1. Inleidend
The Academy of Science of South Africa (ASSAf) het op 22 Februarie ’n paneel gereël om die akademiese gesprek oor ChatGPT verder te voer in hulle 11de ASSAf Presidensiële Rondetafelgesprek, “The implications of ChatGPT for assessment in Higher Education”.
Die gesprek is gelei deur Jonathan Jansen (US; president van ASSAf); die paneellede was Franci Cronjé (navorsingsgenoot, The IIE Vega School), Roze Phillips (stigter en HUB van Abundance at Work) en Johannes Cronjé (professor, digitale onderrig en leer, Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie), en ChatGPT, die KI-deelnemer. Daar was om en by 1 400 aanlyn deelnemers.
Die opname is vryelik beskikbaar1 en die moeite werd om na te luister. Wat hier volg, is ’n persoonlike perspektief op die gesprek.
ChatGPT is ’n KI-kletsbot wat deur OpenAI ontwikkel is op die basis van groot taalmodelle (large language models) en in November 2022 vrygestel is. Daar is tans ’n gratis en ’n betaalde weergawe beskikbaar. In die kort tydjie van sy bestaan was daar alreeds na bewering 100 miljoen gebruikers. ChatGPT genereer teks op grond van die nodige wenke of prikkels (prompts) deur die gebruiker deur van groot taaldatabasisse gebruik te maak. Afhangende van die wenke en die proses kan teks van hoë gehalte gegenereer word, met verbasende spoed, akkuraatheid en volledigheid. Die tegnologie het ook die vermoë om deur die interaksie met miljoene gebruikers, en namate die databasisse groei, te leer. Alhoewel heelwat tekortkominge al uitgewys is, kan ons aanvaar dat dit nog maar die begin is van KI en dat ongekende uitdagings, risiko’s en geleenthede gaan ontvou. Daar is byvoorbeeld risiko’s wanneer die onderwys kreatiewe en onafhanklike denke wil ontwikkel, aangesien dit nou soveel makliker is om “dinkwerk” na ’n algoritme te delegeer en inhoudsgebaseerde teks te genereer. Verskeie onderwysinstellings het dan ook die gebruik daarvan verbied. Die maniere waarop KI “dink” en skep, dwing ons egter om na te dink oor die aard van hierdie aktiwiteite.
Van hierdie uitdagings, risiko’s en geleenthede is tydens die paneelbespreking aan geraak. Alhoewel die onderwerp gegaan het oor assessering in hoër onderwys, is dit in verband gebring met ander aspekte van die onderwys. Die atmosfeer is van die begin af geskep toe die voorsitter die eerste deelnemer, meneer ChatGPT, aan die woord stel om oor ASSAf te praat. Al die paneellede het hul gereedheid getoon om die uitdagings van KI te aanvaar en om saam te dink oor die aard van ons interaksie.
Hierdie besinning oor die paneelbespreking word vanuit ’n spesifieke posthumanistiese perspektief gedoen. Hierdie perspektief omarm die manier waarop tegnologie ’n onlosmaaklike deel is van menslike wording. Buiten eksperimentering na die aard van die ineenstrengeling van mens en tegnologie word ondersoek ingestel na die etiese saambestaan met tegnologie en al die ander (soos diere, mikro-oganismes en die omgewing). Oplossings vir die huidige ekologiese krisis word nie gesoek in een of ander ontvlugting van die aarde nie, maar deur te leer hoe om vreedsaam en volhoudend saam te kan bestaan. Verskeie van hierdie posthumanistiese temas het na vore gekom in die bespreking, naamlik dat ons nie bloot tegnologieë gebruik nie, maar daarmee saamwerk, dat ons verweef is met tegnologie, en dat tegnologie ’n invloed op menswees het.
2. Mens-tegnologie-ineenstrengeling
Alhoewel hierdie aspek nie eksplisiet na vore kom in die paneelbespreking nie, was dit ’n onderliggende tema en belangrik om mee te begin. Die ineenstrengeling van mens en tegnologie hou in dat ons nie meer vanuit ’n humanistiese perspektief kan dink oor die outonome mens wat tegnologie as instrument gebruik om vooropgestelde doelwitte te bereik nie. Dis nie meer mens aan die een kant en tegnologie aan die ander kant nie, maar mens-tegnologie word ’n nuwe kollektief samevoeging (assemblage) met ongekende kragte. Wat KI na vore bring, is dat hierdie kragte nie net fisies is nie, maar ook kognitief. As ons nadink oor die eksponensiële toename in magte van die mens-tegnologie-kollektief vanaf die eerste industriële revolusie, staan ons op die drumpel van verdere ontluiking.
Alhoewel daar dikwels gemengde gevoelens is oor nuwe tegnologieë, en hulle inderdaad dubbelsinnig (ambiguous) is, is die wording van die mens nog altyd nou verweef met die ontwikkeling van tegnologie, soos Stiegler (1998) dit uitdruk met die term en begrip tegnogenese. Ons kan dus verwag dat KI tot die ontsluiting van kognitiewe vermoëns van die kollektief kan bydra.
Die ineenstrengeling kom na vore in die paneelbespreking wanneer Johannes Cronjé wys op die verskuiwing van “werk met KI” na “werk saam met KI”. KI is nie instrumenteel tot die bereiking van voorafbepaalde uitkomste nie, maar ’n gesels-, navorsings- en leergenoot. Ten spyte van die distopiese (of utopiese) sienings oor die maniere waarop mense deur KI regeer gaan word, impliseer die ineenstrengeling dat die een nie sonder die ander kan nie.
Die ineenstrengeling beteken nie dat die onderskeid tussen mens en tegnologie verval nie, maar dat die grenslyne vervaag en rolverdelings verander. Vir Cronjé kom die menslike rol na vore in die vermoë om te evalueer en die rol van ChatGPT om te produseer. Mense moet die kennis en insig ontwikkel om te kan evalueer wat deur KI geproduseer word. Franci Cronjé, wat uit ’n kunsperspektief praat, verskil hiermee wanneer sy sê dat hierdie ineenstrengeling mense meer kreatief kan maak. Hierdie insig word bevestig deur navorsing waarin eksperimente uitgevoer word met mens-tegnologie-konfigurasies en waar gevind word hoe nuwe dimensies van mens-wees na vore kom. Franci Cronjé se voorbeelde neig daartoe om KI apart te sien van menslike interaksie. Vanuit ’n meer konsekwente posthumanistiese perspektief kan eerder gesê word dat hierdie nuwe mens-tegnologie-kollektief kreatief is. Alhoewel daar heelwat gedebatteer word oor die moontlike (ontluikende) kreatiewe vermoëns van KI, bly dit ingebed in die kollektief.
Tans is dit die taak van die menslike deel van die kollektief om wenke of prikkels te verskaf aan die hand waarvan ChatGPT produkte skep, om die produk te evalueer en om verdere wenke te gee. Dat die agentskap nie uitsluitlik by die mens lê nie, blyk daaruit dat die uitkoms nie vooraf bepaal kan word nie. Latour (1991) het ons daarop gewys dat de tegnologiese tussenganger die doelpale verskuif. In hierdie proses “leer” beide mens en tegnologie hoe om binne die kollektief te funksioneer om die grense van wat moontlik is te verskuif.
3. Die proses van leer
Roze Phillips beklemtoon die belang van ’n verskuiwing na die proses van leer in plaas van die fokus op die assessering van die produk (of die uitkomste). Daar moet geleer word hoe om te leer en kennis te genereer eerder as die weergee van kennisinhoude. As deel van die leerproses beklemtoon sy gesprekke en samewerking (met mense en KI) in teenstelling met die individualisme en kompetisie wat tans (oor)heers. Johannes Cronjé wys daarop dat ChatGPT produkte uitstekend kan genereer. Die leerproses lê egter in die sikliese manier waarop wenke aan ChatGPT gegee word en waarop die produk geëvalueer word. Leer bestaan onder andere daaruit om beter vrae te vra en nie tevrede te wees met maklike antwoorde nie.
Hierdie verskuiwing verteenwoordig ’n herlewing van Whitehead se prosesfilosofie soos verder ontwikkel in Deleuze se beklemtoning van “word” (becoming) in plaas van “wees” (being). Die wording of wordproses van die mens is ’n proses van leer.
Die noodsaaklike rol van die opvoeder is implisiet in die aanbiedings. Saam met Rancière is dit die taak om die vrae lewend te hou deur aan te hou vra na die redes en aannames, na dit wat nuut is, na wat nie sin maak nie (Rancière 1991). Franci Cronjé beklemtoon die belang van voortdurende aanmoediging/wenkgewing (prompting) en Johannes Cronjé dui aan dat ChatGPT opvoeders in staat stel om beter vrae te vra en om studente in staat te stel om indringende of diepgaande leer moontlik te maak.
In beide leer en navorsing gaan dit meer oor die prosesse waardeur kennis voortdurend geskep word. Daar moet dus baie meer klem gelê word op die metodes en strategieë wat gebruik word om kennis te genereer. Dit sluit in die eksplisiet maak van bronne en hoe daar met die bronne omgegaan word. Dit sou dus problematies wees om ChatGPT as ’n bron te lys, aangesien dit nie as sodanig kennis genereer wat deur portuurbeoordeling as legitiem beskou word nie. ’n Leemte van ChatGPT (op die oomblik) is dat dit nie eksplisiet aantoon hoe bronne geselekteer word en hoe dit gebruik en geëvalueer word nie. Deel van die leerproses is die voortdurende besinning oor hierdie metodes en strategieë.
In antwoord op ’n vraag van Jonathan Jansen beklemtoon Johannes Cronjé die belang van die gesitueerdheid van die student as die beginpunt van leer en assessering. Deur die student in die middel te plaas word die fokus geplaas op die individuele en unieke leerproses wat nie deur KI gesimuleer kan word nie en waarvoor daar nie tekstuele materiaal bestaan waarvan ChatGPT gebruik kan maak nie. Die leerproses is uniek vir elke student en so ook die manier waarop met KI omgegaan word. Alhoewel KI dus uitstekende antwoorde in reaksie op die wenke bied, gee dit nie ’n bevredigende antwoord vir hierdie spesifieke student in ’n spesifieke konteks nie. Hierdie insig kan verder gevoer word deur die rol van kontekstuele kennis van toepassing te maak op die ontwikkeling van inheemse kennisse.
4. Assessering en die etiek van leer
Die paneellede raak op verskillende maniere die kwessie aan van assessering waarin die implikasies aangetoon word van die verskuiwing na die prosesse van leer. Die paneellede maak dit duidelik dat die tyd verby is om kennisinhoude te assesseer. Daar moet eerder gefokus word op die prosesse van die generering van kennis. Vir Johannes Cronjé is die fokus op die vermoë om dit wat KI genereer te kan evalueer. Franci Cronjé toon aan hoe kreatiwiteit en kritiese denke ontwikkel kan word deur van studente te verwag om valshede in ’n teks te identifiseer en reg te stel. Assessering kan nie meer gerig wees op die “antwoorde” nie, maar moet eerder fokus op die gehalte en kontekstualiteit van die leerproses. Van meer belang as die (korrekte) antwoorde, is die denkprosesse waardeur daar gegaan word om by ’n antwoord uit te kom .
Assessering wat nie vra na die etiese waarde van die leerproses nie, verloor die goeie van die onderwys uit die oog. Roze Phillips raak die etiese vraag aan na die rol van onderwys om by te dra tot beter menswees. Sy stel dit dat KI ons kan inlig oor wat is, maar nie oor wat behoort te wees nie. Die prioritisering van die waardevraag is belangrik, maar kan nie meer vanuit ’n humanistiese perspektief gesien word nie. Hierdie humanistiese siening word bevraagteken deur McEwan (2019) se Machines like me waarin die morele konsekwentheid van KI in kontras gestel word met mense se morele dubbelsinnigheid. Die vooruitsig dat ons eendag deur ’n mens-KI-kollektief beheer gaan word is dalk nie so donker nie, as ons maar net dink aan die veglustigheid en morele bedenklikheid van baie politieke leiers. KI kan ons wel help om eties meer konsekwent te wees.
Die paneelbespreking, die groot aantal deelnemers en die lewendige “chat” is ’n belangrike stap om nuut te dink oor ons toenemende interaksie met KI en die implikasies vir die onderwys. Aangesien daar risiko’s is, moet opvoedkundiges en navorsers die geleentheid aangryp om aktief te kan deelneem aan ’n lewe met KI.
Dirk Postma
Kollege van Onderwys
Unisa
13 Maart 2023
Bibliografie
Latour, B. 1991. Technology is society made durable. In A sociology of monsters: Essays on power, technology and domination (ble 103–31). Routledge.
McEwan, I. 2019. Machines like me. Jonathan Cape.
Rancière, J. 1991. The ignorant schoolmaster. Five lessons in intellectual emancipation (K Ross, vert). Stanford University Press.
Stiegler, B. 1998. Technics and time, 1. The fault of Epimetheus (R Beardsworth en G Collins, verts). Stanford University Press.
Eindnota
1 https://research.assaf.org.za/handle/20.500.11911/275
https://www.facebook.com/academyofsa/videos/754756962555294
Lees ook
Is ChatGPT ’n bruikbare hulpmiddel vir akademiese skryfwerk?
Hoe verskil ChatGPT van Microsoft en Google se gespreksagente?
To Google or to Chat? Getting information is likely to change
LitNet-AfriKI-miniseminaar: Kunsmatige intelligensie as skrywer