Verstaan Musk hoe vryheid van spraak werk?

  • 0

Prent: https://pixabay.com/illustrations/twitter-social-media-icon-social-3319619/

Die $44 miljard-misverstand is hoe ek aan Elon Musk se Twitter-aankoop dink. Daarmee bedoel ek glad nie Musk se verstaan van hoe tegnologie werk nie. Die tegnologie agter Twitter is seker vir hom soos wat laerskooloptelsomme vir die meeste van ons is.

Maar Musk bou lugkastele en fantasieë waarin hy die held is wat vryheid van spraak in die digitale markplein herstel. Nadat die koop voltooi is, het hy homself as Chief Twit beskryf. Dis dalk veel meer akkuraat as wat hy bedoel het.

............
Musk bou lugkastele en fantasieë waarin hy die held is wat vryheid van spraak in die digitale markplein herstel. Nadat die koop voltooi is, het hy homself as Chief Twit beskryf. Dis dalk veel meer akkuraat as wat hy bedoel het.
...............

’n Paar goed het tegelykertyd gebeur. Wat nie gebeur het nie, is dat hy ’n basiese begrip van hoe vryheid van spraak werk, openbaar het. Blykbaar dink hy as hy genoeg geld aan iets bestee, beteken dit mense sal uiterse moeite doen om sy wil werklikheid te laat word. Behalwe dat die meeste mense op Twitter nie veel omgee vir wat hy wil hê nie.

Wat het gebeur? Eerstens is verregse  sentimente skielik met veel meer vrymoedigheid uitgedruk op Twitter, waarskynlik in afwagting op Musk se beloofde ontbanning van Trump se Twitter-rekening en in reaksie op sy belofte van algehele vryheid van spraak. Shaun King, ’n Amerikaanse aktivis, het skermgrepe begin neem van die aantal profiele waar die woord “nigger” herhaalde male gebruik was in die 24 uur nadat die koop afgehandel is. Vermoedelik was dit gedoen om te toets of Twitter se gebruiksbeleid om sulke gebruikers se profiele te verban, in werking gestel sou word. Sover lyk dit nie asof hulle gesensureer word nie. Dit sal interessant wees om te sien wat gebeur as antiwit sentimente uitgespreek word. Ek vermoed dan sal Musk heelwat minder geneë wees om vryheid van spraak te ondersteun.

Tweedens het Musk van ’n kant af begin om Twitter-werknemers af te dank. Aanvanklik was dit die CEO, met wie hy nie om dieselfde vuur kan sit nie, en die hoof van die regsafdeling, wat verantwoordelik was vir Trump se verbanning. Oor die naweek het hy dit egter selfs verder gevoer en na berig word omtrent 75 persent van werknemers by Twitter se hoofkantoor die trekpas gegee.

..............
Tweedens het Musk van ’n kant af begin om Twitter-werknemers af te dank. Aanvanklik was dit die CEO, met wie hy nie om dieselfde vuur kan sit nie, en die hoof van die regsafdeling, wat verantwoordelik was vir Trump se verbanning. Oor die naweek het hy dit egter selfs verder gevoer en na berig word omtrent 75 persent van werknemers by Twitter se hoofkantoor die trekpas gegee.
..............

Derdens het adverteerders begin om hul advertensies van die sosiale netwerk te onttrek, of te halt tot tyd en wyl hulle meer sekerheid het oor wat presies Musk se plan is. Wat Musk waarskynlik nie voorsien het nie, is dat adverteerders nie die aptyt het om met sosiale media wat verregse bande versterk, geassosieer te word nie. Adverteerders wil hul produk aan die grootste moontlike groep verkoop, en dit beteken dat hulle nie gematigdes, polities neutrale en linkse kopers kan vervreem nie. ’n Mooi ope brief waarin hy belowe niks sal verander nie, is nie genoeg om senuagtige adverteerders tevrede te stel nie. En adverteerders is nodig om Twitter aan die gang te hou. Gebruikers betaal nie om Twitter te gebruik nie, en dis oor die jare heen keer op keer bewys mense gaan nie sommer begin betaal vir iets wat hulle gewoond is om gratis te ontvang nie, veral as die ervaring waarvoor hulle nou moet betaal, verswak het. As Twitter nou ’n verregse hawe word, gaan meer en meer gewone mense die platform verlaat. Musk kan dit nie bekostig nie.

.............

Wat Musk waarskynlik nie voorsien het nie, is dat adverteerders nie die aptyt het om met sosiale media wat verregse bande versterk, geassosieer te word nie. Adverteerders wil hul produk aan die grootste moontlike groep verkoop, en dit beteken dat hulle nie gematigdes, polities neutrale en linkse kopers kan vervreem nie.

................

Vierdens het glanspersoonlikhede alreeds begin om hul Twitter-profiele uit protes te sluit. Shonda Rhimes en Sara Bareilles is slegs twee persone wat ek volg wat alreeds Saterdag hul rekeninge toegemaak het. Meer gaan beslis volg. En daarna gaan baie mense wat eintlik maar net op Twitter is om hul gunstelingglanspersoonlikhede te volg, vind dat daar eintlik niks is wat hulle op die platform hou nie.

Laastens het Jack Dorsey, ontwikkelaar van Twitter, bekend gemaak dat sy Bluesky Social-toepassing, wat as kompetisie vir Twitter sal dien, nou in die beta-toetsfase is. Ek self sal met graagte oorgaan na Bluesky wanneer dit gereed is vir gebruik. En noudat Musk ’n klomp kundiges afgedank het, kan Bluesky kies en keur wie om aan te stel om die platform behoorlik op dreef te kry.

Maar nie een van hierdie is Musk se groot misverstand nie. Musk verstaan nie mense nie, en hy is nie so bedrewe in politiek soos wat hy dink, of in internasionale reg nie. Wat toelaatbaar is in die VSA, is totaal onaanvaarbaar in heelparty ander jurisdiksies. So byvoorbeeld het Duitsland streng haatspraakwetgewing, en Twitter sal daarby moet inval. Wys hy die middelvinger vir die Duitsers, stel hy nie net Twitter in gevaar nie, maar ook Tesla, wat ’n groot mark in Duitsland het.

..............
Maar nie een van hierdie is Musk se groot misverstand nie. Musk verstaan nie mense nie, en hy is nie so bedrewe in politiek soos wat hy dink, of in internasionale reg nie. Wat toelaatbaar is in die VSA, is totaal onaanvaarbaar in heelparty ander jurisdiksies.
...............

Boonop wil mense deel wees van ’n positiewe ervaring. Musk se planne om Twitter te verdeel in strome waar mense groepe kan vorm om met mekaar in stryery betrokke te raak, werk dalk in gaming. Die meeste Twitter-gebruikers is egter nie gamers nie, en stel nie belang in daai tipe interaksie nie. Mense stry in elk geval al klaar op Twitter. Musk probeer nou water na die see dra.

Musk se kopsere begin maar net. Hy kan nie algehele vryheid van spraak toelaat nie, want dan gaan hy sit met ’n sosialemediaplatform wat net vir verregses aanloklik is. Boonop gaan hy hom vasloop teen haatspraakwetgewing. Vryheid van spraak beteken immers nie dat enigeen net kan sê wat hulle wil nie. Vrye spraak het beperkinge, en met reg ook. Daar bestaan wetgewing om te verseker dat mense, en besighede, binne die perke van aanvaarbare spraak bly.

Kort voor lank gaan sy held Trump ook besef dat  die nuwe Twitter kompetisie vir sy Truth-platform is, en dan gaan die messe uitkom. Trump se enigste lojaliteit is teenoor homself, en hy is bereid om enigeen wat in sy pad staan, onder die spreekwoordelike bus te gooi. Heelparty mense wat heeltemal lojaal aan Trump was, se lewens is al vernietig wanneer hulle nie meer bruikbaar is nie. Ek twyfel of Musk daaraan gedink het.

Tensy Musk gou by sy sinne kom, gaan Twitter binnekort bekend wees as die duurste middeljarekrisis wat ons nog gesien het.

En Bluesky gaan al die pad bank toe lag.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top