
Goeiedag
Ek het baie gehou van Liné se kinderboekbespreking, “Harry Potter toor weer met Afrikaans”. Dit het baie vrae beantwoord wat ek gehad het, soos die oorspronklike name van karakters, en dies meer.
Ek wil graag LitNet-lesers se opinie vra.
My dogtertjie is 11. Sy het die Harry Potter-flieks gekyk en sy is mal daaroor. Sy begin nou van lees hou en wil graag die reeks begin lees. Ek is egter bang die reeks is nog te moeilik vir haar om aan te pak.
- Sou julle sê die reeks is beter in Engels of in Afrikaans?
- Van watter ouderdom af sal ’n Afrikaanse kind die Afrikaanse reeks maklik kan lees?
- Van watter ouderdom af sal ’n Afrikaanse kind die Engelse reeks maklik kan lees?
Ek sal julle raad baie waardeer, want ek weet eintlik nie watter een om te koop nie, ook nie of ek eintlik maar nog ’n bietjie moet wag nie.
Groete
Selma
Lees ook:
Harry Potter toor weer met Afrikaans: ’n kinderboekbespreking


Kommentaar
Beste Selma
Ek is so bly om te hoor dat jou dogter 'n liefde vir lees ontwikkel het. Kinders wat daarvan hou om te lees is in hierdie tegnologiese era waarin ons onsself bevind, skaars. Vanuit 'n opvoedkundige perspektief sal ek die volgende aanbeveel:
1. Aangesien haar huistaal Afrikaans is, sal dit goed wees vir haar woordeskatuitbreiding (en spelvermoë) om die boeke in Afrikaans te lees. My ervaring is egter dat die meerderheid Afrikaanssprekende kinders verkies om reekse soos dié in Engels te lees.
2. Of sy gereed is om die Harry Potter-reeks te lees, hang natuurlik af van haar individuele kognitiewe vermoë, leesspoed en tyd tot haar beskikking. Niks verhoed haar om die boeke te lees indien sy bereid is om "geduldig" te lees nie. Begin dalk met een van die "dunner" Harry Potter-boeke en beskou dit as 'n toetslopie.
3. Persoonlik sal ek aanbeveel dat sy op hierdie ouderdom die Afrikaanse vertaling lees. Die Engelse weergawe sal vanaf dertienjarige ouderdom meer gepas wees aangesien sy dan ouer is en haar leesvermoë verder ontwikkel het. Dit is ook goed om haar Engelse woordeskat uit te brei ter voorbereiding vir hoërskool.
Ek kan 'n paar oulike Afrikaanse jeugromans aanbeveel wat sy naas die Harry Potter-reeks kan lees:
- Ben breek weg - Christien Neser
- Ou trieks vir nuwe honde - Christien Neser
- Kersfees in April - Christien Neser
- Felina Kat: Geheime agent - Louise Smit
- Constant van Graan se Jungu Josh-reeks (Die goue kalbas)
Fanie Viljoen, Jaco Jacobs, Cecelia Steyn, Cliffordene Norton, Annerle Barnard, De Wet Hugo en Carina Diedericks-Hugo (Thomas@-reeks) is maar enkele voorbeelde van gewilde jeugskrywers. Goeie boekwinkels hou 'n ruim voorraad jeugliteratuur aan. Laat jou dogter self die blakerteks (agterblad) lees - dalk is daar 'n storie wat haar interesseer.
Ek hoop my antwoord is nuttig.
Groete
Neem jou dogter na die naaste openbare biblioteek waar sy gratis boeke te kus en te keur sal vind en self kan besluit wat sy wil lees. En as die biblioteek 'n ordentlike begroting het, dan sal sy selfs elektroniese boeke of audio-boeke kan bekom.
Stel jou kind beslis daaraan bloot. Sy klink fenomenaal en sal definitief daarby baatvind. In álle opsigte.
My eerste kleindogter - Layla, Engelssprekend - het al die Harry Potter boeke gelees toe sy nog op laerskool was, dus onder 13. Sy het onlangs vir my die hele stel gegee en aanbeveel dat ek dit lees. ("Oupa, you must read these." Ek lees eerder JK Rowling se Strike reeks, maar ek het die eerste HP gelees en ek dink dit is presies op die vlak vir 'n 11 tot 14 jarige.) Layla se jonger boetie het ook die hele lot gelees voor hy hoȅrskool toe is. En my jongste kleindogter (Sienna, 11 jaar) lees dit nou.
As jou dogter 'n ywerige leser is, sal sy oneindige genot uit die Harry Potter reeks put.
Ek onderskryf graag die opmerkings van die vorige kommentators - daar is nuttige riglyne daarin. Ek wil die volgende byvoeg: as jou dogter iets lees wat vir haar te moeilik is, of dit nou in terme van taalgebruik of inhoud is, sal sy sekerlik slim genoeg wees om dit neer te sit en iets anders te kies. In die volheid van die tyd sal sy daarna terugkeer en dit dan geniet soos sy dit behoort te geniet.
Goeie middag Dewald. Baie dankie vir jou advies. Dit het my baie gehelp en veral die ander boeke wat jy saam met die aanbeveel het.
Baie dankie Nico, Riette, Chris en Coenraad. Ek waardeer regtig julle raad.
Baie dankie. Ek waardeer regtig julle raad.