Die Breytenbach Galery se kinder- en jeugliteratuurskryfskool 2025: ’n onderhoud met Mia Oosthuizen

  • 0

Mia Oosthuizen (bo) en Anne-Ghrett Erasmus-Coetzee (onder): Foto’s verskaf

........
Aan al die groot probleme in ons land kan ek nie veel doen nie, maar ek kan bydra tot die kind se behoefte aan ’n storie wat met hulle praat. Om dit reg te kry kan ek skrywers touwysmaak oor skryf, hul teikenmarkte en die uitgewersbedryf.
........

Mia Oosthuizen beantwoord Naomi Meyer se vrae oor volgende jaar se kinderboekskryfskool wat by die Breytenbach Galery se Ampie-teater aangebied word.

Mia, julle bied weer volgende jaar ’n kinderboekskryfskool by die Ampie-teater aan. Waar het die idee hiervoor ontstaan? Hoekom juis kinder- en jeugboeke?

 As ’n mens dink aan geletterdheid, is daar niks beter as ’n lekker of goeie teks om te lees nie. Kyk ’n mens na die emosionele behoeftes wat ’n boek in ’n kind se lewe vervul, is daar niks belangriker as kinder- en jeugboeke nie. Die afgelope tyd is ek baie opgewonde oor ’n paar nuwe skrywersname op ons kinders se boekrakke. Dit bly wel ’n uitdaging om skrywers van kinder- en jeugboeke te kry wat die skryfproses en die genre verstaan. 

Nie almal hou van dieselfde tipes boeke of skrywers nie. Die doel is dus om meer skrywers en boeke uit te gee sodat elke leser ’n boek kan kry wat met hom/haar praat. 

Aan al die groot probleme in ons land kan ek nie veel doen nie, maar ek kan bydra tot die kind se behoefte aan ’n storie wat met hulle praat. Om dit reg te kry kan ek skrywers touwysmaak oor skryf, hul teikenmarkte en die uitgewersbedryf. My skrywers vaar tot dusver baie goed. Die ratte van tradisionele publikasie draai ongelukkig stadig, maar hulle is reg vir publikasie. 

Ek het jou die vorige slag ook gevra: Maar is dit dan nie maklik om ’n kinderboek te skryf nie? Dis mos lekker kort en eenvoudig. Of hoe? (Wat is die mees algemeenste foute wat mense maak wat ’n kinderboek probeer skryf, behalwe om die genre te onderskat?)

Nee, dit is glad nie maklik nie! Hiermee sê ek nie dit is onmoontlik nie. Veral nie as dit jou natuurlike genre is om voor te skryf nie. Dit is ook geweldig lekker en uiters belonend. Ongelukkig is dit nie vir almal beskore nie. Net soos jy skrywers kry wat beter is met byvoorbeeld niefiksie as fiksie, kry jy skrywers wat beter is met fiksie vir volwassenes as vir kinders. In my skryfskool help ek skrywers om te ontdek waar en by watter ouderdom hul natuurlike stem lê. Sou dit uitwerk om meer aan die volwassenes se kant te wees, hoef die skrywer nie bekommerd te wees nie. Ek bied die kursus aan en gee individuele aandag soos elke skrywer dit nodig het. 

........
Sou dit uitwerk om meer aan die volwassenes se kant te wees, hoef die skrywer nie bekommerd te wees nie. Ek bied die kursus aan en gee individuele aandag soos elke skrywer dit nodig het. 
........

Van die foute wat dikwels gemaak word, sluit in: Skrywers wat dink dit is baie maklik om vir kinders te skryf. Hulle pen ’n storie neer, stuur dit weg en glo dat hulle nou die nuwe topverkoper geskryf het. Hiernaas is dit taboe om die grootmens se stem in die storie te hoor. Ongelukkig praat baie skrywers neer op die kind en kinders lees hierdie tipe stories glad nie. Dit is amper asof jy die storie vir ’n kind voor jou vertel as tannie, ma of ouma. Verwant hieraan glo skrywers (te verstane) dat ’n storie wat hul kinders geniet om na te luister, net so lekker gaan wees vir ander kinders. Dit is nie onmoontlik nie, maar skrywers vergeet maklik van hul vertelstem, liggaamstaal en dies meer, wat nie op die blad oorgedra word nie. 

Dit is seker teen hierdie tyd duidelik dat ek baie algemene foute het om te noem. Hierdie is maar net ’n paar wat ek nie so gereeld opper nie. Wat die fout ook al mag wees waaraan jy as skrywer dalk skuldig is, maak nie meer saak as jy die skryfskool bywoon nie. Dit is my taak om jou te leer en te help om nie hierdie foute te maak nie. 

Hoe werk die kursus prakties? Wat het mens nodig om te kan inskryf? Is daar huiswerk elke week? Wat gebeur tydens die kontaksessies? 

Jy het basies ’n passie vir kinder- en/of jeugboeke, en ’n droom om te skryf, nodig. Omdat daar beperkte plek is, vra ons vir elke skrywer om ’n storie of iets kort wat hulle al geskryf het, vir ons te stuur. Maar moenie tob oor jou inskrywingsteks nie – jy mag dalk dink dit is nie goed genoeg nie, maar ons kan baie gou sien wie het potensiaal. 

Die struktuur is as volg: Die kursus duur 12 maande, van Januarie tot Desember 2025. Die deelnemers kom elke laaste Saterdag van die maand by die Ampie-teater (Murraystraat 11 in Wellington, net om die draai van die Breytenbach Galery) bymekaar vir ’n dag, waar ek die modules behandel, ons lekker kreatiwiteits- en skryfoefeninge doen, baie lag, en na mekaar se werk kyk. Naas die oefeninge in die klas kry hulle ook ’n groter opdrag wat hulle daardie maand moet voltooi. Ek gee dan volledige terugvoer op hul werk teen die volgende sessie. So gaan ons van storie-idees tot afgeronde manuskrip in ’n jaar.  

Vir diegene wat te ver van Wellington af woon, gee ons die opsie om via ’n platform soos Zoom in te skakel. 

Let wel: As jy voor 15 Desember inskryf, betaal jy nog 2024 se tarief van R2 000 per maand. Daarna gaan die prys op na R2 250.

Is dit verkieslik dat mense met ’n idee na die slypskool toe moet kom? Iets wat hulle net daar wil kom afhandel?

Dit is nie verkieslik nie. Ek weet dit werk wel vir baie mense baie goed, maar dit het al gebeur dat die idee waarmee die skrywer opdaag, nie werk nie. Ek vra dus altyd dat die skrywers net oopkop moet wees oor hierdie moontlikheid. Dan het dit ook al gebeur dat die skrywer se storie werk, maar dat hulle lus raak vir ’n ander idee wat hulle kry. Dit is heerlik en geen probleem nie. As jy dus nie ’n idee het vir ’n storie nie, is dit geen probleem nie. 

Moet mense skryfondervinding of vorige publikasies hê om te kan inskryf?

Nee. Jy moet net wil skryf. Teen die tyd dat jy by die skryfskool opdaag, sal ek klaar weet jy het potensiaal, en dan begin ek jou alles leer wat jy moet weet. 

Wat maak jou opgewonde van kinder- of jeugboeke? 

Alles! Dit is my passie, my werk en my drome. Om ’n kind van enige ouderdom met ’n boek te sien, is altyd ’n hoogtepunt van my dag.  



Mia Oosthuizen / Anne-Ghrett Erasmus-Coetzee Kinder- en Jeugliteratuurskryfskool

Mia Oosthuizen, in samewerking met Anne-Ghrett Erasmus-Coetzee, bied hul derde Kinder- en Jeugliteratuurskryfskool aan. Hierdie omvattende kursus duur 12 maande en bied aan skrywers die unieke geleentheid om aan die hand van gespesialiseerde hulp hulle storie-idee te ontwikkel tot ʼn afgeronde manuskrip, reg vir voorlegging aan ʼn uitgewershuis.

Teen net R2 250 per maand (of R2 000 per maand as jy voor 15 Desember inskryf) kan jy jou skryfdrome vlerke gee en jou naam op boekrakke sien.

Die kursus begin Saterdag 25 Januarie 2025. Die prys sluit in:

  • Kursusmateriaal
  • Een kontaksessie per maand op ʼn Saterdag by die Ampie-teater (Murraystraat 11, Wellington)
  • Koffie, tee en middagete
  • Persoonlike en deurlopende terugvoer op skryfwerk
  • Gassprekers soos van toepassing.

Naas die skryfoefeninge en kreatiwiteitsoefeninge wat skrywers elke maand tydens die kontaksessie voltooi, moet jy ook gedurende die maand ʼn meer omvattende skryfopdrag voltooi. Mia gee aan elke skrywer terugvoer aan die hand van ʼn leesverslag, spoorveranderinge en notas.

Kyk net na die sukses van die kursus se alumni: 

  • Troula Goosen kom tweede in LitNet se wetenskapfiksiekompetisie (2023). Troula se manuskrip wat sy tydens die skryfskool begin het, is aanvaar vir publikasie by ʼn uitgewershuis.
  • Madelein Venter kom derde in LitNet se wetenskapfiksiekompetisie (2023).
  • Elsibe McGuffog publiseer in 2023 Katja se kattesalon, en het ʼn aantal manuskripte reg vir publikasie na die skryfskool.
  • Dineke Volschenk ontvang welverdiende erkenning by die uitgewers en beoordelaars na die LAPA Jeugromankompetisie.
  • Pieter van Zyl gaan van krag tot krag met sy joernalistieke werk, het reeds ʼn manuskrip voltooi, en werk aan ʼn volgende een.
  • Jeaneldé Mouton is ʼn naam wat jy moet dophou! Sy verwag binnekort terugvoer op haar manuskrip wat sy aan ʼn uitgewershuis voorgelê het.

Daar is plek vir 10 kursusgangers, so moenie op jou laat wag nie.

Stuur iets wat jy geskryf het saam met ʼn motivering oor hoekom jy die skryfkursus wil bywoon, voor of laatstens teen 21 Januarie 2025 na Mia Oosthuizen (miaoosthuizen@gmail.com) of Anne-Ghrett Erasmus-Coetzee (galery@breytenbachsentrum.co.za).

Lees ook:

Die Breytenbach Galery se kinder- en jeugliteratuurskryfskool: ’n onderhoud met Mia Oosthuizen

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top