..........
Kan KI ’n literêre werk produseer? Indien wel, wie se literêre werk is dit dan?
..............
Die invloed van KI op outeursreg het alreeds in die VSA skrywers die harnas ingejaag. Hoe staan sake hier by ons met ou wetgewing in die vorm van die Wet op Outeursreg van 1978 (die Wet)? Hierrondom is twee vrae: Kan KI ’n literêre werk produseer? Indien wel, wie se literêre werk is dit dan? Ek het ChatGPT gevra om vir my ’n gedig te skryf waarin Mandela gevra word of hy ooit eensaam was. Die program het soos volg geantwoord:
Ek vra vir Mandela
Mandela, was jy ooit eensaam
agter die tralies van jou tyd,
waar elke dag ’n lang stilte dra
en die nag jou naam vergeet?
Het die winde van Robbeneiland
jou soms geroep, of was dit leeg,
soos die stene wat jy geskuif het,
soos die branders wat hard breek?
Was die skadu’s jou geselskap,
of het jy hulle eenkant laat staan?
Het jy gesoek na ’n stem in die wind,
’n fluistering van iets wat bly bestaan?
En hy kyk op, die lig in sy oë,
’n glimlag sag soos ’n verleë antwoord:
“Die wêreld buite was stil,
maar ek het nooit alleen gehoor.”
Die antwoord op die eerste vraag word deur die Wet verskaf. Volgens die Wet kwalifiseer ’n gedig (ongeag die gehalte) as ’n literêre werk.1 Niemand sal kan stry dat hierdie ’n gedig is nie en dus 100% binne die Wet se definisie van ’n literêre werk val.
Nou die vraag wie se literêre werk dit is.
Die meeste sou sê: “Natuurlik ChatGPT s’n.”
Daar is egter ’n hele paar (regs)probleme rondom so ’n uitgangspunt. Volgens die Wet is die outeur van ’n gedig die persoon wat die gedig eerste vervaardig of skep.2 ChatGPT word nie deur die reg beskou as iets wat ’n handeling kan pleeg nie, omdat dit nie ’n persoon (natuurlike of reg-geskepte regspersoon soos ’n maatskappy) is nie. Die reg bepaal die regsgevolge van persoonlike handelings – of jy iets koop, iemand raak ry, net bloot ry, dit is alles handelinge met regsgevolge. In hierdie geval is die handeling die skep van ’n gedig en vir die handeling moet daar ’n persoon wees. As ons sê dit is ChatGPT, dan erken die reg nie daardie handeling as ’n handeling wat regsgevolge het nie, maw outeursreg is nie ’n gevolg van die skep van ’n literêre werk wat deur ChatGPT gedoen is nie.3 Daar is dus bloot nie outeursreg op hierdie gedig nie.
Sommiges mag sê dit is die einde van die gesprek.
Dit is egter nie so eenvoudig nie.
Net soos die reg gevolg gee aan regshandelings, so gee dit ook gevolg aan iets wat deur die reg beskryf word as ’n regsobjek. Regsobjekte is alle materie wat nie mense is nie – soos karre, huise, honde en dergelike. So is ook ’n literêre werk ’n regsobjek. Regsobjekte is te alle tye onderworpe aan ’n reg van ’n persoon (natuurlik of maatskappy) wat as die regsubjek gesien word. In ons geval is die outeur die regsubjek; die regsobjek is die literêre werk; en die regsgevolg is outeursreg.4
............
Die regstegnies korrekte vraag is dus: Wie is die regsubjek van hierdie gedig? Met dié dat net persone regsubjekte kan wees, is daar net twee moontlikhede: die eienaar van ChatGPT – OpenAI LLC – en ek.
............
Die regstegnies korrekte vraag is dus: Wie is die regsubjek van hierdie gedig? Met dié dat net persone regsubjekte kan wees, is daar net twee moontlikhede: die eienaar van ChatGPT – OpenAI LLC – en ek. OpenAI LLC is ’n Amerikaanse maatskappy en is nie in Suid-Afrika geregistreer as ’n maatskappy nie. Ingevolge artikel 3 van die Wet is dit net Suid-Afrikaanse burgers en Suid-Afrikaanse maatskappye wat kwalifiseer vir outeursregbeskerming in Suid-Afrika.5 Tweedens maak OpenAI LLC geen aanspraak op enige outeursreg in hulle bepalings en voorwaardes ten opsigte van inhoud wat met ChatGPT geproduseer word nie.6
Dit laat ons dan met jors troelie. Die feit dak ek die enigste kandidaat vir die outeursreg kan wees, beteken egter nie dat dit outomaties is nie. Ek moet nog steeds aan die Wet se vereistes voldoen.
Ek moet ’n Suid-Afrikaanse burger wees en kan derhalwe ingevolge die Wet aanspraak maak op outeursreg – ek is dus ’n regmatige regsubjek. Die gedig is ’n literêre werk en dus ’n geldige regsobjek. Die vraag is of ek die handeling gepleeg het om as regsubjek outeursreg op die regsobjek te vestig. Die Wet vereis dat ek eerste die literêre werk moes “(ge)skep of vervaardig (het)”. Die woorde vervaardig en skep word nie in die Wet gedefinieer nie, daarom moet die woordeboekbetekenisse gebruik word. Vervaardig word gedefinieer as “maak; saamstel; produseer”. Skep het meer omvattende definisie (en ons ignoreer die homoniem) met twee beskrywings, waarvan die eerste een as “in die lewe roep; uit niks vorm; voortbring” beskryf word en die tweede een as “veroorsaak, teweegbring; vorm”. Daar sou nie gestry kon word dat hierdie gedig wel ’n eerste vervaardiging of skepping is, soos die wet dit vereis, nie.
Ons kan dus bevestig dat die gedig ’n eerste is en dat dit geskep of vervaardig is, maar die vraag is: Was dit ek wat dit eerste geskep of vervaardig het? Daar is ’n sterk argument dat ek die gedig vervaardig het en ’n minder sterk argument dat ek dit geskep het. Ek het ChatGPT die vraag gevra om die gedig te skryf. ChatGPT het dit nie vanself gedoen nie. Ek het dit ook spesifiek gevra om die gedig in vraagvorm te doen, en dat dit gerig moet wees aan Mandela, en dat die vraag moet wees of hy ooit eensaam was. Daar is ook ’n sterk argument dat ek die gedig “(ge)maak; saam(ge)stel; produseer” het soos die definisie van vervaardig dit vereis. My handelinge steun ook die tweede definisie van skep, naamlik “veroorsaak, teweegbring; vorm”. Dit steun ook gedeeltelik die eerste definisie van skep, nl “in die lewe roep ... voortbring”. In die lewe roep is ’n idioom en daar is ’n argument te make dat my handelinge die gedig “in die lewe geroep het” deur ChatGPT die vraag te vra en dus dat ek dit ook “voortgebring” het. Wat wel seker gesê kan word, is dat ek nie die gedig “uit niks (ge)vorm” het nie maar dit lyk of die skaal van Justitia in my guns swaai. Die finale argument hieroor is dat al vra ek – of enige iemand anders – vir ChaptGPT presies dieselfde vraag, dit ’n ander gedig sal voortbring en nie weer hierdie gedig nie. Ek het dit getoets. Hierdie gedig soos hy hier staan, is uniek en kan nie elders gereproduseer word sonder om hierdie een te kopieer nie.
Laastens, maar nie die minste nie: Was dit ek wat dit “eerste” gedoen het of was dit ChatGPT?
Dit lyk op die oog af of hierdie die mespunt is wat die finale antwoord kan verskaf. Maar – helaas – dit is nie, want dit is op hierdie punt waar die Wet te kort skiet, omdat iets soos ChatGPT ten tye van die maak van die wet nie as ’n moontlike regshandeling oorweeg is nie. Die Wet het geen verduideliking van wanneer iets “eerste” is nie, want in die konteks van die Wet in 1978 kon literêre werke slegs op papier bestaan. Tweedens was die doel van die Wet om kopiëring te voorkom, en in 1978 kon jy iets net kopieer as dit êrens op papier was. Dit was dus nie nodig om hierdie vraag te oorweeg nie – die woord eerste het beteken wie het dit die “eerste op papier gesit”. Rekenaartegnologie het alreeds vrae laat ontstaan, maar gelukkig kan op die rekenaar se logs gesien word wanneer dit op die rekenaar geskep is om eerste outeursreg te vestig. Tweedens kan geargumenteer word dat so ’n dispuut natuurlik nooit kon ontstaan het as ek nie gesê het ek het dit met ChatGPT geskep nie. Niemand sou weet nie, en ek sou met gemak kon bewys dat ek die gedig “eerste” geskep het.
Maar dit is ook nie so eenvoudig nie. My ChatGPT het ook ’n log, en ek sou kon stilbly daaroor, maar as ’n dispuut sou ontstaan en ’n hofsaak sou volg, sou ek gevra kon word om my ChatGPT logs te openbaar.
Die vraag na wie eerste was, bring ook die hele kwessie van regsubjekte en regshandelinge na vore, en hierdie kwessie word ’n sirkelargument, want kan niepersone “eerste” wees vir doeleindes van die Wet? Sirkelargumente in die regswese kan net deur wetgewing opgelos word, maar – weer eens helaas – indien ons daarvoor wag, gaan ons miljarde perde met horings hê.
Hoe manifesteer hierdie vraagstuk prakties in die daaglikse lewe van ’n outeur? Baie min, dalk – as dit nie vir die outeur se vennoot, die uitgewersbedryf, was nie. Uitgewers dra die koste van publikasie van die outeur se literêre werke, omdat die Wet die outeursreg beskerm. As die vraag oor wie “eerste” was, nie met sekerheid beantwoord kan word nie, kan die werk skuldloos gekopieer word, en indien dit skuldloos gekopieer kan word, sal geen uitgewer aan die werk raak nie, ten spyte van dalk groot literêre of potensiële kommersiële waarde. Daardie klousule in die uitgewerskontrak waaroor ons oë so gemaklik gly dat jy as skrywer waarborg dat jy hierdie werk geskep het, word nou ’n wesenlike finansiële risiko vir die outeur waar dit voorheen net ’n risiko vir skelm outeurs ingehou het. Sou die outeur ChatGPT gebruik (of enige ander KI) en iemand kan dit skuldloos kopieer, gaan die outeur aanspreeklik wees vir die publikasiekoste van die literêre werk. Skrywers sal ’n balansstaat nou aan die uitgewers moet voorgelê voor hulle besluit of hulle enige risiko’s met publikasie het.
Die oplossing is dus voor die hand liggend: Moenie ChatGPT gebruik nie.
...........
KI gaan verder as net ChatGPT. Grammarly, speltoetsers ens gebruik almal ’n vorm van KI om te help. Het ek dus net outeursreg op my verkeerd gespelde en ongrammatikale werk?
..............
Maar wat sê ons dan vir mekaar? KI gaan verder as net ChatGPT. Grammarly, speltoetsers ens gebruik almal ’n vorm van KI om te help. Het ek dus net outeursreg op my verkeerd gespelde en ongrammatikale werk? Moet ons maar nie by die “slegs papier”-stelsel bly nie? Nog verder: Sou ek iets wou publiseer en my balansstaat is groot genoeg om die uitgewers tevrede te stel, word my werk gepubliseer al het ek ChatGPT gebruik, en die armer (beter) outeur bly ongepubliseer.
...........
Soos julle hier lees en ons almal in die derde dekade van die 21ste eeu leef, dink ons daar gaan ’n vinnige oplossing beskikbaar wees – maar daar is nie. Die mense wat gewaarsku het dat KI mense gaan verander, was reg gewees.
............
Soos julle hier lees en ons almal in die derde dekade van die 21ste eeu leef, dink ons daar gaan ’n vinnige oplossing beskikbaar wees – maar daar is nie. Die mense wat gewaarsku het dat KI mense gaan verander, was reg gewees. Die troos wat die bronne in die bronnelys openbaar, is dat dit internasionaal ook ’n groot gemors is, waar die VSA al besluit het ’n aap is ’n regsubjek wat outeursreg het (ja – letterlik), Europa dat KI-neuronetwerke nie patenteerbaar is nie, en China dat die KI-eienaar die outeursreg besit. Tussenin lê ook nog die debat van swak en sterk KI.
Regsreëls is bloot net die wil van wat die mense wil hê dit moet wees. Party regsreëls is oud want hulle werk goed. Regsreëls wat ons nie wil hê nie, word geïgnoreer – vra vir Sanral en die tolpaaiesage. Ons, die bedryf, gaan ’n wesenlike besinning moet maak oor wat KI vir ons is en hoe ons wil hê dit moet werk. Dan moet dit omgesit word in wetgewing sodat almal by daardie reëls inpas.
So, daar is nie ’n oplossing nie, maar wat wel so is, is dat die tyd om een te soek, dringend aangebreek het.
Het iemand Hugo se nommer?
Maar skrywers het nie net outeursregte wat hulle beskerm nie. Om dit te illustreer het ek weer vir ChatGPT dieselfde vraag oor Mandela gevra, maar gesê dit moet in die toon en styl van ’n werklike en lewende skrywer gedoen word. ChatGPT se antwoord demonstreer ’n ander stel probleme.
(Word vervolg)7
Eindnotas
1Vir dié wat belangstel, gaan kyk na die definisie van letterkundige werk in artikel 1 van die Wet.
2Die definisie van outeur in die artikel 1 van die Wet.
3Sien ook artikel 3 van die Wet wat uitspel wie die houers van outeursreg kan wees.
4Selfs iets wat geabandoneer is en as res nullius (iets wat aan niemand behoort nie) beskou word, is die besitter daarvan, maw, die persoon wat dit optel, die eienaar en dus die regsubjek. In hierdie geval kan dus gesê word dat ek die gedig “opgetel” het en die eienaar daarvan is.
5Daar is wel uitsonderings rondom rolprente en musiek waar nie-Suid-Afrikaners se regte erken word.
6Sien hulle bepalings en voorwaardes by https://openai.com/policies/row-terms-of-use.
7Kopiereg op enige literêre werk in hierdie artikel word nie deur die skrywer hiervan voorbehou nie.
Lees ook:
KI en kopiereg: kreatiewe skryfwerk van die masjien versus kreatiewe skryfwerk van ’n mens
Die simfonie van silikon: Die impak van kunsmatige intelligensie (KI) op musiek
Kunsmatige Intelligensie en die reg: Regspraak en opinies lê nog ver in die toekoms