Die Boetman-woede wat nooit heeltemal gaan lê het nie

  • 14

Grafika ter illustrasie: Leroy Skalstad op Pixabay

........
Toe Chris Louw 25 jaar gelede in Mei 2000 sy beroemde ope brief “Boetman is die bliksem in” laat publiseer, het hy waarskynlik nie besef sy woorde sou ’n nasleep hê wat met elke nuwe Afrikaner-identiteitskrisis weer opklink nie.
........

Toe Chris Louw 25 jaar gelede in Mei 2000 sy beroemde ope brief “Boetman is die bliksem in” laat publiseer, het hy waarskynlik nie besef sy woorde sou ’n nasleep hê wat met elke nuwe Afrikaner-identiteitskrisis weer opklink nie.

Daardie brief wat eerste in Beeld verskyn het was die lont van ’n vat buskruit wat op LitNet se SêNet-brieweblad ontplof het. Louw was reeds voor Mei 2000 op SêNet aktief, vertel Izak de Vries wat LitNet se brieweblad destyds moes modereer. “Chris het my en ander laat weet hy gaan ’n ding skryf en het dit toe aan Beeld gegee. Dis waar dit gebreek is.”

Toe die debat daarna op LitNet losbreek, het dit in ’n kollektiewe psigiese ontboeseming verander. Lesers het nie net op Louw reageer nie; hulle het hulle eie traumas en skuld begin verwoord. Dit was waarskynlik die eerste groot Afrikaanse aanlyn kultuurgeveg, waarvan die naskokke vandag nog voelbaar is.

Het dit bygedra tot ons geslag se woede? “Ek weet nie,” sê De Vries. “Vir baie was dit waarskynlik ’n katarsis om daaroor te skryf en dit sal aanhoudend so wees. Kyk maar wat het gebeur toe Bun Booyens onlangs ’n boek oor die oorlog geskryf het. Weer en weer het pro- en anti-spanne ingespring.

........
’n Nasionale dialoog in Afrikaans, maar aanlyn.
........

 

SêNet was min of meer ongeredigeerd, toeganklik, eerlik en rou. Daar het gewone Afrikaners op groot skaal hulle eie pyn en verleentheid in ’n digitale openbare ruimte uitgepak. ’n Nasionale dialoog in Afrikaans, maar aanlyn.

Louw se brief was gerig aan Willem de Klerk, die intellektuele gewete van die verligte NP-elite. Die jonger generasie het volgens Louw die prys betaal vir ’n politieke projek waarvan hulle skaars die motief verstaan het. Die diskoers wat daarop gevolg het, het Afrikaners se versteekte woede, vernedering en geskoktheid oor die ou orde se morele bankrotskap ontbloot.

Die invloed van die Boetman-debat op die Afrikaanse kultuur en literatuur was enorm. Die woordewisseling het oorgespoel na seminare. Pieter Fourie het dit in ’n toneelstuk omskep as ’n drama wat stemme van moeders, veterane, swart aktiviste en joernaliste insluit. Skrywers soos Alexander Strachan, Dan Roodt, Etienne van Heerden het opnuut besin oor oorlog en identiteit. Joan Hambidge beskryf Louw as ’n simbool van ’n verwarde, gebroke generasie. Die debat het ’n duidelike breeklyn in die Afrikaner-ideologie blootgelê naamlik een van ouer patriarge versus ’n kritiese jonger generasie.

Meer as twee dekades later resoneer daardie uitbarsting steeds. Nie omdat Afrikaners nie verander het nie, maar omdat die onderstrominge wat Louw beskryf het: skuld, manlikheid, generasiestryd, magteloosheid en identiteitsverwarring nie verdwyn het nie.

........
Meer as twee dekades later resoneer daardie uitbarsting steeds. Nie omdat Afrikaners nie verander het nie, maar omdat die onderstrominge wat Louw beskryf het: skuld, manlikheid, generasiestryd, magteloosheid en identiteitsverwarring nie verdwyn het nie.
........

Net soos in 2000 gebeur het, word hierdie kwessies in 2025 wéér oopgepluk, hierdie keer deur die Afrikaners vir Suid-Afrika (AvSA) se ope brief wat afstand doen van onder andere die vals “volksmoord”-narratief wat deur Donald Trump verkondig word. Hulle verwerp die narratief waarin Afrikaners as slagoffers van rassistiese vervolging in post-apartheid Suid-Afrika uitgebeeld word.

Die herhalingspatrone van die twee debatte is opvallend: die rol van die media, generasiebreuke, die swaai tussen woede en introspeksie, en die spanning tussen diegene wat aan nostalgie vasklou en diegene wat op realisme aandring.

Die Boetman-debat was nooit net ’n politieke argument nie. Dit het ’n spesifieke tipe Afrikanermanlikheid oopgekerf, een wat gebou was op plig, dissipline, stilte en gehoorsaamheid. Die seuns wat diensplig gedoen het, het nie geleer om oor emosionele skade te praat nie. Hulle is geleer om op die patriargie se bevele te marsjeer.

Fanie Cloete, emeritus professor aan die Universiteite van Johannesburg en Stellenbosch en een van die AvSA-brief se ondertekenaars, sê Louw se brief was nie ’n fyn gestruktureerde politieke betoog nie, maar ’n emosionele uiting van rou frustrasie.

“Hy het die onuitgesproke eise van die patriargale Afrikanerhuis uitgedaag en die stiltes rondom militarisering deurbreek. Hy het protes aangeteken teen ’n generasie wat volgens hom weier om verantwoordelikheid te neem.”

Hierdie konteks verklaar waarom baie Afrikaners vandag nog diep empatie met Louw ervaar en terselfdertyd frustrasie oor die dowe ore waarop sy klaagstem destyds soms geval het.

Plaas ’n mens die AvSA-debat van 2025 langs Boetman, spring die ooreenkomste uit. Die rolspelers het verander, maar die meganika is dieselfde: ’n progressiewe segment Afrikaners konfronteer hierdie keer ’n konserwatiewe, nostalgiese blok waarvan Solidariteit en AfriForum deel is.

Die inhoud van die twis het verskuif. Waar Louw se brief gefokus het op diensplig, politieke misleiding en die loopgrawe van die ou Suid-Afrika, fokus AvSA op die hede en die toekoms: die behoefte om ’n realiteit te aanvaar waarin Afrikaners nie die magsentrum van die land is nie; die versoek dat mense moet ophou vasklou aan misleidende retoriek soos “volksmoord” wat nie deur feite gestaaf word nie; en die noodsaak vir ’n nuwe soort Afrikaner-nuanse en staatsburgerskap waar Afrikaners hulself nie as slagoffers beskou nie.

Hieroor lewer die jong prokureur en kommentator Frederik van Dyk ’n belangrike bydrae om die huidige woordestryd te probeer verstaan. Hy wys in ’n onlangse meningstuk in Rapport daarop dat Louw se brief nie net ’n persoonlike uitbarsting was nie, maar ’n simboliese oomblik waarin die jonger generasie die gevestigde elite uitgedaag het.

Volgens Van Dyk leef die spanning tussen “gewone Afrikaners” en die elite steeds in die formele én informele Afrikanerpolitiek. Hy gebruik die Boetman-debat as ’n lens om te wys hoe opgekropte woede nog voortwoeker maar met eietydse vrese, pyne en uitdagings wat as ammunisie ingespan word teen mekaar.

Van Dyk se kernpunt is dat die Boetman-deur wat in 2000 oopgeskop is, nie toegemaak kan word nie. Die reaksies op AvSA se ope brief wys hoe diep die letsels in Afrikaner-gemeenskappe lê, en hoe vinnig ou spanning weer opvlam wanneer iemand die status quo bevraagteken.

Vanuit Cloete se perspektief is die skerp reaksie op hulle ope brief heeltemal buite verhouding met die toon van die verklaring.

“Ons word verguis deur konserwatiewes wat bang is dat hulle laaste oorblywende bevoorregting besig is om weg te kalwe. Die reaksie teen AvSA is emosioneel omdat mense voel dat hulle weerstand teen grondwetwysigings, Bela, BBBEE ens. nutteloos was.”

........
In 2000 het jong mans teruggepraat teen die ou NP-elite. In 2025 is dit die progressiewe Afrikaners wat die konserwatiewe blok uitdaag.
........

Die breuk wat Louw in die Afrikanerdom blootgelê het, is steeds vars in mense se geheue maar daar is ’n belangrike verskil. Waar dit in 2000 gegaan het oor oorlog, diensplig en skuld, gaan dit vandag oor identiteit, magsverlies en die geveg oor die Afrikaner-narratief in ’n post-apartheid Suid-Afrika ’n kwarteeu later. In 2000 het jong mans teruggepraat teen die ou NP-elite. In 2025 is dit die progressiewe Afrikaners wat die konserwatiewe blok uitdaag.

Die magteloosheid wat baie konserwatiewe Afrikaners vandag ervaar, weerspieël vir Cloete die frustrasie wat destyds ná FW de Klerk se 1990-toespraak onder Treurnicht-aanhangers uitgespeel het: verlies, gevoel van verraad, en die besef dat die politieke klimaat onomkeerbaar verander.

Die emosies agter die twee debatte is verrassend konstant: pyn oor magverlies, woede oor verledebesluite, frustrasie oor die feit dat Afrikaners nie ’n enkele kollektiewe pad vorentoe kan vind nie.

Nog ’n aspek wat nie ignoreer kan word nie, is die verandering in die aard van die platforms waar die gesprekke gevoer word. Die Boetman-debat het oorwegend afgespeel op ’n sentrale webwerf met ’n mate van moderering. Mense moes mekaar se argumente lees.

Vandag gebeur debatte op platforms soos Facebook, WhatsApp, X en YouTube. Dit is dikwels fragmentaries, onsamehangend en meestal in selfversterkende groepies wat in eggo-kamers ontaard. Die Afrikaner-debat het dus meer gefragmenteerd, meer geïsoleerd en dikwels meer verdelend geword.

Afrikaners hou egter nie op worstel net omdat die wêreld om hulle verander nie. ’n Gemeenskap met só ’n komplekse geskiedenis kan nie na 1994 eenvoudig ’n nuwe identiteit aanneem en aangaan asof niks gebeur het nie. Wat ons sien, is ’n deel van ’n volk wat telkens met die skadu’s van sy verlede gekonfronteer word, en daardie botsings neem verskillende vorme aan.

Die Boetman-debat het getoon hoe diep die letsels van militarisering en patriargie gesny het; die AvSA-debat toon hoe ongemaklik Afrikaners is om tussen vreesgevulde retoriek en politieke realisme te kies.

Die vraag is waarom Afrikaners elke paar jaar terugkeer na Louw se brief. Miskien omdat dit die naaste is wat hulle nog aan ’n kollektiewe terapie-sessie gekom het. Louw het iets gedoen wat Afrikaners nie gewoond was om te doen nie: om eerlik oor seerkry te praat.

Daardie eerlikheid is waarskynlik waarom AvSA se verklaring, hoe rasioneel ook al, net soveel emosie ontketen. Dit herinner mense aan die ou spanning tussen die realiste en die romantici; die pragmatiese Afrikaners wat nuwe weë soek en die nostalgici; dié wat vorentoe wil beweeg en dié wat voel dat hulle laaste kosbare identiteit besig is om weg te glip.

........
Die Boetman-debat was een van die eerste groot oomblikke waarin Afrikaners kollektief in die spieël gekyk het, en nie geweet het wie na hulle terugkyk nie. Die AvSA-debat wys dat die worsteling nie verby is nie.
........

Die Boetman-debat was een van die eerste groot oomblikke waarin Afrikaners kollektief in die spieël gekyk het, en nie geweet het wie na hulle terugkyk nie. Die AvSA-debat wys dat die worsteling nie verby is nie.

Die platforms het verander. Die land het verander. Die rolspelers het verander. Maar die psige bly ’n hutspot van emosies: oorweldig, onseker, kwaad, bang, hoopvol, voortdurend op soek na ’n nuwe identiteit wat eerlik is oor die verlede, maar wat nie vasgevang bly in die verlede nie.

En dalk is dit hoe dit moet wees. Want gemeenskappe groei nie in stilte nie. Hulle groei in gesprek – soms in geskree, soms in trane, soms in harde woorde. Maar altyd in gesprek.

Solank Afrikaners nog skryf, stry, kla, dink en protesteer, is daar hoop. Selfs, of dalk juis, wanneer Boetman steeds die bliksem in is.

Lees ook:

Uit LitNet se argief (OuLitNet en LitNet se latere argief):

Boetman-brief: Nog ’n prys

Boetman, gooi ’n serwituut-paartie

Die Boetman-generasie kan ook uitbuit

Die pot en die ketel

Vat hulle, Boetman

Breek met die establishment?

Julle raak regtig vervelig

Was Boetman nie maar tevrede met sy oom-in-wording-opleiding nie?, Marius Crous

Hibriditeit en die internet, Joan Hambidge

G’n Boetman, dié, Almari Wessels

’n Nota oor selfpublikasie, Hans Pienaar

Chris Louw, Joan Hambidge 

Kom ons noem dit eerder “kroes, kras en KATOOLS, Koos Kombuis

Chris Louw, Charles Malan

Chris Louw, Yuri

Chris Louw, The Crutch

LitNet-blogs uit die argief:

Mooiloop, bebliksemde Boetman, Izak de Vries

CHRIS LOUW: EK ONTHOU, Hennie van Deventer

Kleinboer onthou Chris Louw, Kleinboer

Nog leesstof:

Polemieke: bekgevegte in Afrikaans deur Gabriël Bothma: ’n resensie

My pad met Breyten – op die taalspoor

Joernalistieke pogings tot vrede deur geregtigheid

A movie festival, visits to the USA, Afrikaner refugees and Donald Trump

Europa is skepties oor Trump se vlugtelingstatus aan Afrikaners

Die 49 wit Afrikaanssprekendes in die VSA: "vlugtelinge" of vlugtelinge?

  • 14

Kommentaar

  • Die sg AvSA groepie is af van die spoor af. Hulle moet gerus Afriforum se jongste verslae gaan lees, wat behoorlik gefundeer is. Die AvSA-handjievol se politiek ideologie herinner so aan die Dakar-beraad en die kniel voor die ANC- en swart nasionalisme dat dit mens nogal naar maak. Afrikaners hoef nie aan 'n kollektiewe skuldgevoel te ly omdat hulle wit is nie. Witmense bestaan oral oor die wêreld heen. So, AvSA, mense beskou julle in elk geval nie as ware Afrikaners nie. Julle is maar net hensoppers. 'n ANC-projek gedryf vanuit die RNE-presidensie.

  • Sakkie Spangenberg

    Dankie Jean, maar jy het nagelaat om een ding te vermeld: die rol wat die Afrikaner-verklaring van 2024 in hierdie debatte en gesprekke speel. Daardie verklaring het Afrikaners weer in twee kampe ingejaag: die ingroep en die uitgroep. Die Afrikaners wat die Voortrekkergelofte van 16 Desember ernstig opneem en daarmee identifiseer en diegene wat nie daarmee assosieer nie. Die Afrikaners wat nog na 'n eie blanke republiek strewe en diegene wat aanvaar dat daar nooit weer 'n eie blanke Afrikaansprekende republiek tot stand sal kom nie. Die brief van die 40+ het maar net gewys dat blanke Afrikaners nie 'n homogene groep is nie.

  • Die olifant in die kamer waarop Jean die spotlight skyn is dat Afrikaners, dalk meer die wit Afrikaners, nog nie daar is waar ons stamlande se mense is nie. Dit het my lankal reeds opgeval dat in Nederland en Duitsland het die vraag of jy 'n gelowige, ongelowige, kapitalis, sosialis, 'n kultuurmaniak of kultuur-apaties is, 'n relatief klein impak op sosiale interaksie. Baie kleiner as in SA. Daar is jy 'n Nederlander of 'n Duitser. In SA is die definisie van Afrikanerskap nog baie sensitief. Van Zyl Slabbert, Jan Smuts, Beyers Naudè, Max du Preez en vele ander, se Afrikanersertifikate is deur baie Afrikanergroepe opgeskeur. Allan Boesak kon nie eens een kry nie.
    Maar 'n nuwe vraag is hoe die instroming van migrante hierdie kwessies in Europa beinvloed? In sekere kringe is die vraag al beantwoord, maar nie oral nie. Daar het dalk 'n nuwe proses begin. En ek is nie so seker dat dit onredelik is om die wenkbroue te lig as migrante wat 'n veilige hawe soek, hierdie nuwe hawe aggressief wil herontwerp nie. Alles is maar relatief en dit hang af hoe dinge gedoen word en watter grensdrade geknip word.

  • Luan Staphorst

    Sakkie, ek is g'n Afrikanerverklaring-apologeet nie. Ek is nie 'n lid van AfriForum of Solidariteit nie, en het ook nie 'n begeerte om by hulle aan te sluit nie. Dit daar gelaat. Jou stelling dat "[d]aardie verklaring ... Afrikaners weer in twee kampe ingejaag [het]" verdien 'n wederwoord. Dit het, maar daar's meer as genoeg gesprekke wat dit reeds doen. Ek dink, byvoorbeeld, aan die NHN waarby jy betrokke is. Ek is nie 'n lid nie, maar plasings in julle netwerk se Faceboekgroep verskyn telkens in my "feed" - seker vanweë dit 'n "public group" is en vele van my Facebookvriende daaraan behoort en kommentaar lewer. Ek is 'n gelowige, maar nie 'n dwepende een nie. Gelowiges wat aldag ander veroordeel en verdoem staan my nie net nie aan nie - ek verwerp dit en tree krities met daardie individue in gesprek waar ek kan. Wat my egter opval van die NHN-gesprekke is hoe verdoemend dit telkens is. Soms eksplisiet, soms implisiet. Maar met die onderliggende beterweterigheid wat die Christelike Afrikaner in die besonder as agterlik en versukkeld verbeeld. Die diskoerse wat deur die NHN bevorder word strek veel verder terug as die Afrikanerverklaring van 2024. 'n Bietjie Bybelse wysheid: Haal eers die balk uit jou eie oog uit. Groete van 'n versukkelde, (ver)agterlike Christelike Afrikaner uit Oxford.

  • Niks is nuut onder die son nie. Die Potgieter-trek en die Martiz-trek kon nie met mekaar huishou nie, of dalk eerder laertrek nie. Die Rustenburgers en die Pretorianers het lelik kopgestamp. So ook later die Henshoppers, die Joiners en die Bittereinders. En nog later die Natte en die Sappe. Elkeen wil mos maar baasspeel en die kitaar slaan. So wou die 44 uitverkorenes ook hulle intellektuele meerderwaardigheid uitstal. Maar toe skryf hulle een van die swakste briewe in menseheugenis. Waarin Afriforum en Solidariteit vals beskuldig was dat hulle 'wit volksmoord' praatjies aan die VSA smous. News24 het later dieselfde gedoen en is skuldig bevind deur die persombudsman.

    https://www.news24.com/citypress/news/correction-and-apology-to-afriforum-20251128-0794

    Dit was nie die eerste keer wat News24 oor Afriforum en Solidariteit gelieg het nie. As jy oningelig wil wees, lees News24 se koerante.

    Nietemin, natuurlik sou die lotjie na 1994 hulleself teenoor mekaar opstel as die Suid-Afrikanistiese (wil-nie-eintlik-meer)Afrikaners(wees-nie) teenoor die "Ons sal self" Afrikaners. Hoe dan anders?

  • Francois Verster

    Persoonlik onderskryf ek nie die worsteling oor identiteit nie – jy is wat jy is en dit gaan oor hoe jy daarmee omgaan, soos met enige uitdaging in die lewe. Hoekom wil jy iets anders wees? Dink jy tog nie dat Afrikaner al groep met geraamtes in die kas is nie? Kyk verder, wyer, kry perspektief! Is ontkenning ’n haalbare opsie? Ek dink nie so nie, maar lyk my daar is baie wat daardie roete volg. Miskien is die verdagmaking en beskuldigings van elders effektief in sulke gevalle – verdeel en heers?
    As historikus (MA Geskiedenis 1992, D Phil Kulturgeskiedenis 2003 en M Joern Mediageskiedenis 2010) en as iemand wat ervaring van marginalisering (“dis koud daar buite broeders”) deur sekere van my eie volksgenote het, al sedert 1982, het ek my eie perspektief op Afrikanerskap en patriargie, en dit sou maklik wees om te cherry-pick soos baie maak om my kleinserighede te probeer salf en besweer ... maar dit sou vals en onlogies wees om Afrikanerskap te blameer.
    Die geskiedenis leer ons dat die foute van die verlede herhaal word juis weens ons gedeelde menslike mankemente. Elke mens en elke volk is maar ’n variasie op dieselfde ou tema – aan die een kant is die Afrikaner nie ’n godswonderwerk nie (hoekom verwag sommige mense hy/sy moet beter as ander wees?) en aan die ander kant kry hy te veel “krediet” vir alles wat in hierdie land opgeneuk is (die ANC bewys die teendeel).
    Ek het twee boeke oor diensplig en die Grensoorlog geskryf – OMEGA, OOR EN UIT (Tafelberg, 2016) en ’n Engelse, opgedateerde en gefiksionaliseerde weergawe ILL AT EASE (Amazon, 2025). Albei is al op LitNet bespreek en geresenseer, en ek het self ook BLOEDBROERS van Lamprecht en TROEP van Booyens op Litnet geresenseer, so jy kan maar sê - soos die Yanks dit uitdruk, “I’ve got skin in his game”. Ek noem dit omdat ek wil onderstreep dat daar baie perspektiewe en bydraes tot die agtergrond en beredening van hierdie tema is en ek is deel daarvan, net een van baie, en so moet dit wees. Máár in my geval doen ek dit om te toon dat daar ’n verskeidenheid sieings en insette is – “ons is nie almal so nie” – daar is te veel stereotipring, en NIE omdat ek my wortels bevraagteken nie.
    Ten slotte, soos Oosthuizen sê, ons moet aanhou debatteer – dis beslis nodig, maar, baie belangrik, ons moet op ’n punt kom dat ons begin fokus op saamwerk om te red wat te redde is, ter wille van die hele nasie.

  • Steeds bly die sogenaamde Afrikaner se beheptheid met slagofferskap klaustrofobies en vervreemdend en die verdelende faktor. Die klompie wat Amerika toe is, is maar dié wat opgetree het, gedryf deur daardie gevoel. Dit bly verstommend dat die eenvoudige waarheid dat 'n mens altyd 'n keuse het of jy jouself as slagoffer, aldan nie, wil definieer met jou gegewe. Suid-Afrika is Afrika met unieke uitdagings, nie Europa of Amerika nie en ter plaatse het ons van meet af aan 'n lang geskiedenis van wrywing en rugstekery tussen verskillende groepe. Slegs as die Bokke presteer in rugby is daar 'n glimmering van nasiebou.

  • Debbie, slagofferskap gaan beide kante toe. Hoekom het die ANC ontstaan? Dit was weens kwessies soos stemreg en grondeienaarskap. Weens mense wat gevoel het hulle is slagoffers. Ek hoef jou sekerlik nie te trakteer op die verhale van die Anglo-Boereoorlog nie? Natuurlik sou so iets etniese nasionalisme stimuleer. Slagofferskap. Nou of mens nou van Afriforum hou of nie, die president praat lekker in sirkels. Een oomblik wil hy dit hê dat almal se stemme gehoor moet word. Die volgende oomblik ignoreer hy Afriforum en Solidatiteit se briewe aan sy kantoor. As mens vir iemand redes gee om te doen wat hulle doen, dan gaan dit nie help jy is beswaard omdat hulle doen wat hulle doen nie. Hoekom het SEB en regstellende aksie ontstaan? Was en is die rasionaal daaragter dan nie ook slagofferskap nie? Maar wat is bereik met daardie beleide? Het dit mense op groot skaal uit armoede gelig? Het dit werkloosheid laat daal? Het dit die eknonomiese koek laat groei? Na 30 jaar? Wat gaan dit bereik na 60 jaar? As dit na 30 jaar niks kon bereik nie?

  • Die NHN vervul 'n uiters noodsaaklike behoefte. As mens iets wil verstaan waar die NHN vandaan kom, lees Jean Oosthuizen se boek "Die opkoms en ondergang van die NG kerk" (2018), waarin die Woordfees-debakel van 2013 uiteengesit word, waar die NG kerk hard gepoog het en ook suksesvol daarin geslaag het om vryheid van spraak te onderdruk. Die Afrikaanse kerke het 'n lang geskiedenis van reaksionêre boeliegedrag. Almal ken die Du Plessis saak en al die ander gevalle waar die kerk gepoog het om die mensdom terug te sleep in die middeleeue in. Die NHN bedryf nie net 'n Facebook groep nie maar hou ook samekomste wat 'n platform skep vir uiters noodsaaklike lesings oor onderwerpe wat taboe is in die Afrikaanse kerke. Die Doppers gaan in Januarie 2026 weer sinode hou, en verder debat voer oor die vrou in die amp, terwyl die res van die mensdom werklik al baie lank gelede aanbeweeg het. Aanvalle op die NHN is niks nuut nie maar die NHN se lede verdien eintlik eerder lof vir die dinge wat hulle doen.

  • Luan Staphorst

    Anoniem, indien jy/julle so besonders trots is op jou/julle argumente en prestasies, wees minder lafhartig en skryf onder jou/julle eie naam. Ek het nie die NHN as sodanig "aangeval" nie, eerder krities met die diskoers wat telkens op en deur die Facebook-groep bedryf word in gesprek getree. Terloops, ek sal baie van daardie plasings en die kommentaar wat daar verskyn eweneens as "boeliegedrag" takseer. Bespreek of weerlê my baie spesifieke kritiek, sonder om die groep as geheel te verheilig as jou/julle enigste verweer. Dis die laaste wat ek op hierdie punt in verhouding tot die kommentaar van 'n naamlose lafaard sal skryf. Indien jy/julle verder met my en my kritiek in gesprek wil tree, weet dat ek nie sal antwoord indien jy/julle nie jou/julle name gebruik nie. Groete, Luan Staphorst

  • Jy moet glad nie verplig voel om op my te reageer nie. Ek reageer op die stellings wat gemaak word, en my reaksie is nie op jou gemik nie. Dit is op al die ander lesers gemik wat sou belangstel, om vir hulle 'n alternatiewe perspektief te gee.

    Die belangstelling in die NHN is, soos ek verstaan, besig om drasties toe te neem, soos wat mense nie meer sinvolle antwoorde by hulle kerke kry nie. Ek het so bietjie gaan kyk na die plasings daar op die NHN-groepie, en kan glad nie die dinge sien daar waarvan hulle hier beskuldig word nie. Nog minder hoekom Sakkie Spangenberg te verwyt is. Ons kan hom eerder bedank vir die feit dat hy sy kennis so vrylik daar met almal deel. Die gesprekke op verskeie ander Afrikaanse groepe, soos byvoorbeeld die Nagkantoor, is veel warmer as die op die NHN se groep.

  • Waldemar Gouws

    Die derde sin hier bo van Anoniem prikkel my om die analogie van 'n onverhulde krater raak te sien. Sy "alternatiewe perspektief" as termiese waarnemer - hoe dit met die temperatuur van gesprekke gesteld is - is wel gratis.

    Waarom het LitNet 'n beleid wat anonimiteit 'n speelplekplatform gee? Ek sal dit graag geformuleer wil sien.

  • Luan Staphorst

    Waldemar, vir al die goeie werk wat LitNet doen en waarvoor ek respek het, is die toelating van anonieme skryfsels iets wat my teen die bors stuit. My kwelling is dat my naam in die openbaar verskyn, terwyl hulle wat kwansuis 'n "ander perspektief" wil verskaf, die vryheid van anonimiteit geniet. Ander kan my sienswyses en argumente teen my hou, my daarvoor verwyt. En dis goed so. Die skryfsels van anonieme lafhartiges, daarteenoor, kan gedeel word sonder enige verantwoordbaarheid. Hulle betaal geen prys vir dit wat hulle skryf nie - veral nie indien hulle verkeerd is nie, hetsy ipso facto of vanweë die indruk wat dit op ander maak. Inteendeel, ander individue betaal dalk onregverdig die prys. Ek het 'n spesmaas wie Anoniem is - en dat dit 'n persoon is van wie ek in ander kommentaarstringe hier op LitNet al verskil het. Miskien is dit die persoon, miskien nie. In ieder geval skep anonimiteit 'n teelaarde vir bespiegeling, agterdog, en weersin. Belangriker nog - wat is die doel van LitNet dan, indien dit nie 'n ruimte vir oop debat skep nie? Waarom dan enigsins aan die gesprek deelneem indien hulle wat van jou verskil op enige punt kan omdraai en hul identiteit versluier? Hierdie is nie die eerste maal wat dit met my gebeur nie. Ek moet seker gevlei voel. Om my en my idees te kritiseer, blyk so 'n gevaarlike onderneming te wees dat hulle met 'n "ander perspektief" hulself onder 'n dekmantel moet verhul. Ter beskerming teen naamdood, blykbaar. En die ironie? Indien ons Anoniem se laaste brokke wysheid van die gode moet glo, dan is die NHN aan die groei - dis die ontplooiiende norm. Ek bied dus die "alternatiewe perspektief" aan; ek is die een wat teen die grein beweeg. Waar ek myself bevind, is dit beslis die geval. Om jouself Christen te noem in Oxford (en, bygesê, in meeste universitêre kontekste) is soos om te erken dat jy glo dat die aarde plat is. Maar ek bely, en erken, en tree in gesprek. Nie om 'n "ander perspektief" te verskaf nie, maar omrede ek daarin glo. En omrede ek nie my eie sienings wil prysgee net omrede ek bang is vir wat iemand anders dalk van my mag dink nie. Onse heer/mevrou Anoniem het klaarblyklik nie genoeg van 'n ruggraat om ook so te maak nie. Ek betaal graag vir Anoniem se besoek aan 'n chiropraktisyn om daardie leemte aan te spreek - dis immers 'n "alternatiewe behandeling."

  • Waldemar Gouws

    Ja, Luan, in die groot bestel volhard die mag daarmee om die aarde mooi rond te hou. Geyk lykende ofte not, volhard in jou geloof. (Dit geld ook enige ander geraaktes.)

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top