Zainub Dala: die stilswye van die lammers

  • 3

Dit het begin met ’n straightforward vraag-en-antwoord-sessie in die aanloop tot die launch van haar debuutroman, What about Meera?

Die nadraai van ’n op die oog af eenvoudige antwoord op ’n vraag uit die gehoor krap egter ernstige vrae oop oor die verborge underbelly van ons samelewing: vryheid van spraak, skrywers se betrokkenheid by aktuele aangeleenthede, godsdienstige patriargie, fundamentalisme en victim-blaming. Dis ’n giftige cocktail in enige samelewing, maar in een wat alreeds so gepolariseerd is soos ons s’n, en boonop so parogiaal is soos ons s’n, word dit maklik buite proporsie geblaas.

Die eerste keer dat ek die naam Zainub Dala hoor, is toe ons verneem van die baksteenaanval op haar, skynbaar omdat sy die vorige dag Salman Rushdie genoem het as ’n skrywer wie se werk sy bewonder. My eerste reaksie was dat dit ’n tipiese voorbeeld is hoedat vryheid van spraak nie net deur die staat nie, maar soms ook deur individue op gewelddadige manier ingeperk word. Sy’s tog daarop geregtig om te bewonder wie sy wil, of hoe?

Die konteks, dat sy ’n Moslemvrou is wat in ’n Moslemgemeenskap Rushdie as ’n held aangedui het, het my nie ontgaan nie, maar ek het aangeneem dis ’n geïsoleerde voorval. Die fatwa teen Rushdie is tog lankal teruggetrek.

Terwyl ek hierdie stuk skryf*, is Dala egter in die sielkundige saal van ’n Durbanse hospitaal opgeneem, skynbaar met posttraumatiese stressindroom. Dit op sigself is nie vreemd nie. Die omstredenheid begin egter met 11 boodskappe om hulp wat sy uitstuur na die PEN-gemeenskap van skrywers.

Die baksteenaanval was nie geïsoleerd nie. Dit blyk toe dat sy en haar gesin sedertdien sistematies getreiter word. Daar was selfs ’n artikel, waarskynlik een van vele, wat te kenne gee dat omdat niemand die aanvallers gesien het nie, daar nie ’n aanval kon gewees het nie. Die artikel is geskryf deur ’n Moslemvrou.

Die volle prentjie sal seker eers in die volgende dae en selfs weke na vore kom. Dis egter duidelik dat sy in haar desperaatheid en turmoil na haar imam, haar geestelike leier, gegaan het vir raad. Ook dit is nie vreemd in ’n godsdienstige land soos ons s’n nie, ongeag watter godsdiens jy volg.

My ongemak kom egter wanneer ek lees dat sy aangeraai is om haar in ’n sielkundige inrigting te laat opneem sodat sy kan “repent”, sodat sy oor haar godsdiens en iman kan nadink. Iman is ’n Arabiese woord wat losweg vertolk kan word as sekerheid in onsekerhede, of geloof. Hierdie vrou is ’n slagoffer van ’n skynbaar georkestreerde aanval deur ’n gemeenskap, en sy word aangeraai om te repent? In enige geloof beteken repentance tog dat jy die oortreder is, dat jy iets verkeerd gedoen het wat reggestel moet word. Dis die godsdienstige ekwivalent daarvan om vir ’n vrou wat verkrag is, te vertel sy moenie kort rokke dra nie. Die boodskap, keer op keer, is dat die aanval die vrou se fout is. Geen blaam word gelê voor die deur van die (gewoonlik manlike) oortreder se deur nie. Dis feitlik teksboek victim-blaming, maak nie saak hoe subtiel dit gedoen word nie.

Dis baie maklik om die hele aangeleentheid af te maak as die optrede van fundamentalistiese Moslemfanatici. Die maklike antwoord is egter bitter selde die regte antwoord, of selfs die volle antwoord. Die oorgrote meerderheid Moslems in hierdie land en dwarsoor die wêreld is vredeliewende mense. Gift of the Givers, sekerlik die grootste rampverligtingsorganisasie in Afrika, is deur ’n Moslemdokter begin. My ma se suster is Moslem, en by haar kan die meeste Christene leer van charity, vergifnis en al die ander “Christelike” virtues, wat regtig maar waardes is wat dwarsoor alle gelowe dieselfde is.

’n Baie klein persentasie Moslems is godsdienstige fanatici, op dieselfde manier soos wat slegs ’n klein aantal wit mense Wit Wolwe of AWB-lede is. Om ’n hele groep oor dieselfde kam te skeer omdat ’n absolute minderheid op ’n bepaalde manier optree, is stompsinnig, om die minste daarvan te sê. Dit keer egter nie persone met ’n bepaalde politieke agenda om die sprong te maak en die vlamme van intolerance te probeer aanblaas nie.

Dis maklik (of gerieflik) om te vergeet dat godsdienstige patriargie en victim-blaming van vroue ’n eeue oue Christelike tradisie is. Van die sondeval met Eva in die tuin van Eden regdeur tot vandag word mans van blaam onthef en vroue die skuld gegee wanneer dinge skeefloop. In 1984 het Phyllis Trible, ’n feministiese teoloog, die eerste keer die term texts of terror gebruik om te verwys na Bybeltekste wat victim-blaming tot hogere godsdiens verhef. Die verkragting van Tamar, die uitsluit van die onbekende vrou wat oorgelaat word aan die lot van ’n groepsverkragting deur die mans van ’n dorp, terwyl haar man veilig binne die huis sit, en vele meer, is voorbeelde hiervan.

Dat die imam se eerste reaksie was om Dala te blameer, eerder as om haar te behandel met die compassion wat aan die hart van Moslemgeloof lê, verbaas my dus nie. Sy sou in alle waarskynlikheid ’n soortgelyke reaksie gekry het as sy ’n Christen was. Dis gewoon makliker om die vrou te blameer as om die mans wat oortree het, te konfronteer.

’n Rukkie terug was ek op ’n paneel wat gepraat het oor die rol en relevantheid van die Afrikaanse skrywer in die post-André Brink era. Ek kan nie meer onthou wie die punt gemaak het nie, maar daar was gesê dat Brink se sukses as kritikus juis was omdat hy as insider uitgepraat het. Is dit nie presies dieselfde geval met Dala nie? As ’n Moslemvrou het sy op ’n fault line in die Moslemgemeenskap gewys. Brink word nou, jare later, en veral na sy dood, as ’n held opgelig. Toe hy begin uitpraat het, was hy behandel as ’n paria. Ek vermoed Dala is besig om dieselfde te ervaar van binne haar eie gemeenskap.

En in ’n vreemde parallel met Dala se werklike situasie beskryf Brink in ’n Droë wit seisoen ’n toneel waar die protagonis geestelike hulp by sy predikant gaan soek, en leë hande moet terugkeer. Die predikant het net platitudes en blaam om hom aan te bied.

Martin Niemöller het die volgende gedig geskryf:

First they came for the communists
And I didn’t speak out because I wasn’t a communist
Then they came for the trade unionists
And I didn’t speak out because I’m not a trade unionist
Then they came for the Jews
And I didn’t speak out because I wasn’t a Jew
Last they came for me
And there was no one left to speak for me.

My oorspronklike reaksie, dat hierdie ten eerste ’n aanval op ’n skrywer se vryheid van spraak is, bly staan. Skrywers en skrywerorganisasies van dwarsoor die wêreld het reageer. Hulle sê lammers blêr nie wanneer hulle ter slagting gelei word nie. Soos daai lammers word Afrikaanse skrywers se bydrae tot hierdie aanval op ons almal se vryheid gekenmerk deur ’n dawerende stilte.

Wat kos daai stilte ons almal uiteindelik?

* Dala is intussen op 14 April uit hospitaal ontslaan is en sterk tuis aan.

  • 3

Kommentaar

  • Marguerite Kortje

    Dankie vir die in-perspektief-plaas van die Dala-situasie, Bettina. Deur haar geval in die konteks van die wyer godsdienskonteks te plaas, word dit as universele problematiek uitgelig. Wat Rushdi se sensuur betref, het dit my laat dink hoe ons, in die laat-80's, op US 'n klandistiene versoekskrif gaan onderteken het om hom te ondersteun.

  • Theresa Papenfus

    Briljante en dapper artikel, uiters relevant. Baie dankie. Ek wag en hoop al jare lank vir 'n Afrikaanse skrywer om te sê:

    "Hulle sê lammers blêr nie wanneer hulle ter slagting gelei word nie. Soos daai lammers word Afrikaanse skrywers se bydrae tot hierdie aanval op ons almal se vryheid gekenmerk deur ’n dawerende stilte." Ek het nie verniet gewag nie.

  • Johannes Comestor

    Ek ontken dat Wyngaard die reg het om een na die ander "Afrikaanse" artikel deurdrenk met onnodige Engelse woorde uit te wors. Sy moet eerder minder skryf, die Afrikaans van die Engelse woorde naslaan en hulle dan gebruik.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top