
Foto van Maritha Snyman: LAPA
Ek dink dit was hier rondom 2003. Dit was ’n Woensdagmiddag. Ek was op ’n boektoer, en ek en my uitgewer, Miemie du Plessis, het dié dag Pretoria platgery om die boekevangelie te verkondig. Ek het pruilmond langs haar in die motor gesit, want ek was vodde ná ’n stuk of ses skole en 3 000 kinders, en al wat ek wou doen, was om iewers te sit met ’n gin & tonic. Maar nee, ons moet eers gou iewers stop. Sy wil my aan iemand voorstel. Toemaar, het Miemie getroos. Jy gaan mal wees oor haar.
...........
Toemaar, het Miemie getroos. Jy gaan mal wees oor haar.
...........
Ons het voor ’n huis in Brooklyn stilgehou. Nog voordat ek behoorlik uit die motor geklim het, kon ek ’n gelag en gesels hoor. By die deur het ’n spul tienerseuns uitgepeul en in die verbygaan het een hard “Hallo, Miemie!” geroep en die trop is vort. “Hoeveel kinders het die mense?” het ek onderlangs vir Miemie gevra. Sy het gelag. “Net vier. Maar die Snyman-huis is almal se huis.” Binne was daar ’n malende massa tieners wat meestal in die kombuis saamgedrom het. ’n Lang, elegante, donkerkopvrou het ons grasieus nadergewaai met die een hand en met die ander was sy besig om iets in ’n hengse pot te roer. “Ek is so bly julle is hier! Kom ons gaan sit. Ek wil alles hoor van julle skoolbesoeke.” Onseremonieel het sy die houtlepel in die naaste kind se hand gestop en ons na die sitkamer gelei.
Dit was my eerste kennismaking met Maritha Snyman.
Maritha Snyman was merkwaardig. Vrou, ma, ouma, bekroonde skrywer, gerekende akademikus, uitgewershoof, vriendin. Nicol Stassen, bestuurshoof van Protea Boekhuis, som dit gepas op: “Maritha was iemand wat groot suksesse in die akademiese, intellektuele en uitgewerswêreld behaal het en 'n leidende rol in elkeen gespeel het.” Dit was as professor in inligtingkunde aan die Universiteit van Pretoria en later as hoof- uitvoerende beampte van LAPA waar ons paaie gekruis het. Sy was toe reeds ’n bekroonde skrywer wat met haar Reënboogrant- en Lekker Lawwe Lagboek-reekse kinders weer aan die lees gekry het in ’n tyd waarin die Afrikaanse kinder-en-jeugboek-bestek skraal was en niemand in 30 jaar gevra het of die boeke wat gepubliseer word, werk is wat kinders wil lees nie. Die kinder-en-jeugboek-genre was redelik stief behandel en as ondergeskikte “lektuur” beskou. Maritha het deur daardie skans gebreek – as skrywer en as akademikus met haar navorsing, en uiteindelik ook met ’n gesaghebbende gids tot kinder- en jeugboeke, Van Patrys-hulle tot Hanna Hoekom (saam met Gretel Wybenga).
Jaco Jacobs, Afrikaans se rocksterkinderboekskrywer, glo ook aan die impak wat Maritha gemaak het: “Maritha was ontsettend passievol oor die Afrikaanse en groter Suid-Afrikaanse kinderboekbedryf, en haar bydrae op dié gebied het baie gehelp om Afrikaanse kinderboeke toegankliker en meer inklusief te maak. Sy was iemand wat altyd 'n kop vol planne en idees gehad het, en sy was immer vrygewig met raad en insigte – sy het menige skrywer en uitgewer se loopbaan verryk en help gestalte gee. Ek dink wat ek die heel meeste van haar waardeer het, was die manier waarop sy as akademikus kinder- en jongmensliteratuur ernstig opgeneem het in 'n tyd toe daar redelik openlik daarop neergesien is.”
Ook oud-LAPA-kollega Marieta Nel vertel: “Ek het die eerste keer die naam Maritha Snyman gehoor toe ek Afrikaansonderwyseres was en die leerlinge spontaan die Reënboogrant-boeke begin lees het. Ek het besef hier is iets aan die gebeur in Afrikaans … iets wat my baie opgewonde gemaak het.”
..............
Ook oud-LAPA-kollega Marieta Nel vertel: “Ek het die eerste keer die naam Maritha Snyman gehoor toe ek Afrikaansonderwyseres was en die leerlinge spontaan die Reënboogrant-boeke begin lees het. Ek het besef hier is iets aan die gebeur in Afrikaans … iets wat my baie opgewonde gemaak het.”
.................
Dit was Miemie du Plessis, destyds kinder-en-jeugboek-uitgewer van LAPA en nou verbonde aan Pan Macmillan, wat die voorwerk wat Maritha gedoen het, verder gevoer het en vir my, Jaco Jacobs, Fanie Viljoen en tientalle ander skrywers en illustreerders ’n weg gebaan het: “My loopbaan is gebou op Maritha se navorsing oor en kennis van die Afrikaanse kinderboekbedryf, maar spesifiek haar standpunte oor die kind as leser. Maritha het geglo dat die kind sentraal moet staan tot die boekmaakproses; dat kinders se insette verkry moes word en boeke uitgegee moes word wat vir kinders plesier verskaf. Boeke moes doodgewoon vir kinders lekker wees om te lees en sodoende sou die kanse verbeter om lewenslange lesers te kweek. Dit is ook om hierdie rede dat sy spesifiek ’n aanhanger en skrywer van reeksboeke was. Toe ek as groentjie die bedryf in 2000 betree het, was dit die uitgangspunt wat ek van meet af aan gebruik het.”
Een van LAPA se huidige kinder-en-jeugboek-redakteurs, Shawna-Leze Meiring, se loopbaan is ook ’n dekade later deur Maritha gevorm: “Ek het vir Maritha leer ken as leser van haar Reënboogrant-boeke. Later as student – toe ons saam gewerk het aan ‘n projek om vir kinders stories op hul selfone toeganklik te maak. Dit som haar vir my op. Stories, kinders, en natuurlik die humor. Sonder Maritha se visie sou die kinderboekwêreld vandag bleek gelyk het. Haar resepsiestudies het die weg gebaan vir soveel pret en waagmoed in kinder- en jeugboeke. Ons staan vandag op haar skouers en daar skyn ’n reënboog oor ons kinderboeke.”
Maritha het ook na die breër Afrikaanssprekende gemeenskap gekyk en tientalle leesprojekte van stapel gestuur. In haar tyd as uitgewershoof het sy die skrywer Anzil Kulsen in die Noord-Kaap aangestel met die doel om leeskringe in daardie gemeenskappe te stig, lees te bevorder en boeke te versprei.
Maritha was een van lieflikste mense wat ek al die voorreg gehad het om te ken. In 20 jaar groei mens in verskillende rigtings, maar vir diés in haar binnekring was sy altyd ’n tuiste. Miemie som dit perfek op: “Maritha was moeiteloos elegant, ’n mentor vir vele, 'n gespreksgenoot soos min, en kon talle balle gelyk in die lug hou. Maar boweal was sy die wonderlikste ma vir Henk, Ronel, Louwtjie en Danielle en ouma vir haar kleinkinders. Maritha het die hart van 'n kind verstaan – al die baie kinders in haar eie lewe, maar ook dié wat hulself tussen die bladsye van 'n boek wou verloor.” Fanie Viljoen sê: “Sy was ’n formidabele vrou. Intelligent, stylvol, ’n dromer, ’n denker, soms met ’n ondeunde kyk in die oë. Ek het soveel by haar van kinder- en jeugliteratuur geleer by praatjies wat sy aangebied het of uit privaat gesprekke by boekfunksies.”
Ons moes Maritha Maandag 6 Mei 2024 groet. Nanette van Rooyen sê Maritha kon vooruit stap sonder om jou ooit agtergelaat te laat voel, en ’n mens wat so diep beïndruk, soveel impak en effek het, behoort onsterflik te wees.
Rus in vrede, geliefde Maritha. Jou erfenis leef voort. Jý leef voort.
Lees ook:
Moet kinders hulself en hul omgewings in kinderboeke herken?
Kommentaar
Aangrypende huldeblyk, Carina. Baie dankie. Ons groet 'n geliefde kollega, vriendin en mentor.
Waar kan ek met Marieta Nel in verbinding kom, asseblief?
Kobie. Sy werk vir Penguin Random House.