Vat hulle, Boetman

  • 0

Ditsem, Boetman, vertel hulle! Vat hulle aan! Sodat die wat ore het om te hoor dit kan hoor. Buiten dat ek nou nie juis jou oom Willem vir wie jy so die moer in is se lewensverhaal met baie groot ywer gevolg het nie, is dit net so goed soos ekself wat die relletjie met hom aan het.

Maar ek is bly dat die bekhouende ja-meneer, nee-meneer gemoerakte geslag van destyds uiteindelik iemand uit sy geledere gekry het wat bereid is om ’n slag goed hardegat te raak. Want so kan ’n mens jou nie langer deur die alie laat trek nie, genoeg is genoeg! Van die destydse ou spul teen wie jy so ’n sielewroeging het tot die huidige vernames wat o, tog so ’n groot probleem met die amper- middeljarige bleekgesig mans het wat o, so oorbodig op alle terreine van die samelewing geraak het, moet noutis neem, ons is nog hier, ons is so sagweg aan die ontwaak!

Hulle kan bly wees dat jy nie vroeër al ’n bohaai begin opskop het nie. Dan was die hel nou behoorlik los! Maar onthou, ons is so grootgemaak. Jy miskien so ’n bietjie minder konserwatief as ek, Boetman, maar ons ouers het ons van kleintyd af geleer van respek vir mekaar en mekaar se goed. Daarom dat jy maar meestal jou bek gehou en gedoen het wat vir jou gesê is om te doen. Nie omdat jy ’n slapgat is nie. Allermins. Dis uit pure ordentlikheid en om van lojaliteit nie eers te praat nie! Jy sal nie ’n lojaler klomp as ons ou spul kry nie, hu Boetman? Jy is destyds so vinnig in die armyflossie gelaai dat daar nie eens tyd was om te kots nie! Jy, wat Boetman is, moes selfs ander ouens se kakpotte skoonmaak. So what, ons het dit oorleef en vandag lag ons lekker oor die meeste van hierdie dinge. Want, Boetman, nie al hierdie dinge uit die verlede was noodwendig sleg nie. Dit het net ’n beter mens van jou gemaak hoe positief of negatief jy ookal destyds daarop gereageer het en nog steeds daaroor voel. Oom Paul het toentertyd al vir ons oupas en oumas geleer om die goeie dinge uit die verlede te haal en die toekoms daarop te bou.

Nou nie juis dat kakpotte skrop deel van ’n mens se toekomsvisie moet wees nie, maar dit het jou darem nederig en na aan die natuur gehou! Dit het jou ook geleer dat geen mens hom aanstellerig moet hou nie, want ons is ieder en elk maar ’n klein stippeltjie in hierdie magtige stuk uitspansel.

Nou sien ek daar is so hier en daar ’n dapper lid van die gemeenskap wat jou erg kritiseer en jou selfs ’n properse slapgat noem. Bid jou dit nou aan! Die generaals sit regop en die ou onderwysers wonder wat het nou in die voorbeeldige kind se stomme kop gevaar om sommer so oop en bloot te loop en praat van kakpotte en ander dinge wat destyds nie eers deel van die leerplan was nie. En dan nog so ’n hogere lid van die gemeenskap te wil aanvat omdat hy destyds vir jou Boetman genoem het en jy daardie tyd gedink het nee, dis maar reg so my omie. Hulle dink jy is ’n regte ou moungat omdat jy nou jou gat in ’n krul trek oor sekere dinge.

Boetman, ek dink hulle sit die pot mis. Jy het slim geraak. ’n Mens se ordentlikheid kan ook net tot op ’n sekere punt gedryf word. Jy het nou so ’n soort hardegatgeit oor jou gekry omdat jy dink dat hulle alweer besig is om jou ’n punt te steek. Dat jy op hierdie stadium van jou lewe oorbodig blyk te wees terwyl ons vir ons ouderdom nog so onvermydelik vol woema is dat ons sonder veel moeite selfs nog ’n bydrae tot die bevolkingsaanwas kan lewer.

Hulle moet jou ook nou nie verkeerd verstaan nie. Jy is nie gatvol soos in daai gatvol nie. Dit gaan eintlik meer daaroor dat jou besef van pligsgetrouheid, lojaliteit en verantwoordelikheid so groot is en die skok dat jy soort van nie meer deel van die toekomsplanne van die huidige samelewing gaan wees nie die tipe hardegatgeit oor jou gebring het soos wat jy nou ondervind. En hoe gouer die nuwe geslag beleidmakers en -brekers dit besef, dat ons eintlik nog heel bruikbaar is, hoe beter! Bruikbaar, hardegat of te not!

Ek is bly dat jy jou sê gesê het en die hele boksemdais uit jou sisteem gekry het. As jy op ’n dag hier verby ry moet jy aankom sodat ons die saak verder oor ’n gekamoefleerde vuurtjie met die nodige bymiddels kan bespreek. Om met woorde op papier te speel is maklik. Die realiteite van die lewe strek egter veel verder as dit.

Jou vriend, Izak J Nel

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top