Kunsmatige intelligensie: Kan ’n bot die Hertzogprys wen?

  • 3

Dit gons behoorlik onder joernaliste, skrywers, digters, uitgewers, letterkundiges en almal wat te doen het met die geskrewe woord oor die tempo waarteen kunsmatige intelligensie (KI) besig is om te versnel en veld te wen.

Daar word oor en weer gedebatteer oor die vraag of dit ’n monster is wat getem moet word en of dit ’n wonderwerk is wat in die letterkunde verwelkom moet word.

KI is die simulasie van die menslike intelligensie in masjinerie, veral deur die gebruik van rekenaarprogrammering. Dit sluit in die vermoë om te leer, redeneer, en selfs te dink.

KI-stelsels kan gebruik maak van tegnieke soos natuurliketaalverwerking, patroonherkenning en kennisontleding om ’n taak te voltooi wat normaalweg vereis dat ’n mens dit doen, en om besluite te neem. KI het ’n wye verskeidenheid van toepassings, insluitend die outomatisering van take, die verbetering van soekresultate, die ontwikkeling van slim masjiene en robotte en die ontdekking van nuwe kennis.

Maar wat is die verskil tussen KI en gewone soekenjins soos Google? vra ek die slim rekenaarprogram met die skryf van hierdie artikel.

Binne sekondes kry ek die volgende antwoord in Afrikaans op my skerm: KI (Kunsmatige Intelligensie) en soekenjins soos Google is twee verskillende dinge, hoewel hulle nie noodwendig teenstrydig is nie.

Soekenjins soos Google is programme wat die internet deursoek om webwerwe en inligting te identifiseer wat ooreenstem met ’n gebruiker se soektog. Hulle gebruik ’n reeks algoritmes om die relevansie van webwerwe te bepaal en om die soekresultate te rangskik. Soekenjins is baie nuttig vir die vind van inligting op die internet, maar hulle is beperk tot die soek van bestaande data.

KI, daarenteen, sluit in die vermoë in om te leer, redeneer, en selfs te dink. Baie soekenjins, soos Google, gebruik nou KI-tegnologie om hul soekresultate te verbeter. Google gebruik byvoorbeeld KI-algoritmes om die relevansie van soekresultate te verbeter en om gebruikers se soekvoorkeure beter te verstaan.

Kortliks is soekenjins soos Google programme wat gebruik word om inligting te vind oor die internet, terwyl KI ’n algemene term is vir die simulasie van die menslike intelligensie in masjinerie, en dit kan ingesluit word in soekenjins soos Google om die resultate te verbeter.

Hierdie hele verduideliking hier bo het ek binne sekondes in bykans suiwer Afrikaans van die KI-program op my rekenaar gekry.

Die vraag op almal se lippe wat by die geskrewe woord betrokke is, is wat hierdie tegnologie, wat volgens sommige net so revolusionêr is as wat die koms van die boekdrukkuns destyds was, vir ons inhou.

Ek het by ’n paar taal- en woordkenners gaan kers opsteek om te hoor wat hulle van KI dink. Is dit ’n bedreiging vir skrywers, digters en joernaliste of is dit iets om oor opgewonde te raak?

Imke van Heerden staan sedert 2020 aan die spits van “AI as Author”, ’n interdissiplinêre navorsingsprojek wat literêre perspektief op KI-skryfwerk lewer. Sy is assistentprofessor in Koç Universiteit se Departement Vergelykende Letterkunde in Istanboel.

Imke van Heerden (Foto: Universiteit van Cambridge)

As deel van die projek het Imke met behulp van ’n Turkse rekenaarwetenskaplike, Anil Bas, AfriKI – Afrikaanse Kunsmatige Intelligensie – ontwikkel. AfriKI was die eerste om skeppende, of kreatiewe, teks in Afrikaans te genereer.

In ’n onderhoud met Taalgenoot sê Imke dat KI se toekoms in kokreatiwiteit – samewerking tussen mens en masjien – lê. Sy werk juis aan ’n kokreatiewe digbundel, Silwerwit in die soontoe, wat eersdaags by Naledi verskyn.

Handré Brand skryf in ’n meningsartikel oor kunsmatige bewussyn op LitNet dat KI-tegnologie na alle waarskynlikheid in ’n toenemende mate gevestig gaan word as ’n onontbeerlike toekomstige rolspeler. Hy sê hierdie tegnologie het gekom om te bly.

Maar hoe raak dit die beoordeling van letterkundige werke soos digbundels en prosa as ’n rekenaar die digter of skrywer help om die gedig of roman te skryf?

En hoe oorbrug mens die gaping tussen masjienleer en literêre teorie?

Vanuit ’n etiese gesigspunt word verwag dat spesifieke moreel-etiese vraagstukke rakende masjienbewussyn gedurende die volgende KI-ontwikkelingsfase deeglik onder die loep gaan kom, sê Handré.

Maar wat sê dit van ’n mens se skeppingsvermoë as algoritmes en rekenaars die mens help om te dig en te skryf? Die joernalis en skrywer Herman Lategan sê hy was oorspronklik dom oor KI totdat hy akademici met bekommernis daaroor hoor praat en op ’n dag ’n artikel op LitNet gelees het.

“Ek het toe sommer vir die pret met die een waaroor hulle geskryf het, begin eksperimenteer (https://chat.openai.com/chat).

“So tik ek toe sommer iemand se naam en met ’n karaktereienskap van die persoon en vra vir ’n gedig. Ek was nogal geskok hoor, want alhoewel die gedig heeltemal oppervlakkig was, was dit nogal cute en baie na aan die waarheid,” vertel Herman.

Hy het dit vir vriende begin stuur en hulle was gaande daaroor.

Herman Lategan (Foto: Debbie Loots)

KI kan ook gedigte in verskillende stemme en style skryf, soos dié van Sylvia Plath, Shakespeare en so aan. Herman sê hy het ’n Plath-gedig oor Knysna vir ’n vriend in Knysna gestuur wat skrikwekkend donker was.

“Ek vermoed die advertensiebedryf gaan dalk ’n knak met kopieskrywers wegkry, omdat hulle deesdae so middelmatig tot swak is. ’n Mens sal ook generiese skryfsels vir die pers kan gebruik soos oor depressie, of hoe om oor ’n liefdesteleurstelling te kom.

“Maar ek voel glad nie bedreig daardeur nie. O ja, die affêre het vir my ’n heerlike resep opgetower, met soetpatats en aartappels. Akademici gaan sukkel, maar nie skrywers nie. Studente kom klaar weg met moord.”

Herman glo dus nie kreatiewe skrywers hoef bekommerd te wees nie. “’n Rubriek wat vol nuanses is, sal nie deur daai masjien, soos ek dit noem, geskryf kan word nie. Ook nie gedigte met meer diepte nie. Dit sal nooit ’n Breyten kan na-aap nie.”

Dan is daar volgens hom ook die tipe joernalistiek waar jy eenvoudig met mense sal móét praat, onderhoude moet voer om aanhalings te kry, opiniestukke en so meer te skryf.

“Ek het ’n ruk terug oor die tentdorp in Seepunt geskryf. Die masjien sou dit nie kon gedoen het nie. Ek moes tyd spandeer met die inwoners, sien hoe hul tente van binne lyk, kyk wat hulle eet, die klere wat hulle dra, hul stories hoor, die reuke en geluide. Al my sintuie is ingespan.”

Herman sê hy kan hom nie indink dat KI so iets sal kan skryf nie. “Kreatiewe niefiksie sal nooit verdwyn nie, because you have to take the reader to the scene. Voel ek as joernalis en deeltydse digter en kortverhaalskrywer bedreig? Glad nie.

“Mense was bang vir selfone, en kyk hoe lyk ons nou. Nee wat, ek dink dit gaan ons lewens verryk. And we’re going to have lots of fun. Tik daar ’n idee vir Sondag-vaalkos in, jy sal verstom wees,” som hy sy mening op. 

Louis Esterhuizen (Foto: Izak de Vries)

Die digter en taalpraktisyn Louis Esterhuizen glo die mees opwindende aspek van KI is die feit dat dit die hele tyd leer en aanpas. Hoe meer kere KI gebruik word, hoe groter word die databasis waarop dit steun en word dit daarom al hoe meer akkuraat. So ook ten opsigte van kreatiewe tekste.

“Op dié tydstip wemel die media van gedigte wat deur KI geskryf is, en ons glimlag oor die naïewe, bykans kinderlike versies. Maar KI leer en verbeter algaande. Spoedig gaan dit nie meer moontlik wees om te onderskei tussen ’n masjien-gegenereerde teks en een wat deur ’n mens geskryf is nie.”

Hy meen bes moontlik sal die meeste tekste hibridies van aard wees: aanvanklik KI se growwe eerste weergawe, gevolg deur menslike afronding en verfyning. Maar hoekom nié? vra hy. Is dit werklik ’n probleem? Gaan dit nie uiteindelik oor die gehalte van die teks nie?

Wat die beoordeling van literêre tekste betref, moet daar volgens hom dalk in die toekoms daaroor gedink word soos wat ons motorwedrenne beoordeel: Die renjaer hou die trofee omhoog, maar sonder die masjien was hy gewis nie op daardie podium nie. Wat dus vereer word, is die renjaer se vermoë om die masjien te beheer en na ’n oorwinning te stuur.

“So ook die skrywer wat met behulp van KI ’n meesterwerk geskep het. Dit is dus nie ’n óf ... óf-situasie nie, maar ’n én ... én-een,” sê Louis.

Daarom is KI volgens hom tegnologie wat die individu gaan bemagtig in die ekstreme; selfs meer as wat dit die geval was met die internet en sosiale media. Die uitdaging op hande is egter hoe om dié nuwe tegnologie te bestuur te midde van soveel positiewe en negatiewe uitkomstes en verwagtings, sê hy.

Die voorsitter van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns se Letterkundekommissie, Willie Burger, sê kunswerke is uitdrukkings van menslike ervaring. Dit word gevorm deur menslike ervaring en die beperkings van menslike ervaring. Dis dus meer as taalvaardigheid en tegniek en styl (wat dalk geredelik "beter" deur masjiene gedoen kan word).

Willie Burger (Foto: Naomi Bruwer)

Vir hom is die vraag of masjiene ook beter uitdrukking kan gee aan dit wat ons as unieke menslike ervaring beskou. “Daardie herinneringe van hoe dit gevoel het toe jou pa met jou geraas het omdat jy vergeet het om die garage te sluit toe jy nege jaar oud was, hoe jou ouma se soetkoekie gesmaak het as jy dit in flou tee doop terwyl jy in die sonkol op die bont mat sit toe jy vier was, en gehoor het hoe hulle tydens Bybelstudie oor die bedreiging van die Mau-Mau praat.

“Kunstenaars (en ons as ervaarders, medeskepper) konstrueer kunswerke uit sulke beleefde herinnerings en emosies wat daaraan gekoppel word. Daarom is kunswerke ‘ervarings’ en nie blote kognitiewe konstrukte wat saamgestel en geïnterpreteer word nie. Die vraag is dus of KI werklik so iets kan konstrueer (en so iets kan ervaar – om geroer te word deur die kunswerk).”

Hy meen dit sal dalk gedoen kan word indien KI so ver ontwikkel dat dit werklik "soos" ’n mens ervaar – as dit kan put uit ’n "bank" van menslike ervarings.

“Ek dink aan die roman deur Jennifer Egan, The Candy House, waarin tegnologie dit moontlik maak om al ’n mens se herinneringe te download op ’n rekenaar – veral as wapen teen Alzheimers. Jy kan dan weer na jou eie herinnerings gaan ‘kyk’ en jy kan ook besluit of jy dit met ander wil deel: ‘Kyk hoe het ek daardie oomblik ervaar’ – maar dan kan mense ook hulle herinneringe op ’n kollektiewe databank aflaai – sodat mens byvoorbeeld almal se herinneringe aan ’n enkele gebeurtenis kan bymekaarsit en ’n beter beeld daarvan kan kry.”

As ’n rekenaar byvoorbeeld toegang tot so ’n databank van menslike ervarings kan kry – wat presies daardie soort persoonlike ervarings wat hy hier bo beskryf het, kan insluit, sou dit volgens hom seker moontlik wees om ’n baie oortuigende samevoeging van menslike ervaring te kan maak.

“En dan kan dit waarskynlik uitstekende kunswerke skep en kan ons daarvan geniet soos van enige ander mensgemaakte kunswerk. En wie weet, dalk kan dit ons meer insig in die menslike ervaring bied? En dit is tog nie ’n bedreiging vir ons nie, want as ons beter kan insien en ervaar, is dit mos ’n voordeel.”

Carien Smith is ’n bekroonde Suid-Afrikaanse skrywer en akademikus, tans ’n PhD-kandidaat in filosofie aan die Universiteit van Sheffield wat met dieselfde vrae worstel.

Hoe ongemaklik of gemaklik moet ons wees met die toetrede van al hoe beter KI- gegenereerde literêre werk soos gedigte en ander skryfwerk, en spesifiek hoe sal dit die beoordeling van sulke werk in die toekoms raak en waar pas plagiaat in die prentjie?

Sy sê die ding met van die nuwe KI – soos ChatGPT – is dat dit nou ook kreatiewe werk vir ’n mens kan skep. Die standaard van die skryfwerk kan definitief bevraagteken word, veral dalk in tale waarmee die ChatGPT swakker is.

“Maar – gaan die KI verbeter? Gaan ons op ’n punt kom waar ons wel nie meer onderskeid kan tref tussen wat ’n mens en die KI geskryf het nie? Ek het vir baie jare geglo (of eerder dalk gehoop?) dat KI nie kuns sal kan skep nie. Dat skepping wel altyd iets sal kan wees wat slegs die mens kan doen. Maar nou wonder ek,” sê sy.

“Gaan ons beoordelaars van kompetisies en ons uitgewers naderhand nie meer weet of ’n stuk skryfwerk voor hulle outentiek – die menslike skrywer – se werk is nie? Hoe gaan ons weet? Maar hier dink ek ook nou aan skolekompetisies en sulke dinge. Kinders se skryfwerk is – meestal – steeds baie meer eenvoudig. Wat sal gebeur as kinders KI gebruik om vir hulle kreatiewe opstelle en gediggies en dinge te skryf? Ek dink dit is die meer onmiddellike probleem waarmee ons sit. Die eerlikheid van jonger skrywers en kinders. Dit sal dalk nog ’n rukkie (’n paar jaar?) neem voordat ons uitgewers en beoordelaars van groot toekennings gefnuik kan word.”

Carien meen daar moet dalk in die toekoms ’n afsonderlike kategorie geskep word vir hierdie tipe skryfwerk. Waar ’n mens ’n spesiale KI dalk op ’n manier kan leer om vir jou te skryf en die wenner word, eintlik beloon vir hulle programmering of so iets. Sy gee egter toe dat dit baie eerlikheid sal verg.

Hettie Scholtz (Foto: Izak de Vries)

Toe ek die skrywer en sameroeper van kykNET en Rapport Boekpryse, Hettie Scholtz, hieroor pols, sê sy dit is jammer dat sy nog nie (oa) Yuval Harari se boek Homo Deus gelees het voordat ek haar gevra het nie!

Sy verkies om haar dus liewer by haar lees te hou en haar nie uit te gee vir ’n toffie oor ’n komplekse onderwerp wat sy self nog nie genoegsaam uitgepluis het nie, sê sy.

“Jeanne Goosen het altyd gesê as sy net om die blok gaan stap het met haar hond, het sy genoeg gehad om oor te dink vir twee weke. Nou ja! Ek voel na die lees hiervan soos Berta Smit se karakter in Juffrou Sophia vlug vorentoe, spesifiek in die deel waar sy voor haar boekrak staan en lamenteer dat al haar bronne verouderd is.” 

Maar die vrae interesseer haar ook, sê Hettie. 

Hettie sê die bietjie wat sy al van KI-programme gesien het, byvoorbeeld op Herman Lategan se interessante Facebook-profiel, het vir haar tot tydelike troos gedien. “Hoe vlot ook al, was dit (vir my) nogal sielloos, formuleagtig. Ek besef dat dit – soos voorspel – met die tyd kan verbeter.”

Sy het soos die meeste ander met wie ek gesels het, ook bedenkinge of KI ooit daarin sal slaag om menslike emosie regtig vas te vang soos ’n goeie skrywer van vlees en bloed dit kan doen.

“Is daar iemand wat regtig dink dat KI enigsins ’n outentieke slotparagraaf sou kon skep soos Carina Stander in haar roman van 2019, Die Wonderwese?

So het dit gebeur dat in dieselfde jaar as wat honderd-ses-en-vyftig walvisskepe onder die Gabriëlliese vlag vanaf die vooraanstaande hawens van Akara, Skittering en Glinsterbaai uitgevaar het met die nuwe tegnologie van stoomkrag en die geloof dat hulle ’n fortuin uit walvisolie sou verdien; in die lente wat die rooiborsie-spesie van die land byna uitgewis is; in die maand wat ’n groep wetenskaplikes aan die Universiteit van Gananja ’n brandstof genaamd paraffien ontdek het wat so goedkoop en doeltreffend is dat dit walvisolie spoedig as lampolie sou vervang; in dieselfde week as wat die oudskaapboere van Nanaal die GGG van Diepvallei in ’n gewelddadige optog met herderstawe en skaapskêre bestorm het en die Opelugteater in ’n brand verwoes is; op die dag toe Anav Elanov se meesleurende Nabiese digbundel, Drywende klippe, wat later ’n klassieke werk in die Gabriëlliese letterkunde sou word met vertalings in Tzurien en Waknies daarnaas; in die uur wat Iris Skatri ’n vy in die vroegdag gepluk en geëet het met Bibi horrelvoet en huppelkind aan sy sy, Eron Verberger vir die heel eerste keer in sy lewe ’n meisie gesoen het.”

Met die skryf van hierdie artikel het ek my vir oulaas weer tot KI self gewend en aan die relatiewe nuweling in die literêre veld op my rekenaar gevra of KI ooit joernaliste en skrywers sal vervang.

Die antwoord is soos altyd blitsig binne sekondes op my rekenaarskerm uitgespoeg. Of dit oor tien of twintig jaar dieselfde antwoord sal wees namate die komperbrein al hoe slimmer word sal net die tyd leer.

Intussen verseker KI my dat hoewel dit ’n omstrede kwessie is, ons gerus kan wees.

Aan die een kant het KI-tegnologie reeds begin om joernalistiek te ondersteun deur die outomatisering van sekere take, soos die skryf van finansiële verslae en die genereer van sportuitslae. Dit kan help om tyd en koste te bespaar en om op ’n vinniger en meer akkurate manier inligting aan mense te lewer.

Aan die ander kant is baie mense bekommerd dat KI-stelsels skrywers en joernaliste kan vervang, aangesien hulle inhoud met ’n baie hoë graad van akkuraatheid en spoed kan genereer. Dit is egter belangrik om te onthou dat KI-stelsels nie die kreatiwiteit, empatie en kritiese denke van mense het nie, dus dink hy dat dit nie die samelewing sal vervang nie, maar dit sal die samelewing aanvul, verseker die KI-program my.

Wat plagiaat betref, sê KI daar moet onthou word dat aangesien KI-stelsels dikwels gebruik word om inhoud te genereer, dit dalk kan lyk asof dit plagiaat is indien dit sonder toestemming of erkenning gebruik word. Dit is belangrik om te onthou dat KI-stelsels net instrumente is. Dit is die verantwoordelikheid van die gebruikers om seker te maak dat hulle dit op ’n eerlike manier gebruik.

As KI-stelsels gebruik word om inhoud te genereer, is dit belangrik om die bronne van die inligting duidelik te vermeld en om krediet aan die outeurs te gee. Dit is ook belangrik om te verseker dat die inhoud nie deur kopiereg beskerm word nie en dat dit vryelik gedeel kan word.

In algemene terme is dit volgens KI nie plagiaat om KI-stelsels te gebruik as dit net ’n hulpmiddel is nie, maar dit is baie belangrik om dit op ’n eerlike manier te gebruik en om krediet te gee waar dit van toepassing is.

As KI-stelsels gebruik word om byvoorbeeld inhoud vir ’n skrywerskompetisie te genereer, sal dit onregverdig wees teenoor die ander deelnemers wat hul inhoud met hul eie kreatiwiteit en insig geskryf het. Dit kan ook die integriteit van die kompetisie in twyfel trek, sê my KI-bron.

Daarom beperk of verbied baie organisasies en kompetisies die gebruik van KI-stelsels of het hulle spesifieke reëls oor die gebruik van die tegnologie. Dit is ook belangrik om te verseker dat deelnemers duidelik op die hoogte is van hierdie beperkings en dat die organisasie hierdie reëls noukeurig toepas.

In algemene terme is dit belangrik om te verseker dat kompetisies eerlik en regverdig is, en dit beteken dat die gebruik van KI-stelsels beperk of verbied moet word as dit onregverdigheid kan veroorsaak, aldus KI self.

> Lees meer oor kunsmatige intelligensie op LitNet hier.
> Lees ook:

LitNet-AfriKI-miniseminaar: Kunsmatige intelligensie as skrywer

  • 3

Kommentaar

  • Hallo Christa. Ek het ChatGPT se Afrikaanse program gebruik. Party mense sê vir my hulle weet nie hoe om hom Afrikaans te laat praat nie, maar by my wys die Afrikaans regs op die skerm in die swart blokkie, dan praat hy Afrikaans as mens daarop klik en wil hê die antwoorde moet in Afrikaans wees en jy kan ook die vrae in Afrikaans vra. Die Engels is waarskynlik meer gevorderd in die stadium. Hier is die skakel wat ek gebruik: https://chat.openai.com/chat

  • francois verster

    Dit lyk my die "jurie is nog uit" oor hierdie saak. Enige stelling wat nou gemaak word kan dalk oor tien jaar as ’n grap voorgehou word. Toe Roald Dahl in 1953 sy kortverhaal oor kunsmatige intelligensie ("The great automatic grammatizator"*) geskryf het, het almal sekerlik daaroor gelag. Ek onthou wel dat ek met die lees daarvan ’n effe onrustige gevoel gekry het ...

    (*"Adolph Knipe, the story's protagonist, invents a computer that can provide the answer to a math problem in five seconds. His invention is a technical masterpiece, and his boss sends him on a weeklong vacation to celebrate his good work.")

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top