Die boublokke van kinderliteratuur

  • 1

Hierdie artikel sluit aan by die LitNet25 Afrikaanse Skrywersberaad-reeks.

Ek gaan poog om vrae te beantwoord oor die definisie van kinderboeke en hoe mens Afrikaanse kinderboeke moontlik binne die internasionale landskap kan plaas.

Definisies en ouderdomsgroepe

Die meeste mense het ʼn voorliefde vir kinderboeke, hetsy dit ʼn volwassene is wat uit hul jongdae kinderboeke onthou wat ʼn indruk op hulle gemaak het, of ouers wat op die oomblik boeke vir hul kinders koop en lees, of dan – die beste rigtingwyser – kinders wat kinderboeke lees. Dit is ten minste verblydend dat die meeste mense ʼn belangstelling het in kinderboeke. Die grendeltyd het getoon dat ouers nog graag ʼn belegging in hul kind se toekoms maak deur ʼn kinderboek te koop, selfs al is geld dalk skraps.

Mens praat van die “kinder-en-jeugboek-mark” en dit is ʼn belangrike vertrekpunt om te gesels oor die stand van die kinderboekmark. Daar is ʼn verskil tussen kinderboeke en jeugboeke (wat tiener- en deesdae ook jongvolwasseneboeke insluit). Oor die algemeen verwys “kinderboeke” na boeke wat gemaak word vir kinders tot op die ouderdom van 12 jaar. Tienerboeke word gemik op kinders van 13 jaar en ouer.

Die skeiding van ouderdomsgroepe is belangrik. Mia Oosthuizen skryf uitgebreid daaroor in haar 2010-MA-studie en Jaco Jacobs skryf daaroor in Die Afrikaanse skryfgids (2012). Dit is belangrik, omdat kinders op ʼn oneweredige spektrum van ontwikkeling lê, met ander woorde alle kinders is nie dieselfde nie. Sommige kinders leer op 6 en 7 jaar oud hoe om te lees, en ʼn ouer kind in graad 2 of 3 is besig om sy of haar leessmaak te ontwikkel (fiksie teenoor niefiksie byvoorbeeld). Die hoop is dat kinders aanhou lees, verskeie tipes boeke probeer – kort en lank – en ʼn liefde vir lees ontwikkel. Elke kind is uniek en stel meestal in ʼn wye verskeidenheid onderwerpe belang. Boonop is daar verskeie vermaakmiddels wat meeding met die lees van ʼn boek. Uitgewers moet hard werk om boeke te maak wat aanloklik en prettig vir ʼn kind lyk én wat hulle sal oorreed om die harder werk van lees te doen in plaas van ʼn videospeletjie te speel.

Ook hier ʼn nota: Ek skryf oor die kinderboekemark wat hoofsaaklik uit lekkerleesboeke bestaan, dit wil sê boeke wat bedoel is om te vermaak en nie ʼn uitdruklike opvoedkundige doelwit het nie.

Skrywers wat vir ʼn spesifieke ouderdomsgroep skryf, is oor die algemeen suksesvol om hul gekose gedeelte van die mark te bereik. Skryf vir ʼn kind in graad 2 wat al goed genoeg kan lees oor ʼn tema waarin hul belangstel, dan is die stryd al half gewonne. Dit is ook waarom die fisiese kenmerke van ʼn boek belangrik is: die aantal bladsye, die lettertipe, die tipe illustrasies en so meer. ʼn Kind moet instinktief weet hierdie boek sal vir hulle werk as hulle in ʼn boekwinkel rondloop of ʼn boek by ʼn skooluitstalling teëkom (die meeste uitgewers gee nie ʼn spesifieke aanduiding van ʼn teikenmark op die agterplat van ‘n boek nie).

Breedweg werk die meeste kinderboekuitgewers met die volgende kategorieë:

Bababoeke vir kinders van 0 tot 3 jaar

Hardebandboekies met ʼn woord of twee per bladsy. Badboeke is ook deel van hierdie kategorie.

Prenteboeke vir kinders van 3 tot 5 jaar

Boeke waar die storie en illustrasies ewe belangrik is vir die vertel van ʼn storie. Tipies sal die boeke naby A4-grootte wees, dalk hardeband as die uitgewer dit kan bekostig. Oor die algemeen is daar tussen 32 en 40 bladsye in ‘n boek, met ʼn paragraaf of twee se teks per bladsy. Ouers sal hoofsaaklik voorlees hier, en klank en ritme (soms rym) is belangrik vir ʼn kind se gevoel van taal aanleer. Die teks kan dus nie te veel wees sodat die storie te lank raak nie. Die uitdaging lê daarin om ʼn volledige storie te vertel sonder om dit té eenvoudig of dan langdradig te maak. Voorwaar een van die moeilikste tipes stories om suksesvol reg te kry. Julia Donaldson verdien die lof wat haar toekom.

 

Selfleesboeke vir kinders van 7 tot 10 jaar

Die lengte van stories verskil hier en sal bepaal vir presies watter ouderdom die boek bedoel is, maar die meeste van hierdie stories sal nog illustrasies bevat en die lees van die storie vergemaklik. Die boeke kan wissel van tussen 48 bladsye en 80 bladsye.

Boeke vir kinders van 10 tot 12 jaar

Selde sal daar nog kleurillustrasies in boeke vir hierdie ouderdomsgroep wees. Daar is dalk swart-en-wit illustrasies, wat die teks minder intimiderend laat lyk. Dink maar aan die Lottie Brooks-boeke. Die stories kan langer wees as die vorige ouderdomsgroep s’n, maar nie só lank dat dit kinders ontmoedig om te lees nie. 

In die VSA word daar tipies na “middle grade novels” vir hierdie ouderdomsgroep verwys (dit het met hulle skoolstelsel te make wanneer kinders na “middle school” gaan). Sommige Suid-Afrikaanse uitgewers verwys na die groepering as “jong tieners”, vermoedelik na die gebruik van Engels uitgewers om na “tweens” te verwys – iewers tussen kind en tiener.

Die breë indelings van die skoolstelsel om te verwys na die Grondslagfase, Intermediêre fase, Senior fase en so meer is ʼn ander sinvolle manier om te kategoriseer en die leesbehoeftes van ouderdomsgroepe in gedagte te hou.

Afrikaans of Engels?

In onlangse jare was daar opwindende skuiwe in die uitgewersbedryf. Onder meer is LAPA Uitgewers deur Penguin Random House Suid-Afrika oorgekoop, en NB-Uitgewers en Jonathan Ball Publishers het saamgesmelt. Dié uitgewers het elkeen lyste met ʼn goeie verdeling van plaaslike boeke en invoere van internasionale (Engelstalige) boeke.

Is daar dus ruimte vir Afrikaanse skrywers om hul boeke te laat vertaal en na die VK en die VSA te versprei? Die kanse is skraal. Penguin Random House Suid-Afrika byvoorbeeld werk met sy eie mandaat en het nie noodwendig maklike toegang tot die internasionale mark se verkoopskanale het nie – ʼn plaaslike boek kan dus nie sommer op aanbeveling versprei word na ander lande nie. Die uitgewer kan probeer om regte te verkoop, en in enkele gevalle (meestal vir volwassenefiksie) slaag dit, maar nie as ʼn algemene reël nie.

Die redes daarvoor is veelvoudig: Elke uitgewer werk eerstens met sy eie mark. Uitgewers ken hul eie markte baie goed en weet watter boeke hulle lesers soek. Die markte in die VK en die VSA is ook veel groter en hulle kan meer eksperimenteer en neigings bepaal en navolg om voorspellings te maak oor wat die volgende top verkoper gaan wees, soos die onlangse liefde onder lesers vir “romantasy” (fantasie gemeng met romanse, soos in die Fourth Wing-reeks).

Die boekemark is ook nog baie Euro-Noord-Amerikaans-sentries. Uitgewers in die VK en die VSA het so ʼn groot invloed op watter boeke in Engels uitgegee word, en die hulpbronne om die boeke op groot skaal te bemark, dat hulle nie regtig oplet na wat in byvoorbeeld Suid-Afrika gebeur nie.

Maritha Snyman het in haar loopbaan baie navorsing gedoen oor leesbehoeftes en -voorkeure vir kinders. In 2006 het sy resepsiestudies onder Afrikaanse kinders in verskillende ouderdomsgroepe gedoen om presies te verstaan watter genres, onder meer, vir hulle uitstaan en wat hulle motiveer om te lees. Hierdie inligting was belangrik, omdat Afrikaanse uitgewers boeke kon maak wat spesifiek op kinders gerig is. Dit is ʼn riglyn wat steeds bly staan: Suid-Afrikaanse uitgewers verstaan hul plaaslike mark baie goed. Die Afrikaanse mark is gevestig en skrywers wat vir die mark skryf – wat hulle by spesifieke ouderdomsgroepe bepaal en op belangstellings en ander kenmerke fokus wat vir Afrikaanse kinders belangrik is – het ʼn groter kans om ʼn leser te bereik. Die Engelse mark is reeds baie vol en dit kan ʼn groot uitdaging vir skrywers wees om hulle in so ʼn groot mark te onderskei.

Dit sal interessant wees om Maritha Snyman se 2006-navorsing oor leesgedrag by kinders vandag te herhaal. Soos genoem, het die navorsing spesifieke vrae oor genres gevra en ook op sekere gendervoorkeure gewys (seuns hou meer van feiteboeke, meisies hou meer van liefdesverhale, en dies meer). Vrae wat mens vandag kan vra: Word kinders meer beïnvloed deur Engelse tendense, veral omdat ander media (soos stromingsdienste) verskillende tipes stories so toeganklik maak? Is die Afrikaanse mark nog so konserwatief met vernaamlik ouers en onderwysers wat as hekwagters vir kinders optree?

Die sosiale media as ʼn bemarkingshulpbron

ʼn Laaste opmerking, oor sosiale media as ʼn bemarkingshulpbron: Dit sal natuurlik wonderlik wees as ʼn skrywer deur middel van sosialemediabemarking boeke kan verkoop. Maar gebeur dit in Suid-Afrika, en is dit ʼn doel om na te streef? Die boekemark in die VSA word lank reeds aangevul deur aanlyn besprekings van boeke. Voor Bookstagram of BookTok ʼn hoekie op sosialemediaplatforms gekry het, was daar boekbloggers op YouTube. Mense het graag na boekresensente se menings geluister en deelgeneem aan gesprekke – waarskynlik omdat daar reeds ʼn stewige boekleeskultuur was wat natuurlik uitgeloop het op gesprekke op die internet. ʼn “Top-down”-benadering. My vermoede is dat dit deel van die rede is waarom Suid-Afrikaanse uitgewers nie heeltemal op sosiale media as verkoopskanaal kan staatmaak nie – dit verg veel meer hulpbronne om ʼn boek deur sosiale media te bemark en te verkoop, ʼn “bottom-up”-benadering. In vergelyking met die VSA byvoorbeeld, het ons ʼn veel kleiner leeskultuur waar daar nie ʼn maklike uitvloeisel van boekbesprekings aanlyn is nie.

Vir kinderboeke is dit in elk geval ʼn moeilike aar om raak te boor: Ouers en onderwysers koop boeke, en jong kinders het nie hul eie sosialemediaprofiele nie (of dit word ten minste nog deur ʼn ouer bestuur). Die bedoeling sal eerder wees om ouers en onderwysers te bereik en te beïnvloed deur sosiale media. Dit maak sosiale media eerder ʼn bewusmakingshulpbron as ʼn verkoopskanaal om na te volg.

Al is daar kommerwekkende statistieke oor die daling van Afrikaanse onderrig, bly die Afrikaanse kinderboek ʼn belangrike deel van die Afrikaanse boekemark. Mag ouers aanhou moeite doen om ʼn Afrikaanse storie vir hul kind te lees; mag onderwysers aanhou om ʼn Afrikaanse boek vir hul klas voor te lees; en mag skrywers aanhou om Afrikaanse boeke te skryf.

Bronne

Getting published. Geen datum. Penguin Random House South Africa:  https://www.penguinrandomhouse.co.za/getting-published#A8. 12 November 2025 geraadpleeg.

Jacobs, J. 2012. Kinderboeke: Jy mag selfs op die bed spring as jy wil. In Die Afrikaanse Skryfgids.   Scheepers, R en L Kleyn (reds). Johannesburg: Penguin Books.

Oosthuizen, M. 2010. ʼn Polisistemiese ondersoek na veranderinge in die Afrikaanse kinderliteratuursisteem sedert 1990. MA-verhandeling, Universiteit Stellenbosch.

Snyman, M. 2006. Die leesvoorkeure en leesgedrag van Afrikaanse kinders. Mousaion, 24(1):145–79. Pretoria: Unisa Press.  

Lees ook:

Carina Diedericks-Hugo: In memoriam: Maritha Snyman

Nandi Lessing-Venter, Shawna-Leze Meiring en An-Mari do Carmo: Afrikaanse jeugboeke vandag: ’n perspektief deur PRH/LAPA Uitgewers

Jaco Jacobs: Jy’s seker nie ernstig nie

Anke Theron: Kinderliteratuur se komvandaan tot vandag

Piet Grobler: The SA Children’s Laureate Award

Anke Theron: Die sleutel tot die vreugde en plesier van kinderboeke

Jeanette de Klerk-Luttig: Kinderboeke, karakter en selfbeeld

Leoné Tiemensma: Die produksieprofiel en -patrone van prente- en geïllustreerde kinderboeke in Suid-Afrika in die 21ste eeu (2000–2020)

Anke Theron: Volwassenes moet lees sodat kinders stories kan vind

Catrina Wessels: Berig vanuit die Bologna Kinderboekbeurs

Lindie Koorts: Kinderboeke wat verheug, vermaak en verruim

Freek Robinson en Jaco Jacobs: Die pad na lesers se harte loop deur hul lagspiere

Anke Theron: Boeke en ouderdomsaanbevelings vir jou kind

Magdel Vorster: Sankind lees die wind – veel meer as stories: ’n onderhoud met Wendy Maartens

Magdel Vorster: Jan De Kinder se kinderboeke in Afrikaans: ’n resensie

Anke Theron: Goue lint my storie begint: Die unieke aard van kinder- en jeugboeke

Magdel Vorster: Onderhoud met De Wet Hugo oor die Grilgrypers-reeks en oor Die groen watergraf

Anke Theron: Goue lint, my storie begint: Die mag van volwassenes se boekkeuses vir kinders

Naomi Meyer, Jaco Jacobs: Hierdie is ’n boek oor monsters: ’n onderhoud met Jaco Jacobs

Selma van Wyk: Ek wil graag LitNet-lesers se opinie vra

Lees die ander bydraes hier:

Die LitNet25 Afrikaanse Skrywersberaad

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top