...........
Hoeveel keer daag moedelose skrywers nie by my op omdat hulle net nie sukses behaal by ander kursusse nie. Vir my en Anne-Ghrett is dit ’n absolute skande en dus het ons besluit om kragte saam te span vir ’n intensiewe skryfskool wat jou neem van storie-idee tot afgeronde manuskrip wat jy aan uitgewers kan voorlê.
.........
Mia Oosthuizen praat met Naomi Meyer oor ’n kinder- en jeugboekskryfskool wat by die Breytenbach Galery aangebied word.
Mia, daar is binnekort ’n kinder- en jeugboekskryfskool wat deur jou en die Breytenbach Galery aangebied word. Maar hoe dan so? Is dit nie maklik om vir kinders en jongmense te skryf nie?
Nee, glad nie! Dit is die nommer 1-denkfout wat mense begaan wanneer hulle aan kinder- en jeugboeke dink. Kinder- en jeugliteratuur is die mees uitdagende genres om te skryf, aangesien jy as volwassene soos ’n alien weer moet toetree tot die wêreld van ’n kind. ’n Wêreld wat eintlik vir jou geslote is, aangesien jy nie meer ’n kind is nie en nooit weer een kan wees nie. Maar ek sal jou leer kroek en jou help om die kind in jou te vind sodat hierdie proses makliker kan word.
Grappie. My eerste vraag was ’n manier om julle uit te lok, want ek weet absoluut beslis dat kinder- en jeugboeke nie maklike genres is om in te skryf nie. Ek dink die eerste fout wat mense maak, is juis om die genre te onderskat. Wat is ander foute wat mense maak? Of anders gestel: Diegene wat dit rég doen – wat is een van die redes wat julle kan uitsonder waarom hulle sukses behaal?
Ek het gedink jy maak ’n grap, maar is baie bly ek kon vraag 1 beantwoord. Die een ding wat alle suksesvolle skrywers van kinder- en jeugliteratuur regkry, is om nie vir ’n idee te skryf nie, maar vir individue wat volwaardig mens is, ongeag hul ouderdom. Om stories te vertel wat jy suiwer baseer op die nostalgie van jou kinderjare, werk nie. Dit werk goed vir inspirasie en daar is elemente wat jy kan gebruik. Deur egter nie te fokus op die kind van vandag nie, bly jy uit voeling met hul leefwêreld en oortuig jou storie eintlik niemand nie – veral nie jong lesers nie. Deur jou karakters en lesers net deur die blik te sien as kinders vir wie jy iets wil skryf, bly jy buite hul verwysingsraamwerk en skryf/praat jy neer na hulle. Geen jong leser of uitgewer duld dit nie. En belangrik: Dit is eers wanneer jy oor regte mense (nie idees nie) skryf dat jy ’n oortuigende en outentieke storie gaan vertel wat almal, veral jou teikenmark, sal geniet.
Julle bied binnekort ’n skryfskool oor ’n tydperk van ’n jaar aan. Moet mense met ’n idee opdaag? Met baie idees? Moet dit mense wees wat graag kinder-, YA- of jeugboeke lees wat moet inskryf? Of mense wat vantevore al boeke geskryf het?
Almal wat kom, kan soveel idees saambring as wat hulle wil. Hulle kan ook sonder ’n idee opdaag, want ek begelei elkeen deur elke aspek van skryf. Dit is ’n skryfskool vir almal wat graag kinder- en jeugboeke lees en dit wil skryf. Of die saadjie van skryf onlangs in jou kreatiewe grond kom val het, jy ’n ywerige skrywer is, en of jy ’n gepubliseerde skrywer is, jy sal definitief baie uit die skryfskool kry. Vir die eerste skryfskool het daar ’n joernalis, ’n nuuskierige, ’n gevestigde skrywer en aspirantskrywers deelgeneem en almal was dit eens dat dit die moeite werd is vir almal.
Hoekom is dit belangrik om hierdie kursus aan te bied? Is dit iets waaroor julle self passievol voel – en waarom?
Kinder- en jeugliteratuur is my passie. Dit is waarom ek hierin gespesialiseer het. Om effektiewe en geloofwaardige hulp te kry in hierdie genres, is egter skaars. Hoeveel keer daag moedelose skrywers nie by my op omdat hulle net nie sukses behaal by ander kursusse nie. Vir my en Anne-Ghrett is dit ’n absolute skande en dus het ons besluit om kragte saam te span vir ’n intensiewe skryfskool wat jou neem van storie-idee tot afgeronde manuskrip wat jy aan uitgewers kan voorlê. Die uitgewers is ook konstant op soek na nuwe skrywers wat hulle kan publiseer, maar die gemiddelde manuskrip wat op hul tafels beland, is net nie goed (genoeg) nie.
.........
Vir my skakel die skryf van kinder- en jeugboeke ook by ’n groter sisteem van geletterdheid in. Hoe meer boeke en stemme daar is, hoe beter is die kans dat elke kind ’n storie of stem gaan kry waarvan hulle hou. Dit is krities belangrik by die ontwikkeling van lees, leeslus en leessmaak. Hoe meer boeke en hoe meer lesers, hoe beter dien dit geletterdheid, ’n teer punt wat almal maar te goed van weet.
...........
Vir my skakel die skryf van kinder- en jeugboeke ook by ’n groter sisteem van geletterdheid in. Hoe meer boeke en stemme daar is, hoe beter is die kans dat elke kind ’n storie of stem gaan kry waarvan hulle hou. Dit is krities belangrik by die ontwikkeling van lees, leeslus en leessmaak. Hoe meer boeke en hoe meer lesers, hoe beter dien dit geletterdheid, ’n teer punt wat almal maar te goed van weet. Daar is wonderlike organisasies wat die boeke wat op die rakke is, versprei, wat kinders help lees, wat projekte het om geletterdheid aan te spreek. My en Anne-Ghrett se doel binne hierdie sisteem is om meer boeke en stories en skrywers by uitgewers en hierdie organisasies uit te kry.
Wat kan mense verwag as hulle hierdie kursus bywoon? Miskien kan julle in breë trekke vertel wat elke maand gebeur.
Ons werk met kinder- en jeugboeke, so beslis baie pret! Maar ons is ook baie ernstig oor wat ons doen. Die laaste Saterdag van elke maand kom ons by die Breytenbach Galery bymekaar vir ’n kontaksessie. Hier kry jy jou kursusmateriaal en werk ons deur teorie, skryfoefeninge, kreatiwiteitsoefeninge en terugvoer. Skrywers kan vir my vrae vra en van medeskrywers se ervarings leer. Aan die einde van elke kontaksessie gee ek ’n groter opdrag vir die maand. Hierdie opdrag word aan my geë-pos en ek gee deeglike terugvoer voor die volgende kontaksessie. Elke oefening en opdrag werk mee om die storie wat jy wil skryf te vind en stelselmatig aan te werk. Ons eet op elk van daardie Saterdae ook te lekker aan sjefs van Wellington se kos. Die atmosfeer is baie rustig en die idee is om al die angs en vrese rondom skryf aan te spreek en uit die weg te ruim sodat jy die fantastiese proses van skryf vir kinders en tieners kan geniet.
Laai die persverklaring met nog besonderhede omtrent die slypskool hier af.
- Mia Oosthuizen is ’n spesialis in kinder- en jeugliteratuur met jare se ervaring in die uitgewersbedryf as uitgewer, konsultant, manuskripontwikkelaar en redigeerder van kinder- en jeugliteratuur.
Lees ook:
Internasionale Kinderboekdag 2023: Cliffordene Norton se dankie-sê-brief
Internasionale Kinderboekdag 2023: Maretha Maartens se "Daar was ’n laaitie"
Internasionale Kinderboekdag 2023: Fanie Viljoen se limeriek