Lesers is meer empatiese mense omdat hulle deur die stories wat hulle lees, in staat gestel word om in die skoene te klim van persone wat anders as hulle is.
Verskeie studies het dit bewys, en daardie studies word gereeld aangehaal om op die positiewe sy van ’n leeskultuur te wys.
As dit waar is, dan moet ons erg bekommerd wees oor die onlangse statistieke wat wys dat die meeste graad 4-kinders nie met begrip kan lees nie. Ek kan onthou hoedat ons op skool ’n stuk moes lees, en dan in ons eie woorde ’n opsomming van die stuk moes gee en verduidelik wat ons gelees het. Dit was nie net die standaardbegripstoets nie; ons moes ’n précis kon doen. As kinders nie kan begryp wat hulle lees en dit sinvol kan weergee nie, kan hulle hulle mos nie in ’n storie inleef en hulle verbeel hulle is karakter X of Y nie. Wat word dan van empatie in die volgende paar dekades?
........
Maar is dit regtig waar wat hierdie studies voorgee om te bewys?
........
Maar is dit regtig waar wat hierdie studies voorgee om te bewys? Die meeste bruin mense in my gemeenskap bo 70 het nie matriek gemaak nie. Dalk het hulle graad 8, die ou standerd 6, gemaak. Bo ouderdom 80 krimp daai syfer drasties. Die meeste bruin mense bo 80 wat ek ken, het dalk graad 4, standerd 2, gemaak. Baie het glad nie skoolgegaan nie en kan beswaarlik hulle eie name skryf. Toe ek op Grabouw begin praktiseer het, het ek vinnig geleer om dit standaard te maak dat ek dokumente vir mense voorlees, stop en kort-kort in eenvoudige taal verduidelik wat dit beteken, en dan geleentheid vir vrae gee. Aan die einde het ek dan bloot gesê hulle kan hul naam teken of ’n kruisie maak. In alle gevalle. Ek het nooit gevra of hulle kan skryf nie, want hul gebrek aan opvoeding is vir baie mense ’n bron van verleentheid, al was dit glad nie hulle skuld nie. Dis hartverskeurend wanneer baie nie weet hoe om ’n pen vas te hou nie. Maar sonder uitsondering was daai mense die mees meelewende, empatiese mense wat ek ken. Hulle het geweet hoe die lewe met mens rondomtalie kan speel, en daarom het hulle sagter met ander omgegaan.
Vandag kan baie mense nie lees en skryf nie omdat die opvoedingsisteem substandaard is. Dis nie hulle skuld nie, maar elke keer is hulle, die armste van die armes, die slagoffers van daai sisteem.
Ek self het nog altyd hierdie romantiese beeld gehad van lesers as nie net meer empaties nie, maar ook meer gesofistikeerd en kosmopolitaans as mense wat nie kan of wil lees nie. In 2023 het ek aan eie bas ervaar dat dit nie waar is nie toe ’n paartjie by ’n boekfees geweier het om aan dieselfde tafel as ek en my swart vriend te sit. Lesers is net so rassisties en geneig tot vooroordele as nielesers, is die pynlike les wat ek daar geleer het. Ek het al vantevore hieroor geskryf, en ons het selfs ’n LitNet-miniseminaar oor strukturele rassisme aangebied. Gaan lees gerus daardie bydraes.
........
Ruimtes waar kuns in alle vorme aangebied word, behoort verrykende, verruimende en demokratiese spasies te wees waar almal hulleself op gelyke vlak kan geniet.
........
Ruimtes waar kuns in alle vorme aangebied word, behoort verrykende, verruimende en demokratiese spasies te wees waar almal hulleself op gelyke vlak kan geniet. Die dae waar net sekere mense ballet of opera kon geniet, waar geleenthede net vir sommiges beskore was omdat pryse nie bekostigbaar was nie, of sekere tipes drag en gedrag gebruik is as kode vir dié wat weet wat van hulle verwag word tot uitsluiting van ander, hoort in die verlede. Kuns in 2024 behoort aan almal, ongeag ras, geslag, kleur of watter ander kriteria ookal gebruik kan word.
Kunsspasies in die algemeen, en boekspasies spesifiek, omdat dit tot my konteks as skrywer en leser spreek, behoort veilige ruimtes te wees. Veilige ruimtes is ruimtes waar mense nie hoef te vrees dat hulle identiteit gebruik sal word om teen hulle te diskrimineer of hulle te bedreig nie. Veilige ruimtes is ruimtes waar mense nie op hulle hoede hoef te wees en verberg wie hulle is (indien hulle dit kán verberg) om deel te kan neem aan aktiwiteite nie. Veilige spasies is ruimtes waar mense spasie kan opneem om net hulleself te wees sonder om die gevolge van selfuitdrukking te vrees. Daarom het ek ná daardie rassistiese voorval besluit om nie deel te neem aan enige boekfeeste waar my bruin vel my blootstel aan diskriminasie van enige aard nie, tensy die persone wat in beheer van die feeste is, bereid is om standpunt in te neem en op te tree teen mense wat nog dink hulle kan sonder gevolge diskrimineer. Dit gaan nie net oor my nie. Elke bruin en swart kunstenaar, elke bruin en swart lid van die gehoor, behoort veilig te wees wanneer hulle feeste bywoon. Om weg te kyk en stil te bly help niemand nie, die minste van almal ons reënboognasie.
........
Dit gaan nie net oor my nie. Elke bruin en swart kunstenaar, elke bruin en swart lid van die gehoor, behoort veilig te wees wanneer hulle feeste bywoon. Om weg te kyk en stil te bly help niemand nie, die minste van almal ons reënboognasie.
........
Dis die ding. Rassiste tree op soos wat hulle optree omdat hulle gemaklik is in die wete dat hulle nie negatiewe gevolge ervaar nie. Hulle maak staat daarop dat die persoon teen wie hulle diskrimineer, so vernederd gaan voel dat hulle eerder stilbly en wegbly. Juis daarom is dit so belangrik dat rassisme, en ander vorme van diskriminasie, trompop geloop en gekonfronteer moet word. Dit wat in die donker gedoen word, kan nie meer beskerm word nie.
Goddank vir feesdirekteure wat inklusiwiteit en diversiteit omarm en wil beskerm. Goddank vir feesdirekteure wat verantwoordelikheid neem vir die ruimtes wat tydens hulle feeste in beset geneem word. Goddank vir die feesdirekteure van die volgende feeste wat standpunt inneem ten gunste van diversiteit en inklusiwiteit: Vrye Weekblad Boekefees, Stilbaai Boekfees, Suidoosterfees, KKNK, Toyota Woordfees, Vrystaat Kunstefees, Aardklop en Innibos.
Ander feeste behoort hulleself af te vra hoekom hulle nie bereid is om standpunt in te neem teen diskriminasie nie. Wat wil hulle beskerm?
Boekruimtes behoort veilig te wees vir almal. Boekruimtes kán veilige ruimtes wees vir almal, indien daar met intensie teen diskrimineerders standpunt ingeneem word.
Dis tog die reënboognasie waarvan Desmond Tutu gedroom het, en waaroor ons steeds droom. Anders as so baie ander drome kan hierdie droom in boek-en-kuns-ruimtes waar gemaak word.
This is what a literary festival in Cape Town should look like