Beste Chris Louw
Jou brief word deur baie wit middeljarige mans gebruik (miskien, dink ek hoopvol, dalk ook misbruik).
Skuldig voel, nee, ek dink nie dis wat van julle gevra word nie … eerder ’n erkenning, of stille erkentenis dat dieselfde liederlike stelsel wat julle so vreeslik bevark het, ook tot julle (of sommige van julle) se voordeel gestrek het (of is die statistiese gegewens wat onderverteenwoordiging aandui, die grênd huise, die vier-by-viers en so meer ook deel van die een of ander geknoeiery? Of was die betrokkenes net bloot eenvoudig lui / dom / simpel en kon hulle so “die paal nie haal nie”?).
As dertigjarige ondervind ek, soos jy toentertyd, ook baie van die paternalisme in die werkplek. Ongelukkig net, dis jou generasie, dié waarop die beroep tot transformasie gerig word, wat die gesindheid (wat julle ook benadeel het) perpetueer. Wat dikwels (en onwetend “in die beste gees” so vertel hulle my) swart persone subtiel uit die werkplek (probeer) hou, of as hulle daar is, hulle stil- / afmaak, wat op neerhalende wyse van sogenaamde “sterk” vroue praat, wat (daar’s dit weer) taal as politieke meganisme, ipv kommunikasiemedium binne die werkplek, gebruik. Vir hierdie manne is jou brief soos musiek in die ore. (Dit is inderdaad onlangs in ’n vergadering as “bewys” gebruik van hoe onredelik daar teen wit middeljarige mans opgetree word.)
Jy sou my seker onder die groep kon kategoriseer wat jy so gemaklik in een kassie prop, dié van (en ek haal aan) “jong feministe met die skerp oog vir ’n magsgaping … historiese agtergeblewenes … en MIV-besmettes”. Miskien moet mens bietjie in ander se skoene inklim en net so paar treetjies rondstap. Rasionalisasie tref dié wat nou ’n loopbaan begin bou (en die wat vir die eerste keer die geleentheid het om in ’n minder ongelyke speelveld mee te ding) netso hard. ’n Magdom voorvereistes (veel anders as vroeër waar bevordering vanselfsprekend was) word nou gestel, en dis goed so. Hierdie wete, gekoppel aan die hardkoppige onwilligheid om te besef dat sekere praktyke nou taboe is (nie omdat die ANC / die feministe / swartes so gesê het nie, maar bloot omdat dit per se onbillik of degraderend is) en die weiering om daardie billikheidsbeginsel, teen die agtergrond van hierdie land se treurige geskiedenis, toe te pas, steek my dwars in die krop.
Groete
- Grafika: Leroy Skalstad op Pixabay

