Internasionale Kinderboekdag is op 2 April gevier. Dit is die verjaardagdatum van Hans Christian Andersen. Op Internasionale Kinderboekdag is die gedagte om na te dink oor hoe belangrik dit vir kinders is om te lees én om boeke te besit.
Naomi Meyer het ’n paar kinder- en jeugboekskrywers gevra om prettig op dié belangrike datum te reageer deur limerieke, rympies of kort stukke prosa te skryf.
Hier is Maretha Maartens s’n:
Daar was ’n laaitie wat altyd vreeslik hard moes werk.
Toe kom die pandemie en almal raak ingeperk
Sy pa het die tyd aan bak en brou gewy
En ’n boepens van die proe en eet gekry
Sy ma het obsessief oor magnesium en vitamienes geraak
En sop met pampoenpitte, witwortels en spinasie daarin bly maak
Die laaitie het ’n muur van boeke langs ’n leunstoel gebou
en die reuk van sop wat suck so van sy neus af weggehou.
Dwarsdeur die pandemietyd het hy gelees en gelees
en hy kon weggaan na enige plek waar hy wou wees:
in ’n ruimteskip of vegvliegtuig se stuurkajuit
in ou koning Arthur se kasteel en weer daaruit
tussen robbe, dolfyne en walvisse in die see
in die woestyn waar wilde perde hoë spronge gee …
Nou is die inperking lankal verby
al die spinasie in die tuin is afgesny
maar die laaitie het die smaak van boeke gekry
en as die hoenders kerm en kloek
en sy pa skree dat hulle kos en water soek
dan het die laaitie tjip-tjop weggeglip met ’n boek
en ’n kortpad gesny
na plekke waarin hy sommer heeldag sou wou bly.
Lees ook:
Internasionale Kinderboekdag 2023: Cliffordene Norton se dankie-sê-brief
Internasionale Kinderboekdag 2023: Fanie Viljoen se limeriek


