.......
Dit is veral in die skepping van musiek dat KI ’n kontroversiële kreatiewe vennoot is.
.......
Inleiding
Musiek oorskry lands-, taal- en kultuurgrense. Dit skep atmosfeer, anker herinneringe en maak die lewe oor die algemeen minder vervelig. Soos bykans elke faset van die mens se hedendaagse leefwêreld, ondergaan musiek tans ’n metamorfose wat deur kunsmatige intelligensie (KI) gedryf word. KI is besig om te verander hoe musiek geskep, vervaardig, versprei en selfs ervaar word, wat beide opwindende moontlikhede en uitdagings bied. KI kan aangewend word om die kwaliteit van opnames te verbeter en word aangewend deur platforms soos Spotify om nuwe musiek voor te stel, maar dit is veral in die skepping van musiek dat KI ’n kontroversiële kreatiewe vennoot is. In hierdie artikel word gefokus op die gebruik van KI vir musiekskepping.
KI as ’n kreatiewe vennoot
KI kan as ’n kreatiewe vennoot optree. KI-stelsels wat op groot musikale datastelle opgelei is, kan oorspronklike komposisies, melodieë en lirieke op grond van voorstelle deur die gebruiker skep, soos wat teksskeppende KI soos ChatGPT ook oorspronklike teks op grond van groot opleidingsdatastelle kan skep. Hierdie KI-gedrewe gereedskap kan ’n bron van inspirasie vir menslike kunstenaars bied, nuwe idees aanwakker en kreatiewe grense verskuif. Platforms soos MusicFX, Jukebox, Amper Music, Soundful, Soundraw en Suno laat musikante toe om musiek te skep gebaseer op genre en verlengde lengte, soos later in meer besonderhede bespreek word. Hierdeur kan KI help met die liedjieskryfproses: KI-gereedskap kan voorstelle maak en kreatiwiteit prikkel, wat kunstenaars kan help om skrywersblok te oorkom of om nuwe rigtings binne hul gevestigde styl te verken. ’n Ander groot voordeel van sulke platforms is dat dit musiekskepping demokratiseer: Selfs diegene sonder uitgebreide musikale opleiding of aanleg kan bemagtig word om aan hul idees vorm te gee.
Die kopiereg-vraagstuk
Die opkoms van KI-geskepte musiek bied ’n uitdaging binne musiek wat ook van toepassing is op ander KI-geskepte produkte: kopiereg en intellektuele eiendom met KI-geskepte produkte. As KI musiek kan skep wat nie van mensgemaakte komposisies onderskei kan word nie, wie besit die kopiereg? Kan KI self as ’n skrywer beskou word? Ek het voorheen oor van hierdie vrae met verwysing na KI-geskepte teks geskryf (Senekal 2023) en dieselfde vrae is ter sprake met KI-geskepte musiek (en visuele kuns).
.......
Waar die lyn tussen te min menslike inset en voldoende menslike inset lê, is egter ’n oop vraag wat in die hof getoets sal moet word.
.......
Eerstens is daar die vraag oor wie die KI-geskepte liedjie besit. Werke wat deur KI geskep word sonder menslike betrokkenheid, kan nie in die VSA deur kopiereg beskerm word nie, omdat kopiereg in hierdie land slegs die mens se kreatiwiteit beskerm (Ostrow 2023; Reed 2023). ’n Werk wat KI-geskepte materiaal bevat, kan egter deur kopiereg beskerm word waar daar ’n mate van voldoende menslike outeurskap is, byvoorbeeld as ’n mens KI-materiaal op ’n kreatiewe manier kies en rangskik (Ostrow 2023; Reed 2023). Dit beteken dat wanneer ’n mens bloot vir KI die opdrag gee om ’n liedjie te skryf, die mens nie kopiereg op die liedjie kan besit nie, maar wanneer die mens ’n groter inset het, byvoorbeeld deur redigering daarna, dan kan ’n mens die kopiereg op die liedjie besit. Waar die lyn tussen te min menslike inset en voldoende menslike inset lê, is egter ’n oop vraag wat in die hof getoets sal moet word (Ostrow 2023). Die VK het ’n ander perspektief en ken wel kopiereg toe vir werke wat in geheel deur rekenaars geskep is (Lock, O’Rorke en Ezra 2023).
.......
As iemand ’n KI oplei deur dit na ’n versameling musiek te laat luister, het hy die kopiereg van die eienaars van daardie musiek geskend as hy dit sonder hul toestemming gedoen het, of word dit op een of ander manier deur billike gebruik of andersins onder die kopieregwet beskerm?
.......
Boonop is daar die kwessie dat ’n KI-model opleidingsdata neem, omvorm en kombineer met ander opleidingsdata, en dat die finale produk dan gebaseer is op vorige werke sonder dat daardie vorige werke erken word (Sunray 2021; Lock, O’Rorke en Ezra 2023; Ostrow 2023). Reed (2023) vra: As iemand ’n KI oplei deur dit na ’n versameling musiek te laat luister, het hy die kopiereg van die eienaars van daardie musiek geskend as hy dit sonder hul toestemming gedoen het, of word dit op een of ander manier deur billike gebruik of andersins onder die kopieregwet beskerm? Daar kan byvoorbeeld aangevoer word dat die oorspronklike musiek slegs vir die opleiding van die KI-model gebruik is en daarom nie ’n afleiding van die oorspronklike musiek is nie. Sunray (2021:187) stel egter onomwonde:
By up-sampling copyrighted works in finely encoded segments, AI music generators create tapestries of coherent audio from the works they ingest in training, thereby infringing the United States Copyright Act’s reproduction right.
’n Teenargument is egter dat wanneer ’n mens na musiek luister en inspirasie vir ’n nuwe skepping daarin vind, word dit nie gesien as kopieregskending nie, omdat die nuwe produk dalk hier en daar aan die oorspronklike kan herinner, maar die nuwe produk het ’n nuwe melodie en woorde (Reed 2023). Trouens, vertroudheid met ’n genre is ’n voorvereiste om nuwe musiek in daardie genre te kan skep (Sulakian 2023). Sulakian (2023) merk tereg:
The blurred line between inspiration and imitation further complicates with the addition of machine learning, which learns by example. While copyright law recognizes the independent creation defense to copyright infringement, music is not developed in a vacuum; musicians draw inspiration from a young age and often develop their musical styles at youth. Arguably, training an AI algorithm on a set of songs does not much differ from an impressionable teenager.
Dieselfde moet dan geld vir ’n KI-skepping, omdat KI ook soos mense ’n groot aantal bronne neem, opdeel en herkombineer op ’n nuwe manier.
.......
Maar KI kan ’n kunstenaar so geloofwaardig naboots dat ander mense kan glo dat dit die kunstenaar self is wat optree, en dít skend die kunstenaar se regte.
.......
Musiek kan ook in die styl van ’n spesifieke kunstenaar geskep word. Musiek in die styl van iemand anders word vir die doeleindes van kopieregwet nie gewoonlik as ’n afgeleide werk beskou nie en word toegelaat (Reed 2023). Maar KI kan ’n kunstenaar so geloofwaardig naboots dat ander mense kan glo dat dit die kunstenaar self is wat optree, en dít skend die kunstenaar se regte (Lock, O’Rorke en Ezra 2023; Ostrow 2023; Reed 2023). Hierdie gebruik van KI is vir my meer duidelik onaanvaarbaar, omdat werke wat voorgehou word as van ’n spesifieke kunstenaar daardie kunstenaar se reputasie misbruik en kan ook die kunstenaar se reputasie skend. Aan die ander kant bevestig die nabootsing van ’n kunstenaar se styl juis die kunstenaar se reputasie, mits die nabootsing as ’n nabootsing aangebied word.
Hierdie vraagstukke het almal ook betrekking op KI-geskepte teks en visuele kuns. Is ’n KI-geskepte gedig kopieregskending omdat die taalmodel opgelei is op reuse-datastelle wat publikasies bevat wat onderworpe is aan kopiereg? Die New York Times het in Desember 2023 aangekondig dat hulle OpenAI en Microsoft vir kopieregskending gedagvaar het omdat hierdie maatskappye publikasies van die New York Times sonder toestemming vir opleidingsdata gebruik het. Verskeie outeurs van fiksie en nie-fiksie boeke het voorheen OpenAI om dieselfde rede gedagvaar (Brittain 2023), tot dusver sonder sukses.
Ek glo die howe sal hierdie vraagstukke binne die komende jaar of twee uitsorteer. In die tussentyd is dit veiliger om KI vir persoonlike gebruik aan te wend of ter ondersteuning van die kreatiewe proses, en dit is met hierdie gebruike in gedagte dat ek in die res van hierdie artikel die platform Suno verken.
Suno
Ek het Suno vir ’n eksperiment getoets omdat verskeie sosiale media-gebruikers hierdie diens as een van die bestes aanbeveel het. Die diens is nie gratis nie, maar teen $10 per maand is dit bekostigbaar.
Eerstens kan Suno ’n hele liedjie skep, op grond van die invoer van die gebruiker. Soos met KI-geskepte teks (byvoorbeeld ChatGPT, Microsoft Copilot of Google Gemini) en KI-geskepte visuele kuns (byvoorbeeld Adobe Firefly), voer die gebruiker bloot in wat hy/sy verlang: tema, emosie, genre, ensovoorts. Suno skryf dan die hele liedjie, insluitend die lirieke, maar die gebruiker kan ook vra vir slegs die musiek. Suno kan ook liedjies in Afrikaans skryf, en ek kon die stelsel selfs kry om liedjies in Proto-Germaans en Oud-Noors te skryf. Suno kan ook opdragte in Afrikaans ontvang en pas dan die stem aan by die taal van die lirieke, met ander woorde Afrikaanse lirieke word in Afrikaans gesing. Ongelukkig is daar nie tans ’n opsie om net sommige van die lirieke agterna te verander nie, maar die gebruiker kan altyd ’n aangepaste weergawe van hierdie lirieke as invoer gee vir die tweede manier om liedjies te skep (sien verder aan). Suno sal ook soms woorde vreemd of in Nederlands uitspreek, wat beteken dat ’n KI-geskepte liedjie nie gereed is om as ’n afgeronde produk aan te bied nie. ’n Praktiese gebruik daarvan om Suno te vra om die hele liedjie te skep kan wees om skrywersblok te oorkom: ’n Musikant kan idees so skep en self die musiek met sy eie instrumente aanpas.
Die gebruiker het ook die opsie om sy eie lirieke te verskaf. Dit kan lirieke wees wat deur Suno geskryf is, maar hierdie roete is veral nuttig daarvoor om gedigte te toonset. Die gebruiker verskaf dan bloot die lirieke en spesifiseer die genre met ’n paar sleutelwoorde. Ek het byvoorbeeld een van my eie gedigte geneem wat ek as ’n student geskryf het, vir ’n musikantvriend gevra om sy musiek te beskryf en op grond van sy beskrywing kon ek my eie liedjie skep wat vergelykbaar met sy styl is. Hier kan ’n mens ook KI-dienste kombineer, byvoorbeeld om ’n gedig in ChatGPT te skryf en dit met Suno te toonset. So het ek vir Google Gemini gevra om vir my lirieke te skryf wat Suno kon toonset. Natuurlik kan ’n mens ook gevestigde digters se werke so toonset, en hier kon ek baie interessante toonsettings van klassieke Afrikaanse gedigte skep. Laastens kan ’n mens ’n bestaande liedjie se lirieke invoer en die liedjie so herskep.
Dit is hier waar dienste soos Suno vir my veral potensiaal inhou: Musikante kan Suno gebruik om idees te kry oor hoe om digters se werke te toonset wat hulle dan verder kan neem vir ’n professionele opname. Sodoende kan ons gevestigde Afrikaanse literatuur moontlik op ’n ander wyse verpak word en ouer werke kan ’n nuwe lewe kry. Daar was al baie toonsettings van gevestigde digters in Afrikaans, maar KI kan hier nuwe idees skep en help met die kreatiewe proses. Ek het van my eksperimente met musikante gedeel en die terugvoer was gewoonlik dat dit vir hulle ’n idee gee, maar dat hulle dit wil aanpas. Sodoende kan KI met ander woorde ’n kunstenaar se kreatiwiteit prikkel.
’n Ander voordeel van KI in hierdie opsig is die demokratisering van musiek. Dit hoef nie ’n professionele musikant te wees wat ’n gedig toonset nie; ’n Afrikaanse onderwyser of dosent kan dit ook doen vir die klaskamer. Sodoende kan die materiaal moontlik op ’n interessante wyse aangebied word. Studente sou ook hul voorgeskrewe gedigte kon toonset en in die vorm van liedjies leer, en dalk bemiddel ’n melodie ’n ander interpretasie van ’n gedig. Vir my was dit bloot interessant om ’n black metal-weergawe van “Dis al” (Celliers) of “Grense” (Louw) te kon hoor.
.......
Beteken dit dat die menslike musikant se dae getel is?
.......
Benewens hierdie toepassings moet ’n mens nie die waarde van skeppende handeling uit die oog verloor nie. Almal ontvang natuurlik nie dieselfde talente nie en soos KI my – ’n persoon wie se tekenvaardighede op die vlak van ’n vierjarige kind gestagneer het – in staat stel om mooi prentjies te skep wat ek in my huis kan ophang, laat KI ook die gewone mens toe om liedjies te skep waarna hy kan luister. Om iets te skep waarvan ons hou is ’n behoefte by baie mense en almal het nie die middele of talente om hulle idees te verwesenlik nie. KI stel in hierdie opsig die gewone mens in staat om sy eie liedjies vir homself te skryf, presies soos hy dit wil hê.
Beteken dit dat die menslike musikant se dae getel is?
Geensins nie. Ek kon nie ’n liedjie skep wat volkome afgerond is soos ’n mens van ’n professionele opname sou verwag nie, en het trouens oorweeg om sommige van my KI-skeppings na ’n musikant te neem om in ’n professionele opname te omskep. Dit was ook nie moontlik om fyn verstellings te maak nie en as Suno ’n liedjie geskep het waarvan ek gehou het, kon ek nie weer ’n soortgelyke liedjie skep nie. KI-geskepte musiek word soos die sakrekenaar: ’n stuk gereedskap wat ’n professionele persoon se werk bystaan. Dit mag wees dat sommige gebruike van mensgeskepte musiek vervang word, byvoorbeeld agtergrondmusiek vir ’n sosiale media-plasing, maar mensgeskepte musiek het altyd ’n plek. Boonop sal die lewendige optrede van ’n KI-kunstenaar nie dieselfde ervaring bied as ’n menslike kunstenaar nie.
.......
Dit is ook baie belangrik om te noem dat Suno nie die gebruiker toelaat om te spesifiseer dat ’n liedjie soos ’n spesifieke kunstenaar moet klink nie en die gebruiker word ook nie toegelaat om ’n voorbeeldliedjie op te laai wat dan nageboots word nie.
.......
Dit is ook baie belangrik om te noem dat Suno nie die gebruiker toelaat om te spesifiseer dat ’n liedjie soos ’n spesifieke kunstenaar moet klink nie en die gebruiker word ook nie toegelaat om ’n voorbeeldliedjie op te laai wat dan nageboots word nie. Dit is ’n nadeel uit ’n gebruiker se oogpunt, want as ’n mens ’n liedjie vind waarvan jy hou, sou variasies op daardie liedjie bruikbaar wees. Maar hierdie beperking maak sin vanuit ’n kopieregoogpunt, sowel as ’n reputasie-oogpunt. Gebruikers wat KI-geskepte liedjies na die voorbeeld van ’n spesifieke kunstenaar versprei, soos een TikTok-gebruiker met die musiek van Drake en The Weeknd gedoen het (Lock, O’Rorke en Ezra 2023; Reed 2023), kan immers die beeld van daardie kunstenaar skade aandoen en boonop kan mense aangekla word dat hulle hul skeppings as dié van die kunstenaar aanbied.
Slot
Uiteindelik lê die ware potensiaal van KI in musiek in sy vermoë om menslike kreatiwiteit aan te vul, nie om dit te vervang nie. Vir kunstenaars sien ek baie geleenthede om kreatiwiteit te prikkel en vir die gewone mens sien ek die geleentheid om musiek tot ’n groter mate in die alledaagse lewe aan te wend.
Bronnelys
Brittain, B. 2023. Pulitzer-winning authors join OpenAI, Microsoft copyright lawsuit. https://www.reuters.com/legal/pulitzer-winning-authors-join-openai-microsoft-copyright-lawsuit-2023-12-20/ (4 April 2024 geraadpleeg).
Lock, O., O. O’Rorke en E. Ezra. 2023. AI-generated music: timeless legacy or copyright breach? https://www.farrer.co.uk/news-and-insights/ai-generated-music-timeless-legacy-or-copyright-breach/ (4 April 2024 geraadpleeg).
Ostrow, M.D. 2023. The Wild West of AI-Generated Music: What Rules Rule? https://www.romanolaw.com/the-wild-west-of-ai-generated-music-what-rules-rule/ (4 April 2024 geraadpleeg).
Reed, R. 2023. AI created a song mimicking the work of Drake and The Weeknd. What does that mean for copyright law? https://hls.harvard.edu/today/ai-created-a-song-mimicking-the-work-of-drake-and-the-weeknd-what-does-that-mean-for-copyright-law/ (4 April 2024 geraadpleeg).
Senekal, B.A. 2023. Tien etiese en praktiese gebruike van ChatGPT vir akademiese skryfwerk in Afrikaans. https://www.litnet.co.za/tien-etiese-en-praktiese-gebruike-van-chatgpt-vir-akademiese-skryfwerk-in-afrikaans/ (4 April 2023 geraadpleeg).
Sulakian, S. 2023. Protecting the Artist: Licensing in an AI-Generated Music Market. https://www.americanbar.org/groups/entertainment_sports/publications/entertainment-sports-lawyer/esl-39-01-spring-23/2022-eli-writing-competition-winning-essay-protecting-artist-licensing-an-aigenerated-music-market/ (4 April 2024 geraadpleeg).
Sunray, E. 2021. Sounds of Science: Copyright Infringement in AI Music Generator Outputs. Catholic University Journal of Law and Technology, 29(2):185–218.
Lees ook:
LitNet-AfriKI-miniseminaar: Kunsmatige intelligensie as skrywer
Kommentaar
Lekker artikel, baie dankie.