Kunsmatige intelligensie en akademiese artikels

  • 2

https://pixabay.com/illustrations/artificial-intelligence-brain-think-4550606/

 

ChatGPT is ’n wêreldwye sensasie. Dit is die ene gedigte, stories en diep vrae wat aan hom gevra word. Pret ja. Maar in ’n wêreld waar valshede en misinformasie groei, is dit kommerwekkend vir die wetenskap.


Wat is ’n bewese feit en wat nie? En wie is die skrywer van wetenskaplike, portuurevaluasie-artikels (of eintlik enige akademiese artikel en navorsing), wat die standaard van gerekende en bewese kennis is?

Die hoofredakteur van Science se vakjoernale, Holden Thorp, skryf in die jongste uitgawe van Science juis dat ChatGPT nié ’n skrywer of outeur van akademiese werk kan wees nie. Daar is reeds verskeie voorbeelde van gruwelike foute wat dit kan bestaan, insluitende verwysings na wetenskaplike studies wat nié bestaan nie.

Midde die oorlog wat daar vir lank reeds bestaan teen waninligting en vals inligting kan dit net nog ’n donker laai oopgooi. Neem maar die moeras van liegstories wat daar oor COVID-19 was, en waarteen die wetenskap vure moes doodslaan.

Toe mense begin sterf, het die “virus nie bestaan nie”. Daar is selfs mense wat dit steeds nie glo nie. Verlede jaar het die sogenaamde dokumentêre film Died suddenly – wat allesbehalwe feitelik is – sterftes aan die COVID-19-entstowwe verbind. Die fliek is soos ’n vulkaan van pseudowetenskap, bangmaakstories en antivaksienpropaganda.

Máár, die film het soos baie ander gaan leen by die wetenskap en sy jargon en trefwoorde gebruik en feite verdraai. Foto’s en beeldmateriaal gemanipuleer. Regoor die wêreld het kenners dadelik die film, soos sy voorganger Plandemic, aan die kaak gestel. Dit sou naïef wees om te dink dat dié tipe misinformasie nie skadelik is nie.

Onlangs het ’n groep navorsers vir ChatGPT gevra om 50 mediesenavorsingsopsommings te skryf gebaseer op werk wat in van die voorste joernale soos JAMA (The New England Journal of Medicine), The BMJThe Lancet en Nature Medicine verskyn het. Dit is toe deur mediese navorsers gelees en hulle kon net in 68% van gevalle dié identifiseer wat deur die kletsbot geskryf is.

Hoe word dan bepaal wat is waar en wat nie? Want die navorsing is gefabriseer – dit is nie gedoen nie. Die implikasies kan reusagtig wees, veral in mediese navorsing. Dit laat ook die deur vir misbruik wyd oop. Daar is ander wat weer dink ChatGPT het ’n gebrek aan diepte en insig en ons moet nie so gou oe en aa nie.

Die kommer wat oor ChatGPT bestaan (wat beslis verder ontwikkel sal word), is dat, soos Thorp sê, ’n KI-program nie ’n outeur van ’n wetenskaplike artikel of ’n navorser kan wees nie. In die geval van Science (en ander joernale) moet navorsers verklaar dit is hulle eie werk, oorspronklik, en hulle is verantwoordelik daarvoor. Dit is tog die baken van behoorlike wetenskap, en onderskei gepubliseerde artikels van die menings van mense wat op die stoep sit en broei met hulle eie hipotese en dit as feite kan verklaar.

En ChatGPT kwalifiseer nie. Science gaan nou sy lisensie aanpas en spesifiek aandui dat ChatGPT- of enige ander KI-teks nie in artikels gepubliseer mag word nie – dit sluit grafika, foto’s en dies meer in. Indien dit gebeur, sal dit as wangedrag gesien word.

Thorp stel dit duidelik: Uiteindelik moet die produk kom  van – en uitgedruk word deur – die wonderlike rekenaar in ons brein.

...........
Thorp stel dit duidelik: Uiteindelik moet die produk kom  van – en uitgedruk word deur – die wonderlike rekenaar in ons brein.
............

Magdalena Skipper, hoofredakteur van Nature, sê outeurskap dra verantwoordelikheid en KI kwalifiseer nie. Hulle gaan nie sulke  “outeurskap” aanvaar nie. Na alle waarskynlikheid sal ander vakjoernale hulle binnekort navolg.

Soroush Saghafian, ’n kenner in dié veld, aan Harvard-universiteit, skryf dat dié tipe groottaalmodelle nie naastenby op die vlak van menslike intelligensie is nie. Dit kan nie redeneer of dink soos ons nie. Wat die kletsbot nie het nie, is intuïsie. Want verbale kommunikasie en die vermoë om te dink is nie dieselfde nie.

Ons is voelende (sentient) wesens en ons verstaan regtig. Elkeen verstaan ook die wêreld anders; dit is wat ons uniek maak. ChatGPT en sy opvolgers is outomate. Data.

Daar is ook ’n ander vreemde element aan die opgewondenheid oor die kletsbot: ’n verwagting dat ons iets daar sal vind wat ons nie elders kan kry nie. Iets nuut, ’n onthulling of iets wat ander mense dalk nie weet nie, is my persoonlike gevoel. Hoekom?

Is die inligting wat gegee word, dan meer gesaghebbend as dit wat reeds bestaan?  Verwag ons ’n wonderlike storie wat die beste skrywers op aarde nie vir ons kan gee nie? Resultate wat die voorste wetenskaplikes nie kan produseer nie? Of resultate wat jy self kan produseer sonder behoorlike navorsing?

As jy ’n kreatiewe storie soek, skryf self een.

..........
As jy ’n kreatiewe storie soek, skryf self een.
.............

Die wetenskap was nog altyd iets wat kenners nederig gemaak het. Jy doen jou werk, stuur dit in vir portuurevaluasie, en as dit nie dié toets slaag nie, begin jy weer. Indien die werk wel gepubliseer word en dit kan nie deur ander gerepliseer word nie, bly dit nie staande nie. Die wetenskap korrigeer homself deurlopend. Dit is onseker. Dit bly aan die groot legkaart bou.

Diegene wat waninligting en samesweringsteorieë versprei, is altyd seker van hul saak.

Die hart van die wetenskap bly die wetenskaplike metode en hoe jy uiteindelik jou hipotese ontwikkel tot volwaardige teorie. Dit is hoe kennis letterlik geskep word.

Korrelasie is nie wetenskaplike kennis nie. Om uiteindelik die akkuraatheid van wat uitgespoeg word te bepaal sal ’n groot probleem bly.

Self verwag ek nie boekpryswenners van ’n kletsbot nie, of behoorlike kuns, musiek of dramas vir die verhoog nie. Kreatiewe werk en simboliek is so eie aan die mens – wat ons sien, hoor, beleef, ruik en ervaar. Maar ook die lief en leed wat ons voel, waaruit soveel spruit. En dan: Daardie diepste wat ’n mens in jouself ervaar en dink, danksy miljoene jare se evolusie, en wat uniek is aan elke individu se genetiese samestelling, kan onmoontlik data wees.

Lees ook:

LitNet-AfriKI-miniseminaar: Kunsmatige intelligensie as skrywer

Om ’n mens na te boots

KI: Die ontydige aankoms van die toekoms

Kunsmatige intelligensie: Kan ’n bot die Hertzogprys wen?

Skepping of nabootsing? Kunsmatige intelligensie en intelligente kuns

Replika: ’n Kunsmatige Intelligensie- (KI-) metgesel in ’n gebroke wêreld

Hulpvaardige kubernetiese skilpaaie: Kunsmatige Intelligensie en robotte in en om die huis

 

 

  • 2

Kommentaar

  • Jannie Pretorius

    Ek dink eerlikwaar dat dié tipe akademiese en ander skryfwerk in die toekoms die norm mag raak – veral gegewe die droeë aard van die meeste akademiese skryfwerk. Die tegnologie is nog in sy kinderskoene, en daar is nog heelwat foute, maar dis reeds indrukwekkend. Voorbeeld: ek is tans besig met navorsing oor wat onderwysstudente uit die rolprent Top Gun: Maverick oor die onderwys kan leer. Die bot kon met die grootste gemak 500 woorde daaroor skryf – en dis definitief nie ’n ooglopende of algemene onderwerp nie. Met heelwat insigte wat groot waarde tot my artikel voeg – en op genuanseerde wyse, én beter as wat ek mee sou kon opkom of formuleer. Om dit te verbied, kan dalk net die spreekwoordelike besem teen die see wees.

  • Melléta Louw

    Die mensdom sal maar nederig moet word, en aanvaar dat KI en masjienleer soveel het om te bied - op 'n veel hoër vlak as die gemiddelde mens se vermoë ... Om te kan bly “meeding”, of moet ek eerder sê “saamwerk”, vra vir nuwe maniere van dink oor onssself en ons toekoms. Die historikus Yuval Harari het interessante menings hieroor.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top