Polemieke: bekgevegte in Afrikaans deur Gabriël Bothma: ’n resensie

  • 0

Polemieke: bekgevegte in Afrikaans
Gabriël Botma
Penguin Random House South Africa
ISBN: 9781776092314

Laat ons nou maar eerlik wees: meningsverskille is nie nuut nie en ons sal ook nooit net in die verlede tyd daarvan praat nie. Daarvoor is mense net te verskillend. Dit is natuurlik ook nie noodwendig ’n negatiewe gedagte nie. Gesonde debat is immers baie stimulerend.

“Stimulerend” is ook die woord wat ’n mens aan Gabriël Bothma se boek Polemieke: bekgevegte in Afrikaans kan koppel. Hier gaan dit om Afrikaners wat mekaar warm onder die kraag maak en allerlei sake waar Afrikaanse ter sprake is.

Jy weet eintlik nie wat om te verwag voordat jy die boek begin lees nie. Ja, jy weet dit sal oor argumente en Afrikaans gaan, maar jy kry uiteindelik aansienlik meer as waarop jy gereken het. Jy voel skoon “volleerd” as jy dit gelees het – Bothma is mos ’n akademikus. Wees egter gerus, hy gee nie ’n les nie. Hy bied ’n omvattende oorsig oor alles en nog wat van argumente met betrekking tot Afrikaans. Hy skryf oor Afrikaans in die konteks van politiek, taal, kerksake, kuns en vermaak, sport en misdaad.

In vele opsigte is dit ’n kroniek van soveel dinge in die geskiedenis en om dit juis in die konteks van die hede te lees. Die leser se geheue word met hierdie nuusgebeure verfris en elders ontdek jy ook vir die eerste keer ’n stukkie geskiedenis waarrondom polemieke geheers het.

Die teks het kenmerke van ’n verhandeling, maar dit is allermins vervelend of hoogdrawend.

Akademies? Dalk ’n klein bietjie, maar elke hoofstuk boei, en dis jou keuse by watter hoofstuk jy wil begin. Die inhoudsopgawe prikkel jou reeds. Ek meen, wie sal sonder nuuskierigheid en sonder gevoel ’n boek oor polemiek en Afrikaans toeslaan wat “Boetman is die bliksem in”, Piekniek by Dingaan en Voëlvry, Daisy de Melker, Joost van der Westhuizen, Bram Fischer, Adam Small en “beskaafde” apartheid in dieselfde asem noem?

Voëlvry-album, Adam Small (foto: Naomi Bruwer), Daisy de Melker en omslag van die boek Boetman, swanesang van die verligtes deur Chris Louw

Die hoofstukke is dus volgens elke smaak ingedeel – ’n groot sterkpunt van die boek, met die net wyd gegooi. Jy kan kies waarin jy belangstel, en dit bestudeer en herkou. In die toekoms sal dit selfs stellig as ’n naslaanbron kan dien, afhangend van waarna jy op soek is. Uiteraard lees ’n mens nie hierdie boek soos ’n roman nie, maar dis boeiende leesstof dié. ’n Mens waardeer die tyd en navorsing wat die skryf van die boek moes voorafgegaan het. Reeds in die eerste sin raak die leser iets wys. Hoeveel mense weet dat die woord polemiek ’n Griekse oorsprong vir “oorlog” het?

Dan is daar CJ Langenhoven, denker en storieverteller van naam en faam, wat aanvanklik nie ten gunste daarvan was dat Afrikaans as amptelike taal erken word nie. Nodeloos om te sê, het sy mening hieroor mettertyd verander. Die dood van die vryheidsvegter Steve Biko in polisie-aanhouding het óók Afrikaners onder mekaar laat rusie maak.

Die skrywes van Johannes du Plessis, bekend as “Pienk Piet”, was ook nie alte gewild toe hy as professor in teologie op Stellenbosch en as redakteur van die tydskrif Het Zoeklicht artikels oor evolusie geplaas het nie. Ook het hy gewaarsku oor ’n “rigiede benadering van rassekwessies”.

In vele opsigte sal die leser hede sowel as verlede in oënskou neem.

NP Van Wyk Louw het die voormalige eerste minister HF Verwoerd erg ontstoke gelaat oor sy Republiekfeesdrama Die pluimsaad waai ver. Van Wyk Louw het ook nog voor dié polemiek ook op ’n ander geleentheid kritiek uitgespreek oor die regering se sensuurbeleid.

Dis merkwaardig watter invloed Afrikaanse skeppende skrywers destyds op maghebbers gehad het. Dit kan ’n mens dalk nie meer vandag sê nie.

Net so wonder ’n mens oor die norme van gister teenoor dié van vandag.

Jy lees van goed wat jy vandag byna nie kan glo so ’n koue, harde werklikheid van die dag was nie. ’n Voorbeeld hiervan wat Bothma skets, is die digter en dramaturg Adam Small wat ’n permit mos bekom om Kanna, hy kô hystoe se openingsaand by te woon. En dit vir sy eie pennevrug. Daarbenewens het wit akteurs ’n storie vertolk wat in ’n bruin gemeenskap afspeel.

Afrikaans is ’n taal wat met ’n (aanvanklike) stryd oplaas in 1925 amptelike status verwerf het. Talle mense meen dis vandag ’n stryd om die taal lewend te hou.

Bekgevegte duur voort, maar soms kan hulle baie gesond wees. Mag die beste een wen.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top