Hierdie is ’n boek oor monsters
Jaco Jacobs
Pan Macmillan South Africa
ISBN: 9781779990624
...........
Om met ’n oorspronklike idee vorendag te kom wat jou opgewonde maak, en dit dan om te sit in ’n storie, is altyd ’n uitdaging. Dit voel soms vir my soos daai sirkustoertjie waar iemand ’n klomp porseleinborde op stokke laat balanseer – ’n storie-idee is ’n fyn, breekbare ding, en daar is altyd die kans dat jy iewers jou houvas daarop verloor, en dan klater die hele spulletjie grond toe en dis fyn en flenters.
.............
Jaco Jacobs praat met Naomi Meyer oor sy kinderboek Hierdie is ‘n boek oor monsters.
Jaco, jy het onlangs ’n kinderboek oor feetjies geskryf. Dis tog te oulik! Was hulle pienk en so oulik mens kon hulle opvreet?
Wel, ek het regtig my bes probeer om ’n prenteboek oor feetjies te skryf – oulike pienk feetjies, natuurlik. Ek het selfs die boek se titel gekies sodat feetjies welkom sal voel daarin: Hierdie is ’n boek oor feetjies. Ek en die illustreerder, Theodore Key, het daarna seker gemaak die boek is die perfekte habitat vir feetjies, met ’n woud waar klam groen mos en paddastoele groei en oulike eekhorings tussen die takke baljaar. Ek het selfs gesorg vir die perfekte feetjie-eetgoed – jy weet, sappige ryp bessies, stroopsoet goue boomgom, douvars nektar. En daar’s natuurlik hope blomme in die boek, want soos almal weet, is feetjies versot op blomme. Ek het dus regtig alles in my vermoë gedoen om te sorg dat hierdie die perfekte boek oor feetjies sal wees.
Dinge het egter nie heeltemal volgens plan verloop nie ...
Is daar ook ander gediertes in jou boek waarvan ons ons lesers kan vertel? (Ek sien die woord "feëtjies" op die voorblad is doodgetrek.)
Ja, dit was vir my as skrywer ietwat van ’n verleentheid – daar’s ’n spul lastige monsters in dié boek wat oral uitspring, en hulle wil dolgraag hê hierdie moet ’n boek oor monsters wees. Hulle het my pragtige paddastoele vertrap, my lieflike blomme liederlik besnotter omdat hulle hooikoors kry, en dit was so hittete of ’n eekhoring is opgevreet. Aaklig, ek weet! As skrywer van die boek het ek my bes probeer om hulle op hul plek te sit, maar julle sal self moet lees en besluit of hierdie ’n boek oor feetjies of ’n boek oor, wel, monsters is.
Hierdie boek is net reg vir jong lesers, of vir lesers wie se ouers ’n storie onder die Kersboom wil voorlees. Wat was jou inspirasie hiervoor?
.........
Ek hou daarvan om tipiese idees op hul kop te keer en uit te vind wat gebeur.
...........
Ek hou daarvan om tipiese idees op hul kop te keer en uit te vind wat gebeur. In dié geval was dit die geykte storieboekvoorstelling van feetjies met blommetjierokkies wat blomme verf en so vreeslik soet en vriendelik is. Dit was verskriklik lekker om ’n "feetjieboek" te skryf waarin ’n klomp lawwe, lawaaierige monsters heeltyd die kollig probeer steel. Wees gewaarsku, Ma en Pa, as jy dit voorlees, gaan jy jou beste monsterbrulle voor die tyd moet oefen.
Is dit lekker maklik om boeke vir kinders te skryf? Word dit ook makliker met elke boek wat jy skryf?
Haha! Nee, dit is nooit maklik nie. Ek dink ook nie skryf móét noodwendig maklik wees nie. Om met ’n oorspronklike idee vorendag te kom wat jou opgewonde maak, en dit dan om te sit in ’n storie, is altyd ’n uitdaging. Dit voel soms vir my soos daai sirkustoertjie waar iemand ’n klomp porseleinborde op stokke laat balanseer – ’n storie-idee is ’n fyn, breekbare ding, en daar is altyd die kans dat jy iewers jou houvas daarop verloor, en dan klater die hele spulletjie grond toe en dis fyn en flenters.
Lees ook:
Elders gesien: Kinderboeke deur kunsmatige intelligensie geskep?
Goue lint, my storie begint: Kunsmatige Intelligensie (KI) en kinderboeke
Die Breytenbach Galery se kinder- en jeugliteratuurskryfskool 2025: ’n onderhoud met Mia Oosthuizen