Dit is die vyfde bydrae in LitNet se miniseminaar oor strukturele rassisme.
...
Verandering begin by my, in verhouding tot jou. Dís hoe ons menslike potensiaal ontplooi.
...
Maak ons die wêreld, of maak die wêreld ons? Dít is een van die vraagstukke van die menslike bestaan.
Dit gaan om die mate waarin ons die werklikheid om ons kán skep. Hierdie vraag het etiese implikasies. Kan ons omstandighede só bepaal dat ons geregtigheid kan laat geskied? Kan ons ongeregtigheid die hoof bied? Kan ons daarvoor verantwoordbaar gehou word?
Ek gebruik die woord “ons”. Maar die vraagstuk handel nie oor agentskap net op groepsvlak nie, maar ook op individuele vlak.
Uit die oogpunt van liberale met hul klem op individualisme is die mens ’n vrye agent wat deur die wêreld beweeg, inligting bekom en besluite neem om ’n “goeie lewe” te bewerkstellig.
Voorstanders van dié benadering meen maatskaplike strukture is nie van belang in hierdie prosesse nie. Dus is mislukkings – soos afgelees van maatskaplike stand en materiële vermoëns – die gevolg van ’n individu se swak besluite.
In die liberale begrip kan jy sukses behaal deur jou sokkies op te trek. Uitsluiting of marginalisering bestaan nie as die resultaat van strukturele ongelykheid nie. Dit het te doen met jóú, as individu.
In Suid-Afrika en elders het marxistiese ontleders vanaf die ‘60’s en ‘70’s die liberale posisie bevraagteken en die klem na maatskaplike strukture – sisteme en instellings – verplaas. Kapitalisme skep ’n ongelyke klasstruktuur waarin die middelklas se beheer oor die middele van produksie hulle in staat stel om die werkersklas uit te buit. In Suid-Afrika se geval het apartheid die kapitalisme in die vorm van rassekapitalisme gedien.
Marxisme het, soos feminisme, ’n mens attent gemaak op hoe strukture ons lewensmoontlikhede bepaal. Sedertdien is die marxistiese standpunt as té deterministies en blind vir verskille buite klas gekritiseer.
Die verskillende blindhede van beide die liberale en die marxistiese standpunte is oortuigend deur feministe en swart en postkoloniale denkers aan die kaak gestel. Hul kritiek help om die verhouding tussen die individu en strukture beter te verstaan.
Neem apartheid: As jy gedurende apartheid gebore is, het dit beteken om gebore te gewees het in ’n stelsel van ongelykheid wat met amptelike kategorieë van verskillendheid gestruktureer is. Ras was die sentrale kategorie van diskriminasie, gerugsteun deur geslag, seksualiteit, klas, etnisiteit en ander kategorieë.
Die apartheidstaat het individue gerassifiseeer deur aan elkeen ’n raskategorie toe te ken. Dié kategorie het elke aspek van elke lewe gerig. Instellings, insluitend die gesin, die skool, die kerk en die maatskappy, het individue daarvolgens gekondisioneer. Dit was bepalend van die mate waartoe jy jou potensiaal kon verwesenlik – of nie.
In die globale orde van kapitalisme is klas die bepalende faktor, wat vererger word deur geslag, ras en ander kategorieë van afgedwonge verskillendheid. Patriargie, as die oudste stelsel van onderdrukking, gebruik op sy beurt geslag om menslike waarde hiërargies in te deel, wat weer eens verswaar word deur die interseksie met verskille soos ras en seksualiteit. Weer eens word ons as individue gekondisioneer om die wêreld deur hierdie lense te verstaan.
Sedertdien probeer opkomende populismes en outoritêre aanslae op demokrasie die bemagtiging van vroue en swart mense en die opkoms van voorheen gekoloniseerde mense terugdraai.
Kultuur, oftewel die maniere waarop mense van hulself en hul omgewing sin maak, het al belangriker geraak. Vooroordeel en diskriminasie word opnuut gelegitimeer deur as “kultuur” herverpak te word.
Hiermee saam kom ’n herlewing van die sosiale Darwinisme wat vanaf die 19de eeu ’n ideologiese impak in die vorm van eugenetiek en later fascisme en Nazisme gehad het.
Daarvolgens is mededinging die primêre manier waarop lewensvorme georganiseer word: “oorlewing van die sterkste”. Mense het nie dieselfde vermoëns nie. Jy is uitgesluit want jy is eenvoudig “nie goed genoeg nie”. Deesdae word hierdie idee opnuut as ’n natuurlike toedrag van sake voorgestel.
Ongelykheid word dus as ’n natuurlike deel van die lewe aangebied. Kyk mens egter van naderby, is dit opvallend dat liggaamlike verskille misbruik word om hierdie hiërargieë te skep en in stand te hou.
Menslike waarde word op ’n kru manier van liggame afgelees: Jy word byvoorbeeld as swart of bruin gerassifiseer op grond van melanien en fenotipe, en net daar ingedeel as van mindere waarde as mens. Agter die kwansuise “jy is nie goed genoeg nie” skuil ’n hiërargie van menswees.
Hierdie prosesse gebeur nie net deur middel van die staat en ander instellings nie. Individue dra elke dag by tot die instandhouding van hiërargiese strukture van menswees – of tot die aftakeling daarvan. Instellings is niks anders nie as menslike praktyke wat deur herhaling ’n gestruktureerde vorm aanneem.
Dit begin by mense in verhouding tot mekaar. Heelwat navorsing is al gedoen om wat die Nederlandse akademikus Philomena Essed as “alledaagse rassisme” beskryf, beter te verstaan. Amptelike apartheid is ongedaan, maar dit blyk dat Suid-Afrikaners baie doeltreffend gekondisioneer is om steeds mense se waarde van hul liggame af te lees.
Dit gebeur in doodgewone en onopvallende oomblikke waarin die rasse- (of geslags- of ander) hiërargie deur ’n opmerking of ’n manier van kyk of ’n nieverbale gebaar herbevestig word. Dit moet nié as doodgewoon beskou te word nie. Maar ons dink daaraan as doodgewoon juis omdat ons in rassedenke vasgevang en gesus is.
Mense was as wit gerassifiseer word, het ’n spesiale verantwoordelikheid in hierdie verband. Gegewe dat ons posisie as “meerderwaardig” in die piramide van ras gekonstrueer word, het ons ’n spesifieke etiese taak van introspeksie en retrospeksie oor hoe ons met ander gerassifiseerde mense omgaan.
...
Soos wat die staat onder die ANC al hoe meer verswak, kom die afgryslike strukturele ongeregtighede van kolonialisme en apartheid al meer na vore.
...
Die visie van nierassigheid in die konstitusionele kontrak wat Suid-Afrikaners gesluit het, vereis bewustheid sodat ons as wit mense nie lukraak ou patrone herhaal nie. Die ongelyke gevolge van apartheid se geïnstitusionaliseerde rassisme kan nog orals om ons gesien word. Soos wat die staat onder die ANC al hoe meer verswak, kom die afgryslike strukturele ongeregtighede van kolonialisme en apartheid al meer na vore.
Alledaagse rassisme dra by tot die historiese nalatenskap van ongeregtigheid deur ruimtes opnuut vyandig te maak. Met die minste ambisie beskou, is dit onvolhoubaar: daar is geen manier waarop ons in vrede kan saamlewe in hierdie land as rassisme voortduur nie.
Maar met meer ambisie beskou, getuig voortdurende alledaagse rassisme ook van ’n gebrekkige besef van hoe verontmenslikend onderdrukking vir beide swart én wit is, soos Albert Memmi reeds in die ‘50’s geskryf het. Dus getuig dit van ’n verbeeldingloosheid oor hoe verhoudinge vernuwe kan word op maniere wat wedersydse menslikheid herbevestig.
Verandering begin by my, in verhouding tot jou. Dís hoe ons menslike potensiaal ontplooi.