kalmeer, dat ek nie meer 'n assie omgee nie.
Maar wat dink ek van die blou Bacchus wat opgedien is in 'n silwer skottel? Weet nie. Kitsch.
Dis wat ek seker dink maar dis ook snaaks, mens wil lag, mens lag wel, en aan die ander kant laat dit my dink aan 'n Tretchikoff-skildery.
Aan die ander kant van my deurmekaar gedagtes is dit eintlik oulik, want dit is wat die Grieke gehad het – die goed van eienaardige gode en godinne.
Duiwels ingewikkeld vir my – al die fantasie vir my van ou Gilgamesj tot by ou Jan met sy towersampioene en grotdampe op die eilnad van Patmos.
Wat die bedwelmende orakels van Delfi alles kwytgeraak het, wil ek net in Netflixreekse van hoor.
Ek het net nie nou tyd om die Olimpiese Spele te volg nie. Dit is op my lys.