Trump en Zuma: katalisators vir vroulike aktivisme?

  • 0

In die Ou Testament word die verhaal vertel van die dogters van ’n boer wat die gevestigde belange van daardie tyd bestry het vir die reg om hul pa se grond te kon erf, en gewen het.

Eeue later, en vroue in 2017 moet nog steeds daagliks veg vir hul regte. Westerse vroue se stryd is dalk nie meer rondom erfreg nie, maar dis steeds ekonomies. Daar is steeds ongelykhede in salarisse. Daar is steeds ongelykhede binne die raadsale. Daar is steeds ongelykhede in die topstrukture van maatskappye. Daar is steeds skreiende ongelykhede in die voorsiening van gesondheidsorg, wat ’n invloed het op vroue se vermoë om te werk en ’n inkomste te verdien. Daar is steeds poste waarvan vroue uitgesluit word op grond van hul geslag. Hoekom anders word vroue steeds nie as priesters in die Rooms-Katolieke Kerk toegelaat nie?

En wanneer ’n vrou uiteindelik tuis kom, word daar van haar verwag om ’n groter bydrae te lewer in die arbeidsverdeling binne die huis.

Die laaste Amerikaanse verkiesing het een baie belangrike boodskap uitgedra: enige man, selfs ’n onbevoegde, seksistiese, rassistiese man wat optree asof hy besig is om sy eie realiteit-TV-reeks te skiet eerder as om ’n land te bestuur, is verkieslik bo ’n meer bevoegde vrou.

Op eie bodem is Zuma besig met ’n sosiale eksperiment wat die teenoorgestelde probeer bewys: enige vrou, selfs ’n onbevoegde, lustelose, potensieel korrupte een, kan verkies word solank as wat sy die regte maghebbende man het wat haar steun.

In beide gevalle is vroue net pionne op ’n skaakbord, daar om mans en hul agendas te ondersteun. In beide gevalle is daar vele ander vroue wat maar net te gretig is om die mans te help om patriargie in stand te hou. Dink maar aan KellyAnn Conway, Nikki Haley en Sarah Huckabee Sanders. By ons is die ANCWL-president, Bathabile Dlamini, ’n handboekvoorbeeld van ’n vrou wat klaarblyklik bereid is om vroueregte te vertrap in haar gretigheid om manlike guns te ontvang.

Daar is egter ’n ander kant, wat nie Trump óf Zuma kon voorsien het nie: vroue-aktiviste. Vroue wat nie langer bereid is om te gaan lê en toe te laat dat mans (en sommige ander vroue) hul regte vertrap nie. Die hoogs suksesvolle Women’s Marches wat vroeër vanjaar plaasgevind het, getuig daarvan.

 ’n Ander arena waar hierdie nuutgevonde aktivisme uitspeel, is die vermaaklikheidswêreld. Hierdie jaar is die jaar waarin Wonder Woman loketrekords verpletter. Dis nie toeval dat The Handmaid’s Tale, die televisiereeks gegrond op Margaret Atwood se baanbrekersboek, skoonskip gemaak het by dié naweek se Emmys nie. The Power, Naomi Alderman se distopiese oorsig oor magsverhoudinge en wat sou gebeur indien vroue alle mag sou kry, word krities bekroon. Ek verwag dis net ’n kwessie van tyd voordat dit verfilm word. Vroue as aksiehelde word al gewilder.

Die vermaaklikheidswêreld is lankal nie meer ’n ontsnapping aan die werklikhede rondom ons nie. Al meer begin dit ons wys waartoe ons behoort te strewe. Bevoegde vroue. Geslagsgelykheid. Verdraagsaamheid teenoor die Ander.

Diktators en korruptes verstaan die mag van entertainment – hoekom anders is die media gewoonlik die eerste bastion in ’n demokrasie wat aangeval word? Hoekom anders is daar firmas soos Bell Pottinger wat ’n luukse bestaan maak daaruit om alternatiewe fiksie as die waarheid aan burgers voor te hou? Hoekom anders is propagandafilms so ’n belangrike deel van enige regime-oorname?

Redi Tlhabi se boek oor Khwezi is skaars uitgereik, en alreeds is die jakkals in die hoenderhok losgelaat, hier kort voor die Desember-kongres waar die ANC se leierskap verkies moet word. Ek verwag dat die bewerings wat hierin gemaak word, meer as een presidentskandidaat se kandidatuur in sy spore gaan laat stuit.

Dis die mag van woorde en beelde.

Trump en Zuma, en ander soos hulle, doen hul bes om vroueregte te vernietig. In die proses is hulle dalk onbewustelik besig om slapende reuse wakker te maak.

Baie vroue wat sou sterf voordat hulle die etiket “feminis” omtrent hulself sou gebruik, is besig om hul feministiese ruggraat te vind. Daar is hernude aanvalle wat poog om al die vooruitgang van die afgelope aantal eeue terug te rol. En die meeste vroue is nie bereid om dit toe te laat nie.

You strike a woman, you strike a rock. Manana het dit agtergekom. Khwezi gaan nog vanuit die graf Zuma se politieke einde beteken. Trump gaan agterkom dat Hillary Clinton dalk die verkiesing verloor het, maar heelwat vroue wat onthou wat hy aan haar gedoen het, gaan hom ook pootjie, een of ander tyd.

En met sy liefde vir kameras en sosiale media is dit dalk net gepas dat dit waarskynlik nie polities gaan gebeur nie, maar in entertainment.

Te veel vroue het seergekry as gevolg van hul optrede. En vroue het lang geheues.

You strike a woman, you strike a rock.

Meer as een politikus het hierdie waarheid al op die harde, pynlike manier geleer. Die tyd is ryp vir nog twee om daai les te leer.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top