KI en kopiereg: kreatiewe skryfwerk van die masjien versus kreatiewe skryfwerk van ’n mens

  • 2

Prent: Canva

Wat vooraf gebeur het: Hierdie is die tweede aflewering oor die regsaspekte van ’n ChatGPT-gedig. In die eerste artikel het ek het ChatGPT gevra om ’n gedig te skryf waar Mandela gevra word of hy ooit eensaam is. Dit is toe behandel ingevolge die Wet op Outeursreg van 1978 (die Wet) en dit is ingewikkeld met geen duidelike antwoord nie. Hier word die saak uit ’n ander hoek bekyk.

Ek het vir ChatGPT gevra om vir my ’n gedig oor Mandela in die toon en styl van ’n bekende digter te doen – NP Van Wyk Louw. Die vraag is: Mag ek dit doen en wat sou die regsimplikasies daarvan wees?

Ek vra vir Mandela
(in die toon en styl van NP Van Wyk Louw)

Mandela, het die stilte jou ooit gevind,
daar waar jy tussen mure van klip moes staan,
die donker wat, soos ’n ongenaakbare wind,
jou naam uit die nag se swart geraamtes slaan?

Het die jare soos yster deur jou vlees gesny,
soos tyd wat stil, maar genadeloos gly,
en het jy ooit jou hande, in die vroeë lig,
uitgestrek na 'n mens wat jy nooit kon sien nie?

Was daar 'n uur, ’n enkele breuk in die dag,
waarin jy eensaam die stemme van ons volk,
vergete agter die stene, kon hoor versag,
of het jy bly glo aan die groot gebroke volk?

Hy antwoord nie,
sy oë dwaal oor die wye veld
– "Alleenheid," sê hy,
"is ’n vrees vir die gees
wat ek nooit geken het nie."

Die eerste vraag dus is of so ’n vraag aan ChatGPT en die geskepte gedig inbreuk maak op outeursregte van NP van Wyk Louw? Outeursregte bly geld al is skrywers alreeds ontslape maar die 50 jaar reël geld steeds en Van Wyk Louw is reeds in 1970 oorlede. Wees egter meer versigtig om dit te doen met skrywers wat eers onlangs oorlede is en wie se outeursreg dus nog geld. Vir doeleindes hiervan gaan ek aanvaar dat Van Wyk Louw nog leef.

Die posisie rondom outeursreg van so ’n gedig behoort nie verskillend van die een in die vorige artikel te wees nie, deurdat ek dieselfde argumente kan gebruik rondom skep en vervaardig en dus outeursreg kan opeis. Die debat rondom “eerste” wees bly egter nog steeds vol van dieselfde problematiek, maar daar kan geargumenteer word dat skep en vervaardig altyd ’n “eerste” sal impliseer. Outeursregte beskerm nie toon en styl nie, maar wel inhoud. Om die toon en styl van ’n digter na te boots kan nie aanleiding daartoe dat ’n saak uitgemaak kan word dat die digter se outeursregte geskend word nie.

..........
Outeursregte beskerm nie toon en styl nie, maar wel inhoud. Om die toon en styl van ’n digter na te boots kan nie aanleiding daartoe dat ’n saak uitgemaak kan word dat die digter se outeursregte geskend word nie.
.............

Digters gebruik dikwels die tema of struktuur of gedagte van ander digters en dit word dan as “met apologie aan so en so” of “na aanleiding van so en so se gedig ...” aangebied. Dit word dan volgens outeursreg as “fair use” bestempel. Soms word frases van ander digters in gedigte of self prosa in gedigte gebruik (en andersom) sonder om die erkenning te gee, maar daar word aanvaar dat dit ingeligte leser sal weet uit watter werk dit kom en dit nog steeds deurgaan as “fair use” sou beskou. Outeursregte beskerm ook nie idees nie, en die idee om ’n gedig oor Mandela te skryf is nie uniek nie. Tensy ChatGPT woordeliks dieselfde woorde as die digter gebruik, sal die resultaat nie op outeursreg inbreuk maak nie. Ek kan dus ChatGPT vra om vir my ’n gedig in die toon en styl van ’n ander digter oor of Mandela eensaam was te doen sonder dat die gedig op die outeursregte van die digter inbreuk maak.

Volledigheidshalwe is daar twee konsepte rondom outeursreg wat wel gebruik kan word. Dit is die morele reg op inhoud en outeursreg op vertalings. Beide hierdie konsepte is baie swak ontwikkel in die Suid-Afrikaanse reg en veral laasgenoemde kan in hierdie voorbeeld nie van nut wees nie. Morele reg het onder andere te doen met die beskerming van die integriteit (eer of goeie naam) van ’n outeur.1 Die Wet vereis egter dat die handeling een moet wees van “verdraaiing of skending of ander verandering aan die werk (letterkundige werk)”. Dit is dus ’n vereiste dat die outeur wel outeursreg besit, maar dat dit so verander word dat dit sy eer of goeie naam affekteer. Met die gedig hier bo sou Van Wyk Louw, indien hy nog gelewe het, eerstens moes bewys dat hy outeursreg het op iets wat in die gedig voorkom, en dit is hier waar die Wet te kort skiet, aangesien dit baie moeilik gaan wees – indien nie onmoontlik nie – om so ’n aanspraak te maak. Wat die morele reg wel bied, is moontlikhede om hierdie vorm van gedigskepping onder morele regte as ongewens te beskou. Daarvoor sal die Wet egter gewysig moet word. 

Die morele regte sluit aan by die reputasie van skrywers en is deel van die reg op privaatheid (soms ook deel van die reg op identiteit).2 Die reg op privaatheid in die konteks hiervan is dat ’n outeur se waardigheid aangetas kan word omdat sy/haar naam gebruik word sonder sy/haar toestemming. Reputasie kleef slegs aan lewende persone, maar ek voer die rede verder asof Van Wyk Louw nog leef – om redes wat ook verder duidelik sal word.

Al kan ek niks uit Van Wyk Louw se werke (wat op die internet is) kry wat enigsins frases of dieselfde gedagtes bevat as wat in die geskepte gedig voorkom nie, maak dit geen verskil nie. Bekendmaking is publikasie. Wat hier geargumenteer sal word, is dat Van Wyk Louw se naam sonder sy/haar toestemming gebruik is deur bekend te maak dat Van Wyk Louw die waarskynlike skrywer van die gedig is. Dit is dus ’n aanval op Van Wyk Louw se waardigheid. Belangrik hier is dat hoe goed of sleg die gedig is, geen rol speel nie. Al sou die gedig teoreties ’n briljante gedig wees, is die regsfeit dat publikasie van die feit sonder Van Wyk Louw se toestemming gedoen is, en dit stel die basis vir die skade-eis.

Die ander aspek van reputasie is wat die reg as aanklamping beskryf.3 Aanklamping vind plaas wanneer ek die reputasie van iemand anders gebruik om my eie reputasie te verbeter. In die handelsmerkwêreld kom dit algemeen voor en is daar ’n hele rits sake al beslis. Van die bekendstes is Brian Boswell Circus (Pty) Ltd & another v Boswell-Wilkie Circus (Pty) Ltd.4 Aanklamping is nog nooit hier ter plaatse rondom skryfwerk gedoen nie, hoofsaaklik omdat outeursreg genoegsame beskerming bied.5 Indien die elemente van aanklamping bewys word, kan Van Wyk Louw die publikasie van die gedig verbied omdat hy met die inhoud daarvan geassosieer word – ’n sterk remedie tot outeurs se beskikking. Nie net kan die publikasie verbied word nie, maar sal ek en die uitgewers enige wins wat uit die publikasie verkry is, aan Van Wyk Louw moet betaal.6

Ek het dieselfde gedig hier bo gevat en die verwysing na die toon en styl van Van Wyk Louw weggeneem en vir ChatGPT gevra wie dit dink die outeur van die gedig is. ChatGPT identifiseer toe drie lewende digters en kom tot die gevolgtrekking dat een van die drie die mees waarskynlike digter is wat die gedig geskryf het. Dit het geensins Van Wyk Louw as die waarskynlike digter van die gedig oorweeg nie. Hoewel dit die feilbaarheid van KI bewys, skep dit soos ons in Engels sou sê, ’n potensiële legal rabbit hole.

.............
ChatGPT identifiseer toe drie lewende digters en kom tot die gevolgtrekking dat een van die drie die mees waarskynlike digter is wat die gedig geskryf het. Dit het geensins Van Wyk Louw as die waarskynlike digter van die gedig oorweeg nie. Hoewel dit die feilbaarheid van KI bewys, skep dit soos ons in Engels sou sê, ’n potensiële legal rabbit hole.
...............

Vir doeleindes hiervan gaan ek die geïdentifiseerde digter Digter X noem.

Die eerste regsprobleem is of ek die identiteit van Digter X bekend kan maak. As die argument rondom privaatheid konsekwent deurgevoer word, kan ek nie Digter X se identiteit bekendmaak nie, omdat dit sonder Digter X se toestemming gedoen word. Maar enige leser van hierdie artikel kan ook die gedig vir ChatGPT voer en dit sal dalk ook Digter X identifiseer. Ek was verder stout en het die gedig wat in die eerste artikel verskyn het, ook weer vir ChatGPT gegee en gevra dit moet die waarskynlike digter identifiseer. Dit het toe weer twee van die drie digters geïdentifiseer as wat dit met die sogenaamde Van Wyk Louw-gedig gedoen het, maar ’n derde – ’n digter wat ’n dekade of wat gelede oorlede is – bygesit. Die gevolgtrekking wat ChatGPT bereik het, was om dieselfde digter – Digter X – ook te identifiseer as die moontlike digter van die eerste gedig.

Wat ook hierby aansluit, is die hofsake wat nou in die VSA aan die gang is deur skrywers wat meen dat hulle tekste gebruik word om KI te leer. KI bly ’n algoritme – dit kan nie sonder data bestaan nie. Boeke is ’n groot bron vir KI sa databasis en webwerwe word “gescrape” vir data. Die “scraping” proses – soos ek dit verstaan – kopieer nie die teks nie, maar wel die data van die teks, en dit reproduseer nie die teks nie, maar dit “bestudeer” en maak eie afleidings daaroor gebaseer op dit wat alreeds in KI bestaan en dan ook leer soos nuwe data by kom.

Scraping van persoonlike inligting kan wel verbied word, maar hoe KI-skrywers kan naboots, word nie daardeur beskerm nie. Scraping het dus ook nie outeursregimplikasies nie, en dit sal ook baie moeilik onder reputasieskade of aanklamping kan val.

Wat is kreatiewe skryfwerk egter anders as scraping? Skrywers scrape die taalreëls, skryfreëls, woordeboeke, ander boeke, die internet en wat ook al om kreatiewe werk te produseer. Mondelinge oorlewerings word ook gescrape vir idees in skryfwerk. Wat doen KI dan anders? Gebruik ek as skrywer nie bloot gereedskap in die vorm van ChatGPT om hierdie scraping vir my te doen nie?

..............
Wat is kreatiewe skryfwerk egter anders as scraping? Skrywers scrape die taalreëls, skryfreëls, woordeboeke, ander boeke, die internet en wat ook al om kreatiewe werk te produseer. Mondelinge oorlewerings word ook gescrape vir idees in skryfwerk. Wat doen KI dan anders? Gebruik ek as skrywer nie bloot gereedskap in die vorm van ChatGPT om hierdie scraping vir my te doen nie?
.................

Is hierdie ’n knieskop weens ons fundamentele vrees dat KI daardie aspek van menswees, naamlik kreatiwiteit, tot so ’n mate gaan naboots dat menslike kreatiwiteit gaan verdwyn? Dit gaan vir seker die drempel aansienlik lig vir wat kan deurgaan as kreatief en KI gaan ons op ons tone hou om dit te outperform, want skielik is middelmatigheid net ’n paar sekondes weg.

Oor wat kreatief is, is alreeds terragrepe van data, maar kreatiwiteit is nie eers ’n element van outeursreg nie. Tog vorm dit die basis vir waarom outeursreg beskerm word, naamlik om kreatiwiteit aan te moedig sonder vrees dat iemand dit as hulle eie gaan kopieer. Die drempel vir kreatiwiteit in outeursreg is dus baie laag gestel. Die Wet self sê dat literêre werke, ongeag die meriete, beskerm word. Die vraag wat KI egter vra, is of ons die regsdrempel van kreatiwiteit verder moet verlaag en of ons die drempel eerder moet verhoog.

............
Die drempel vir kreatiwiteit in outeursreg is dus baie laag gestel. Die Wet self sê dat literêre werke, ongeag die meriete, beskerm word. Die vraag wat KI egter vra, is of ons die regsdrempel van kreatiwiteit verder moet verlaag en of ons die drempel eerder moet verhoog.
.............

Om die regsdrempel te verhoog gaan baie moeilik wees weens die oorheersende teenwoordigheid van tegnologie in ons lewens. Dit is soos om te sê dat net skryfwerk op papirus en velperkamente in die handskrif van skrywers die enigste skryfwerk is wat beskerm moet word en dat niks wat die boekdrukkuns geproduseer het, nie beskerm moet word nie. Tweedens sal dit dan ook geweldig staat moet maak op opinies van ander. Word die drempel verlaag, bring dit ander probleme spesifiek vir die uitgewers van kreatiewe werk mee wat sal begin twyfel of hulle die alleenreg het om iets te publiseer.

Maar indien ons iets uit die geskiedenis van die boekdrukkuns moet leer, is dit dat die tsunami van tegnologie nie gekeer kan word nie, maar ook dat die boekdrukkunstegnologie die ruimte vir kreatiwiteit geweldig verbreed het. Ons moet dus ’n manier vind om aan te pas. Hier bevind ek my eens met Wittgenstein wat gesê het: “The problems are solved, not by giving new information, but by arranging what we have known since long.”

Wat weet ons dus – all along? As ek byvoorbeeld (voor KI) ’n gedig sou skryf en meld dat dit in die toon en styl van Van Wyk Louw gedoen is, gaan dit nie die gedig se kwaliteit enigsins bepaal nie. Indien die gedig goed is, sal ek krediet daarvoor kry, maar indien dit swak is ... the joke is on me – Van Wyk Louw word geensins benadeel nie. Ek dink dit behoort dieselfde te wees met KI. As ek outeursreg op die gedig hier bo wil opeis, is die joke on me – want enige ingeligte mens sal by die lees daarvan weet dat die gedig betreklik swak is. So ook: As KI ’n gedig sou identifiseer as ’n gedig van Digter X,  terwyl Digter X dit nooit was nie, is the joke op die persoon wat dit glo. Die feit dat KI poog om skrywers te identifiseer as moontlike outeurs van kreatiewe werk, is ’n operasionele funksionaliteit van die sagteware, en skrywers oor wie die meeste data beskikbaar is, sal altyd opduik as moontlike skrywers van gedigte – veral in ’n taal so klein soos Afrikaans.

Indien ’n gedig gepubliseer word sonder die verwysing dat dit in die styl en toon van Van Wyk Louw is, kan daar natuurlik geen regsgevolge wees nie. Selfs al kry iemand my ChatGPT-logs in die hande en bewys dat die gedig geskep is met ’n verwysing na Van Wyk Louw, is die vereistes vir beide skade en aanklamping dat daar publikasie moet wees. My private ChatGPT-logs is nie vir publikasie nie. ’n Mens kan dus vrylik op ChatGPT rondspeel met sulke goed, want op die ou end bly die vraag dan: Is hierdie gedig goed genoeg om gepubliseer te word?

Ek dink wel dat daar ’n etiese plig rus op skrywers om hulle gebruik van KI te openbaar in hulle skryfwerk, want dit gee konteks aan wat gebeur. ChatGPT sukkel duidelik met konteks, want algoritmes mag oor ’n tydskonteks beskik, maar dit het nie ’n konseptuele konteks wat dit rig nie. Indien die konteks van die gebruik verduidelik word, dink ek nie dat ander skrywers se regte benadeel kan word nie, omdat die konteks goed sal verduidelik dat daardie skrywer nie die outeur van die betrokke werk is nie, maar wel KI aangepor deur ’n mens. Weer eens, indien dit dan swak is, is die joke op die mens. In hierdie verband sal uitgewers dalk meer notisie moet neem van die gebruike van KI en hulle skrywers meer moet uitvra oor hoe sinvol dit gebruik is en seker te maak dat die nodige konteks gaan bestaan sodat ander skrywers se regte nie beïnvloed word nie. Dit kan wel moontlik raak dat ChatGPT wel skrywers met werk begin assosieer wat hulle reputasie skade aandoen. Hier dink ek dat die skeppers van ChatGPT dalk ’n regsaanspreeklikheid kan oploop omdat dit inligting valslik versprei tot nadeel van skrywers se reputasie. Daarvoor sal hulle egter in Amerika gedagvaar moet word, maar dit het voordele. Klasaksies in Amerika is gewild en hulle skadevergoedingsreg het strafskade wat ons nie hier het nie. Dit is hoekom McDonald’s ’n klomp geld moes betaal omdat hulle hulle koffie te warm gemaak het wel wetend dat dit mense brandwonde kan toedien. Strafskade in die geval van ChatGPT kan aansienlik wees – maar die geld sal nie dit wat gebeur het, ongedaan maak nie. Daarvoor is ander beskerming nodig.

Ten slotte: Die koms van KI het die regswese met hulle broeke op die enkels gevang en bestaande reg is heeltemal onvoldoende om skrywers die beskerming te gee wat nodig is om hulle kreatiewe werk voort te sit. Maar om te “wag op die kaptein” sal dalk te lank vat, en ’n indringende skrywers- en uitgewersbesinning hieroor is nodig sodat ten minste die etiese en morele kwessies op die tafel gesit word, want daaruit kan goeie wetgewing volg.

1Sien Artikel 20 van die Wet.

2Sien oor die algemeen Kumalo v Cycle Lab (Pty) Ltd (31871/2008) [2011] ZAGPJHC 56 (17 June 2011).

3Die Engelse term is passing off.

41985 (4) SA 466 (A) by 478I-J.

5Daar is natuurlik nog die aspek rondom skade weens aanklamping wat dit moeilik kan maak vir skrywers, maar die regsbeginsel behoort nie anders te wees vir skrywers as wat dit vir kommersiële besighede is nie.

6Sien Adidas AG and Another v Pepkor Retail Ltd (187/12) [2013] ZASCA 3 (28 February 2013) par 39)(e).

Lees ook:

Elders gesien: Kinderboeke deur kunsmatige intelligensie geskep?

Outeursreg van ’n gedig en KI – Hugo, bel die polisie!

 

  • 2

Kommentaar

  • Francois Verster

    Op die vraag of dit wat skrywers doen niks anders as scraping is nie: NEE. Dis die kort antwoord. Maar dis veel meer as scraping, dis 'n herkenbare, uniek menslike proses ter sprake. So, as ek te lui of onbevoeg is om te skryf en 'n spookskrywer inspan, dieselfde - dis NIE my werk nie en ek is oneerlik om daarop aanspraak te maak. Analise kan nog met hulpmiddele gedoen word, maar sodra dit sintese word, en dan, wanneer persoonlike (en as sulks herkenbare) styl bykom, behoort dit deur 'n mens geskep te word. Dalk is dit juis die verskil: die skepping, die samestelling van 'n nuwe konstruk, en die vingerafdrukke van 'n individu wat daarop sigbaar is; dit wat voorgekom het in balans tussen aspekte soos intuïsie en die kognitiewe elemente wat deur elkeen effens anders ingespan word: wat voorheen as 'n produk van beide linker- en regterbreine beskou was. Waarom tog die wonder en die JOY daarvan vervang? Dan produseer ek eerder middelmatigheid as onmenslikheid.

  • Andre Myburgh

    Dankie vir die interessante reeks artikels. ‘n Paar opmerkinge:

    Dis nie ‘n uitgemaakte saak dat die proses van “scraping” nie die reproduksie van kopieregmateriaal deur maatskappye, wat KI-opleiding onderneem, meebring nie. Die KI-bedryf se gelykstelling van "scraping" met die skrywer wat ander werke lees, is onvolledig en misleidend.

    Dis waar dat die Wet op Outeursreg “ou wetgewing” en "heeltemal onvoldoende" is. Eintlik is die sitasie erger as dit. Die nuwe kopiereguitsonderings in die Wysigingswet op Outeursreg, veral sy unieke “fair use”-klousule, gaan ontwikkelaars van KI-programme aanmoedig dat hulle carte blanche het om die hele corpus van alle kopiereg-beskermde werke sondermeer te "scrape".

    Lees gerus prof Keyan Tomaselli se meningstuk “Copyright Bill feeds into Big Tech’s agenda to grab creative content” in Mail & Guardian. In ons boek “Copyright Reform or Reframe?” (2023, Juta) merk ons op dat die wetsontwerp se agtergrond glad nie KI in ag geneem het nie en ons kom tot die gevolgtrekking dat “Instead of bringing South Africa’s copyright legislation into the digital era, it would remain retarded by the Bills.”

    Gelukkig is die wetstontwerp nou voor die Grondwethof om oor die grondwetlikheid van sy "fair use"-klousule en ander kopiereguitsonderings te besluit.

    NS Die VSA het NIE kopiereg vir die aap gegee nie! Dit staan in die US Copyright Office se “Compendium of U.S. Copyright Office Practices” (2021) Hoofstuk 300 “Copyrightable Authorship: What Can Be Registered” para 313 onder “Works That Lack Human Authorship”.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top