
Historiese kerk in Bethlehem, Palestina (foto: Ala J Graczyk op Pexels)
Kersfees roep beelde op van gesinne wat saam om ’n Kersboom vergader, of dalk kinders wat opgewonde geskenke oopmaak. Dalk is dit Kersvader met sy wit baard en sy rooi pak klere wat eerste opkom. Of die rendiere wat sy slee trek. Of dalk is dit ’n swaar gelaaide tafel wat kreun onder al die lekkernye, met familie wat van oraloor bymekaarkom om die dag saam te vier. Dalk is dit die beeld van ’n kindjie in ’n krip.
Maak nie saak wat die eerste beeld is wat in ons gedagtes opkom wanneer ons gevra word wat Kersfees beteken nie, dis gewoonlik iets positief. Maar met al die oorloë en politieke onrus wat tans heers, veral in die Midde-Ooste, kan ek nie anders as om te wonder wat Kersfees vir daardie mense beteken nie.
Vir hulle is daar nie die magiese Kersfees waaraan ons gewoond is nie. In Gaza byvoorbeeld sal die kinders ’n stukkie brood en ’n koppie skoon drinkbare water meer waardeer as enige pop of ander geskenk waaraan ons kan dink. ’n Dak oor hulle koppe, ’n plek waar hulle kan slaap sonder vrees dat hulle gebombardeer gaan word, is dalk al wat hulle hierdie Kersfees verlang. Of dalk is dit toegang tot mediese dienste en medisyne, sanitêre doekies vir vroue en tienermeisies. Dis als goed wat as vanselfsprekend aanvaar word, wat bloot net nie beskikbaar is nie.
Maar is hulle nie almal Moslems vir wie Kersfees niks beteken nie? wonder iemand dalk. Christene is egter oral, ook in die Midde-Ooste. Daar is Christene in Israel, in Sirië, in Iran, in Libanon, in China, in Rusland. Daar is nie ’n land in hierdie wêreld waar daar nie Christene is nie.
........
Kersfees is deesdae ’n dag verwyder van die godsdienstige konteks, maar steeds verbonde aan die medemenslik-empatiese konteks, die idee van “peace on earth and goodwill to all men”. Maar deesdae is daar al minder vrede en al minder goedgesindheid teenoor mekaar.
........
En net soos wat ons Swart Vrydag en Halloween (en Thanksgiving, kom ek al meer agter) volg sonder enige kulturele konteks, net so is daar mense wat nie in Christus se geboorte glo nie wat die dag as ’n kommersiële dag vier. Kersfees is deesdae ’n dag verwyder van die godsdienstige konteks, maar steeds verbonde aan die medemenslik-empatiese konteks, die idee van “peace on earth and goodwill to all men”. Maar deesdae is daar al minder vrede en al minder goedgesindheid teenoor mekaar.
Dis nie genoeg om net dankbaar te wees dat ons in ’n land woon waar ons ons goedsdienstige oortuigings kan uitleef ongeag wat ons oortuigings is nie. Dis nie genoeg om net dankbaar te wees dat ons soutvleis en gammon en tong en skaapboud en trifle kan eet nie.
In Europa is daar meer as ’n honderd duisend Siriese vlugtelinge wat nog steeds wag dat hul asielaansoeke aangehoor word. Baie van hulle is hierdie week ingelig dat hulle aansoeke nie aangehoor word nie, en dat daar vlugte gereel word om hulle terug te neem Sirië toe. Hoe ironies dat dit juis die mense is wat die plaaslike wette probeer gehoorsaam wat hieraan onderwerp word. Die kriminele elemente, as daar was, het lankal reeds die net van wetstoepassers ontvlug en is netjies ingeburger in die samelewing, want dit is wat hulle doen.
Daar word nie eens gewag om te kyk of die nuwe regime wat die land gaan regeer, enigsins beter is as dit waarvan die vlugtelinge weggevlug het nie. Die ongerief om hulle te huisves weeg swaarder as die wetlike verpligting om vlugtelinge te ontvang.
Dit laat my dink aan die 1985-Live Aid-konsert se trefferlied “Do they even know it’s Christmas?”. Toe is dit gevra omtrent die slagoffers van die Ethiopiese hongersnood. Nou wonder ek dit nie net oor die slagoffers van brutale militêre mag in die Midde-Ooste en Afrika nie, ek wonder dit ook oor dié in magsposisies in die Weste wat hulle rug draai en weier om hulp te verleen, of erger, aktief aan die onderdrukking meedoen.
Hierdie Kersfees kan nie net nog ’n dag wees waar ons hulpeloos skouers optrek en sê ons kan niks doen hier in Suid-Afrika nie. Ons kán iets doen. Ons kan protes aanteken, ons kan ons misnoeë uitspreek, ons kan ons regering vra om iets te doen. En wanneer hulle iets doen, soos toe hulle Israel gedagvaar het, kan ons ons ondersteuning luid maak.
Elie Wiesel het dit so goed gestel toe hy gesê het: “We must always take sides. Neutrality helps the oppressor, never the victim. Silence encourages the tormentor, never the tormented.”
Mag hierdie Kersfees een wees waar ons “peace on earth and good will to all men” aktief uitleef.

