KI en kinderboeke
Verbeel jou: Binne minute kan jy ’n storie op jou slimfoon genereer! Dit mag dalk na kubertowery klink, maar met KI is dit alreeds moontlik. KI het sedert dit gratis beskikbaar gestel is deur OpenAI in 2022, die internet op horings geneem. Elke tweede student gebruik dit om opstelle te skryf; leerders gebruik dit om antwoorde op huiswerkvrae te soek. Maar wat is dit nou eintlik? Hoe werk dit en gaan dit nie ’n beduidende impak op kinderboeke hê nie?
In hierdie aflewering van “Goue lint, my storie begint” sal daar na hierdie kwellende vrae gekyk word en of die grootste euwel van die 21ste eeu wel KI is al dan nie.
Wat presies is KI?
KI, oftewel Artificial Intelligence (AI), word beskou as tegnologie wat onafhanklik van ’n mens kan funksioneer. Die grense rondom die presiese definisie van wat as KI beskou word en wat as mensgemanipuleerd beskou word, is nog nie klinkklaar vasgestel nie.
Kunsmatig beteken “nagemaak” of “deur die mens nagemaak”. Dink hier aan kunsmatige inseminasie, waar die manlike voortplantingselle kunsmatig (deur die mens) binne vroulike eierselle geplaas word. Die mens het hier nog ’n aandeel aan die proses. Die mens het reeds vir duisende jare metodes ontwikkel om plante vir voedsel te manipuleer vir beter kwaliteit en groter oeste. Daar word reeds navorsing gedoen om byvoorbeeld ’n bepaalde spesie koring kunsmatig te manipuleer sodat dit droogtebestand is.
Intelligensie word oor die algemeen beskou as die vermoë om onafhanklik te funksioneer en om spesifieke take te kan verrig. Daar is psigiese en kognitiewe aspekte soos abstrakte denke, wiskundige berekeninge en taalvaardighede wat beskou word as deel van wat intelligensie behels. Intelligensie behels dus die hoëvlakfunksies van die menslike brein.
Daar kan dus geargumenteer word dat KI die bou van ’n program of struktuur behels wat deur die mens gemaak is en onafhanklik as intelligent beskou kan word. Later sal daar na die geskiedkundige Yuval Noah Harari verwys word. Hy hou vol dat wat tans as kunsmatige intelligensie beskou word, eerder as Alien Intelligence beskou moet word, omdat wat ons wil hê, is dat KI uiteindelik 100% selfreferensieel, intelligent en onafhanklik moet funksioneer in alle aspekte van die funksionering daarvan.
Kom ons kyk nou na die “ding” wat almal ken – ChatGPT – met hierdie omskrywings in gedagte. Dit is ’n program wat deur die maatskappy OpenAI geskryf is wat in die eenvoudigste terme ’n enorme “opsoekprogram” is.
Hierdie tipe programme, waarvan daar baie verskillendes is (Claude, Google Gemini, Microsoft Copilot, Quilbot, en ander), gebruik ’n “look-up”-funksie om inligting binne ’n bepaalde “biblioteek” van inligting te soek en om, gebaseer op daardie inligting, ’n samevoeging daarvan te skep wat as ’n nuwe konstruksie gegenereer word.
........
Die belangrikste aspek wat Jan Alleman moet verstaan omtrent hierdie tipe programme, soos ChatGPT, is dat dit binne ’n geslote verwysingsraamwerk werk. Dit beteken die algoritme (’n wiskundige uitdrukking of resep) wat ChatGPT gebruik om inligting te gaan soek, beperk is tot wat binne sy “brein” bestaan.
........
Die belangrikste aspek wat Jan Alleman moet verstaan omtrent hierdie tipe programme, soos ChatGPT, is dat dit binne ’n geslote verwysingsraamwerk werk. Dit beteken die algoritme (’n wiskundige uitdrukking of resep) wat ChatGPT gebruik om inligting te gaan soek, beperk is tot wat binne sy “brein” bestaan. Dit beteken dat ChatGPT nie vir jou ’n aanhaling of argument binne Pride and predejuice kan gee tensy iemand die volledige teks binne die program self opgelaai het nie. ChatGPT kan vir alle praktiese doeleindes nie die inligting buite sy raamwerk of brein “sien” nie. Dus is die inligting beperk. Alhoewel hierdie raamwerk of brein voortdurend groei en uitbrei, is daar ook die bekommernis van die vermoë om die bronne van die inligting wat dit gebruik te identifiseer, asook die etiese kwessies.
Programme soos ChatGPT is daarom slegs ’n uitgebreide verwysingsdatabasis wat met elke interaksie groei. ChatGPT het nie die vermoë om te identifiseer wat waar of geverifieerd is nie. Dit verwys nie na die inligting wat dit gebruik het om ’n respons te genereer nie.
Ware onafhanklike KI behoort die vermoë te besit om buite ’n databasis oor die wye vlaktes van die internet te kan identifiseer, verifieer, en te kan kies watter inligting van belang is vir die vraag wat daaraan gestel is. Dit impliseer onafhanklike denke sonder enige beperkings of nodige toesig.
Nog ’n belangrike feit wat in gedagte gehou moet word, is dat baie, veral nuwe, sogenaamde KI-robotte (AI bots) waar jy jou vraag kan intik en ’n antwoorde kan kry, die kernalgoritme van ChatGPT gebruik om hul eie weergawe van hierdie uitgebreide verwysingsdatabasis te skep waar die KI-robot eintlik maar net as ’n gevorderde en oulike opsoekfunksie en soms ’n opsommende funksie vervul.
Hierdie algoritmes wat gebruik word, is wiskundige resepte wat vooraf bepaal watter reaksie ’n bepaalde aksie gaan verskaf. Slegs die instruksie wat deur die algoritme uitgedruk word, sal uitgevoer word.
Kom ons kyk na ’n praktiese voorbeeld.
Hoe werk KI-programme soos ChatGPT?
In die vraagblok van ChatGPT word die volgende versoek ingetik:
“Please write a short story about a robot and a fox.” (ChatGPT, Anke Theron, 28 Oktober 2024)
Die resultaat is as volg:
Once upon a time, in a misty forest on the edge of a bustling city, there was a robot named Tin who was built for collecting data on plant life. Tin roamed the forest each day, cataloging trees, recording bird songs, and noting the smallest details. Though efficient, Tin often felt something was missing – something no data could capture.
One morning, as Tin glided through the underbrush, a flash of russet fur darted in front of him. Tin paused and activated his camera sensors to follow the motion. Out from behind a tree stepped a small, clever fox with eyes as bright as stars.
The fox cocked her head. “Who are you, shiny one?”
“I am Tin, a robot designed to study this forest,” Tin replied. “And who are you?”
The fox grinned, showing tiny teeth. “I am Fern. I live in this forest.” She danced around Tin, sniffing his metal limbs with curiosity. “You’re strange. Are you alive?”
“I ... am not alive, no,” Tin said. “But I am functional. What does it mean to be alive?”
Fern sat and thought for a moment. “To be alive is to feel joy, to feel fear, to listen to the wind and wonder what it says.” She nudged Tin’s metal foot. “I’ll teach you.”
Over the days that followed, Fern led Tin through the forest, showing him how to feel the world in ways he hadn’t imagined. She taught him to stop and listen to the rustling leaves, to watch the changing light through the trees, and to sit quietly and just be.
Tin’s sensors recorded all this, but there was something else, too – something he couldn’t quantify. With Fern’s help, Tin learned to wait for the birds to trust him, to feel the sun’s warmth even though he couldn’t truly feel it.
One evening, as they watched the stars together, Fern leaned against Tin and sighed. “See, you’re alive now, Tin.”
“I think you’re right,” he replied softly, though he didn’t quite understand why.
As time passed, Tin no longer felt the need to catalog every detail. Instead, he spent his days simply existing, alongside Fern, alive in his own way. And though Tin never had a heartbeat, in that forest with his friend, he felt as close to one as a robot could. (ChatGPT, 28 Oktober 2024)
Dié voorbeeld is in Engels, alhoewel ChatGPT ook die afgelope tyd taamlik baie resultate in Afrikaans begin lewer het. Jy kan ook in Afrikaans ’n versoek intik en dit sal in Afrikaans antwoord.
In hierdie voorbeeld van ’n versoek om ’n kortverhaal oor ’n robot en jakkals te skryf, het die algoritme die patroon van ’n kortverhaal gebruik. Die inhoud kom moontlik uit verskillende versoeke wat mense voorheen ingevoer het rondom die onderwerpe van jakkalse en robotte. Hierdie storie is saamgeweef uit ’n enorme taalmodeldatabasis waaroor die algoritme beskik.
........
ChatGPT is die navorser wat binne die beperking van ’n biblioteek vol boeke werk
........
Mens kan dit ook verduidelik deur die metafoor van ’n biblioteek en navorser te gebruik. ChatGPT is die navorser wat binne die beperking van ’n biblioteek vol boeke werk. Die navorser kan net die inligting deursoek wat binne die boeke, binne die gebou van die biblioteek is. Dit is beperk tot die boeke binne die biblioteek, geen internettoegang nie. Die navorser kan ook nie sy eie opinie oor enige navrae lug wat besoekers aan die biblioteek vra nie. Hy kan slegs die relevante inligting uit sy skatkis (databasis) van boeke gaan trek.
Wanneer ’n man by die biblioteek instap en hy skryf ’n vraag op ’n stukkie papier neer: “Wat is antieke Egipte en hoe weet ons wat die mense daar gedoen het?”, neem die navorser die stukkie papier en kruisverwys elke stukkie inligting wat hy in die boeke in die biblioteek kan opspoor wat oor antieke Egipte handel en skryf alles wat hy kan vind in ’n nuwe dokument neer. Hy kom plaas daardie nuwe, baie dik dokument voor die man. Dit is rou inligting en die inligting behoort nie aan die navorser nie, want hy het dit in verskillende gepubliseerde bronne gekry. Dit beteken die navorser het enige volgorde, gedeeltes of stukke inligting gebruik om ’n herrangskikte dokument te produseer. Tog kom sit hy dit in een dokument voor die man neer as sy eie werk. Nou is daar ’n hele lys vrae.
Van die voor die hand liggende vrae, veral wanneer dit by navorsing kom, is:
- Waar laat dit plagiaat as daar nie definitief vasgestel kan word waar die inligting vandaan kom nie? Grootliks omdat daar nie tred gehou word nie. ChatGPT hou nie ’n rekord van sy bronne nie. Moontlik as daar spesifiek gevra word daaroor, maar dit is nie gewaarborg nie.
- Nie al die inligting wat die navorser gebring het, is relevant vir die man se vraag nie.
- Wat van inligting wat buite die biblioteek geberg word? Soos in die geval van pas bekende, nuwe inligting.
Dit laat mens wonder oor wie dan nou eintlik die kortverhaal geskryf het – die skrywer van hierdie rubriek of ChatGPT. Want die een sou nie sonder die ander kon nie, en dit wat geproduseer is, bevat baie moontlik die werk van verskeie anders skrywers.
........
Waar lê die erkenning van die skep van die teks? En het ChatGPT nou nie eintlik happies en skerwe uit ander tekste wat deur sy databasis gevloei het, net op ’n intelligente manier saamgevoeg en aangebied as ’n nuwe teks nie?
........
Waar lê die erkenning van die skep van die teks? En het ChatGPT nou nie eintlik happies en skerwe uit ander tekste wat deur sy databasis gevloei het, net op ’n intelligente manier saamgevoeg en aangebied as ’n nuwe teks nie?
Dieselfde vrae kan ook gevra word oor programme soos DALL-E (https://openart.ai/home?gad_source=1&gclid=CjwKCAiAxKy5BhBbEiwAYiW--1s3aQJEDYkIslfBQAT7P8mPjRuNBx1bqVhPdlnpzRzIrrUa5qqnGxoCe-oQAvD_BwE), waar woorde gebruik word om beelde te skep. Word hier nie ook illustreerders se werk wat op die wêreldwye web beskikbaar is, gebruik om deur samevoeging ’n “nuwe” collage te skep nie?
Waar laat dit kwessies soos kopiereg, tantieme en die reg om iemand anders se werk as jou eie te gebruik?
Regte rondom kopiereg (skrywers en illustreerders)
Wanneer daar oor kopiereg besin word, is dit altyd ’n emosionele en ingewikkelde kwessie. Dit handel dan oor wie die regte het op betaling vir die werk wat geskep is, asook die erkenning vir wie dit geskep het. Daar is ’n ingebore behoefte by enige skeppende wese om sy merk te laat en erken te word daarvoor, wat beteken dat enige meningsverskil of kwessie rondom die geldigheid, of die moontlikheid dat iemand hierdie reg moet prysgee, of selfs erger, dat dit gesteel sal word, altyd die gemoedere sal laat opvlam.
Hoe verbaas sou jy, liewe leser, dan wees dat daar reeds KI-programme beskikbaar is wat vir jou binne ure, of selfs minute, ’n volle kinderboek kan skryf en illustreer?
Ammaar Reshi het reeds in 2022 geëksperimenteer met die idee van ’n kinderboek wat met teks en illustrasies deur ChatGPT gegenereer is. Aanvanklik wou Reshi net ’n kinderboek skep om dit as ’n geskenk aan vriende te gee. In ’n kwessie van ’n paar dae publiseer hy “a 12-page picture book, printed it, and started selling it on Amazon without ever picking up a pen and paper” (Popli 2022).
Hierdie “eksperiment” van Ammaar Reshi het skrywers, uitgewers, illustreerders, kunstenaars en boekwurms laat regopsit. Hier word ’n kinderboek wat gewoonlik ’n jaar of meer sou neem om te skryf, illustreer, redigeer en druk, vinniger en met min moeite geskep.
Daar is een baie groot bekommernis: die gehalte van die teks en illustrasies. Dit benewens etiese kwessies omdat dit verskeie bronne binne ’n databasis gebruik om ’n nuwe produk te skep, maar nêrens na enigiets verwys of as bron erken nie. Daar is dus, soos vroeër genoem, belangrike en ernstige vrae rondom plagiaat ten opsigte van illustrasies en teks.
Reshi is ’n produkontwerpsbestuurder in San Francisco en het illustrasies versamel deur gebruik te maak van Midjourney, ’n teks-tot-beeld-KI-program (Popli 2022). Die storie het gespruit uit ’n gesprek wat hy met ChatGPT gehad het oor ’n meisie met die naam Alice. “Anyone can use these tools ... It’s easily and readily accessible, and it’s not hard to use either” (Popli 2022).
Reshi bespreek sy idees met Times Online rondom die argument dat hierdie tegnologie misbruik maak van kunstenaars, kreatiewe en skeppende professionele werkers en van hulle steel deur hulle oorspronklike werk te gebruik om die program wat hul werk gaan oorneem, te leer hoe om hul werk te doen (Popli 2022). Wat ’n ironiese en toutologiese stelling.
Een van die kinderboekillustreerders met wie Times Online gesels het, Michelle Jing Chan, is van mening dat “Artists should be appropriately compensated when their works are used in the training of algorithms.” Sy stel voor: “In order to protect the rights and property of artists, there must be stricter regulation around how art is used to train AI algorithms” (Popli 2022). En dit mag moontlik ’n oplossing wees, maar die vraag is dan weer hoe effektief dit toegepas kan word.
Wanneer ons iets soos eiendomsreg moet oorweeg, begin die lyne ’n bietjie vergrys en verdof. Daar is die argument wat veral in die literatuurstudie voorgehou word dat sodra iets in die publieke domein geplaas word, soos om dit te publiseer, uit te stal, of in vandag se situasie, op sosiale media te plaas, dit nie meer in die skepper se hande is nie. Dit wil impliseer dat indien ’n skrywer byvoorbeeld die Arthur-legende in ’n nuwe hervertelling of roman wil gebruik, niemand hiermee ’n probleem sal hê nie, grootliks omdat daar geen identifiseerbare outeur is wat die regte kan opeis nie. Ook is dit al lang jare verby die kopiereg. In verskillende lande is daar ’n bepaalde aantal jaar wat gegee word as wanneer kopiereg verval. In Suid-Afrika is daardie tydperk 50 jaar na die dood van die outeur:
In South Africa the term of copyright is 50 years from the end of the year in which the work was first made or in which the author dies or is presumed to have died. Only once the copyright expires does the work fall into the public domain. (UCT 2023)
Daarom is daar nie duidelikheid oor waar ons staan met KI-bronne nie, omdat dit moontlik bronne gebruik wat nog nie in die publieke domein val nie. En weens die globale aard van die internet kan daar oor landsgrense heen kopieregskending plaasvind. Illustreerders val ook in ’n redelik grys area as dit kom by “publieke domein”. Nog ’n kinderboek illustreerder verduidelik: “The main problem to me about AI is that it was trained off of artists’ work ... It’s our creations, our distinct styles that we created, that we did not consent to being used” (Popli 2022). Interessant genoeg noem Krog in sy opvolgartikel dat styl nie in ag geneem word as dit by kopiereg kom nie (Krog 2024b).
........
Veral illustreerders word ingeloop, omdat hulle oorspronklike kreatiwiteit gebruik word om die KI-robotte en algoritmes te leer om “nuwe” illustrasies te skep [...] Onthou ook dat die KI-robot of -program bloot namaak en herrangskik en nie totaal unieke, nuwe skeppings produseer nie.
........
Veral illustreerders word ingeloop, omdat hulle oorspronklike kreatiwiteit gebruik word om die KI-robotte en algoritmes te leer om “nuwe” illustrasies te skep. Sonder die oorspronklike mensgeskepte kreatiwiteit sou die KI-element dus nooit kon leer om dit te na te doen nie. Onthou ook dat die KI-robot of -program bloot namaak en herrangskik en nie totaal unieke, nuwe skeppings produseer nie.
Gaan lees gerus meer oor die problematiek met kopiereg in Krog se artikels oor die regsimplikasies van ChatGPT se skeppende werk: https://www.litnet.co.za/outeursreg-van-n-gedig-en-ki-hugo-bel-die-polisie; https://www.litnet.co.za/ki-en-kopiereg-kreatiewe-skryfwerk-van-die-masjien-versus-kreatiewe-skryfwerk-van-n-mens.
Nog ’n belangrike vraag wat na vore gekom het met Reshi se kits-KI-kinderboek was die gehalte van die KI-geskepte teks en illustrasies.
Die gehalte van KI-geskepte boeke
Daar is tans redelike konsensus dat KI-gegenereerde beelde nog baie verfyn en “opgelei” moet word. Dit is omdat sommige beelde skeef of net eenvoudig eienaardig lyk. Karakters het hande met te veel of knyperagtige vingers. Daar is bene en arms waar die proporsies duidelik uit verhouding is. In sommige gevalle is daar ’n verskil in kleur en skadu’s en die dieptepersepsie word beslis beïnvloed. Die resultaat, veral in kinderboeke, is partykeer nogal vreesaanjaend.
Gaan kyk na hierdie voorbeelde, soos dit in ’n Times-artikel gevind kan word, van die illustrasies uit Ammaar Reshi se KI-gegenereerde kinderboek (Popli 2022): https://api.time.com/wp-content/uploads/2022/12/Copy-from-Alice-and-Sparkle-2-4.png?w=2400&quality=85.
Dit is wel belowend dat selfs die skeppende hand van hierdie ChatGPT-kinderboek ’n beroep doen op die maatskappye wat die algoritmes ontwerp en bou, om maniere te vind wat kunstenaars, illustreerders en skrywers se werk beskerm.
Een moontlike manier is om ’n instruksie of uitsluitingskode in die algoritme te integreer wat tekste se publikasiedatum sorteer op grond van jaartal. Dit kan dan binne die algoritme self getoets word aan kopieregriglyne om sodoende die materiaal uit databasisse of ten minste soektogte te probeer hou. ’n Ander moontlikheid is om ’n betaalmuur in te bou in die programmatuur waar gebruikers van die KI-program moet betaal vir die opsies wat gebruik maak van skrywers en illustreerders se werk wat nie in die publieke domein val nie. Dit sal natuurlik baie moeilik wees, maar dit kan gedoen word. Die vraag bly egter of daar genoeg motivering sal wees om dit deur te voer.
’n Heel ander bekommernis is of hierdie tipe KI-tegnologie moontlik enige negatiewe newe-effekte op kinders se ontwikkeling sal hê. Gelukkig word daar reeds navorsing oor hierdie en soortgelyke vrae gedoen.
Die invloed van KI op kinders se ontwikkeling
Die navorsing waarna Anderson en Xu in hul podsendinggesprek verwys, kyk na die impak van kinders se gebruik van KI-tipe-tegnologie op hulle taal- en kognitiewe ontwikkeling. Dit fokus spesifiek op kinders se interaksie met kletsbotte wat programme soos ChatGPT gebruik om antwoorde aan kinders te verskaf. Ying Xu van Harvard-universiteit het navorsing gedoen oor wat presies die impak van KI in die vorm van interaktiewe gesels- of kletsbotte op kinders en leerders is (Anderson 2024). Haar studie en navorsing fokus op die opvoedkundige en sosiale impak van KI op jong kinders.
Xu se hoofnavorsingsvraag is “whether children can benefit from those AI interactions in a way that is similar to how they benefit from interacting with other people” (Anderson 2024). Sy vergelyk dus die vraag-en-antwoord-interaksies van kinders met KI-kletsrobotte teenoor met volwassenes soos hul ouers of onderwysers.
Die konteks van haar studie waar kletsrobotte of KI-assistente soos Siri of Alexa gebruik word, is gedurende leesaktiwiteite waar kinders se begripsvermoë en woordeskat geëvalueer word (Anderson 2024).
Xu beklemtoon dat alhoewel KI-assistente en kletsrobotte opvoedkundige interaksies kan simuleer of naboots, dit nie die dieper betrokkenheid, interaksie en verhoudingsgedrewe interaksie van menslike interaksie kan repliseer nie, “particularly when it comes to follow-up questions or personalized conversations that are important for language and social development” (Anderson 2024).
Die algehele gevolgtrekking wat Xu voorlê, is dat daar beperkings is op wat kinders deur KI-robotte of kletsbotte kan leer. Een van hierdie beperkinge is dat KI-robotte nie maniere vereis wanneer hulle ’n versoek van ’n kind ontvang nie. “When we talk about children's ability to actually find answers and learn on their own, and [they are] using ‘hey’ to command or activate AI, [it] makes kids forget about politeness” (Anderson 2024). Dit is dalk iets kleins en wat baie van ons dalk as vanselfsprekend aanvaar, maar nog nooit oorweeg het in verband met die gebruik van interaktiewe tegnologie soos KI nie.
Dit is deel van die sosiale konvensies wat kinders leer, en gelukkig dalk dat hul dit nie deur KI kan leer nie. Hierdie tipe sosiale gedrag en vaardighede verg herhaaldelike aksies en die inoefen van gedrag. Dit werk op dieselfde manier as wat gewoontes in die brein gevorm word.
Xu beaam die volgende omtrent kinders se ontwikkeling en die belangrikheid van KI-geletterdheid: “[There is the need for children to be] taught to understand the limitations and potential misinformation from AI, as well as the need for both developers and educators to promote critical evaluation of AI-generated content” (Anderson 2024). Die groeiende kwessies rondom vals inligting of fopnuus wat deel geword het van ons alledaagse lewe syfer ook hier deur. Want KI-robotte en -programme het nie tans die onafhanklike vermoë om die geldigheid van die inligting wat hulle genereer te verifieer of te toets nie. Miskien is dit iets wat verfyn kan word, maar tans is dit ook iets wat omseil kan word weens die aard van groottaalmodelle en programme soos ChatGPT.
Xu spreek daarom die belangrikheid van betroubaarheid van inligting aan, en soos die vorige generasies moes leer dat nie alles wat jy op die internet of Google lees die reine waarheid is nie, moet kinders leer dat nie alles wat ChatGPT jou vertel, waar is nie.
Kinders moet steeds geleer word wat is ’n feit, wat is fiksie. Selfs belangriker: Hulle moet geleer word om te kan onderskei tussen wat fopnuus is en wat as ware, geverifieerde inligting beskou kan word. Die gebruik van KI moet inderwaarheid beskou word as ’n stuk gereedskap wat kinders geleer moet word om verantwoordelik te gebruik.
Die vraag wat nou gevra word met hierdie nuwe tipe interaksie met KI-robotte of assistente, is of kinders werklik kan voordeel trek uit hul interaksie met hierdie KI-assistente.
Xu is die antwoord verbasend “ja”: “[I]f we talk about learning first, my research, along with that of many others, shows that children can actually learn effectively from AI, as long as the AI is designed with learning principles in mind” (Anderson 2024).
Let op dat dit moontlik is slegs indien die program ontwerp is met die doel om te leer. Wat beteken dat KI-tegnologie slegs ’n werktuig is en aangepas moet word vir die spesifieke doel waarvoor dit gebruik sal word. Van die belangrikste bevindings wat Xu en haar kollegas gemaak het, is dat wanneer kinders KI-assistente of kletsrobotte gebruik terwyl hulle lees, hulle beter begrip het van die verhaal en hul woordeskat uitgebrei word, in vergelyking met anders kinders wat slegs passiewe lesers van storie was. Sy waarsku tog dat KI geensins die waarde en voordele van ’n interaktiewe gesprek met ’n werklike persoon kan repliseer, namaak of die unieke voordele van ’n gesprek met ’n ouer kan vervang nie (Anderson 2024).
Miskien sal dit meer sin maak as ons met behulp van ’n leerteorie die voordele van KI-assistente by die lees van storie vir kinders beskou.
In die onderwys word Bloom se taksonomie gebruik om die verskillende vlakke van leer te identifiseer. Die verskillende en progressiewe vlakke van denke en leer kan as ’n piramide voorgestel word waar die een op die ander voortbou (Van Huyssteen 2018).
Volgens Xu se navorsing voldoen KI-assistente slegs aan die eerste vlak van Bloom se taksonomie, miskien in ’n mindere mate die tweede vlak van kennisverwerking. Dit wil sê dat kinders die storie kan onthou en elemente kan identifiseer en dat dit in ’n mate bydra tot hul begrip. Maar daar word geen ontleding van die storie gedoen nie, of toepassing van ’n morele element bespeur nie.
........
Wanneer dit kom by taal en sosiale ontwikkeling, is menslike interaksie uiters belangrik. Interaksie met ’n ouer, waar die ouer die gesprek lei en opvolg met vrae oor die storie, oor die karakters en wat die kind op die bladsy sien en hoe die kind se ervarings vergelyk met die karakters s’n, kan nie deur KI-assistente of KI self vervang word nie.
........
Wanneer dit kom by taal en sosiale ontwikkeling, is menslike interaksie uiters belangrik. Interaksie met ’n ouer, waar die ouer die gesprek lei en opvolg met vrae oor die storie, oor die karakters en wat die kind op die bladsy sien en hoe die kind se ervarings vergelyk met die karakters s’n, kan nie deur KI-assistente of KI self vervang word nie. “[These] are all important elements that are critical for [...] language development. And these kind of child-driven aspects of conversation are where AI still falls short” (Anderson 2024).
Dit wil dus voorkom asof KI die potensiaal het om ’n verrykende invloed te hê binne die onderwyskonteks, mits dit reg gebruik en toegepas word. Maar daar is steeds ernstige kommer ten opsigte van kinderboeke.
In Suid-Afrika word ons eie Afrikaanse kinderboeke ook blootgestel aan die impak en implikasies van die gebruik van KI, veral in die generering van illustrasies en tekste.
Die impak op Suid-Afrikaanse skrywers
Wat dink een van Suid-Afrika en Afrikaans se mees gepubliseerde en suksesvolste kinderboekskrywers van KI? Jaco Jacobs het onlangs ’n lywige mening op Facebook geplaas wat die streep duidelik in die sand trek. Hy skryf onder andere: “Die afgelope tyd hoor en lees en sien ek egter dinge wat my laat voel dis tyd dat skrywers en ander kreatiewe mense hul stem moet begin dik(ker) maak as dit kom by kunsmatige intelligensie en die gebruik daarvan” (Jacobs 2024).
Jacobs het geen bekendstelling nodig aan lesers van kinderboeke, in Afrikaans en Engels, nie. Sy boeke groei soos kosmos in ’n koringland. Sy stories, gedigte en boeke word al ’n aantal jare in skole gebruik en van sy boeke is selfs al verfilm – ’n rubriek vir ’n ander dag.
Jacobs is beslis nie alleen in sy oortuiging dat KI in hierdie “wilde” gebruikersvorm beslis skade aan die uitgewersbedryf se belangrikste rolspelers – skrywers, illustreerders en grafiese ontwerpers – sal berokken nie.
Hy spreek verskeie kwessies aan wat ook in hierdie rubriek na vore kom, spesifiek ’n element van stories wat Xu in haar navorsing aanspreek: “’n Goeie storie is, en ek glo die meeste lesers verstaan dit, méér as net ’n versameling karakters, ’n reeks gebeure en ’n klomp beskrywings wat aanmekaargestring word – dit het ’n hart en ’n hartklop” (Jacobs 2024).
........
Indien ons die gehalte en gapings wat in KI-gegenereerde kinderboeke gevind word, ignoreer en inderdaad vooruitgang om vooruitgangsonthalwe volg, dan gaan ons ons kinders se geleenthede om hul breine te ontwikkel, benadeel.
........
Tog is dit belangrik om daarop te let dat KI nie hier as ’n “aller euwel” voorgehou word nie, want selfs Jacobs gebruik KI-programme om sy illustreerderkollegas te help om rowwe idees op papier te sit vir illustrasies. Hy gebruik dit as ’n werktuig. Dink so daaraan: Niemand gebruik ’n hamer om ’n houthuis te bou nie – dit is die konstruksiewerker wat die hamer in sy hand neem om spykers in te slaan. Die huis word per slot van rekening deur die konstruksiewerker gebou, nie deur die hamer nie. Net so moet KI gebruik word vir die werktuig wat dit is, nie om die hele proses te vervang nie.
Jacobs stel dit soos volg: “Die punt is egter, ek dink dit is nodig om standpunt in te neem wanneer AI duidelik gebruik word om kortpaaie te neem wat tot swak produkte lei, en wat die kreatiewe bedryf in ons land, wat reeds onder beleg is, skade kan berokken.”
Hy onderstreep ’n baie belangrike aspek wat Katrin Oddleifson Robertson en Hana Hladíková ook in hul artikels en navorsing bevestig en ondersteun: “’n Geïllustreerde kinderboek is nie bloot ’n storie met ‘mooi’ of ‘oulike’ prentjies nie.”
Kom ons verbind dus die kolletjies ...
Indien ons die gehalte en gapings wat in KI-gegenereerde kinderboeke gevind word, ignoreer en inderdaad vooruitgang om vooruitgangsonthalwe volg, dan gaan ons ons kinders se geleenthede om hul breine te ontwikkel, benadeel. Net omdat iets vinniger en meer effektief geproduseer kan word deur ’n masjien, beteken dit nie dit is werklik in alle opsigte beter nie. Toegegee, dit is beter vir besigheid, minder werk vir meer effektiewe produksie, en meer geld. Dit klink voorwaar aanloklik, maar teen watter prys vir ons kinders?
Gaan speel ook rond met van hierdie KI-assistente en kletsrobotte. ’n Nuwe werktuig is altyd interessant om te ondersoek, maar dink mooi oor hoe jy jou geld op kinderboeke wil spandeer. Kyk ’n bietjie verder as die prys van die boek en blaai dalk net vinnig deur die prenteboek wat jy vir jou klein nefie of niggie wil koop. Glo my: Jy sal gou genoeg sien as iets nie heeltemal in orde lyk as dit kom by net die illustrasies alleen nie.
Bibliografie
Anderson, J. 2024. The impact of AI on children's development. Harvard Graduate School of Education Online. https://www.gse.harvard.edu/ideas/edcast/24/10/impact-ai-childrens-development (18 Oktober 2024 geraadpleeg).
Eklund, S. 2023. Beware AI-produced children’s books! Sonderbooks-blog. https://sonderbooks.com/blog/?p=42630 (18 Oktober 2024 geraadpleeg).
Evans, R. 2023. AI is coming for your children. Shatterzone substack. https://shatterzone.substack.com/p/ai-is-coming-for-your-children (18 Oktober 2024 geraadpleeg).
Hladíková, H. 2014. Children’s book illustrations: visual language of picture books. Studia Comeniana, 28(1):11–22. http://archive.sciendo.com/CRIS/cris.2014.2014.issue-1/cris-2014-0002/cris-2014-0002.pdf (18 Februarie 2024 geraadpleeg).
Jacobs, J. 2024. Inskrywing op Facebook. https://www.facebook.com/share/p/juUMzL52qFkWrXAt/?mibextid=WC7FNe (4 November 2024 geraadpleeg).
Krog, W. 2024a. Outeursreg van ’n gedig en KI – Hugo, bel die polisie! LitNet. https://www.litnet.co.za/outeursreg-van-n-gedig-en-ki-hugo-bel-die-polisie (7 November 2024 geraadpleeg).
—. 2024b. KI en kopiereg: kreatiewe skryfwerk van die masjien versus kreatiewe skryfwerk van ’n mens. LitNet. https://www.litnet.co.za/ki-en-kopiereg-kreatiewe-skryfwerk-van-die-masjien-versus-kreatiewe-skryfwerk-van-n-mens (7 November 2024 geraadpleeg).
Oddleifson Robertson, K. 2012. Read illustrations to improve literacy skills. PBS KIDS for Parents Online. https://www.pbs.org/parents/thrive/read-illustrations-to-improve-literacy-skills (19 Mei 2024 geraadpleeg).
OpenAI. 2024. ChatGPT [Large language model]. Please write a short story about a robot and a fox. https://chatgpt.com/c/671f67e3-8470-800b-9245-3907e63e468d (28 Oktober 2024 geraadpleeg).
Popli, N. 2022. He used AI to publish a children’s book in a weekend. Artists are not happy about it. Times Online. https://time.com/6240569/ai-childrens-book-alice-and-sparkle-artists-unhappy (18 Oktober 2024 geraadpleeg).
Salem, H. 2023. Why AI children’s books are scamming parents and kids. https://www.familyeducation.com/kids/behavior-discipline/why-ai-childrens-books-are-scamming-parents-and-kids#google_vignette (18 Oktober 2024 geraadpleeg).
UCT (University of Cape Town). 2023. Copyright 101. UCT Information and Communication Technology Services. https://icts.uct.ac.za/about-icts-uct-respects-copyright/copyright-101#:~:text=How%20long%20does%20copyright%20last,is%20presumed%20to%20have%20died (30 Oktober 2024 geraadpleeg).
Van Huyssteen, L. 2018. Feite-en-wenke. Bloom se taksonomie. Afrikaanse Onderwys Netwerk. https://aonetwerk.co.za/wp-content/uploads/2023/12/BLOOM-SE-TAKSONOMIE-AON-Feite-en-Wenke.pdf (29 Oktober 2024 geraadpleeg).
Lees ook:
KI en kopiereg: kreatiewe skryfwerk van die masjien versus kreatiewe skryfwerk van ’n mens
Goue lint, my storie begint: Die impak van tegnologie op kinders en boeke
Goue lint, my storie begint: Die mag van volwassenes se boekkeuses vir kinders
Goue lint, my storie begint-rubriek: die waarde van illustrasies in kinderboeke
Elders gesien: Kinderboeke deur kunsmatige intelligensie geskep?