...........
Dat die Wysigingswetsontwerp op Outeursreg skrywers direk raak, is voor die hand liggend. Skrywers maak op kopiereg staat. Baie skrywers skryf om den brode.
............
Dat die Wysigingswetsontwerp op Outeursreg skrywers direk raak, is voor die hand liggend. Skrywers maak op kopiereg staat. Baie skrywers skryf om den brode. Die Wet op Outeursreg gee hulle die eksklusiewe reg om, onderworpe aan sekere beperkings, seggenskap te hê oor hul kreatiewe werk. Daardie eksklusiwiteit is ’n belangrike faktor vir die kommersialisering van skryfwerk en ander skeppende werke.
Dat die Wysigingswetsontwerp op Outeursreg slegte nuus vir skrywers inhou, is duidelik uit ’n menigte kenners se reaksies daarop. Dit sluit in akademici, regspraktisyns, uitgewers, regtebestuurorganisasies en skrywersverenigings, wat oor die jare sedert die wetsontwerp se eerste publikasie in 2015 uiters besorgd gebly het oor verskeie aspekte daarvan.
Drie skrywersverenigings het aan die einde van 2018 kragte saamgespan en ’n skrywersprotes teen die wetsontwerp begin wat binne slegs ’n week deur meer as 3 000 persone en namens meer as 125 instansies onderteken is. Lees hier meer oor dié gesamentlike inisiatief van PEN Afrikaans, Anfasa en PEN South Africa.
...........
Die groot teenkanting teen die wysigingswetsontwerp sluit bekommernisse in oor die grondwetlikheid van aspekte daarvan. President Cyril Ramaphosa het in 2020 die besluit geneem om nie die wetsontwerp te onderteken nie, maar dit terug te verwys na die Nasionale Vergadering met, onder meer, vrae oor die grondwetlikheid van sekere bepalings, en oor of die voorgestelde wysigings strook met internasionale kopieregverdrae.
.............
Die groot teenkanting teen die wysigingswetsontwerp sluit bekommernisse in oor die grondwetlikheid van aspekte daarvan. President Cyril Ramaphosa het in 2020 die besluit geneem om nie die wetsontwerp te onderteken nie, maar dit terug te verwys na die Nasionale Vergadering met, onder meer, vrae oor die grondwetlikheid van sekere bepalings, en oor of die voorgestelde wysigings strook met internasionale kopieregverdrae.
Die klassifisering van die wetsontwerp as ’n artikel 75-wetsontwerp wat nie provinsies raak nie, is ook bevraagteken. Daardie klassifisering is sedertdien aangepas na ’n artikel 76-wetsontwerp, wat beteken dat hierdie wetsontwerp deur al die provinsies oorweeg moet word.
Maar is dit nie ou nuus nie?
Ongelukkig nie. Ten spyte van die genoemde teenkanting toon die weergawe van die wetsontwerp wat vandag (1 September 2022) vir aanvaarding aan die Nasionale Vergadering voorgelê word, geen noemenswaardige veranderinge aan die kommerwekkende beleidsrigtings wat reeds van die eerste weergawe van die wetsontwerp duidelik was nie. Die behoud van die omstrede bepalings sonder dat ’n spesialisregsopinie oor hul grondwetlikheid verkry is, kan as ’n direkte verontagsaming van die President se besorgdheid oor die grondwetlikheid van die bepalings gesien word.
In breë trekke kom dit daarop neer dat die wysigingswetsontwerp op ingrypende wyses kopieregbeskerming afwater deur die instel van ’n menigte kopiereguitsonderings, en ’n algemene sogenaamde “fair use”-uitsondering op kopieregbeskerming.
..............
In breë trekke kom dit daarop neer dat die wysigingswetsontwerp op ingrypende wyses kopieregbeskerming afwater deur die instel van ’n menigte kopiereguitsonderings, en ’n algemene sogenaamde “fair use”-uitsondering op kopieregbeskerming.
...............
Helaas het die gesprek oor die wetsontwerp toenemend gepolariseerd geraak. ’n Groepering belanghebbendes wat sterk ten gunste van die wetsontwerp is, omdat hul voorstaanders van die verslapping van outeursregbeskerming is, het beide die Minister vir Handel, Nywerheid en Mededinging en die portefeuljekomitee wat vir die wetsontwerp verantwoordelik was, geadviseer.
Daarteenoor staan die skeppende bedrywe wat gemobiliseer het en saam onder die vaandel van die Kopieregkoalisie van Suid-Afrika die wetsontwerp opponeer; nie omdat die Wet op Outeursreg se hersiening nie nodig is nie – dit is inderdaad verouderd – maar omdat die voorgestelde wetsontwerp rampspoedige gevolge kan inhou vir diegene wat op ’n doeltreffende outeursregstelsel staatmaak. Dit sluit natuurlik skrywers in.
Hooftrekke van wat skrywers hieroor moet weet, is die volgende:
- Die wetsontwerp stel uitgebreide kopiereguitsonderings in en skep só die ruimte daarvoor dat kopieregwerke sonder toestemming en sonder vergoeding vir ’n wye verskeidenheid doeleindes aangewend kan word. Vir skrywers behoort die uitsonderings vir opvoedkundige en akademiese doeleindes veral onrusbarend te wees. Die opvoedkundige segment van die Suid-Afrikaanse uitgewersbedryf verteenwoordig, soos elders, die leeueaandeel van die bedryf. Dit is moeilik om te dink dat skrywers nog hul werk vir opvoedkundige doeleindes sal kan kommersialiseer as die omstandighede daar is om dit regmatig, gratis en sonder toestemming te mag gebruik.
- Baie skrywers verdien ’n broodnodige inkomste deur vir die opvoedkundige mark te skryf. Hulle wend hul tyd, vaardighede en talente aan om hul kennis oor te dra tot die uiteindelike voordeel van die samelewing. In ruil daarvoor behoort hulle geregtig te wees op billike vergoeding en erkenning. Dit sal nie die geval wees as die wetsontwerp as wet aanvaar word nie. Die wetsontwerp skep ’n gaping om kopiëring van volledige werke toe te laat, en een van die uitsonderings magtig spesifiek die reproduksie van uittreksels van werke in kursusmateriaal sonder toestemming en vergoeding. Dit versteur die kopiereg-ekosisteem waarop skrywers staatmaak. Dit skep 'n klimaat waarbinne vrye kopiëring van kopieregwerke vir 'n wye spektrum doeleindes toegelaat word.
- ’n Groot prosedurele tekortkoming in die verwerking van die wetsontwerp is die gebrek aan ’n behoorlike ondersoek na die sosio-ekonomiese impak daarvan. In die afwesigheid van so ’n ondersoek het die Uitgewersvereniging van Suid-Afrika ’n impakstudie van PwC verkry. PwC se bevindings stel erge ekonomiese skade vir die uitgewersbedryf in die vooruitsig indien hierdie verreikende kopiereguitsonderings wet sou word en voorspel ’n daling van 33% in boekverkope en werkverliese van 30% in die uitgewersbedryf.
- As regverdiging van minder streng kopieregbeskerming verwys voorstanders daarvan dikwels na die bestaan van sogenaamde “fair use” in enkele lande soos die VSA en Singapoer wanneer daar kommer uitgespreek word oor dié oop benadering hier ter plaatse.
Die verskil is egter dat die “fair use” wat deur die wetsontwerp aan die hand gedoen word, veel verder gaan as wat elders die geval is. Een van die faktore wat oorweeg moet word om te bepaal of ’n gebruik van ’n werk “billik” sou wees, is gewoonlik die impak wat daardie gebruik op die potensiële mark vir die werk het.
.............
Hier het die wetsontwerp ’n bepaling wat nêrens elders bestaan nie, wat sê dat daar gekyk moet word na die “vervangingseffek” van die gebruik op die potensiële mark vir die werk. Is dit met ander woorde so dat die gebruik billik kan wees solank dit nie tot ’n totale “vervanging” van die onderliggende werk in die mark lei nie? Dit sou verreikend wees en die gebruikers van kopieregwerke die hef in die hand gee, ten koste van die skeppers daarvan.
...............
Hier het die wetsontwerp ’n bepaling wat nêrens elders bestaan nie, wat sê dat daar gekyk moet word na die “vervangingseffek” van die gebruik op die potensiële mark vir die werk. Is dit met ander woorde so dat die gebruik billik kan wees solank dit nie tot ’n totale “vervanging” van die onderliggende werk in die mark lei nie? Dit sou verreikend wees en die gebruikers van kopieregwerke die hef in die hand gee, ten koste van die skeppers daarvan. Die spesifieke bedoeling van hierdie bepaling is duister, maar daar is ’n redelike verwagting dat dit hier gaan om internetplatforms wat werke wat deur kopiereg beskerm word, sonder toestemming of vergoeding verbruik.
- Skrywers wat meen dat “gebruik” van hul werk nie as “billik” beskou kan word nie, sal hulle tot die howe moet wend om daardie gebruik uit te daag. Dié situasie word vererger deur ’n sogenaamde kontrakopheffingsklousule in die wetsontwerp, wat beteken dat selfs al sou ’n skrywer ’n saak met ’n inbreukmaker skik, die skikkingsooreenkoms nie die papier werd sou wees waarop dit geskryf is nie.
Hofprosedures is duur, lank en kompleks. Min skrywers sal dit kan bekostig om elke inbreuk tot die bitter einde deur te voer.
Die kwessie van blinde en siggestremde lesers se toegang tot boeke, en hul reg om onder ’n behoorlik geformuleerde kopiereguitsondering toegang daartoe te verkry, het in die proses onnodig in ’n brandpunt ontaard. Dat hierdie kategorie lesers toegang tot boeke behoort te hê onder ’n kopiereguitsondering wat in ooreenstemming met internasionale verdrae is, word wyd gesteun. Ongelukkig is dit so dat ’n kopiereguitsondering vir visueel gestremde lesers langer belemmer word omdat dit in die moeras van werklik problematiese bepalings verstrengel geraak het. Dit het nou uiting gekry in ’n regsaak waarvan uitspraak deur die Konstitusionele Hof afgewag word (Blind SA v Minister of Trade Industry and Competition, CCT320/21). Dit kan en moet dringend reggestel word terwyl die res van die kopiereguitsonderings fyn bekyk word deur kenners van kopiereg en grondwetlike reg.
Die wysigingswetsontwerp bevat talle ander bepalings, waarvan die meeste die gewone handel met skeppende werke in die wiele sal ry. Voorbeelde is die 25-jaar-perk op die oordrag van kopiereg en die onherroeplike reg op tantième, wat beide hul oorsprong het in die aanbevelings van ’n ondersoekkomittee van 2011 om die lot van komponiste van musiek te bevorder, maar wat ondeurdag opgestel is en ondeurdag op werke anders as musiek van toepassing gemaak is. Hierdie bepalings sal veral op die Suid-Afrikaanse filmbedryf ’n negatiewe uitwerking hê.
Indien die wysigingswetsontwerp op 1 September deur die Nasionale Vergadering aanvaar word, en dit is die redelike verwagting in dié omstandighede, gaan dit na die Nasionale Raad van Provinsies en van daar na die individuele provinsies vir hul inspraak. Dit is moontlik dat provinsies hul eie openbare konsultasies oor die wysigingswetsontwerp sal hou, waar dit in die belang sal wees van alle skeppende kunstenaars – skrywers, kunstenaars, komponiste, rolprentvervaardigers – om hul sê te sê. Daar is baie op die spel.
Lees ook:
PEN Afrikaans AJV 2017: Terugvoer oor Kopiereg-wysigingswetsontwerp
’n Nuwe, kommerwekkende poging om Suid-Afrikaanse kopiereg te hervorm
Kommentaar
Daar is geen twyfel dat daar 'n dringendheid bestaan om uitsluitsel te kry oor kopiereg en die digitale bedryf nie.
Die Amerikaanse kopieregwetgewing is omtrent die enigste wat dit aanspreek - veral die "fair use"-beginsel. Ek wonder ook oor die gebruik van oorsese kopiereg ten opsigte van digitale publikasies.