Kopiereg en billike gebruik vir leke

  • 3

Ikon: Gerd Altmann, Pixabay | Tekening: Elf Moondance, Pixabay

...
Die beweegredes vir kopieregbeskerming is beloning en aansporing. As iemand die moeite gedoen het om ’n outeursregwerk te skep, en daardie werk voldoen aan die basiese vereistes, ontstaan kopiereg outomaties.
...

Wat is kopiereg? Hoekom is daar iets soos kopiereg? Mag ek iemand se kiekies op die sosiale media deel? Mag ek ’n gedig met WhatsApp na ’n vriendin stuur?

En wat van billike gebruik?

Naomi Meyer en Izak de Vries het by Catrina Wessels, ’n kopieregkonsultant en literêre agent, gaan aanklop om ons, in gewone taal, hierdie sake te laat verstaan.

***

Dankie dat ons mag vra, Catrina. Ons neem aan jy sal altyd vir mense aanraai om na ’n prokureur te gaan as hulle in ’n regsgeding betrokke is, maar kan jy asseblief vir gewone mense breë riglyne gee oor kopiereg?

Dankie vir die geleentheid. Ek sal beslis aanraai dat ’n regsgeding of spesifieke regsvraag met behoorlike regsverteenwoordiging of regsadvies aangepak word. Kopiereg is ’n tegniese veld. Ek sal my bes probeer met die breë riglyne.

Wat is kopiereg? Kom ons begin met kopiereg. In leketaal, asseblief, waarom is daar iets soos kopiereg en wie word daardeur beskerm?

Die beweegredes vir kopieregbeskerming is beloning en aansporing. As iemand die moeite gedoen het om ’n outeursregwerk te skep, en daardie werk voldoen aan die basiese vereistes, ontstaan kopiereg outomaties. Kopiereg is ’n bondel ekslusiewe regte ten opsigte van die outeursregwerk, waarvan die mees sentrale is: die eksklusiewe reg om kopieë te maak of ander te magtig om dit te doen. Só word die skep van oorspronklike werke aangemoedig.

Vir outeursregdoeleindes moet daar onderskei word tussen die outeur van die werk en die eienaar van die outeursreg daarin. Soms oorvleuel dié twee konsepte en verwys dit na dieselfde persoon, maar dit is nie altyd die geval nie. By kopieregwerke soos letterkundige werke, musiekwerke en artistieke werke is die outeur gewoonlik ook die eerste eienaar van die outeursreg in die werk. Die skepper van die werk is in hierdie gevalle dus die persoon wat daardie beskerming, beloning en aansporing geniet.

Is kopieregwetgewing dus belangrik en nie maar net ’n storm in ’n teekoppie nie?

Kopieregwetgewing is uiters belangrik. Outeursreg is ’n gekodifiseerde deel van ons reg. Dit beteken dat die Wet op Outeursreg die eerste stop is as ’n mens wil uitvind wat outeursreg behels, hoe dit ontstaan, vir hoe lank dit duur, wat jou regte as outeursregeienaar is, wanneer outeursreg geskend word en watter remedies daar vir sulke skendings is.

Daar is ook internasionale verdrae oor outeursreg. Die doel van hierdie verdrae is om outeursregstelsels wêreldwyd tot ’n mate te harmoniseer. Die lidlande wat die verdrae onderteken, gee uiting aan die inhoud daarvan in hul eie, binnelandse kopieregwetgewing. Dit is nog ’n rede waarom dit belangrik is.

Is daar kopiereg op prente, foto’s én tekste?

Ja, en meer. Die Wet op Outeursreg lys die volgende kategorieë van werke wat vir outeursreg in aanmerking kom, mits dit oorspronklik is: letterkundige werke, musiekwerke, artistieke werke, rolprente, klankopnames, uitsendings, programdraende seine, gepubliseerde uitgawes en rekenaarprogramme.

Beskerming: Sê nou ek is ’n kunstenaar (enige vorm van kuns), hoe kan kopieregwetgewing my beskerm?

Die regte wat jy in terme van die Wet op Outeursreg kry, is eksklusief. Dit verhoed dus dat ander partye onwettig kopieë of aanpassings van jou werk maak en dat roofkopieë wat outeursreg skend, verkoop of versprei word. Wanneer jy op sulke skendende optrede moet reageer, staan jy op vaste regsgrond met die Wet op Outeursreg aan jou kant.

Sê nou my boeke word onwettig as PDF’s op die internet rondgestuur, kan ek dit iewers aankla sonder dat die regsprosesse my ’n hoop geld kos?

Ongelukkig is daar nie tans ’n spesifieke liggaam wat sulke oortredings namens skrywers vervolg nie. Die twee opsies is: privaatregtelik (waar jy die oortreder hof toe neem om jou regte af te dwing) en strafregtelik (waar die staat die oortreding as ’n misdaad vervolg). 

Mag ek enige iets deel? Is daar iets soos kopieregvrye foto’s op die internet en waar kry ’n mens dit?

Ja, daar is kopieregvrye foto’s om van te kies. Foto’s wat in die openbare domein is, sal so aangedui word. Doen ’n internetsoektog spesifiek daarvoor. Lees die fynskrif.

Verder is daar baie foto’s waarvan kopiereg nog geld, maar wat onder ’n oop lisensie deur die outeursregeienaar beskikbaar gemaak word vir verdere gebruik – dalk met die oog op groter blootstelling en bekendheid in die mark. Die fotoplatform Pexels.com is ’n voorbeeld. Dit is gerig op die bied van foto’s wat gratis afgelaai en gebruik mag word. Die webwerf gee die opsie om die fotograaf te ondersteun deur ’n skenking, deur hul op hul sosiale media-platforms te volg en verskaf ook die teks waarmee erkenning aan die fotograaf gegee kan word, maar dit word nie aangebied as ’n voorwaarde vir gebruik van die foto nie.

Die sogenaamde Creative Commons-lisensies is nog ’n voorbeeld hiervan. Daar is steeds outeursreg in die werk, maar die eienaar daarvan stel dit oop vir gebruik onder die bepalings van die betrokke lisensie.

Mag ek in my persoonlike hoedanigheid, sonder iemand se toestemming, ’n foto of ’n skildery of ’n gedig of enige ander geskrewe stuk deel op die internet of die sosiale media? Of moet ek altyd onder alle omstandighede skriftelike toestemming vra?

Die algemene uitgangspunt is dat die kopiëring en verspreiding van ’n outeursregwerk, sonder die toestemming van die outeursregeienaar, ’n kopieregskending is, of dit nou ’n fisieke of digitale kopie is, aanlyn of andersins.

Vra dus toestemming of gebruik inhoud waarvoor toestemming nie nodig is nie omdat dit nie outeursregbeskerming het nie of omdat dit onder ’n oop lisensie vir hergebruik beskikbaar gemaak is.

Dit is wel moontlik om outeursregmateriaal aanlyn te deel sonder om outeursreg te skend, en dit is deur die deel van skakels. Sogenaamde “linking” is toelaatbaar en is nie ’n oortreding van outeursreg nie, aangesien geen wesenlike deel van die inhoud self gekopieer word nie, bloot ’n skakel wat dit vir lesers moontlik maak om deur te klik na die oorspronklike artikel. Sodoende word die inhoud gedeel sonder enige ongemagtigde reproduksie of skending van regte. Die onderliggende bron kry boonop erkenning.  

Moet ek altyd die skepper van die werk noem of die publikasie waar dit vandaan kom?

Ja, doen dit sover moontlik. Die Wet op Outeursreg maak nie net voorsiening vir die eksklusiewe regte van outeursreg nie, maar gee ook aan die outeur van die betrokke werk beskerming van haar morele regte. Morele regte erken die persoonlike band tussen die outeur en die werk wat sy geskep het. In artikel 20 van die Wet op Outeursreg lees ons dat die outeur, ongeag die oordrag van outeursreg, outeurskap van die werk kan eis (en dus as outeur erkenning kry) en beswaar kan maak teen enige verdraaiing, skending of verandering aan die werk wat vir haar eer of goeie naam nadelig is of sal wees. Skending van morele regte is vatbaar vir dieselfde strawwe as wat vir outeursregskending uitgeloof kan word.

Wat van billike gebruik? Mag ek ’n resensie doen oor ’n digbundel in ’n koerant of op LitNet, en byvoorbeeld ’n deel van ’n gedig aanhaal in die resensie sonder skriftelike toestemming?

Ja, dit behoort heeltemal in die haak te wees. Artikel 12 van die Wet op Outeursreg maak voorsiening hiervoor met die sogenaamde billike gebruik-uitsonderings. Dit gee spesifieke kontekste waarbinne dit nie nodig is om kopieregtoestemming te verkry ten opsigte van letterkundige en musiekwerke nie, mits die gebruik billik is. Die uitsonderings is: 1. vir doeleindes van navorsing of private studie, 2. vir doeleindes van beoordeling of resensie, soos in hierdie voorbeeld, en 3. ten einde oor sake van die dag verslag te doen.

In Suid-Afrika volg ons tans ’n beleid van “fair dealing” wat onderskei moet word van ’n stelsel van “fair use”. “Fair dealing” werk met ’n geslote lys van doeleindes waarvoor toestemming van die outeursregeienaar nie nodig sal wees mits die gebruik billik is nie, soos hierbo genoem. Die “fair use”-stelsel wat deur die Wysigingswetsontwerp op Outeursreg voorgestel word, is ’n veel oper benadering. Daar is nie sprake van beperkte, toegelate gebruike nie. Kopieregwerke kan vir min of meer enige doel gratis en sonder toestemming gebruik word, mits die gebruik “billik” is. Indien jy voel iemand het jou werk sonder toestemming gevat en dat die gebruik nie billik is nie, sal jy jou na ’n hof moet wend om die vraag na billikheid op die feite te beoordeel. Dit word met behulp van ’n aantal faktore bepaal.

Wat van boeke se voorblaaie? Die uitgewers gaan gek raak as elke resensent elke keer aandring op ’n geskrewe brief dat ons ’n boek se voorblad mag plaas?

Die billike gebruik-uitsondering vir resensies geld slegs ten opsigte van letterkundige en musiekwerke. Die omslagontwerp word dus nie daarby ingesluit nie. Indien die uitgewer se reklamespan self daardie voorblad uitstuur vir moontlike plasing deur mediaplatforms, is daar sekerlik ’n geïmpliseerde lisensie om dit wel te doen en is geen geskrewe brief nodig nie.   

En kuns? As ek ’n resensie doen oor ’n kunsuitstalling, mag ek ’n kiekie neem van een van die skilderye en dit gebruik in ’n resensie – tensy daar duidelik gesê word ek mag nie?

Artikel 12 se billike gebruik-uitsonderings geld slegs vir letterkundige en musiekwerke, nie vir artistieke werke soos ’n skildery nie.

Mag ek geld maak met ander se werk? Sê nou ek sien ’n mooi skildery in ’n galery, neem ’n kiekie en druk 100 T-hemde met daardie skildery op. Mag ek dit doen en dit verkoop?

Nee. Om afskrifte van die kunswerk te maak, is ’n eksklusiewe reg van die outeursreghouer. Dit sal kopieregskending wees indien jy dit sonder toestemming doen. Dat jy geld gemaak het uit die skending, sal ’n verswarende faktor wees indien ’n hof die saak sou oorweeg.

Of wat van ’n gedig? Mag ek ’n gedig op ’n T-hemp druk en dit verkoop?

Nee. Die beginsel is dieselfde.

Sê nou ek het ’n mooi kiekie van ’n bekende skilder wat al baie lankal dood is, mag ek dit op my T-hemp druk en dit verkoop? 

As die werk in die openbare domein is, mag dit sonder toestemming gebruik word. Dit sluit kommersiële gebruik in. 

Wat is iemand kla oor iets wat ek gedoen het? Sê nou ek deel iets en iemand kla. Wat is die regte ding om te doen?

As dit op grond van kopieregskending is en jy is sonder ’n verweer (byvoorbeeld dat een van die billike gebruik-uitsonderings geld), moet jy besef dat jy (dalk onwetend) die wet oortree het en iemand se kopiereg geskend het. Verwyder die inhoud liefs en sê jammer. Jy kan uitvind of daar omstandighede is waarin die outeursregeienaar toestemming sal gee vir jou aangehoue gebruik van die foto, maar respekteer hul besluit en volg dit na.

Die internet raak al ’n bietjie van ’n skrootwerf, ’n kuberruim vol van ruimterommel. Sê nou iemand kom af op ’n stokou foto wat ek lank gelede gedeel het, en hulle kla daar is kopiereg op die foto. Wat is die klaer se regte en wat is my regte, as ek dit in goeder trou geplaas het?

As die klaer die eienaar van die outeursreg in die foto is, het sy ’n bondel eksklusiewe regte ten opsigte van daardie werk. As jy sonder haar toestemming daardie foto gereproduseer en versprei het, is dit ’n skending van haar outeursreg. Sy kan jou inlig hiervan en eis dat jy dit verwyder.  Dat jy dit te goeder trou geplaas het, is moontlik ’n versagtende oorweging indien die saak in die hof sou draai, maar dit verander nie die feit van die outeursregskending self nie.

Indien jy meen dat jou plasing van die foto onder ’n billike gebruik-uitsondering val en dus nie toestemming geverg het nie, het jy hoogstens ’n verweer teen ’n eis van kopieregskending, nie enige regte ten opsigte van die geplaaste inhoud nie.

Die wetgewing: Kan ons die bestaande kopieregwetgewing van hierdie land vertrou?

Ja. Die Wet op Outeursreg is weliswaar verouderd en moet hersien word om met die digitale era tred te hou, maar dit is ’n bruikbare stuk wetgewing, regstegnies korrek en duidelik. Dit moet wel dringend aangepas word om ’n kopiereguitsondering vir blinde en siggestremde lesers te skep.

Nou is daar ’n nuwe wetsontwerp. Jy het al vir LitNet hieroor geskryf. Wat pla jou van die voorstelle oor hierdie nuwe wetsontwerp en waarom moet ek gaan lees wat jy geskryf het? 

Ek is bevrees dit gaan groot onsekerheid bring en ’n groot verswakking van outeursreg deur die voorgestelde instel van ’n hibriede “fair use”-beleid en ander breë kopiereguitsonderings. Daar is tereg vrese oor erge skade aan die skeppende bedrywe in Suid-Afrika, veral ook die boekbedryf. Lees op hieroor om jouself in te lig en jou stem te laat hoor. Die wetsontwerp word tans provinsiaal oorweeg.

Lees ook:

Submission in opposition to the current Copyright Amendment Bill

The Copyright Amendment Bill: an interview with Sadulla Karjiker

The Copyright Amendment Bill: an interview

Nuwe kopieregwetgewing: Wat skrywers moet weet

  • 3

Kommentaar

  • Coenraad Visser

    Die Afrikaanse term vir copyright is outeursreg, nie kopiereg nie. Daarom die Copyright Act / Wet op Outeursreg. Kry julle Afrikaanse terminologie reg asseblief.

  • Ek het die artikel twee keer deurgelees, maar kon nie vasstel oor "tydperke" nie. Is dit nie ’n deel van kopiereg vir musiek, literatuur of skilderkuns dat die kopiereg daarop verval na ’n sekere tydperk nie?

  • André Myburgh

    Die Wet op Outeursreg en sy voorgangers het die Engelsregtelike leerstuk van "copyright" in SA ingevoer, nie die outeursreg van die sivielregtelike lande in Wes-Europa nie. "Kopiereg" is dus nie ‘n anglisisme nie, maar 'n meer korrekte term vir die onderwerp van die Wet. Het SA maar die Wes-Europese "outeursreg" gehad! Dan sou skrywers alle regte gehad het tot "openbaarmaking en verveelvoudigen" van hul werk (om die Nederlandse terminologie te gebruik), nie net die sewe van die Wet wat keer-op-keer opgedateer moet word nie.

    Die term "fair use" is die naam van 'n Amerikaanse regsbeginsel, nie 'n beskrywing nie. As dit in ‘n beskrywende sin gebruik word, kan dit verkeerdelik interpreteer word as iets soos "billike behandeling", wat reeds gebeur in die openbare debat oor die Wetsontwerp. Die Afrikaanse weergawe van die Wet op Outeursreg (toevallig die amptelike weergawe) gebruik reeds die term “billike gebruik” vir “fair dealing”, wat ook ‘n korrekte vertaling kan wees vir "fair use", al is die twee benaderings heeltemal verskillend. M.i. is dit daarom juis duideliker dat die gesprek in Afrikaans oor "fair use" gebruik maak van die Engelse term.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top