Breek met die establishment?

  • 0

Een van die motiewe wat ek al ’n paar keer raakgelees het in die groot Boetman-debat, is die verwyt teen Wimpie de Klerk dat hy nie kans gesien het om sy bande met die Afrikaner establishment te verbreek soos Beyers Naudé en nog ’n paar ander gedoen het nie.

Sonder om vir De Klerk noodwendig daarmee te probeer verdedig, bied ek die volgende staaltjie uit my eie ervaring:

In die jare tagtig was ek betrokke by ’n gespreksgroep met die naam Reforum. Dit was ’n kerklike gespreksgroep van mense wat min of meer almal apartheid verwerp het en wat saam besin het oor die sosiopolitieke situasie van die dag.

Een aand was die vraag ter tafel of ’n mens, as jy apartheid verwerp, binne die NG Kerk kan bly en of jy liewer die kerk moet verlaat en by een van die donkerder lidkerke van die NG Kerkfamilie moet aansluit.

Daar was inleiers wat die verskillende standpunte gestel het en daar was benewens ’n klomp wit mense ook ’n klompie gekleurdes wat aan die gesprek deelgeneem het.

Na ’n lang geredekawel dié kant toe en daai kant toe, het mense wat verskillende standpunte voorgestaan het, ’n bietjie krapperig vir mekaar begin word.

Dis toe dat prof David Bosch die opmerking maak dat dit vir die proses van verandering waarskynlik nodig is dat party binne die NG Kerk bly en van binne af ’n kritiese stem laat hoor, en dat party die kerk moet verlaat en van buite af ’n kritiese stem laat hoor.

Kortom: die proses het vir Beyers Naudé en vir Ben Marais nodig gehad.

Dit lyk my dieselfde beginsel geld op ander terreine ook. Terwyl Van Zyl Slabbert byvoorbeeld van buite die NP af veel gedoen het om Afrikaners bewus te maak dat daar ook ’n ander manier was om na die Suid-Afrikaanse situasie te kyk, het die proses ook ’n FW de Klerk nodig gehad om apartheid van binne af af te takel.

Uiteindelik is die vraag, lyk my, nie of ’n mens binne die stelsel gebly het of nie, maar of jy vir verandering gewerk het of nie.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top