Maria E se brief aan Chris Louw (Die Boetman-generasie kan ook uitbuit) verdien so ’n bietjie kommentaar.
Ek het dit natuurlik sien kom: hier is nou uiteindelik ’n lekker “chip” om op jou skouer te dra, as jy ’n (middeljarige) wit man is. Waar Louw juis bedoel het om die beterweterige en skynheilige ou garde so ’n bietjie terug te bring aarde toe, het hy nou self die skyf van woede en frustrasie geword. Nie hy persoonlik nie, maar dit wat hy verteenwoordig: die generasie van wit mans tussen die ouderdom van so 30 tot 50.
Maria E maak die punt dat hierdie generasie voordeel uit apartheid getrek het, dat hulle in magsposisies verkeer en nou nog teen vroue (en andere) probeer diskrimineer. En dat hulle nou die vermetelheid het om Louw se brief as “bewys” van hulle eie marginalisasie voor te hou.
Ek kan nie namens Louw praat nie, maar ek skat dit was glad nie wat hy bedoel het nie - inteendeel, hierdie soort “uitbuitingsituasie” is juis waaroor hy hom uitspreek.
Dit is nie my taak om as ’n “versoener” op te tree tussen wit en swart, mans en vrouens, chauviniste en feministe nie. Veral nie wat hierdie groepe se onderlinge verhoudings betref nie. My houding is bloot - kom ons probeer versoening, kom ons gee dit ’n deeglike kans om te werk, maar as dit nie werk nie, dan werk dit nie.
En as ek ’n situasie betrag waar versoening “oënskynlik” bereik is, dan kry ek ’n oorweldigende ondeunde drang om die verhouding ’n bietjie te “toets” - om druk daarop uit te oefen net om te sien hoe gou die krakies verskyn.
Dus:
Maria stel dit nou nie heeltemal so kras en prontuit soos Louw nie, maar ek bespeur die saadjies van erge wrewel - teen die geslag wit middeljarige mans.
En dit laat my dink aan die begin van die demokratiseringsproses in hierdie land. Ons het natuurlik verwag dat die swartes hulle pond vleis gaan opeis. Wat ons nie verwag het nie, is dat die tannies skielik sou omdraai en ook op hulle regte aanspraak sou maak.
As ’n demokraat het ek gedink: “goed so - maak die situasie so ingewikkeld as moontlik”. Maar ek het ook gewonder oor die stereotipe van die “tuisteskepper”, die “moederfiguur” wat ruim in haar man se apartheidverworwe sukses deel en haar seuns grens toe stuur - vir “volk en vaderland”. Ek het gewonder oor die Tannie Elize Botha’s en of hulle ook regte het waarop hulle aandring. So saam met demokrasie het hierdie vaal vroutjies agter hulle mans begin uitkruip.
Ek het gewonder hoe ’n oulike 19-jarige witkopmeisie in ’n Mercedes Sport kon rondrits - “beslis nie” die vrugte van apartheid nie?
En ek onthou iets uit die geskiedenis - in die tyd van die Duitse besetting van Frankryk. Sekere jong vroue se hare is afgeskeer, en die Franse gemeenskap het hulle uitgewerp as verraaiers.
Ek onthou my “sweetheart”, hoe sy gehuil het die dag in Januarie 1986 toe ek op die trein na Upington klim. Hoe sy gesnik het “ek sal vir jou wag”. Ek onthou haar “dear Johnnie”, so ses maande later. En ek onthou die vreemde kêrel wat daar in haar woonstel was toe ek onverwags “op pas” huistoe kom.
Ek was nie beskore om ’n “sagte bloeisel” te pluk en myne te maak nie. Om voor die kansel te sweer dat ek haar sal onderhou en lief hê tot die dood ons skei nie. Om twee en ’n halwe wit kinders in die wêreld te bring, wat sy as ’n “lady of leisure” by die huis sou grootmaak, terwyl ek iewers in ’n grys pak die las van ’n korporasie op my skouers dra nie.
Die wit vroue wat nie hierdie “pot goud” nagejaag het nie, is die minderheid. Die wit vroue wat hulle eie pad deur ’n ongenaakbare samelewing uitgekap het, is die minderheid. Die wit vroue wat toe al aanspraak op hulle regte gemaak het, is die minderheid. ’n Minderheid, ja, maar hulle is onmisbaar.
Om uit ’n stowwerige ou boek aan te haal: “Laat sy wat sonder sonde is, die eerste klip gooi.”
- Grafika: Leroy Skalstad op Pixabay

