...
Ons vergeet soms ons kan enigiets doen. Ons vergeet ons kan hindernisse oorkom soos “maar jy’s ’n vrou”. Dit is juis waar ons mag lê.
...
Enigiemand wat my ken, weet ek is nie werklik ’n sportkyker nie. Elke nou en dan, toe ek op skool was, het ek die opwindende kompetisie tussen Häkkinen en Schumacher gevolg. Elke nou en dan sou ek rugby kyk saam met my pa, veral toe ek die Varsity Cup ontdek het. Ek is steeds van mening dat dit van die beste rugby is wat mens ooit sal kan kyk. Elke nou en dan, wanneer die gier my tref, sal ek sumo kyk tot ek verveeld raak daarmee. Daar is tans ’n Grand Sumo-kompetisie aan die gang in die Aichi Prefectural Gymnasium wat baie opwindend is. So waarom skryf ek vandag oor sport? Wat het die Olimpiese Spele uit te waai met sumo of feminisme?
Ek het op Reddit (so vat dit met ’n knippie sout) gelees die Olimpiese komitee het ’n probleem met sporte waar daar nie gelykheid is tussen die genders nie. Dit beteken dat dinge wat tradisioneel gedomineer word deur mans, soos motorsport of sumo, nie deel sal uitmaak van die Spele nie. Die “Eddie the Eagle”-reël verbied ook die deelname van amateurs. So, iets soos motorsport of sumo sal beslis nie ingesluit word nie, al word vroue ingesluit in die amateurarena.
Ek gaan nie hierdie skryfsel maak oor Noa-Lynn van Leuven se onlangse moeilikheid in Engeland nie. Ek gaan ook nie (weer) praat oor FIDE se reëls oor transgender skaakspelers nie. Ek gaan praat oor toegang tot sport, ongeag van jou gender, ras of ander elemente.
...
Iemand het op ’n dag gesê: “Privilege is not an abundance of opportunity; it’s a lack of obstacles.”
...
Iemand het op ’n dag gesê: “Privilege is not an abundance of opportunity; it’s a lack of obstacles.” Dit het my nogal bygebly. Soos ek terugdink aan al die geleenthede wat ek al in my lewe gehad het, is daar baie van die geleenthede wat geskei is op grond van geslag. Toe ek vyf was, het die seuntjies karateklasse geneem en die dogtertjies ballet. Hoe dan gemaak as daar ’n seuntjie is wat ballet wil doen of ’n dogtertjie wat karate wil doen? Ek wonder of iemand in die pad sou gestaan het as so iets sou gebeur het. Daar is wel vele vroue wat vreeslik goed is met karate, maar kyk bietjie na hoeveel daar is in vergelyking met die mans.
Daar is darem hoop vir motorsport met Suid-Afrika se eie Kirsten Landman. Sy is een van min vroue wat deelneem aan die Dakar-wedren. Myns insiens doen sy wondere vir vroue in motorsport en bowendien is sy ook betrokke by ’n dierewelsynsorganisasie wat sy gestig het genoem SAM, oftewel Saving Animals Movement. Meisies van alle ouderdomme kan dalk haar voorbeeld volg indien hulle genoeg belangstel in motorsport. Gaan lees gerus bietjie oor haar, want sy’s werklik indrukwekkend.
Hier is waar die gedagtegang bietjie draai. Wat sou gebeur het as iemand hindernisse op haar weg gesit het? Ek sidder om te dink. Die pad om ’n bekende enigiets te word is moeilik genoeg vir vroue. Laat ons ook nie vergeet oor die verskille in vergoeding nie.
Ek dink nie dit is onregverdig om almal ’n gelyke geleentheid te gee om dinge te beproef nie. Geld, natuurlik, is ’n groot hindernis in so ’n geval. Ek dink byvoorbeeld aan iets soos perdry wat ’n besonder duur sport kan raak, of iets soos hokkie waar jy ’n stok, skoene, ’n sak en nog wat moet aanskaf (of leen) voordat jy op die veld kan draf. Gelukkig, lyk dit my, is daar redelik geleentheid vir vroue om deel te neem aan perdry of hokkie, aangesien beide sporte op die Olimpiese kalender is.
...
Die feit van die saak is, vroue wat sumo beoefen, sal nooit hoër kan gaan as “amateur” nie. Die rede daarvoor is besonder interessant.
...
Waarom sou sumo dan nie verskyn in die spele nie? Daar is tog vroue wat sumo beoefen. Die feit van die saak is, vroue wat sumo beoefen, sal nooit hoër kan gaan as “amateur” nie. Die rede daarvoor is besonder interessant.
Sumo se oorsprong kom uit ’n Sjinto-ritueel, gemik om ’n goeie oes te verseker. Die dhoyo, die kleiplatform waar die kryt is, word dus beskou as ’n heilige plek. In Sjinto en Boeddhisme (die twee prominente geloofstelsels in Japan) word vroue beskou as onrein weens menstruele bloed. Weens hierdie idee dat vroue onrein is, is daar geen professionele vroue wat deelneem aan sumo nie. Weer eens is daar ’n lig in hierdie duisternis. Hiyori Kon is besig om te veg vir vroue om professioneel te kan deelneem aan sumo.
In die dokumentêre program Little Miss Sumo hoor ons Kon se hele verhaal. Sy veg nie net vir sumo nie, maar ook vir ingrypende veranderinge in die Japannese samelewing. Kon vertel dat vroue steeds agter hul mans moet loop. “Sy moet nie sigbaar wees nie” is die term wat Kon verduidelik in hierdie verband. Hierdie program is in 2018 gemaak, so dis nie te lank gelede nie.
Kon en Landman is pioniers in hul sporte. Weens figure soos hulle, sal meisies (wat eendag vroue gaan wees) ’n makliker pad kan loop as hul voorgangers. Hulle verwyder die hindernisse en maak die pad vir ander makliker. Hulle kan ook dien as rolmodelle vir aspirantstoeiers of -renjaers.
My broer het ’n plakkaat van Francois Pienaar gehad in sy slaapkamer vir baie jare. Hy was ’n goeie speler op sy tyd. Dit was natuurlik nie moeilik om in 1995 plakkate van hom te vind nie. Mens moet wonder wat sou kon gebeur as daar plakkate van Landman of ander vrouesportsterre in meisies se slaapkamers pryk. Dalk sou daar op ’n dag genoeg vroue op motorfietse wees om dit na die Spele toe te bring of selfs dalk ’n vrou wat aan Formule 1-wedrenne deelneem (en nie net in die kwalifiserende rondtes ry nie). Dalk sal ’n vrou op ’n dag op die dhoyo kan staan om te kompeteer.
Ons vergeet soms ons kan enigiets doen. Ons vergeet ons kan hindernisse oorkom soos “maar jy’s ’n vrou”. Dit is juis waar ons mag lê.
Bronne:
Aversa, P. 2024. Women in Formula One: How the sport is trying to redress the lack of support to female drivers and staff.
Elbaba, J. 2022. Who is Eddie the Eagle and how he still impacts the Olympics. NBC Sports Philadelphia.
Lees meer oor Kirsten Landman: https://www.kirstenlandman.com/
Kay, M. 2018. Little Miss Sumo. Netflix
Meixler, E. 2018. Female medics rushed to help man who collapsed on a sumo ring. They were promptly told to leave. Yahoo! News.