1. Inleiding
Voor- sowel as nagraadse studente – en selfs dosente – sukkel met akademiese skryfwerk. Nie alleen met betrekking tot die skryf daarvan nie, maar ook met betrekking tot bronverwysings en bronnelyste. Daarom neig studente om by ander af te skryf of om plagiaat te pleeg deur nie korrek na aangehaalde bronne te verwys nie. Beide vorme van akademiese oneerlikheid word as ’n ernstige misdryf beskou wat tot skorsing kan lei. In ’n poging om akademiese oneerlikheid te beperk en etiese navorsing te bevorder, vereis dosente dat studente akademiese skryfwerk in sagteware soos Turnitin invoer om ooreenkomste met die werk van ander studente en gepubliseerde tekste te identifiseer.
Hierdie taak word sedert 30 November 2022 bykans onmoontlik gemaak omdat OpenAI (OpenAI 2022) op dié dag ’n webgebaseerde kletsbot, naamlik ChatGPT, beskikbaar gestel het wat versoek kan word om opdragte vir mense uit te voer. Dit het daartoe bygedra dat derdeparty-ontwikkelaars kletsbotte in die toepwinkels beskikbaar gestel het wat heel skaflike wetenskaplik-gefundeerde KI-artikels kan skryf wat ook akademiese oneerlikheid kan bevorder.
Ek het een van die kletsbotte wat in iStore gepubliseer is, naamlik ’n toep getiteld ChatGPTi, vir die doel van hierdie artikel getoets om te bepaal of studente verlei gaan word om KI-artikels as hulle eie werk in te dien om moontlike oplossings voor te stel. Daarom moet ek die kletsbot eers bekend stel.
Die toep genaamd ChatGPT is nie OpenAI se kletsbot nie. Die webgebaseerde kletsbot, naamlik ChatGPT, is wel OpenAI se kletsbot, wat tans nie ’n offisiële toep het nie. Aangesien die naam verwarring kan skep, gebruik ek die woord “kletsbot” in die res van die artikel om na hierdie toep te verwys.
2. Die kletsbot
Die kletsbot wat ek getoets het (sien Figuur 1) kan gratis op slimfone en tablette afgelaai word om binne sekondes verskeie soorte skryfwerk op versoek van die gebruikers te skep.
Dit is deur Yao Shibin ontwikkel en die kletsskerm lyk amper soos dié van WhatsApp, Telegram en Signal, met kommentaarblokke vir die deelnemers aan die gesprek. Maar dit is waar die ooreenkoms eindig, aangesien die kletsbot met jou in gesprek tree. Daarom kan dit eintlik as ’n persoonlike assistent beskou word.
Hierdie persoonlike assistent kan met die gebruiker daarvan in gesprek tree om op opdrag ’n wye verskeidenheid skryfstukke te skryf.
Die vermoë van ’n masjien (soos die kletsbot) om met ’n mens in gesprek te tree om ’n opdrag uit te voer, staan as kunsmatige intelligensie (KI) bekend.
Die gehalte van die KI van ’n masjien hang van die gehalte van die databasis van die masjien af. Maar, die databasis brei ook uit terwyl die kletsbot met mense in gesprek tree – ’n proses wat as masjienleer bekend staan. Daarom kan daar geredeneer word dat die uitsette van die kletsbot met verloop van tyd kan verbeter. Tans kan die kletsbot versoek word om ’n wye verskeidenheid opdragte (soorte skryfstukke) uit te voer.
Op slimfone kan die volgende opdragte gegee word:
- Write a story
- Write an outline
- Write a poem
- Write an apology letter
- Write a song
- Write New Year wishes.
Alhoewel dieselfde opdragte op tablette gegee kan word, kan tabletgebruikers die kletsbot ook opdrag gee om die volgende te skryf:
- Write a reply
- Write a paper
- 2022 Summarize.
Indien op laasgenoemde instruksie geklik word, bied die kletsbot ’n kort opsomming van ’n 2022-gebeurtenis – soos byvoorbeeld die Wêreldsokkerbeker. Dit is baie eenvoudig om die kletsbot te gebruik. Jy maak die toepassing op jou slimfoon of tablet oop, kies die soort skryfstuk wat jy verlang (Figuur 2), rig jou versoek om oor ’n spesifieke onderwerp te skryf en die versoek word binne sekondes uitgevoer.
Aangesien ek akademiese artikels skryf, maar ook as akademiese skryfkonsultant vir nagraadse studente aan die Universiteit van die Vrystaat optree, was ek nuuskierig oor die gehalte van artikels wat deur ’n masjien geskryf is, en meer spesifiek die KI-artikels wat die kletsbot kan skryf. Met ander woorde, sou die kletsbot studente kon verlei om die kletsbot as persoonlike navorsingsassistent te gebruik om opdragte te gee om die KI-artikels namens hulle te skryf? Hierdie moontlikheid word in die volgende afdeling ondersoek.
3. Gehalte van KI-artikels wat die kletsbot geskryf het
Nadat ek op “Write Paper” geklik het, het die kletsbot – wat homself as AI Writer voorstel – onmiddellik gevra waaroor hy (“dit” of “sy” kan ook werk) moet skryf en sommer ook ’n voorbeeld gegee van die formaat van so ’n versoek (Figuur 3):
Die voorbeeld het die indruk gewek dat dit wel oor ’n akademiese onderwerp kan skryf. Daarom het ek die kletsbot versoek om ’n aantal KI-artikels oor akademiese onderwerpe te skryf. Vervolgens bespreek ek die gehalte van enkele daarvan om te probeer bepaal of studente verlei kan word om hulself aan hierdie nuwe vorm van akademiese oneerlikheid skuldig te maak. Aangesien die kletsbot met my Engels gepraat het, het ek die opdragte aanvanklik in Engels gegee.
3.1 Gehalte van die Engelse KI-artikels
Ek het die kletsbot versoek om oor “social networks, social network analysis, mixed methods en duoethnography” te skryf omdat ek weens my navorsingsfokus die korrektheid van die inhoud van die artikels sou kon beoordeel. Nadat ek die eerste opdrag (“Write about social networks”) ingetik het, het ’n kort video-advertensie (minder as een minuut) gespeel. Ek kon daarna op die X in die regterkantste boonste hoek klik om die advertensieskerm te sluit. Tot my verbasing was die KI-artikel gereed. Anders as in die geval van die rekenaartoepassing, berg die toepassing nie die resultate nie, maar ek kon die KI-artikels moeiteloos kopieer en in ’n MS Word-dokument plak om op my eie rekenaar te berg.
Die gehalte van die Engelse KI-artikels was verrassend goed en die formaat van die artikels het verskil. Die kletsbot het my egter nie gevra of dit my reg verstaan het wat sosiale netwerke betref nie. Die kletsbot het egter eerder geraai dat ek ’n skryfstuk vereis oor tegnologie wat verbindings moontlik maak, eerder om seker te maak dat hy reg verstaan, aangesien ek wou hê dat hy oor die netwerk van verhoudinge tussen mense moes skryf. Ek het die rubriek van die Centre for Graduate Support van die Universiteit van die Vrystaat, wat ek gebruik om die akademiese skryfwerk van nagraadse studente te beoordeel, gebruik om die KI-artikels te beoordeel. In al die gevalle sou die meeste van die afdelings van die KI-artikels as “competent” en selfs “excellent” beoordeel kon word.
Twee van die artikels, naamlik “social networks” en die “social network analysis”, was in opstelformaat geskryf, met goeie inleidende en slotparagrawe. Die inhoud van die wetenskaplik gefundeerde opstelle was in goeie paragrawe ingedeel wat op spesifieke gedagtes gefokus het, byvoorbeeld voor- en nadele – iets waarmee nagraadse studente sukkel. Indien ’n student een van hierdie KI-artikels vir eksamendoeleindes ingedien het, kon slaagpunte verdien word. Indien ’n student dit as ’n akademiese skryfstuk wou indien, moes dit verbeter word deur inteksverwysings by te voeg en ’n bronnelys te verskaf.
Die artikel oor “duoethnography” (sien teksblok hieronder) het egter getoon dat die kletsbot wel inteksverwysings kon doen, asook die teks in onderafdelings kan verdeel.
Opdrag: Write a paper about duoethnography Introduction Duoethnography is an empirical approach to research that has developed in the last two decades, and is defined as “the systematic study of the co-constructed experiences of two or more people” (Ellis & Bochner, 2000, p. 1). It is an interdisciplinary research method that combines qualitative, autoethnographic, and dialogic approaches to study the shared experiences of two or more people. It has a strong focus on research partnerships and collaboration, and is particularly useful for examining social relationships and cultural practices. This paper will discuss the history and development of duoethnography, the general research process, and the strengths and limitations of this approach.[baie goed!] History and Development of Duoethnography Duoethnography was first developed by Carolyn Ellis and Arthur Bochner in the late 1990s (Ellis & Bochner, 2000). It was initially seen as an extension of autoethnography, which is a qualitative research approach that examines the researcher’s own personal experiences. [onderskei twee navorsingmetodes] Duoethnography expanded on this concept by looking at the shared experiences of two or more people, and emphasizing the importance of collaboration between the researchers themselves. The development of duoethnography was heavily influenced by the dialogic approach of Mikhail Bakhtin, a Russian philosopher and literary theorist. Bakhtin emphasized the importance of dialogue in understanding the world, and argued that knowledge is constructed through the engaging and interactive exchange of ideas. This idea was key to the development of duoethnography, and its focus on collaborative research partnerships. Research Process The research process for duoethnography usually begins with a period of preparation and engagement between the partners. This involves discussing the research topic and the roles that each partner will play, and can involve the use of tools such as questionnaires and focus groups to gather initial data. Once the partners have established a common understanding of the topic, they can then begin their data collection. [goeie paragraaf] Data collection typically involves the use of qualitative methods such as interviews, field observations, and document analysis. The partners can also engage in reflective conversations to better understand their shared experiences, and this can be recorded as part of the data collection process. Once the data has been collected, the partners can then begin the process of analysis. [goeie paragraaf] Analysis [goeie skakel met vorige paragraaf] involves the careful examination of the data and the identification of themes and patterns. This can be done through the use of coding and other analytical techniques. The partners can then use this analysis to create a narrative account of their experiences, which is then shared with other researchers and the broader community. Strengths and Limitations Duoethnography is a valuable research method, as it allows researchers to capture the complexities of social relationships and cultural practices. This approach also encourages collaboration between the partners, which can help to build trust and understanding. In addition, duoethnography allows for the exploration of multiple perspectives, which can help to increase the validity of the research. [baie goed] However, duoethnography does have its limitations. For example, it can be difficult for the partners to remain objective, as their personal experiences and biases may influence the data and analysis. In addition, the research process can be time-consuming and labor-intensive, and it can be difficult to maintain the collaborative relationship between the partners. Finally, duoethnography is not always suitable for large-scale research projects, as the partners may not be able to effectively capture the complexity of the data. [baie goed] Conclusion In conclusion, duoethnography is a valuable research method that has been developed in the last two decades. It is an interdisciplinary approach that combines qualitative and autoethnographic methods to study the shared experiences of two or more people. The research process involves the collection of data through qualitative methods, followed by a period of analysis and the creation of a narrative account. Duoethnography has several strengths, such as its focus on collaboration and its ability to capture multiple perspectives. However, it also has limitations, such as its potential for bias and its difficulty in scaling up for large research projects. [goeie slotparagraaf] |
Hierdie artikel was ook wetenskaplik gefundeerd. Dit was indrukwekkend dat die kletsbot die term duoethnography herken het. Alhoewel ek MS Word probeer leer dat dit nie ’n spelfout is nie, word dit elke keer as ’n spelfout gemerk. Verder stel MS Word verkeerdelik die term outoethnography voor, terwyl die kletsbot “geweet” het dat dit nie ’n sinoniem is nie (sien die KI-artikel). Die inhoud van die KI-artikel was van uitstaande gehalte – sien my opmerkings (die rooi gedeeltes in die teksblok): Die feite is korrek, die skakelsinne tussen paragrawe was baie goed, die skryfstuk is in afdelings ingedeel, die inhoud is onder spesifieke opskrifte bespreek, die inleidende en slotparagrawe is goed geskryf en daar is selfs inteksverwysings. Maar daar is geen bronnelys verskaf nie. Aan die hand van die rubriek sou verskeie van die afdelings van die KI-artikel as “competent” en selfs “excellent” beoordeel kon word. Na my mening sou ’n student ’n onderskeidingspunt hiermee kon verdien indien volledige bronverwysings en ’n bronnelys bygevoeg sou word.
Aangesien daar inteksverwysings was, het ek gewonder of die kletsbot versoek kan word om die bronnelys ook te verskaf:
Opdrag: Write a paper about duoethnography and include the list of references Introduction Duoethnography is a research methodology that involves two researchers working together to study a particular phenomenon, while incorporating their own perspectives and interpretations [baie goed]. This method of research allows researchers to bring together two distinct, yet complementary, perspectives to create a fuller understanding of a research topic [baie goed]. By combining their personal and collective experiences, duoethnographers can gain insights into a phenomenon that would not be possible with traditional ethnographic research. Definition [goeie opskrifte] Duoethnography is a collaborative research approach that combines the traditional research methods of ethnography and autoethnography. It focuses on the experiences of two or more people who work together to explore a particular phenomenon. The goal of duoethnography is to create a fuller understanding of the phenomenon by combining the researchers' personal knowledge with traditional ethnographic data. Duoethnography has been used to study a variety of topics, including family dynamics, education, healthcare, and workplace dynamics. [baie goed] Process The process of duoethnography begins with the selection of a research topic. After the topic has been chosen, the duoethnographers will then collaborate to identify and collect relevant data. This data can include interviews, fieldwork, and participant observations. The duoethnographers will then analyze the data together, discussing and debating the various interpretations of the data. By combining their perspectives, the duoethnographers can gain a more comprehensive understanding of the research topic. Finally, the duoethnographers will write up the results of their study in a report or paper. [goeie beskrywing van die proses] Advantages One of the major advantages of duoethnography is that it allows for a more comprehensive understanding of a phenomenon. By combining two distinct perspectives, duoethnographers can gain insight into a topic that would not be possible with traditional ethnographic research. Additionally, duoethnography allows researchers to develop a deeper understanding of the phenomenon and to identify potential solutions to problems. Moreover, duoethnography can help to foster collaboration between the researchers, allowing them to develop a more meaningful relationship. [baie goed, veral die laaste sin] Limitations While duoethnography has several advantages, there are also some potential limitations [goeie skakelsin]. One of the main limitations is that duoethnography can be time-consuming and may require a significant amount of coordination between the researchers. Additionally, the process of data collection and analysis can be challenging, as the duoethnographers must work together to identify and analyze relevant data. Finally, duoethnography relies heavily on the perspectives of the researchers, which can lead to potential bias. [baie goed] Conclusion Duoethnography is a collaborative research approach that combines traditional ethnographic research methods with autoethnography. It allows for a more comprehensive understanding of a phenomenon by combining the perspectives of two or more researchers. While duoethnography has several advantages, there are also some potential limitations, such as the need for a significant amount of coordination and the potential for bias. Despite these limitations, duoethnography can be a valuable tool for researchers looking to gain a deeper understanding of a phenomenon. [goeie slotparagraaf] Berg, B.L. (2009). Qualitative research methods for the social sciences. Boston, MA: Allyn & Bacon. Ellis, C. (2004). The ethnographic I: A methodological novel about autoethnography. Walnut Creek, CA: AltaMira Press. Ellis, C., Adams, T.E., & Bochner, A.P. (2011). Autoethnography: An overview. Forum Qualitative Sozialforschung/Forum: Qualitative Social Research, 12(1). [bladsynommers?] Hobbs, D., & Adams, T. E. (2016). Duoethnography: Dialogically conducting autoethnography and traditional ethnography. International Journal of Qualitative Methods, 15(5). [bladsynommers?] Krueger, R.A., & Casey, M.A. (2015). Focus Groups: a practical guide for applied research. Thousand Oaks, CA: Sage Publications. Van Manen, M. (1990). Researching lived experience: Human science for an action sensitive pedagogy. London, ON: Althouse Press. |
Ek was weer eens verras – die kletsbot het my verstaan en ’n bronnelys verskaf. Die bronnelys was in ’n spesifieke styl geskryf, maar twee van die bronne is onvolledig weens ontbrekende bladsynommers. ’n Student sou dit wel kon gaan opsoek om die bronnelys volledig te maak. Weer eens kan die meeste van die afdelings van hierdie wetenskaplik gefundeerde artikel as “competent” of “excellent” beoordeel word. Indien volledige inteksverwysings ingevoeg word, kan dit as ’n baie geslaagde akademiese skryfstuk beskou word.
Die vermoë van die kletsbot om verskillende artikel op grond van dieselfde opdrag te skryf behoort ondersoek te word, aangesien dit ’n dosent se taak sou bemoeilik om studente uit te vang wat KI-artikels as hulle eie werk indien. Dit het my oor plagiaat en die kletsbot laat dink.
Daarom het ek die artikels in Chegg – gratis sagteware vir die opspoor van moontlike plagiaat – ingevoer om te bepaal of die kletsbot plagiaat pleeg. Daar was egter min ooreenkomste, dus kon die KI-artikels die plagiaattoets slaag. ’n Nuwe vorm van plagiaat is egter moontlik as twee studente presies dieselfde KI-artikels ontvang en indien. Alhoewel hulle nie mekaar se werk gekopieer het nie, het hulle werk ingedien wat hulle nie self geskryf het nie. Dit is moontlik dat plagiaat later geïdentifiseer sal kan word indien studente verplig word om alle akademiese skryfstukke in Turnitin in te voer. Tydens die proses word die databasis van Turnitin uitgebrei om studente te identifiseer wat dieselfde KI-artikel as hulle eie werk ingedien het – al was dit by verskillende dosente of universiteite. Die vraag is wat gedoen kan word, aangesien die studente nie die artikels by mekaar afgeskryf het nie. Ek wil wel voorstel dat hulle van akademies oneerlikheid aangekla word omdat hulle nie die navorsing self gedoen het en die artikel self geskryf het nie.
Aangesien OpenAI beweer dat hulle gemengde welslae in ‘n beperkte aantal ander tale met hulle webgebaseerde kletsbot gehad het, het ek besluit om hierdie kletsbot se welslae met betrekking tot Afrikaanse KI-artikels te ondersoek.
3.2 Gehalte van ’n KI-artikel in Afrikaans
Charlize Theron het onlangs beweer dat Afrikaans aan die uitsterf is en dat slegs 44 mense die taal nog kan praat. Daarom het ek gewonder of die kletsbot Afrikaans verstaan en vir my Afrikaanse KI-artikels sou bied. Ek het bevind dat dit wel ’n Afrikaanse artikel oor ’n moeilike onderwerp kon skryf, soos hier blyk:
Opdrag: Skryf ’n artikel oor sosiale netwerk analise, met ’n bronnelys Sosiale netwerk analise (SNA) is ’n metode wat gebruik word om verhoudings tussen mense, organisasies, kennis en ander elemente binne ’n netwerk te verken. Die metode gebruik ’n verskeidenheid tegnieke en metings om ’n gedetaileerde analise van ’n [sosiale] netwerk te verskaf. Dit kan gebruik word om verskillende soorte [sosiale] netwerke te ondersoek, insluitend sosiale, ekonomiese, politieke en kulturele netwerke. SNA is ’n interdissiplinêre veld wat deurlopend evolueer [verander]. Die metode gebruik verskeie data-invoertegnieke, insluitend [vee uit] dekonstruksie [verduidelik], kwantitatiewe en kwalitatiewe analise, visualisasie, samestelling, analise en simulering. Dit is ’n kragtige metode wat wyd gebruik word in verskillende akademiese en nie-akademiese velde. SNA is in staat om ’n verskeidenheid inligting oor ’n netwerk te verskaf. Dit sluit in verhoudings tussen elemente [nodes eerder], die netwerk struktuur, die invloed van ander netwerke [onduidelik] en die krag van netwerkelemente. Dit kan ook gebruik word om netwerkpatrone te identifiseer en om ’n oorsig oor die netwerk se sterktes en swakhede te verkry. [goeie werk] SNA is ’n nuttige gereedskap om die kompleksiteit van sosiale netwerke te ontleed en te verken. Die metode [kan] bied [vee “bied” uit] ’n volledige oorsig van ’n netwerk [bied] en kan baie [vee “baie” uit] gebruik word om ’n wye verskeidenheid problematiek te ondersoek. 1. Doreian, P., & Mrvar, A. (2006). Sosiale netwerk analise: ’n kort oorsig. Sociologie, 42(1), 15–44. 2. Borgatti, S. P., & Everett, M. G. (2006). Sosiale netwerk analise. Buiten die kantoor, 1(2), 1–27. 3. Merton, R. K. (1957). Sosiale netwerk analise. American Sociological Review, 22(6), 635–658. 4. Wasserman, S., & Faust, K. (1994). Sosiale netwerk analise: metodes en toepassings. Cambridge: Cambridge University Press. |
Charlize was toe verkeerd – die kletsbot kan as ’n Afrikaanssprekende navorsingsassistent beskou word. Die KI-artikel was – net soos die Engelse KI-artikels wetenskaplik-gefundeerd en in keurige Afrikaans geskryf, die meeste feite is korrek, ander moes so effens beter gestel word, die inhoud is in paragrawe ingedeel wat rondom enkele gedagtes sentreer, en die inleiding en slot is goed geskryf. Die bronnelys bevat min foute, omdat bladsynommers ook gebied word en die titels van die bronne is in Afrikaans vertaal. Indien ek die rubriek gebruik, kan die meeste van die afdelings van hierdie KI-artikel as “competent” of selfs “excellent” beoordeel word. Gebaseer op die gehalte van die KI-artikels, kan daar afgelei word dat ’n aantal nuwe uitdagings aan dosente gestel word, ook in Afrikaanse klaskamers.
3.3 Kan studente verlei word om hierdie kletsbot te gebruik om akademiese skryfwerk namens hulle te doen?
Die antwoord is ’n definitiewe ja, omdat die kletsbot reeds vroeg in 2023 in staat was om wetenskaplik gefundeerde KI-artikels te lewer wat
- op ’n wetenskaplike manier geskryf is
- slaagpunte kan verdien
- bronne en bronverwysings insluit
- binne enkele sekondes beskikbaar is
- van ander KI-artikels (kan) verskil
- heel moontlik ooreenstemmigheidtoetse kan slaag sodat hulle nie van plagiaat aangekla word nie.
Daarmee word ’n aantal uitdagings geïdentifiseer.
4. Nuwe uitdaging wat akademiese skryfwerk betref
Gebaseer op die moontlikheid dat studente reeds in 2023 KI-artikels as hulle eie werk kan indien, gaan dosente vanjaar reeds voor ’n aantal uitdagings te staan kom.
Die eerste uitdaging is om studente uit te vang wat KI-artikels as hulle eie werk ingedien het. Die taak kan bemoeilik word indien die kletsbot elke keer nuwe KI-artikels skryf. Dit is wel moontlik dat dieselfde KI-tekste geskep kan word, aangesien ek dieselfde storie oor liefde twee keer ontvang het. Indien twee studente identiese KI-artikels indien, kan hulle wel uitgevang word. Indien nie, gaan dit moeiliker wees, omdat die gehalte van taalgebruik nie as ’n maatstaf gebruik kan word om akademiese oneerlikheid uit te wys nie.
Die tweede uitdaging word deur die gehalte van die KI-artikels geskep. Ek het die Afrikaanse KI-artikel in Chegg, gratis aanlyn sagteware vir die opspoor van moontlike plagiaat, ingevoer en ’n 74%-resultaat gekry. Daaruit kan afgelei word dat daar min ooreenkomstigheid is – wat impliseer dat die kletsbot unieke teks skryf wat verkeerdelik as ’n student se eie werk beskou kan word.
Die derde uitdaging is om te bepaal hoe studente wat hulle aan hierdie nuwe vorm van plagiaat skuldig maak, hanteer gaan word. Alhoewel dit nie hulle eie werk is nie, is die werk wel deur “iemand anders” gedoen – al is die “iemand” ’n masjien wat as ’n persoonlike navorsingsassistent ingespan is. Weens die gehalte van die artikels is dit onregverdig om ’n student te laat slaag wat ’n KI-artikel as eie werk ingedien het en een te laat druip wat ’n swakker artikel self geskryf het.
In die volgende afdeling kyk ek na moontlike oplossings vir die probleem.
5. Moontlike oplossings om die uitdagings te oorkom
Ek het my opdragte aangepas om maniere te soek waarop studente ontmoedig kan word om KI-artikels as hulle eie werk in te dien. In hierdie afdeling fokus ek op twee soorte assessering, naamlik summatiewe assessering en leergeoriënteerde assessering om moontlike oplossings te bied.
5.1 Metodes om te voorkom dat studente KI-artikels net so as eie werk indien
Aangesien die kletsbot die volgende versoeke nie reg uitgevoer het nie, stel ek voor dat studente versoek word om:
- ’n spesifieke getal woorde te skryf
- inteksverwysings, met bladsyverwysings, te gebruik
- meer as tien bronne te gebruik
- ’n ander styl vir bronverwysing te gebruik as wat die kletsbot gebruik
- alle KI-artikels in Turnitin in te dien sodat die KI-artikels wel in die databasis opgeneem word sodat soortgelyke KI-tekste mettertyd geïdentifiseer kan word.
Hierdie voorstelle gaan nie verhoed dat studente die kletsbot gebruik nie, maar dit kan hulle moontlik dwing om:
- self navorsing te doen om die korrekte getal woorde te bereik
- die bronne te gaan lees om inteks te kan verwys
- meer bronne te soek om die artikel te voltooi
- die styl van die bronnelys te verander
- eie navorsing te doen en die verslae self te skryf aangesien die moontlikheid bestaan dat die kletsbot dieselfde KI-artikel vir meer as een student sal skryf.
Indien Turnitin soortgelyke KI-artikels identifiseer, hetsy in dieselfde klas of met verloop van tyd, kan studente in die moeilikheid beland. Daarom behoort studente gewaarsku te word dat sodanige gevalle wel as plagiaat en akademiese oneerlikheid beskou sal word. Ek het gevind dat die woord plagiaat ’n goeie afskrikmiddel is – veral in nagraadse hoëronderwys. Daarom kan so ’n waarskuwing studente twee keer dink voordat hulle KI-tekste verbatim as eie werk indien.
5.2 Metodes om die kletsbot as vriend in te span
Indien daar weg beweeg word van summatiewe assessering na ’n leergeoriënteerde benadering tot assessering, kan kunsmatige intelligensie as vriend eerder as vyand beskou word. Leergeoriënteerde assessering is op drie beginsels gebaseer, naamlik dat (a) leertake eerder as assesseringstake ontwerp word, (b) studente as self- en eweknie-assesseerders by assessering betrek word en (c) terugvoer vinnig moet geskied om huidige sowel as toekomstige leer te bevorder.
In plaas daarvan dat kletsbotte verban word, kan studente versoek word om kletsbotte te gebruik om KI-artikels te skep, dalk sommer binne die eerste paar minute van ’n klas. Hulle kan ook geleer word hoe om die opdrag so te stel dat die artikels bronnelyste bevat. Daarna kan die studente versoek word om die Ki-artikels - individueel of in groepsverband – te verbeter.
Voorbeelde van sodanige versoek is om studente te versoek om:
- die gehalte van KI-artikels wat hulle self versoek het te beoordeel
- KI-artikels te verbeter
- inteksverwysings in te voeg – met bladsyverwysings
- die styl van die bronnelys te verander
- die artikel te verleng
- opskrifte te gebruik
- die bronnelys te verbeter
- meer as een KI-artikel te skep en dan saam te voeg om ’n nuwe artikel te skep
- mekaar se KI-artikels te evalueer.
Hierdie leertake kan studente verplig om ’n literatuurstudie te doen om die gehalte van die KI-artikels te verbeter, terwyl hulle terselfdertyd leer hoe om goeie artikels te skryf.
6. Uitdagings ten opsigte van akademiese skryfwerk, insluitend navorsingsverslae en moontlike oplossings
Die vraag is aan my gestel of kletsbotte akademiese navorsingsverslae soos verhandelinge of proefskrifte kan skryf.
Myns insiens is dit nie moontlik nie, omdat hierdie verslae baie lank is en van die begin tot die einde ’n aaneenlopende argument met die leser moet voer, ook binne elke hoofstuk. Daarom sou dit ook nie vir die kletsbot moontlik wees om akademiese artikels te skryf wat in vaktydskrifte gepubliseer word, of om boeke of hoofstukke van boeke te skryf nie. Die kletsbot kan ook nie die data vir empiriese navorsing ontleed en interpreteer nie; dit kan slegs doen wat die databasis moontlik maak.
Máár, die databasis van kletsbotte kan hulle wel in staat stel om gedeeltes van ’n proefskrif, verhandeling, artikel, hoofstuk of boek te skryf as dit in kleiner opdragte ingedeel word – veral wat die metodologie en literatuuroorsigafdelings (hoofstukke) betref. Daarom het ek hierdie moontlikheid getoets deur die volgende opdragte te gee:
- Skryf oor triangulering van data. (Dis suksesvol uitgevoer; het selfs voordele uitgelig.)
- Skryf oor Pearson se korrelasiekoëffisië (Goeie beskrywing; bied selfs gebruike aan.)
- Skryf oor wiki’s en die gebruike daarvan in opvoedkunde. (Kort beskywing; sewe bronne.)
Die KI-artikels was van wisselende gehalte, maar studente kan dit verbeter deur verdere navorsing te doen en die nodige bronverwysings in te voeg. Ek sou navorsers en studente egter nie aanraai om KI-artikels woordeliks te gebruik nie, veral omdat Turnitin se databasis uitgebrei gaan word soos wat studente hulle akademiese skryfstukke indien. Dit is dus wel nou moontlik – of sal later moontlik wees – dat ’n student of navorser van akademiese oneerlikheid verdink kan word indien:
- ’n ander navorser dieselfde KI-artikel gekry het en woordeliks gebruik het
- twee of meer studente dieselfde KI-artikel gekry het en dit by een dosent ingedien het
- twee of meer studente dieselfde KI-artikel gekry het en dit in Turnitin ingelees het.
In laasgenoemde geval kan ’n student van akademiese oneerlikheid verdink word, selfs al het hy of sy nie die ander persoon (wie se werk reeds in Turnitin ingelees is) onder oë gehad nie. Die verdagte student sou wel kon bewys dat ’n kletsbot die werk gedoen het as hy of sy ’n skermskoot van die KI-artikel geneem het. Maar dan was dit steeds nie eie werk nie.
Ek sou aanbeveel dat alle navorsingsverslae – van akademiese skryfstukke tot verhandelinge, proefskrifte, verslae, artikels en boeke – in sagteware soos Turnitin ingevoer word om die databasis van die sagteware so gou doenlik uit te brei om KI-artikels te herken. Sodoende kan die integriteit van uitgewers en navorsers beskerm word.
Die vraag wat dringende aandag verg, is of die kopiëring van KI-artikels wat die kletsbot vir ’n spesifieke persoon geskryf het, wel as plagiaat beskou kan word. Hoe verskil dit van die manier waarop statistici en wiskundiges masjiene gebruik om berekeninge namens hulle te doen? Ek vermoed die antwoord lê in die moontlikheid dat die KI-tekste presies met ander mense se werk kan ooreenkom. En dat so ’n geval wel as plagiaat – en akademiese oneerlikheid – gereken sal word.
7. Ten slotte
Die KI-artikels wat ek ontvang het, is nie alleen van uitstaande gehalte nie; ek het dit ook binne sekondes ontvang. Daarom is dit sinvol om te redeneer dat die kletsbot studente gaan verlei om dit te gebruik om akademiese skryfwerk namens hulle te doen. Dit gaan dosente hoofbrekens besorg, omdat dit aanvanklik moeilik gaan wees om tussen ’n student se eie werk en dié van ’n masjien te onderskei. Daarom stel ek voor dat dosente kletsbotte eerder omarm as om te probeer om studente te verbied om dit te gebruik.
Hierdie kletsbot bied moontlikhede om studente te leer om akademiese skryfwerk van uitstaande gehalte te lewer. Daarom stel ek voor dat dosente eerder ’n leergeoriënteerde benadering tot assessering volg. Wanneer die fokus op leer geplaas word, kan studente aangemoedig word om kletsbotte te versoek om KI-artikels te skryf wat hulle – individueel en/of in groepsverband – kan beoordeel en verbeter, ook wat bronverwysings en bronnelyste betref. Hulle kan die feitelike korrektheid van die KI-artikels ondersoek, inteksverwysings aanbring, teks in onderafdelings (met opskrifte) indeel, taalversorging doen en volledige bronnelyste saamstel. So kan kunsmatige intelligensie ’n vriend in hoëronderwysklaskamers word wat kan help om die gehalte van akademiese skryfwerk te verbeter.
Hierdie kletsbot is egter nog nie gereed om akademiese skryfwerk in die formaat van verhandelinge, proefskrifte, boeke of akademiese artikels te skep nie. Dit is egter wel reeds in staat om gedeeltes van afdelings van akademiese verslae te skryf, veral vir die metodologie en literatuuroorsighoofstukke of -afdelings. Ek sou navorsers en studente ten sterkste afraai om KI-artikels verbatim te kopieer, aangesien dit moontlik is dat ’n ander navorser dit ook gedoen het – in welke geval ’n ondersoek na akademiese oneerlikheid kan veroorsaak dat ’n navorser skuldig bevind word aan plagiaat – selfs al het hy of sy nie die ander teks gesien nie. Dit is iets waaraan geen navorser hom of haar skuldig wil maak nie.
Bronnelys
Cassidy, G. 2023. Queensland public schools to join NSW in banning students from ChatGPT. (https://www.theguardian.com/australia-news/2023/jan/23/queensland-public-schools-to-join-nsw-in-banning-students-from-chatgpt).
Eindnota
i Die naam van die toep het intussen in iStore na AI Writing – Pure AI verander, maar die logo is nie verander nie, ook nie die kleure of die skerms nie.
Lees meer oor:
> ChatGPT (’n KI rekenaartoepassing)
> AfriKI (die eerste KI wat skeppende, of kreatiewe, taal in Afrikaans genereer)
> Kunsmatige intelligensie op LitNet
Lees ook:
LitNet-AfriKI-miniseminaar: Kunsmatige intelligensie as skrywer
In gesprek met ChatGPT, ’n kunsmatig-intelligente rekenaartoepassing
Skepping of nabootsing? Kunsmatige intelligensie en intelligente kuns
Die eerste KI-gedig in Afrikaans: "Silwerwit in die soontoe"
AfriKI: Kunsmatige Intelligensie-gedigte in Afrikaans | Videolesing in Engels en Afrikaans
Kommentaar
Goeiste, wat 'n deeglike bespreking.
Dankie Christa, ek dink jy het menige dosent en onderwyser hiermee bemagtig.
Ja, beslis nuwe uitdagings, voordele en nadele.
Genugtig!
Interessant! Toekomsuitdaging vir dosente en onderwysers om tussen mens en masjien se werk te onderskei!
"Create more than one AI article and then merge them to create a new article." Or can the bot become familiar with student's styles of writing? Improve on it but keep the syntax?
Uitstekende oorsig en perspektief, Christa. Jou voorstelle is progressief en konstruktief.