Paul Blom reageer op die artikel “Vervreemding in die ekstreem: ’n Oorsig oor normloosheid en sosiale isolasie in Afrikaanse ekstreme metal” in LitNet Akademies se Geesteswetenskappe-afdeling, geskryf deur Burgert A Senekal.
Metaal-are
Met ’n geskiedenis in ekstreme musiek wat tot die vroeë 1980’s terugstrek, sal ek hierdie stuk vanuit ’n meer persoonlike perspektief benader. Met ’n liberale siening en ’n duidelike wete van reg en verkeerd absorbeer ek die lewe met soveel logika en sosiale aanpasbaarheid as moontlik. Die musiek waarna ek luister (wat baie wyer uitkring as bloot net metal), en wat ek ook self maak, het ’n definiërende invloed op my persoonlikheidsvorming gehad, maar nie ’n verwronge uitwerking nie. Dit het egter my bevraagtekening van alles gestook, ’n houding wat niks as vanselfsprekend aanvaar nie.
Smaak verskil. Op alle vlakke. Dit is amper waar mens die boek kan toemaak op die saak ...
Dis nutteloos (en selfs gevaarlik) om iets op iemand af te dwing, en dit geld nie net vir musiek nie – alles van ’n beroep tot godsdiens of ’n ideologie. Ons individuele denke is wat ons onderskei, maar party mense is salig tevrede met ’n lot wat vir hulle voorgeskryf is. Vir iemand met ’n sterker wil kan dit net nog meer vervreem en in ’n teenoorgestelde rigting stoot. In die apartheidsera-Afrikaner-samelewing is die norm om op skool en in sport te presteer, kerk toe te gaan, diensplig te doen, ’n bekwame posisie los te slaan, te trou en kinders te hê, grotendeels aanvaar, en die "gesag" van diegene in beheer is nie altyd bevraagteken nie. Deur dit as die kulturele norm voor te skryf en alternatiewe te veroordeel, is baie onverantwoordelik.
Musiek is ’n persoonlike saak – dit prikkel verskillende mense op verskeie maniere, en om enige tipe musiek as beter of slegter as ’n ander te bestempel, is belaglik. Die tegniese vaardigheid en musikale bekwaamheid van metalmusiek is meestal van ’n baie hoër gehalte as basiese elektroniese popmusiek – maar laasgenoemde vind ’n baie wyer en meer kommersiële gehoor, aangesien metal baie meer intens is op alle vlakke. In ’n mate is hierdie meer eksklusiewe klub binne die kultuur ook ’n aantrekking in ’n ons-teen-hulle-konteks.
Hoewel die aantrekking tot meer ekstreme musiek ’n hormonale-tiener-oorsprong kan hê, is dit grotendeels ’n mate van geïnternaliseerde verwerping van die norm. Agter die voorstedelike mure skuil daar donker geheime en nie almal is tevrede met daardie status quo nie.
Iemand wat van jongs af aanklank vind by iets soos visvang, kan dit met hulle saamdra as ’n onafskeidbare deel van hul lewens. Toe ek die eerste keer ekstreme musiek hoor, het dit dadelik met my ge-click. En dit het niks te make gehad met enigiets behalwe die elemente wat dit vasvang en uitstraal nie. Die klank en spoed, die houding en rebellie, die album-kunswerk, die meer uitdagende boodskappe van die lirieke, ensovoorts. Dis ’n allesomvattende pakket wat sy punt maak sonder om doekies om te draai. Daar is ’n intellektuele, psigiese en fisiese konneksie. Die musiek is net so emosioneel belaai soos klassieke musiek en kan ’n luisteraar meevoer.
Vir baie is metal ’n verbygaande fase in hul identiteitsoeke, maar daar is mense wat met metal in hul are gebore is. Hulle leef en haal metal-asem.
Van vroeg af het ek aanvaar dat ek buite die Suid-Afrikaanse norm val wat my musieksmaak betref, en dit het versprei na my lewensuitkyk in die geheel.
Sedert skooldae is ons verwyt en skeef aangekyk as ons hare nie kort genoeg was met inspeksie nie, en almal het geweet dat ons om en by 1980 na groepe soos Kiss begin luister het, wat oor daardie dekade gegroei het na stelselmatig meer ekstreme metal- en punk-geure soos Judas Priest, Iron Maiden, The Exploited, Dead Kennedys, Metallica, Nuclear Assault, Slayer en ander. Die groepname is op ons tasse geskryf, ons het T-hemde laat invoer en baie sakgeld op ingevoerde plate gespandeer, en die onderwysers het ons altyd as meer vreemd beskou – behalwe my kunsonderwyser (Vernon Swart), wat ons toegelaat het om beurte te neem om die musiek van ons keuse in die klas te speel. Ná Jeanine se Tracey Chapman kon ek Napalm Death opsit! Ek voel gelukkig dat daar af en toe só ’n briljante onderwyser was wat skoolkinders kon toelaat om hulself te wees op hul pad na volwassenheid.
Terwyl ons grotendeels met die stelsel se voorskrifte saamgespeel het, kon ons toevlug vind in ons musiek en die identiteit wat dit ons gebied het. Om "anders" te wees, is ook natuurlik ’n aantreklike statussimbool. Dis nie asof ons motorkarre gesteel of dwelms gebruik het nie – ons was net kinders wat ook so ’n bietjie ons eie koppe kon gebruik. En dit het ons tot in volwassenheid gevolg.
Sommige van ons kan maklik sê dat identiteit irrelevant is, maar selfs binne ’n musiekgedrewe sosiale konteks van ekstreme metal is die inpas in hierdie gemeenskap uiteraard ’n identiteit. Ek en my broers is goed grootgemaak en het met die meeste van die klieks oor die weg gekom, en ons het nie ’n drang gehad om by ’n spesifieke groep in te pas nie. Ons het ons eie geskep (met onder andere metal as uitgangspunt) wat vir ons reg sit. ’n Klein groepie "outsiders" wat nie die erkenning van die meerderheid nodig gehad het nie. Daarna was die logiese volgende stap van hierdie internalisering om self musiek te maak.
In die konteks van normloosheid in metalmusiek is dit nie noodwendig slegs ’n mate van magteloosheid of selfvervreemding nie – ’n groot persentasie van mense wat hierdie musiek geniet, is emosioneel sensitief en intelligent genoeg om nie deur die sluier van die establishment gekul te word nie, en staan op om onreg aan te spreek of skynheiligheid en uitbuiting te ontbloot vir wat dit is. Hierdie musiek val meestal aan daardie kant van die heining, is nie bang om die donker kant van die lewe te verken nie, en die teikengehoor kan daarmee identifiseer.
Daar is reg en daar is verkeerd, en nes daar kindermolesteerders en skurke is wat hulself as godsdienstige redders voordoen en jongmense wat hulle eie koppe kan volg en ’n identiteit vind in ekstreme musiek, is die oorgrote meerderheid van hierdie musiekliefhebbers nie almal duiwelaanbidders wat anargie wil saai nie – baie is suksesvolle professionele of gesinsmense en, ja, mense wat selfs kerk, moskee of sinagoge toe gaan.
Iets wat vir die oningeligte boos voorkom, kan maklik as sondebok gebruik word, en is ’n voorbeeld van lui opportunisme. Sien my artikel oor die Krugersdorpskool-swaardmoord (waar die groep Slipknot geblameer is), wat daaroor uitbrei en metal as kulturele fenomeen uitlig in daardie konteks: http://www.facebook.com/topic.php?uid=5595727281&topic=6527.
Ekstreme musiek in Afrikaans is uniek en uiters raar. Hoewel dit nie ’n internasionale treffer sal word nie, is dit ’n subgenre wat ons moet ondersteun as ’n inheemse kunsvorm. Daarom het ek die Kopskoot!-CD-versameling bymekaargesit (in samewerking met ENT Entertainment), wat allerlei "heavy" musiek insluit, met variasies van metal, alternatief, hardcore, industrial en verskeie elektroniese style (van Battery 9, K.O.B.U.S.! en Van Coke Kartel tot Terminatryx, Mind Assault, Breinskade, Somerfaan en ander.
Die feit dat niemand nog so iets probeer het nie, is nog ’n voorbeeld dat dit nie as ’n groot kommersiële geldmaker gesien word teenoor byvoorbeeld Afrikaanse sokkiemusiek nie.
Die siening van verwerping van ekstreme musiek het ook duidelik na vore gekom toe ’n groot verspreider die album geweier het as gevolg van die Insek-snit se titel, "Satan is liefde". Daar is duidelik nie eens na die snit (of enige van die ander) geluister nie, maar so ’n reaksie was van die begin af te verwag; daarom is die "no compromise mindset" toegepas, van die omslagontwerp tot die liedjiekeuse. Daar is geen manier wat ons ’n belangrike snit sou prysgee om dalk ’n paar ekstra albums te verkoop nie.
Kry inligting oor Kopskoot!, oudio-voorbeelde van al die kunstenaars en meer hier: http://www.flamedrop.com/kopskoot.
In teenstelling met kommersiële musiek wat in kantore geformuleer word om die meeste albums te verkoop, word ekstreme metal in ’n groot mate vanuit ’n persoonlike uitgangspunt geskryf – iets wat by die skrywer aanklank vind of nodig is om gesê te word en wat deur ’n identifiserende gehoor sal inval (of dan nie). Dit beteken egter nie dat daar nie metal-supersterre is wat miljoene albums verkoop nie. Inteendeel.
Selfs jou gunsteling-band kan lirieke hê wat nie vir jou werk nie, of dit nou in Engels of Afrikaans is. Wanneer ’n sekere tema lyk of dit ’n groter reaksie uitlok, stuur baie bands meer in daardie rigting, wat dan hulle kenmerk word. Vir my is die geleentheid om musiek te maak egter ’n ideale kans om iets te sê wat gewig dra. Party musikante hou daarvan om te skok, en hulle vind ’n gehoor wat daarvan hou. Metal se donker humor word ook baie onderskat.
Wanneer ’n skaars tema aangeraak word of ’n bekende een op ’n nuwe manier benader word, is dit vir my baie aantrekliker en meer betekenisvol as voorgeskrewe snert wat alles dieselfde is. En soos mens baie kak popmusiek kry, beteken dit nie dat ek alle metal as briljant beskou nie – daar is heelwat gemors binne die genre. Maar dit kom weer terug by smaak – wat ek as nonsens beskou, kan vir ander geniaal wees. Absoluut toegewyde metaalkoppe met metal in hul are kan geen negatiewe merk in hulle kultuur raaksien nie. Dié lojaliteit is prysenswaardig, maar daar moet ’n mate van kwaliteitskontrole wees.
Musikante speel ’n rol, is ’n refleksie van die samelewing, en dit is amper ons plig om die onreg, donker en negatiewe te weerspieël. Popmusiek doen dit skaars. Politieke partye sê wat hulle kiesersgroep wil hoor. Hoewel dit baie temas ondersoek, sê metal gereeld hoe dinge werklik is (of kan wees as dinge nie verander nie). In party gevalle kan dit voorkom as die verheffing van ’n meer negatiewe stand van sake, ’n apokaliptiese rebellie. Of die skrywers daarvan dit voorstaan, is amper irrelevant, aangesien die luisteraar daaruit moet neem wat hulle wil. Ons is nie passiewe luisteraars wat blindelings alles moet navolg nie. By lewende metalvertonings is die gehoor se fisiese deelname ook kenmerkend (en kan dit gereeld tot beserings lei). Maar dís waar dit moet bly ná die laaste song. Enigeen wat deur ’n metal-song tot ’n misdryf aangehits word, is onstabiel genoeg om moorddadig te ontplof ná Wielie Walie as gevolg van hul pratende-boekwurm-vrees.
Die mens kan nie sy primal urges wegwens nie – met metal kan deelnemers hul energie, frustrasies en aggressie positief uitleef en hoef hulle dit nie te onderdruk om soos ’n pressure cooker op die verkeerde tyd in die verkeerde rigting te ontplof nie. En dit is ook nie ’n voorwaarde nie, aangesien die frekwensies, spoed en energie van die musiek baie mense fisies stimuleer sonder dat hulle self aan iets soos ’n "moshpit" hoef deel te neem.
Hoewel dit in sekere kontekste wel die geval kan wees, is die kliniese waarneming dat jongmense toevlug vind in ekstreme musiek as gevolg van mishandeling, dwelms, ensovoorts, ’n baie eng waarneming wat maklik as die norm aanvaar kan word.
Vir iemand wat nie die musiek verstaan nie, moet daar een of ander rede wees hoekom iemand na iets so ekstreem kan luister – of jy moet mal wees om daardie lawaai te kan geniet!
Wat liefhebbers van meer ekstreme musiek irriteer, is wanneer daar mense (grotendeels van religieuse kampe) voel dat die musiek hulle persoonlik aanval en dat hulle die verlorenes wat deur die boosheid daarvan oorweldig is, moet red. Dis musiek – die bonatuurlike (of sprokiesverhale) het niks daarmee uit te waai nie.
Net soos horror-rolprente is ekstreme musiek ’n genre met ’n spesifieke gehoor, en enige band wat kwaad raak omdat hulle video nie op kommersiële TV verskyn nie, is onrealisties. Dis die domein van ligte-pop-talentkompetisies en advertensies gemik op die middeweg, nie impakvolle, emosioneel belaaide, uncompromising musiek wat ’n kragtige (of skokkende) boodskap dra nie. "Realiteit" is baie meer as bloot ’n spul idiote wat die vrotste sy van hulle persoonlikhede op ’n breinlose TV-program vir die hele wêreld openbaar. Wanneer dit wel sulke mainstream exposure kry, is dit gewoonlik in ’n novelty-konteks. Die term alternatief word ook baie maklik rondgegooi, veral wanneer kunstenaars hul fan base wil probeer uitbou. As dit popmusiek is, is dít wat dit is; moenie skaam wees nie en doen jou ding.
Die testosteroon-belaaide musiek is wel aantrekliker vir die manlike geslag, en die aard van die oorwegend Europese demografie kan wel lank antropologies geanaliseer word. ’n Breingolfstudie van verskillende etniese groepe en hul musieksmaak sal baie interessant wees, maar weer eens kom dit eenvoudig neer op individuele smaak – wie gee om? Die vroulike geslag is nie uitgesluit nie, en soos in die res van die samelewing kan chauvinisme in die metalkultuur voorkom. Die aard en aggressie van die musiek maak dit natuurlik vir vroulike sangers moeilik om ’n impak te maak in die genre.
Die wêreld het ’n groot tekort aan vroulike metalgroepe, en daar is nog minder in Suid-Afrika. Ná jare se manlik gedrewe bands het ek besluit om Terminatryx saam met Sonja te begin, ’n industriële-metal-projek met die oogmerk om dinge ’n bietjie op te skud. Dis ook ’n eksperiment om te sien hoe oop die denke kan wees (en ons beoog om met elke album ’n Afrikaanse snit te doen – die eerste een, "Siek+Sat", is ook op die debuutalbum en op Kopskoot!). Meer inligting kan by http://www.TERMINATRYX.com gekry word.
Maar as jou smaak (wat gevorm is deur jare se ervarings, asook kondisionering) nie metal met ’n vroulike sanger insluit nie, dan is dít wat dit is. Smaak. Maar as jy dit verwerp omdat jy dink jy binne jou macho-sirkel verwyt sal word, is jy ook maar net ’n skaap wat nie jou eie pad kan volg nie.
Die kulturele impak van metalmusiek word ook onderskat. Hoewel ek voel dat die meeste kulture en godsdienstige dogmas argaïes geskepte strukture is wat nie noodwendig daarop ingestel is om die hele bevolking te baat nie, maar eerder om diegene wat dit ingestel het, te bevoordeel. En dis gewoonlik manlik gedrewe.
Die metalgemeenskap is een wat grense oorsteek. Dis een wat ongeag geloof, geslag of kleur tot die wye voordeel van almal funksioneer. Natuurlik is dit geen utopiese ideaal nie, en onenigheid kan uitbars nes in enige ander sosiale situasie.
Daar moet uit die staanspoor ook onderskei word tussen counter-culture en normloosheid. Die indruk dat metal-aanhangers oor die algemeen normloos is, is net so onrealisties as om aan te neem dat alle Afrikaners rassiste is, of alle Katolieke priesters pedofiele.
Die hoofstroom-samelewing vind dit moeilik om te aanvaar dat daar mense is wat hulself as individue beskou en nie die kulturele raamwerk wat deur mense van ’n ander era ingestel is, blindelings volg nie. Ekstreme metal se doel is nie bloot ’n verwoesting van almal en alles nie – dit bevraagteken, dit daag uit, dit debatteer op sigself met die wêreld waarin ons onsself bevind, en enigiemand wat dink die huidige stand van sake is aanvaarbaar, moet weer daaroor gaan dink.
Verdeeldheid het ongelukkig in Suid-Afrika se psige bly vassteek.
Daar is ook ’n imperialistiese houding wat aanneem dat iemand se spesifieke kultuur die enigste aanvaarbare een is – dís wat baie gou aanleiding gee tot stelsels soos apartheid. Binne die raamwerk van ekstreme metal is die sosiale neersien daarop ook ’n faktor wat dit baie meer geheg maak en daartoe lei dat dit sigself as die enigste aanvaarbare groep beskou.
In die geval van die kerkbrande in Noorweë tydens die Black Metal-verrysing in die middel-90’s is aangevoer dat dit ’n teenaanval teen die Christelike kultuur was, wat eeue gelede op die Vikings en Noorweegse samelewing afgedwing is en kerke fisies op heilige pagan-areas gebou het om dit uit te wis en te vervang.
Kulturele faksies en oorloë is moeilik om van mekaar te verwyder. Hoeveel oorloë sou daar wees sonder kultuur en godsdiens?
Dat Afrikaanse lirieke toegeneem het, veral in die 2000’s, is wel waar, maar dit bly ’n minderheid binne ’n minderheidsgenre.
Behalwe groepe soos K.O.B.U.S.!, wat ten volle Afrikaanse lirieke gebruik, is ’n Afrikaanse snit hier en daar gewoonlik ’n novelty. (Hoewel nie ten volle ’n ekstreme groep nie, was selfs Seether se wegsteeksnit op ’n onlangse album nie ’n ernstige liedjie nie, maar ’n gekskeerdery.)
Om in Afrikaans te sing, is op sigself ook ’n mate van rebellie (binne ’n alreeds rebelse genre).
Suid-Afrika se afsondering het in die tagtigerjare gehelp om ’n eie identiteit te skep vir bands soos een van dié waarby ek betrokke is, Voice of Destruction (http://www.VoiceOfDestruction.com), maar baie selde het dit byvoorbeeld tot ’n samesmelting met ander inheemse kulture gelei soos Sepultura met hul Brasiliaanse herkoms gedoen het. Ons V.O.D-album Bloedrivier, wat om en by 1996 in Europa opgeneem en vrygestel is, het ’n baie meer patriotiese Suid-Afrikaanse konteks gereflekteer, veral omdat ons die res van die wêreld wou binnedring en ons ons in die buiteland bevind het. Die eksotiese Afrika-beeld het ook ’n unieke identiteit aan die groep verleen.
Die skokfaktor is wel deel van metalmusiek se skouspel, van die visuele tot die lirieke. Ons Afrikaanse snit "JMSP" van die vroeë 90’s is een van die eerste Afrikaanse-metal-opnames. Die skokfaktor hiervan is beide ’n belediging, ’n eg Suid-Afrikaanse frase en ook ’n kreet van rebellie. Waar ons dit vir Europese gehore gespeel het, was dit ’n energieke ontploffing wat hulle kon geniet sonder om dit te verstaan, terwyl die woorde "Jou ma se poes" boeke vol sê voor Suid-Afrikaners.
Hoewel nie almal dit sal erken nie, het die meeste bands die droom om dit groot te maak in die buiteland. Hierdie onrealistiese (maar nie onmoontlike nie) hunkering is ’n sterk dryfveer om jou musiek so goed moontlik te maak, maar ook ’n swaar kniehalter wanneer die besef toesak dat dit nie sal gebeur nie. Dís hoe baie groepe moed opgee. Dit lei ook dikwels tot die namaak van ’n buitelandse styl waarvan groeplede hou en wat hulle dink beter sal vaar daar buite as om hul eie musiek-identiteit te formuleer.
Met Suid-Afrika se onderdrukkende verlede is daar ook in ’n mate ’n onderbewuste persepsie dat musiekliefhebbers in die buiteland die musiek beter sou verstaan en waardeer in Engels. In die verlede (tagtigerjare) is jou musiek versprei deur kassette uit te ruil met ondergrondse aanhangers in Europa, Amerika, die Ooste, ensovoorts, maar met die internet se geboorte is hierdie grense en struikelblokke met myle oorbrug – iets wat die metalgemeenskap nóg meer as ’n globale eenheid hervestig het.
Toe V.O.D saam met Napalm Death opgetree het, was dit nie asof dit tot ons kits- internasionale roem gelei het nie.
Internasionale groepe wat hier verbykom, lok groot gehore, soos Rammstein se onlangse toer – die vraag bly egter hoe 5 000 kaartjies teen om en by R300 so gou kan verkoop vir een groep, terwyl mense aarsel wanneer dit kom by R30 uithaal vir drie inheemse bands wat op ’n soortgelyke vlak is (maar sonder die ontploffings)?
Met ons V.O.D-album-opname en -toer in Europa (1995/96) het ons die wêreldwye kameraadskap op internasionale vlak ervaar deur in elke land verwelkom te word en baie goed oor die weg te kom met ons Skandinawiese medetoerbands In The Woods en Katatonia.
Twee insidente staan uit. Voor ons Europese toer het ons by ’n naweekfees by The East Club in die ou Oos-Duitsland gespeel, en dit was soos ’n Metal Verenigde Unie, met bands van regoor Europa, Japan en natuurlik die ouens van Afrika se suidelike punt. Almal was vriendelik en akkommoderend en het om die kampvuur gestaan en nonsens praat in gebroke Engels. Dat alkohol vrylik gevloei het, is wel die geval (soos by die meeste musiekverwante okkasies), maar sonder insident. In ’n ander geval het ons basspeler, Diccon, in Slowakye heelaand met ’n aanhanger gekuier in die kroeg van die ski-gastehuis waar ons oorgebly het – hulle kon geen woord van die ander se taal verstaan nie, maar was gebind in hul liefde vir metal, en het dit heelaand geluister. Die musiek het vir hulle gepraat. Dis ’n gevoel, ’n ervaring, ’n houding en leefwyse. Jy hou daarvan of nie, watter taal jy ook al verstaan en in watter taal dit ook al gesing word. Jy hoef niemand te probeer oorreed nie. Dis in jou bloed. Vat dit of laat dit staan. As dit jou goed laat voel sonder om ’n ander te benadeel, wie de hel het die reg om jou van die teenoorgestelde te probeer oorreed?