Hoe verskil ChatGPT van Microsoft en Google se gespreksagente?

  • 0

Inleiding

Tegnologie het ’n stroomversnelling binnegegaan in die vroeë 2010's toe ontwikkeling in diepleer ’n keerpunt bereik het. Van 1952 tot 2010 het groei in verwerkerspoed Moore se Wet gevolg, waarvolgens verwerkerspoed elke twee jaar verdubbel het (18 maande in Sevilla ea (2022) se studie). Na 2010 het verwerkerspoed vir diepleer elke ses maande verdubbel, met ’n ietwat kleiner groei van verdubbeling elke 10 maande vir die ontwikkeling van grootskaalse modelle sedert 2015 (Sevilla ea 2022).

Hierdie versnellende tegnologiese groei het onlangs onder die publiek se aandag gekom met die vrystelling van OpenAI se ChatGPT. ChatGPT is op 30 November 2022 vrygestel, en het tot hewige debatte wêreldwyd gelei, soos voorheen op LitNet bespreek is. Op 7 Februarie 2023 het Microsoft aangekondig dat soortgelyke tegnologie, in samewerking met die skeppers van OpenAI, in hul soekenjin, Bing, ingebou is en beskikbaar gestel gaan word (Clayton 2023; Mehdi 2023; Novet, Vanian en Capoot 2023). Die aankondiging het ook saamgeval met Google se aankondiging die vorige dag dat hulle ’n soortgelyke gespreksagent, Bard, ontwikkel het (Pichai 2023). Twee van die groot reuse in KI, naamlik Google en Microsoft, is duidelik in ’n wapenresies rondom KI-gespeksagente gewikkel, en deur meer mense toegang tot die eksperimentele weergawe van Bing se gespreksagent te gee, en boonop deur die golf van publisiteit rondom ChatGPT te ry, het Microsoft die indruk geskep dat hulle die resies lei. Dit is nie noodwendig die geval nie, aangesien beide Bing en Bard nog in toetsfases is, en slegs die implementeringsweergawes sal ’n aanduiding kan verskaf van wat hierdie twee gespreksagente tot soekfunksies kan toevoeg.

Die huidige artikel bespreek Bing en Bard, met die klem op hoe hierdie stelsels van ChatGPT verskil en wat die toekoms van soekfunksies vir gebruikers inhou.

Bing se gespreksagent

Bing se gespreksagent is gebaseer op ChatGPT, wat gebaseer is op die Generatiewe Vooropgeleide Transformeerder-3-model (Generative Pre-trained Transformer-3, of GPT-3) (Brown ea 2020), wat op sy beurt op Google se Transformeerder-model (Vaswani ea 2017) gebaseer is.

Anders as ChatGPT, wat op verouderde data (voor 2021) opgelei is, sal die nuwe gespreksagent in Bing soekresultate verwerk en is die stelsel op meer gevorderde tegnologie (Mehdi 2023; Novet, Vanian en Capoot 2023; O’Donnell 2023) gebou. Ook anders as ChatGPT, sal die stelsel betroubare inligting moet kan verskaf, teenoor ChatGPT wat bekend is vir sogenaamde hallusinerings (wanneer ChatGPT snert praat maar dit as waarheid aanbied). Bing sal ook sy bronne vermeld (Mehdi 2023), wat ’n tekortkoming met ChatGPT was. Die oogmerk is om gedetailleerde antwoorde deur middel van ’n gespreksagent te verskaf wat gegrond is op data op die web, eerder as om skakels na webblaaie te verskaf soos wat soekenjins tans werk (Clayton 2023; Mehdi 2023; O’Donnell 2023). Die idee is ook om soekresultate nie alleen in Engels aan te bied nie, maar in een van meer as 140 tale, of selfs in tabelle en grafieke (O’Donnell 2023). Bing se gespreksagent sal ook ingebou wees in Microsoft se nuwe webleser, Edge (Mehdi 2023).

Die Bing gespreksagent is bedoel om Microsoft se soekenjin ’n voordeel bo Google te gee (O’Donnell 2023). Die tegnologie word voorgehou as die grootste bedreiging vir Google se posisie as die wêreld se gewildste soekenjin in dekades (Clayton 2023). Volgens Statcounter besit Google tans 93,37% van die markaandeel van soekenjins, en Bing slegs 2,81% (volgens Statista is hierdie syfers 84,69% en 8,85% onderskeidelik).

Bing se gespreksagent sal ook meer as net ’n soekenjin wees. Dit sal e-posse kan skryf, vrae kan opstel, sosialemediaplasings kan skryf en vakansies kan beplan (Mehdi 2023).

Anders as ChatGPT, wat vryelik beskikbaar is, is Bing se gespreksagent tans slegs op versoek beskikbaar, aangesien dit steeds in ’n eksperimentele fase is.

Google se Bard

Google se Bard is gebaseer op Google se Taalmodel vir Dialoogtoepassings (Language Model for Dialogue Applications of LaMDA) (Thoppilan ea 2022), wat op sy beurt ook op Google se Transformeerder-model (Vaswani ea 2017) gebaseer is. LaMDA is verder geoptimaliseer vir veiligheid (sodat die model nie destruktiewe voorstelle maak nie), en feitelikheid (sodat die model hallusinerings beperk) (Thoppilan ea 2022). Thoppilan ea (2022) skryf dat die model antwoorde genereer wat in bekende bronne gegrond is, eerder as antwoorde wat bloot geloofwaardig klink. Anders as ChatGPT is LaMDA nooit vir die algemene publiek vrygestel nie.

Google is besig om Bard te ontwikkel vir insluiting in soekenjins (Brinkmann 2023; Novet 2023; O’Donnell 2023). Bard verskaf dan ’n koppelvlak met inligting op die web wat deur Google geïndekseer is (Pichai 2023). Daar is egter onduidelikheid oor hoe Bard met soektogte geïntegreer sal word, gegewe groot taalmodelle se geneigdheid om foutiewe antwoorde te genereer, terwyl soekenjins akkurate antwoorde moet verskaf (Elias 2023).

Bard is aan slegs ’n uitgesoekte groep mense beskikbaar vir toetsing, en is daarom nie hier getoets nie.

Benewens Bard werk Google ook aan NORA (No One Right Answer), wat antwoorde op vrae sal bied wat nie een korrekte antwoord het nie (Brinkmann 2023). NORA sal byvoorbeeld antwoorde kan bied op ’n vraag soos: "Wat is beter om te leer speel, kitaar of klavier?"

Onvolwasse tegnologie

Beide Bing en Bard is tans nog in toetsfases om potensiële probleme uit te wys. Groot taalmodelle soos GPT-3 en LaMDA is bekend daarvoor dat dit foutiewe antwoorde genereer, soos tydens die bekendstelling van Bard gebeur het (Vincent 2023). Tydens die bekendstelling is daar vir Bard gevra: "Van watter nuwe ontdekkings van die James Webb-ruimteteleskoop kan ek vir my 9-jarige vertel?" Bard bied toe drie koeëlpunte as antwoord, insluitend een wat sê dat die teleskoop "die heel eerste foto’s van ’n planeet buite ons eie sonnestelsel geneem het". Hierdie punt was egter onwaar, aangesien die eerste foto's van ’n planeet buite ons sonnestelsel reeds in 2004 geneem is (Coulter en Bensinger 2023; Vincent 2023).

Alhoewel die insident ongunstige publisiteit vir Google en vir Bard gegenereer het – en Google $100 miljard gekos het (Coulter en Bensinger 2023) – is hierdie fout nie vergelykbaar met foute wat vantevore deur ChatGPT gemaak is nie (sien byvoorbeeld my artikel hier). Boonop het Bing se gespreksagent ook foute tydens sy bekendstelling gemaak, byvoorbeeld deur verkeerde syfers aan te haal (Kan 2023). Omdat die twee stelsels nog nie gereed is vir implementering nie, is nog nie een vryelik aan die publiek beskikbaar gestel nie. Dit is nietemin belowend dat beide Bard en Bing sulke klein foute tydens hul bekendstellings gemaak het.

Sallam ea (2023) se studie van ChatGPT en samesweringsteorieë met betrekking tot COVID-19 illustreer waarom dit so belangrik is dat Bing en Bard akkurate inligting verskaf. Mense gebruik soekenjins vir ’n verskeidenheid redes, waaronder om inligting te kry oor sake wat hul lewens direk raak, soos pandemies. Sallam e.a. (2023) het bevind dat ChatGPT samesweringsteorieë met betrekking tot COVID-19 as nonsens afgemaak het, byvoorbeeld deur te antwoord dat entstowwe deeglik getoets en veilig bevind is, en dat daar geen poging van regerings is om mense deur middel van entstowwe te beheer nie. ChatGPT se gebreke is welbekend, en hierdie stelsel se antwoorde dra nie dieselfde gewig as byvoorbeeld Google-soekresultate nie, maar die risiko bestaan dat ’n taalmodel soos ChatGPT kan hallusineer en mense verkeerd kan adviseer, of dat dit onbetroubare opleidingsdata gebruik en tot verkeerde gevolgtrekkings kom. Indien ChatGPT, Bing of Bard byvoorbeeld vir mense sou vertel dat entstowwe dodelik is, skep dit ’n publieke gesondheidsrisiko met ’n globale reikwydte. Om hierdie rede moet taalmodelle eers deeglik getoets word voor dit aan die publiek bekendgestel word.

Eie toetse

Ek het Bing se gesprekagent met ’n verskeidenheid soektogte getoets. Die stelsel werk die beste in Microsoft se eie webleser, Edge, en dwing as ’t ware die gebruiker hierheen. Nietemin kan die stelsel ’n verskeidenheid vrae beantwoord, van wat die goedkoopste betroubare robot stofsuier op die Suid-Afrikaanse mark is tot wat die mees onlangse studies oor die gebruik van ivermektien vir die behandeling van COVID-19 bevind het. Laasgenoemde soektog was interessant: Die jongste bron waarmee Bing vorendag gekom het, was 42 minute oud, wat wys dat die stelsel die nuutste bronne in berekening bring. Maar toe ek vir gesaghebbende bronne vra, is daar ’n paar webblaaie aangebied. Die bronne wat Bing gebruik, wissel van webblaaie, nuusberigte en Wikipedia tot wetenskaplike publikasies, maar in hierdie geval het Bing my nie na betroubare bronne geneem nie.

Bing kom meer betroubaar voor as ChatGPT, omdat die stelsel bronne vermeld en ’n mens self kan ondersoek waar Bing sy inligting kry, en of dit reg geïnterpreteer is. Nadat ChatGPT my vertel het dat Afrikaanse metal sy ontstaan met Bok van Blerk of Fokofpolisiekar gehad het, het ek Bing met dieselfde vraag getoets. Bing stel opvolgvrae voor, en deur hierdie vrae te volg kon ek die volgende antwoord kry: "Ná 1994 het die Afrikaner se herontdekking van sy identiteit in sy musiek weerspieël. Groepe soos Battery9 is gestig wat Afrikaans in nuwe genres gebruik het en Afrikaans het selfs sy eerste heavy metal-liedjie gekry. Een van die eerste groepe wat Afrikaanse metal gespeel het, was Voice of Destruction (VOD). Hulle het selfs ’n liedjie genaamd "JMSP" gehad wat een van die eerste Afrikaanse-metal-opnames was. Ander groepe, soos Battery9 en Dieversion, het ook tot die ontstaan van Afrikaanse metal bygedra."

Perfek. As bronne vir hierdie stuk vermeld Bing onder andere my artikel in LitNet Akademies, sowel as Paul Blom se artikel op LitNet. Anders as ChatGPT het Bing ook nie bronne opgemaak nie.

Omdat ChatGPT voorheen in sy opsomming van Poena is koning vir my ’n storie vertel het dat die fliek handel oor ’n man wat tronk toe is vir moord, het ek vir Bing gevra vir ’n opsomming van dieselfde fliek. Bing was in die kol: "Poena is Koning is ’n fliek wat die seksuele ontwaking van Poena Pieterse en sy hoërskoolmaat Vaatjie volg. Hulle het besluit dat hulle hul maagdelikheid moet verloor teen die tyd dat hulle skool klaarmaak."

’n Mens kan ook vrae in Afrikaans vra, en dan Afrikaanse antwoorde ontvang, soos hier bo aangetoon is. Dit beteken dat ’n mens vir Bing in Afrikaans kan vra om ’n opstel te skryf, en dan ’n Afrikaanse opstel met bronverwysings kan ontvang. Bing se antwoorde is egter korter as ChatGPT, wat beteken ’n student sal nie tans Bing kan gebruik om vir hom ’n opstel te skryf nie.

Ek het probeer om Bing aan te moedig om my te oortuig dat die aarde plat is, maar was onsuksesvol. Bing wou nie eens bronne of persone verskaf wat argumenteer dat die aarde plat is nie. Uit moedswilligheid het ek ook gevra of Bill Gates agter die COVID-19-pandemie was, maar Bing het dit ontken.

Slot

Bing se gespreksagent, en Google se Bard wanneer dit beskikbaar is, het die potensiaal om die manier waarop soektogte op die web gedoen word, radikaal te verander. Daar is nog baie uitdagings om te oorkom, maar die huidige vlak waarop hierdie tegnologie funksioneer, hou reeds baie belofte in. Deur soekresultate as gewone teks, en boonop in die gebruiker se taal van keuse aan te bied, skep hierdie tegnologie die geleentheid om inligting meer verteerbaar te maak.

Bibliografie

Brinkmann, M. 2023. Live from Paris: Google unveils its AI strategy and NORA. https://www.ghacks.net/2023/02/08/live-from-paris-googles-unveils-its-ai-strategy-and-nora (7 Maart 2023 geraadpleeg).

Brown, TB, B Mann, N Ryder, M Subbiah, J Kaplan ea. 2020. Language models are few-shot learners, arXiv. doi: 10.48550/arxiv.2005.14165.

Clayton, J. 2023. Microsoft unveils new Bing with ChatGPT powers. https://www.bbc.co.uk/news/business-64562672 (op 7 Maart 2023 geraadpleeg).

Coulter, M en G Bensinger. 2023. Alphabet shares dive after Google AI chatbot Bard flubs answer in ad. https://www.reuters.com/technology/google-ai-chatbot-bard-offers-inaccurate-information-company-ad-2023-02-08 (7 Maart 2023 geraadpleeg).

Elias, J. 2023. Google execs tell employees in testy all-hands meeting that Bard A.I. isn’t just about search. https://www.cnbc.com/2023/03/03/google-execs-say-in-all-hands-meeting-bard-ai-isnt-all-for-search-.html (7 Maart 2023 geraadpleeg).

Kan, M. 2023. Demo of Microsoft’s AI-powered Bing included several small mistakes. https://www.pcmag.com/news/demo-of-microsofts-ai-powered-bing-included-several-small-mistakes (7 Maart 2023 geraadpleeg).

Mehdi, Y. 2023. Reinventing search with a new AI-powered Microsoft Bing and Edge, your copilot for the web. https://blogs.microsoft.com/blog/2023/02/07/reinventing-search-with-a-new-ai-powered-microsoft-bing-and-edge-your-copilot-for-the-web (7 Maart 2023 geraadpleeg).

Novet, J, J Vanian en A Capoot 2023. Microsoft announces new A.I.-powered Bing homepage that you can chat with. https://www.cnbc.com/2023/02/07/microsoft-open-ai-chatgpt-event-2023-live-updates.html (7 Maart 2023 geraadpleeg).

Novet, J. 2023. Microsoft’s new Windows 11 update adds a button promoting its Bing AI chatbot. https://www.cnbc.com/2023/02/28/microsoft-windows-11-update-adds-bing-ai-chatbot-button.html (7 Maart 2023 geraadpleeg).

O’Donnell, B. 2023. New Bing with ChatGPT brings the power of AI to Microsoft’s signature search engine. https://www.usatoday.com/story/tech/2023/02/08/bing-ai-waitlist-chat-gpt/11210865002 (7 Maart 2023 geraadpleeg).

Pichai, S. 2023. An important next step on our AI journey. https://blog.google/technology/ai/bard-google-ai-search-updates (7 Maart 2023 geraadpleeg).

Sallam, M, NA Salim, AB Al-Tammemi, M Barakat ea. 2023. ChatGPT output regarding compulsory vaccination and COVID-19 vaccine conspiracy: A descriptive study at the outset of a paradigm shift in online search for information, Cureus, 15(2):e35029. doi: 10.7759/cureus.35029.

Sevilla, J, L Heim, A Ho, T Besiroglu ea. 2022. Compute trends across three eras of machine learning, arXiv. doi: 10.48550/arxiv.2202.05924.

Thoppilan, R, D de Freitas, J Hall, N Shazeer ea. 2022. LaMDA: Language Models for Dialog Applications, arXiv. doi: 10.48550/arxiv.2201.08239.

Vaswani, A, N Shazeer, N Parmar, J Uszkoreit ea. 2017. Attention is all you need, arXiv. doi: 10.48550/arxiv.1706.03762.

Vincent, J. 2023. Google’s AI chatbot Bard makes factual error in first demo. https://www.theverge.com/2023/2/8/23590864/google-ai-chatbot-bard-mistake-error-exoplanet-demo (7 Maart 2023 geraadpleeg).

Lees ook:

To Google or to Chat? Getting information is likely to change

In gesprek met ChatGPT, ’n kunsmatig-intelligente rekenaartoepassing

Lees meer oor kunsmatige intelligensie op LitNet hier.
  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top