Kunsmatige Intelligensie en die reg: Regspraak en opinies lê nog ver in die toekoms

  • 1

...
Die versameling en verifikasie van die feite is handearbeid. Regsgedinge ontaard dikwels vinnig in ’n feitedispuut. Elke party maak aanspraak op sy eie weergawe van gebeure.
...

Die regsberoep het baie verskillende fasette en dit sal onverantwoordelik wees om nou al die algemene stelling te maak dat juriste eersdaags deur Kunsmatige Intelligensie vervang sal word. Wanneer ’n mens stilstaan en dooierus neem op enkele fasette van die regsberoep word dit vinnig duidelik dat ChatGPT nog nie so gevorderd is dat ons prokureurs die woestyn in kan jaag nie. 

’n Belangrike faset van die regsberoep is die opstel van regsopinies. Soos by die lewering van hofuitsprake behels die opstel van regsopinies ’n proses om die relevante regsreëls te identifiseer en toe te pas op die relevante feite. Hierin lê twee hindernisse wat ChatGPT nie in sy huidige formaat kan oorbrug nie.

Die versameling en verifikasie van die feite is handearbeid. Regsgedinge ontaard dikwels vinnig in ’n feitedispuut. Elke party maak aanspraak op sy eie weergawe van gebeure. Dit maak dit ook nie makliker dat elke getuie wat dieselfde gebeurtenis waargeneem het, dikwels uiteenlopende getuienis lewer nie. Kunsmatige Intelligensie in sy huidige vorm sou byvoorbeeld nie die aanhoor en beoordeling van die getuienis en kruisondervraging in ’n saak soos die Oscar Pistorius-hofsaak kon hanteer nie. En dit was, hoe tragies dit ook was, eintlik ’n relatief eenvoudige feitestel.

Die tweede uitdaging is die identifikasie van relevante regsreëls wat op die feite toegepas moet word om ’n opinie te kan vorm. Elke land het sy eie unieke regstelsel gebonde en daar is weinig universeel toepaslike fenomene soos in ander dissiplines. Die verskynings wat weervoorspellings moontlik maak, is globaal. Die kragte wat inwerk op strukture soos brûe is ook universeel. Daar is inderdaad plaaslike variasies op die universele beginsels maar die plaaslike variasies doen nie afbreuk aan die universele beginsel nie. Die uitdagings vir Kunsmatige Intelligensie-sisteme is om elke regstelsel te leer en die vraag is of dit finansieel sin maak.

ChatGPT het data nodig om te kan “leer”. Inherent aan ’n demokratiese oop samelewing is dat wetgewing en regspraak openbaar beskikbaar is. Dit is die geval in Suid-Afrika met wetgewing en kennisgewings wat in die Staatskoerant gepubliseer word. Maar baie van die regsbronne wat hoër waarde toevoeg aan die basiese bronne, is agter betaalmure. Dink hierso aan akademiese artikels en handboeke. Ons sal eers kan staatmaak op die uitsette van ’n Kunsmatige Intelligensie-sisteem wanneer hierdie bronne ook deel uitgemaak het van die leerproses en dat dit in ag geneem is tydens die opstel van die spesifieke uitset. 

Wanneer ’n mens ’n vraag vir ChatGPT vra, bevat die antwoord geen bronverwysings nie, geen verduideliking oor hoe ChatGPT die antwoord geformuleer het nie en ook nie aanduidings van die regsisteem waarop die antwoord van toepassing is nie. In ’n hofsaak wat tans in New York uitspeel, is ’n prokureur, ene Stephen A Schwartz, in die sop omdat hy na bewering betoogshoofde aan die hof voorgelê het waarin hy hom beroep op hofsprake wat nie bestaan nie. Hy het die saak wat sy argument ondersteun, en verwysing na die saak in die betoog ingesluit. Hy beweer en toon dit aan met skermgrepe, dat hy die hofuitspraak op ChatGPT gevind het. 

Maak geen fout nie, daar is baie aspekte van die regsberoep wat geraak gaan word deur Kunsmatige Intelligensie, en waarskynlik vir die beste. Maar die regsberoep is met rede een van die oudste professies en sal soos ander ou professies die komende tegnologiese revolusie deurstaan.

Lees ook:

Verslag ‒ ASSAf-bespreking: The impact of Artificial Intelligence (AI) on Scholarly Writing and Publishing

The implications of ChatGPT in academia and journalism

Friend or foe? Expert panel tackles ChatGPT debate

Die nuwe ge-bot

Kopiereg, billike gebruik en kunsmatige intelligensie

  • 1

Kommentaar

  • Chris Marnewick SC

    Ek stem met respek saam met die skrywer. Die reg en regspleging is nie 'n eksakte wetenskap soos wiskunde nie. Eerstens, daar is regsbeginsels wat die advokaat en regter moet loop soek in Latyns, Nederlands, Duits, en selfs in Italiaans en Spaans ensomeer.

    Tweedens, die "reg" verander, soms sonder waarskuwing of wetgewing. Matsepe (1933) en Du Randt (1952) is veroordeel op 'n Engelsregtelike beginsel (versari), wat in Van der Mescht (1962) bevind is, nie deel van ons reg was nie. In Pistorius se saak het die Hoȅ Hof van Appèl die beginsel wat vroeȅr deur daardie hof op Kanadese beslissings gebaseer is, in Schoeman se saak omver gewerp. Selfs die HHA se beslissing op dolus eventualis word deur die land se voorste strafreg-professors betwyfel.

    Derdens, soos die skrywer uitwys, getuies beleef, onthou en vergeet nie dieselfde gebeurtenis in ooreenstemming met mekaar nie. (Dit sou alreeds verdag wees.) Dit is presies wat in Pistorius se saak gebeur het. Getuies wat net 'n geskree en plofgeluide gehoor het, het vas geglo hulle het die hele voorval beleef en het so getuig, terwyl hulle nog geslaap het toe die skote gevuur is.

    Vierdens, die geloofwaardigheid van getuies word deels gebaseer op die regter se subjektiewe waarde-oordeel van die getuie se gedrag (demeanour) in die getuiebank. En dit is onaantasbaar op appèl. By wyse van 'n voorbeeld: Beide die verhoorhof en HHA het bevind dat Pistorius onder kruisverhoor swak vertoon het. Die HHA het sy getuienis oor sy gemoedstoestand - die kruks van die saak - om daardie rede buite rekening gelaat. Maar 'n gesiene Kanadese advokaat het juis daardie kruisverhoor as ontoelaatbaar en oneties beskryf. So wat nou vir ChatGPT?

    Wie is dit wat beweer het, "Rumours of my demise are exaggerated"? So ook met die bedryf van verhore in die howe, meen ek.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top