...
Wat deur kopiereg beskerm word, is die materiële uitdrukking van die betrokke idee.
...
Verskeie taalmodelle, waaronder ChatGPT, kan deesdae teks genereer op aanvraag. En verskeie toepassings, waaronder DALL·E en Midjourney, kan kunswerke skep.
Waar laat dit gewone mense met die vraag oor kopiereg? Hoe raak hierdie nuwe tegnologie publikasies soos LitNet?
Naomi Meyer en Izak de Vries het vir Catrina Wessels, ’n kopieregkonsultant, hieroor uitgevra.
Is daar kopiereg op ’n idee? Sê nou maar ek wil ’n donkie teken in die styl van Picasso, mag ek?
Daar is nie kopiereg in idees nie. Dit is ’n algemene vertrekpunt van outeursreg wat ook in internasionale verdrae vervat is, soos in artikel 9(2) van die TRIPS-ooreenkoms, wat meld: “Copyright protection shall extend to expressions and not to ideas, procedures, methods of operation or mathematical concepts as such.”
Wat deur kopiereg beskerm word, is die materiële uitdrukking van die betrokke idee. Twee skrywers sou dus elk ’n roman oor presies dieselfde tema – of idee – kon skryf en elkeen se literêre werk sal beskerm word, maar nie die onderliggende idee nie. Dit sou te veel van ’n las op die gemeenskap plaas as individue aanspraak kon maak op eksklusiewe regte op idees. Ja, jy mag so ’n donkie teken.
Of as ek hou van Portchie se werk, mag ek probeer om huisies te teken wat mooi bont is soos syne? Hy leef nog.
Kopiereg beskerm nie die algemene styl van ’n kunswerk nie, maar die spesifieke werk self. Probeer gerus, maar moenie ’n slaafse kopie van een van Portchie se skilderye maak nie. Dit is ’n ander saak.
In hierdie konteks is dit interessant om te weet dat daar in twee buitelandse hofsake gevind is dat die kopiëring van die sogenaamde “look and feel” van ’n tekstielontwerp (wat soos ’n skildery ook ’n artistieke werk is) wel ’n skending van die kopiereg in daardie ontwerp was. “Look and feel” is geag as ’n vorm van materiële uitdrukking, nie slegs ’n idee, tema of konsep nie. Die sake is: Designers Guild v Russel Williams (Verenigde Koninkryk) en Elwood Clothing Pty Ltd v Cotton On Clothing Pty Ltd (Australië).
Nou vir die moeiliker goed: Ons weet taalmodelle, waaronder ChatGPT en baie ander, se kunsmatige intelligensie word onderlê deur miljoene en miljoene woorde se tekste. Kunstoepassings leer weer deur skilderye en foto’s na te gaan. Mense leer ook deur boeke en boeke en boeke te lees en deur na ander se skilderye of foto’s te kyk. Is dit verkeerd om mense en rekenaars te leer om ander se tekste te herinterpreteer?
Nee, ek dink nie dit is in beginsel verkeerd om ander se tekste te lees en te herinterpreteer nie. Om met bestaande inhoud om te gaan, is juis wat leer en ontwikkeling en navorsing moontlik maak.
Wat in die proses met die onderliggende outeursregwerke gedoen word, is egter nie dieselfde in die geval van ’n mens en ’n KI-model se gebruik daarvan nie. Tegnies word daar van die eksklusiewe regte van die outeursreghouer uitgeoefen wanneer ’n outeursregwerk deur ’n KI-model gebruik word vir verdere aanwending. Die KI-model maak ’n afskrif daarvan en dit genereer afgeleide werke daarvan, al is dit as deel van ’n enorme poel ander werke.
Daarteenoor hoef jy as lesende mens nie noodwendig kopieë of aanwendings (“adaptations”) van ander se werk te maak wanneer jy dit vir jou persoonlike studie gebruik nie. Indien jy dit wel doen, is daar in ons reg ’n kopiereguitsondering wat daardie persoonlike gebruik magtig mits dit billik is.
Onder die Suid-Afrikaanse kopieregwetgewing is daar nie tans ’n kopiereguitsondering vir sogenaamde “text and data mining” nie. In sommige jurisdiksies is daar kopieregsuitsonderings wat die myn van teks en data spesifiek toelaat, en in ander, soos in die VSA, ’n buigsame “fair use”-model waarin mense kan argumenteer dat die myn van teks en data as sogenaamde “fair use” kwalifiseer.
Of dit billik is dat ’n kunstenaar se eie werk gebruik word as insetdata vir ’n KI-model om kuns te kan skep wat daardie kunstenaar se werk naboots, daarmee meeding en blitsvinnig ’n legio kunswerke kan skep wat die aanvraag na kuns in die kunstenaar se styl beïnvloed, is ’n ander vraag.
Daar is tans verskeie stukke kunsmatige intelligensie wat kuns skep. Die fynskrif op (die meeste van) daardie ruimtes is dat ek die kuns wat ek deur middel van so ’n applikasie skep, mag gebruik vir iets soos prentjies by ’n joernalistieke artikel. Is daar egter, oorkoepelend, ’n beletsel op so iets, of is daar iets waarvoor ons moet oppas hier?
Dit klink inderdaad of die meeste KI-programme se fynskrif dit sê. Van die KI-modelle se bepalings en voorwaardes laat spesifiek ook kommersiële gebruik toe. Daar bly egter ’n mate van risiko aan wyer verspreiding verbonde aangesien die gegenereerde inhoud die kopiereg in onderliggende werke kan skend. Dalk bevat die nuwe KI-werk slegs minimale invloed van ’n onderliggende outeursregwerk sodat dit nie eers tot daardie werk herlei kan word nie, maar dalk steun dit nogal swaar op ’n ander. Vir die gebruiker sal dit moeilik wees om te sê.
Kopieregskending vind plaas wanneer ’n wesenlike deel van ’n kopieregwerk, of ’n aanwending (“adaptation”) daarvan, sonder toestemming gereproduseer word. Die vraag oor wat as ’n “wesenlike” deel gesien kan word, is ’n kwalitatiewe en nie ’n kwantitatiewe vraag nie (Galago Publishers v Erasmus). ’n Klein maar noemenswaardige deel van ’n outeursregwerk kan inderdaad as ’n wesenlike deel daarvan geag word.
Om die risiko van kopieregskending uit die weg te ruim, sal dit die beste wees om slegs kopieregvrye werke as inset vir die KI-werk te gebruik. Indien dit nie moontlik is nie, sal dit raadsaam wees om die nuutgeskepte KI-werk slegs te gebruik in kontekste waarbinne jy jou, indien nodig, op ’n kopiereguitsondering kan beroep, soos vir doeleindes daarvan om verslag te doen oor sake van die dag. Dit is ’n kopiereguitsondering in terme van artikel 12 van die Wet op Outeursreg.
...
Ja, dit is nie onwettig om die KI-programme te gebruik nie. Wees egter bewus van die etiese en regsvrae daaromtrent.
...
Een van die maniere waarop hierdie KI-toepassings werk, is dat ek vra vir ’n donkie in die vorm van Picasso, of ’n huisie in die vorm van Portchie. Mag ek?
Ja, dit is nie onwettig om die KI-programme te gebruik nie. Wees egter bewus van die etiese en regsvrae daaromtrent. Die kunstenaars se werk geniet kopieregbeskerming, so wees bedag op die moontlikheid dat die nuutgeskepte KI-werk hul kopiereg kan skend indien dit ’n wesenlike deel van ’n bestaande kunswerk sonder toestemming weergee.
Daar was die afgelope ruk kunstenaars wat teen hierdie gebruike protesteer en Reuters beweer dat Getty Images beweer hulle foto’s is wederregtelik gebruik om KI-modelle op te lei. Wat is die regsituasie in Suid-Afrika oor hierdie kwessies, indien enigsins?
Daar is nie tans in ons reg ’n kopiereguitsondering vir die myn van teks en data (“text and data mining”) nie. Dit beteken dat die toestemming van die outeursreghouer nodig sal wees indien ’n kopieregwerk, soos ’n skildery of gedig, as insetdata vir ’n KI-model gebruik sou word. Daarsonder kan dit as ’n skending van kopiereg gesien word, aangesien die KI-model tegnies reproduksies en afgeleide werke van die werk sal maak. Dit is twee van die ekslusiewe regte wat outeursregeienaars ten opsigte van hul werk het.
Goed. As ek ’n foto van ’n leeu neem, mag ek dit in ’n KI-model laai en vra om dit te verander in iets wat lyk soos ’n olieskildery deur Vermeer?
Hier behoort nie beletsels op te wees nie. Jy is self die eienaar van die outeursreg in die foto en die gebruik daarvan is dus geoorloof. Vermeer se werk is in die openbare domein. Boonop is daar nie kopiereg in ’n algemene kunsstyl nie.
Sê nou persoon X wil ’n foto wat ek geneem het, gebruik om self kuns te maak, ’n skildery, byvoorbeeld. Mag hulle daarmee woeker as ek skriftelike toestemming gee?
Ja, persoon X mag voortgaan indien jy toestemming gegee het vir die maak van ’n afgeleide werk (“derivative work”).
As persoon X vra, en ek gee skriftelike toestemming, mag X dan kuns daarmee maak via ’n KI-toepassing?
Ja, persoon X mag weer eens voortgaan indien jy as kopiereghouer toestemming gegee het.
Laastens: Mag X my foto gebruik sonder my toestemming vir ’n skildery, of vir KI-kuns?
Nee, die toestemming van die outeursreghouer word vereis omdat van die ekslusiewe regte van die outeursregeienaar uitgeoefen sal word. As X sonder toestemming ander se kopieregwerke neem en dit aan KI-modelle beskikbaar maak om ander werke daarop te baseer, stel X homself bloot aan ’n eis van kopieregskending indien hy nie kan staatmaak op ’n bepaalde kopiereguitsondering of -beperking wat hy as verweer kan opper nie.
En dan: Ek weet nie wie se beelde, foto’s of tekste gebruik is om die KI-toepassings te leer nie. As ek iets skep met KI en daardie KI-produk gebruik iemand se kopieregwerk, kan ek in die moeilikheid kom as ek dit in ’n joernalistieke artikel gebruik?
Daar is ’n risiko dat jy onwetend kopiereg sal skend, soos bo genoem.
Lees ook:
Besinning oor die ASSAf-paneelbespreking oor ChatGPT, assessering en hoër onderwys
Hoe verskil ChatGPT van Microsoft en Google se gespreksagente?
To Google or to Chat? Getting information is likely to change