Jan De Kinder se kinderboeke in Afrikaans: ’n resensie

  • 0

 Rooi: Waarom boelies nie snaaks is nie, geskryf en geïllustreer deur Jan De Kinder en vertaal deur Amelia de Vaal.
Uitgewer: Pretoria, Protea Boekhuis, 2018
ISBN: 9781485308737

Is jy bang in die bos, Pappa Wolf? geskryf en geïllustreer deur Jan De Kinder en vertaal deur Amelia de Vaal.
Uitgewer: Pretoria, Protea Boekhuis, 2018
ISBN: 9781485308720

Rooi: Waarom boelies nie snaaks is nie en Is jy bang in die bos, Pappa Wolf? deur Jan De Kinder is onlangs in Afrikaans vertaal en deur Protea uitgegee. Rooi is reeds in sestien tale vertaal en Is jy bang in die bos, Pappa Wolf? in sewe tale. De Kinder skryf vanuit sy persoonlike verwysingsraamwerk. Hy was ’n bang kind en is geboelie.

Albei boeke kan in biblioterapie gebruik word en bydra tot bewusmaking van emosies waarmee baie jong kinders sukkel. In Is jy bang in die bos, Pappa Wolf? is daar ook ’n boodskap vir volwasse voorlesers. Biblioterapie kan die kind help om emosionele uitdagings te verwerk, daaglikse probleme te hanteer en sy selfbeeld te bou.

Rooi dra eenvoudig, maar baie duidelik oor hoe ’n oënskynlik onskuldige aksie tot boeliery kan lei en kan sneeubal tot groot ongelukkigheid. Dit wys verder hoe effektief dit kan wees om met die waarheid uit te kom om boeliery te stop. Ook  interessant en effektief, is dat dit die eerstepersoonverteller, die naamlose dogtertjie is wat die boeliery aan die gang sit. Boelieverhale word meer gereeld vanuit die perspektief en ervaring van die slagoffer vertel. Die feit dat almal behalwe hierdie eerstepersoonverteller-dogtertjie name het, verklap dat sy ’n universele karakter is. Enige een kan onnadenkend die boelie-proses aan die gang sit.

Sy trap in dié strik wanneer sy éérste lag en die aandag op Tobie se blosende gesig vestig. So stel sy Paul en die ander wat meer tipiese boelies is, in staat om hom te begin terg en boelie voor sy besef wat sy doen. Dis dan ook tekenend dat dit sy is wat eerste haar hand opsteek om die boeliery te bevestig en die proses van bekentenis aan die gang te sit.

In Is jy bang in die bos, Pappa Wolf? nooi Wolfie sy pa om in die bos te gaan stap, maar dis duidelik uit Pappa Wolf se houding en teëstribbeling dat hy nie wil gaan nie. Wolfie probeer hom gerusstel, maar sy pa kan nie ontspan nie. De Kinder span hier sintuie in om spanning op te bou. Pappa Wolf voel gevaar, hoor en sien iets wat hom bang maak, maar telkens het Wolfie ’n verklaring en probeer hy hom oortuig dat die bos nie so skrikwekkend is nie. Pappa Wolf kan egter nie ontspan nie. Dan lyk dit asof hulle deur die digste deel van die bos is en Wolfie prys sy pa dat hy ’n held is en hy trots op hom is. Wanneer Pappa Wolf én Wolfie egter iets ruik en Wolfie se raaiskote hom nie kan gerusstel nie, hardloop Pappa Wolf weg. Op die volgende dubbelblad ontmoet Wolfie ’n dogtertjie in rooi met ’n piekniekmandjie. Wanneer sy Wolfie vra waar sy pa is en Wolfie verduidelik dat sy pa bang vir haar ma is, antwoord sy dat haar ma dieselfde oor sy pa voel. Hulle hou piekniek en besluit dat hulle ouers se vrese waarskynlik iets met die verlede te doen moet hê.

Volwassenes skep dikwels probleme of moeilike situasies vanuit persoonlike ondervinding of ervaringe waarvan kinders glad nie bewus is nie, wat kan lei tot wanpersepsies. Wolfie en die dogtertjie in rooi ken nie Pappa Wolf, die dogtertjie se ma én die jagter agter die boom, se geskiedenis nie. Pappa Wolf en die dogtertjie se ma kan hulle geskiedenis nie maklik vergeet nie. Terwyl hulle ouers ou vrese nie wil konfronteer nie, bewys Wolfie en die dogtertjie in rooi hoe eenders hulle is en hoeveel pret hulle saam kan hê.

De Kinder het hier die voor die hand liggende scenario waar die kind banger as die ouer sou wees, slim omgedraai om sy boodskap oor te dra. Miskien ook bloot om te bewys dat daar oorkomelike redes agter alle vrese is – ’n humoristiese en verfrissende ontknoping met verwysing na die klassieke Rooikappie-sprokie.

Al De Kinder se illustrasies is dubbelblaaie, wat bydra tot die opbou van spanning in albei verhale en dit uiters effektiewe voorleesverhale maak. Teks en illustrasie vul mekaar deurgaans goed aan om by te dra tot visuele geletterdheid.

Rooi is De Kinder se gunsteling kleur, juis omdat dit ’n kleur van uiterstes is. Dis ’n kleur wat met liefde, passie en energie sowel as woede, vrees en vernedering geassosieer kan word. In albei verhale speel die gebruik van rooi ’n pertinente rol.

Die illustrasies in Rooi: Waarom boelies nie snaaks is nie, is gevoelvol in rooi en swart op ’n sepia agtergrond gedoen. Die sepia-gevoel is verkry deur die papier met koffie bruin te kleur. In die illustrasies word houtskool, potlood, verf, ink en collage gebruik. Stukkies koerant en plek-plek sy eie tekeninge word baie effektief en artistiek in sy collages gebruik. 

In Rooi dui die paar oorwegend rooi bladsye op intense spanning. Nadat die dogtertjie Tobie se blosende wange aan die ander kinders uitgewys het, word ’n hangskouer- en ooglopend ongelukkige Tobie agter ’n boom in ’n rooi gloed, uitgebeeld. Op die vorige blad staan Tobie onder dieselfde boom, in grys skakerings. Wanneer die dogtertjie besef dat sy wil hê die boeliery moet stop, gloei die dorpsgeboue in rooi agter haar.  Sy is egter teen dié tyd bang om teenoor Paul, wat die boeliery baie geniet, op te staan. Sy weet “sy tong is so skerp soos ’n mes. En sy vuis so hard soos ’n baksteen.” Sy weet dat sy nie naastenby so sterk soos hy is nie. De Kinder illustreer haar en Tobie klein in die twee onderste hoeke van die dubbelbladillustrasie met ’n wolfagtige monster in rooi en swart wat die res van die spasie vul. Wanneer sy ’n paar blaaie later wel haar hand in die klas opsteek om te bieg dat hulle vir Tobie gelag en gespot het, is haar arm die enigste ligte skakering op die blad. Die agtergrond is rooi met die res van die kinders, met stroewe uitdrukkings, in houtskool.

Hierna is die illustrasies ligter geskakeerd en die bome groen. Die narratief eggo die groen nadat die dogtertjie en ander kinders nie verder deur Paul geïntimideer word om voort te boelie nie. “Paul se lag is hol. Verbeel ek my of lyk hy groen?” Die verhaal sluit af met Tobie wat die dogtertjie uitnooi om saam met hom sokker te speel en sy blosend knik en die bal skop.

Is jy bang in die bos, Pappa Wolf? is slim in houtskool, kryt en ink geïllustreer om die tasbare atmosfeer van die verhaal telkens oor te dra. Die teks is deurgaans in swart en wit ter wille van leesbaarheid, maar in rooi wanneer Wolfie sy pa prys dat hy sy vrese oorwin het, en Pappa Wolf kort daarna gevaar ruik en Wolfie waarsku om te vlug voor hy self weghardloop. Die twee dubbelblaaie wanneer hy gevaar begin ruik, sekerlik ’n wolf se sterkste sintuig, is op donker agtergronde in groen en blou gedoen. Vrees en spanning word effektief opgebou en lei tot ’n tasbaar gelaaide atmosfeer, veral omdat Wolfie nou ook iets onbekends ruik.

Pappa Wolf vlug egter en De Kinder keer terug na ligter agtergronde wanneer Wolfie die dogtertjie in rooi opmerk en die situasie ontlont is. Pappa Wolf is nou uit die prentjie, en die verhaal eindig waar Wolfie en die dogtertjie ontspanne langs mekaar sit en haar ma in die agtergrond agter die bome verdwyn.

Rooi en Is jy bang in die bos, Pappa Wolf? is twee welkome toevoegings tot die Afrikaanse prenteboekrak wat ewe veel deur voorleser as jong gehoor of leser geniet sal word. As voetnota is dit miskien goed om te noem dat Jan De Kinder tydens sy storie-ure gebruik maak van ’n ou Japannese storieverteltegniek: die Kamishibai. Die oorsprong van die woord is kami wat papier beteken en shibai wat speel of teater beteken. Hulle gebruik ’n hout storieboks waarin visuele boekplate (die illustrasies) gewys word, terwyl die storie vertel of van die agterkant van hierdie plate gelees word. Dokters Sonder Grense (MSF) het hierdie tegniek ’n aantal jare gelede met prenteboeke begin gebruik in hulle VIGS-bewusmakingsveldtog, wat die doeltreffendheid daarvan bevestig.

Die mag van stories, veral prenteboeke, mág nie onderskat word nie. Speel-speel, met ’n fisiese boek … kan kinders bemagtig word teen emosionele lokvalle, of selfs emosionele letsels oorkom. Of hy toerus, troos of teken, Jan De Kinder is briljant.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top