Graad 9: Afrikaans Huistaal-vraestelle en memo’s, derde kwartaal
2023-09-21Is jy in graad 9 en voel jy soms ongelukkig oor hoe mense by die skool optree? Laai hierdie gratis oefenvraestel deur Eugene van der Westhuizen af en berei voor vir jou Afrikaans Huistaal-toets hierdie kwartaal. Jy sal boonop in een van die leesstukke verstommende wenke raaklees oor hoe om boeliegedrag te hanteer.
Graad 3: Wiskundevraestel en memo, derde kwartaal
2023-09-18Is jy in graad 3 en maak hierdie toebroodjies jou honger? Jy gaan jou honger na goeie punte kan stil deur hierdie gratis oefenvraestelle deur Lee-Ann West af te laai om vir jou toets voor te berei. Agterna kan jy smul aan ’n toebroodjie van jou keuse. Die vraestel gaan jou boonop help om te bereken wat vyf van hulle jou altesaam gaan kos.
Graad 11: Lewenswetenskappetoets en -memo, derde kwartaal
2023-09-11Is jy in graad 11 en voel jy soos ’n vulkaan wil uitbars van spanning oor al die akademiese druk? Laat LitNet se gratis oefenvraestelle jou help. Laai Rita Engelbrecht se Lewenswetenskappe-vraestel af en hersien jou werk oor die menslike liggaam en leer sommer van vulkaniese eilande ook. Wanneer jy jou punte sien, sal jou volgende uitbarsting een van vreugde wees!
Graad 6: Wiskundevraestel en memo, derde kwartaal
2023-09-08As jy ’n volwassene is, weet jy dalk van die poësie in die sneeuvlokkie waaroor TT Cloete gedig het. As jy in graad 6 is, kan jy dalk nou al jou oë begin oophou vir die Wiskundevorms rondom jou. Dis ook ’n goeie plan om Lee-Ann West se gratis oefenvraestel hier af te laai en vir jou Wiskundetoets hierdie kwartaal te oefen.
Graad 9: Afrikaans Huistaal-vraestel en memo, derde kwartaal
2023-08-31Is jy in graad 9 en moeg daarvoor om slegte rapportpunte te kry? Laai hierdie gratis oefenvraestel deur Zelda Mans af, en kry uiteindelik jou leeueaandeel van goeie punte vanjaar. (As jy nie die idioom verstaan nie, kan die vraestel jou ook help. Daar is boonop lekker ander stories van natuurreservate om te lees.)
Graad 10: Lewenswetenskappe – vraestel en memo, derde kwartaal
2023-08-28Is jy in graad 10 en leer julle hierdie kwartaal in Lewenswetenskappe van die hart? Teen hierdie tyd sal jy weet dat net jou ouers sulke outydse uitdrukkings soos "jou hart pomp tjoklits" gebruik en dat hierdie orgaan inderwaarheid ’n ander samestelling het. Laai egter hierdie vraestel deur Rita Engelbrecht gratis af om die soet smaak van goeie punte in die derde kwartaal se toetsreeks te proe.
Graad 7: Wiskundevraestel en -memo, derde kwartaal
2023-08-22"As jy vanjaar in graad 7 is, weet jy dat ’n refleksie nie altyd ’n weerkaatsing beteken nie (behalwe as jy ’n Afrikaans-toets skryf). Laai hierdie gratis oefentoets deur Lee-Ann West af, oefen begrippe soos refleksies en translasies ... en jou rapportpunte vertaal sommer van 'goed' na 'uitstekend'."
Graad 8: Wiskundevraestel en memo, derde kwartaal
2023-08-08Dis ’n week met ’n vakansiedag; wie’s lus om hulle oor Wiskunde te bekommer? As jy in graad 8 is en jy wil nie dat breuke jou hoofbrekens besorg nie, laai hierdie gratis Wiskundevraestel deur Lee-Ann West af. Maak sommer ’n pizza en kyk wie het al ’n derde van hul pizza geëet ... As jy aanhou oefen, verorber jy uiteindelik jou eie kommer stukkie vir stukkie en kry goeie punte in hierdie toetsreeks.
Graad 9: Wiskundetoets en memo, derde kwartaal
2023-08-04Toe jy in graad 1 was, het alfabetletters beteken jy is besig om te leer lees. Noudat jy in graad 9 is, besef jy dat die alfabetletters ook deel van algebra is. Laai hierdie gratis oefenvraestel deur Lee-Ann West af en kry jou ABC onder die knie (en kry sommer goeie punte op jou rapport hierdie kwartaal vir Wiskunde daarby).
Graad 4: Afrikaans Huistaal-vraestel en -memo
2023-07-24Dit voel nog soos winter, maar dis ’n nuwe kwartaal met nuwe geleenthede. Hoewel daar ’n weervoorspelling in hierdie vraestel deur Eugene van der Westhuizen is, gaan dit leerders in graad 4 nie help om te weet wat vandag se temperature is nie. Dit gaan wel help met voorbereiding vir Afrikaans Huistaal hierdie kwartaal – en die punte op die rapport soos mooiweer en warm laat lyk. Klik hier om die vraestel en memo gratis in PDF-formaat af te laai.
Graad 11: Wiskundevraestel en memo (2), tweede kwartaal
2023-06-12Is jy in graad 11 en voel jou skoolloopbaan nou al soos ’n marathon? Hierdie gratis Wiskunde-vraestel deur Lee-Ann West sal jou help om hierdie kwartaal 'n goue medalje van 'n punt te behaal. (En as jy gister heeldag liewers na die uitsending van die Comrades-marathon op die TV gekyk het, is dit nog steeds nie te laat nie. Daar is baie ander oefenvraestelle op LitNet wat jou met jou voorbereiding vir die res van die jaar kan help.)
Graad 11: Wiskundevraestel en -memo (1), tweede kwartaal
2023-06-09Is jy in graad 11 en droom jy van die snoesige wintervakansie wat een van die dae aanbreek? As jy hierdie gratis vraestel deur Lee-Ann West aflaai en vir jou Wiskunde-eksamen voorberei, het jy goeie punte waarna jy ook kan uitsien.
Graad 9: Afrikaans Huistaal-vraestel en memo, tweede kwartaal
2023-06-06As jy in graad 9 is, weet jy seker nou al wat die sinonieme vir "spanning" en "stres" in die eksamentyd is: "Ma" en "Pa". Laat Zelda Mans se gratis Afrikaans Huistaal-oefenvraestel daardie angstigheid laat bedaar, jou help om goeie punte te behaal én weer goeie gesinsverhoudinge te beleef (onthou ook dat "Ma", "Pa", "spanning" en "stres" totaal verskillende soorte selfstandige naamwoorde is, en nie sinonieme nie).
Graad 9: Afrikaans Huistaal-vraestel en memo, tweede kwartaal
2023-05-23As jy in graad 9 is, weet jy seker nou al mense praat Afrikaans van die Bo-Kaap in Suid-Afrika tot by Argentinië in Suid-Amerika. Noudat LitNet jou algemene kennis uitgebrei het, moet jy begin om jou voorbereiding vir die eksamen uit te brei. Laai vier Afrikaans Huistaal-vraestelle van Eugene van der Westhuizen gratis hier af.
Graad 10: Wiskundevraestel 2 en memo, tweede kwartaal
2023-05-23Is jy in graad 10 en een van daardie gelukkige mense wat nog nooit vantevore juis vir jou Wiskunde-eksamens hoef voor te berei het nie? Skielik is dinge moeiliker en sien jy dubbel van al die werk! Lee-Ann West se gratis Wiskundevraestelle kan jou help. (En toemaar, dis regtig twee prentjies van passers wat jy sien. Haal diep asem en klik op die skakels in die artikel om die vraestel af te laai wat jou sal help om jou werk onder die knie te kry.)
Graad 5: NWT-oefentoets, tweede kwartaal
2023-05-15Is jy in graad 5 en hou jy van die prentjies wat jy hier sien? Wanneer jy hierdie gratis oefentoets van Rita Engelbrecht aflaai, kan jy by sommige van die vrae ook lekker prentjies sien – en die goeie nuus is dat dit jou sal help om voor te berei vir jou NWT-eksamen van die tweede kwartaal. (Hoewel die prentjies wat jy hier sien, nie in die vraestel voorkom nie, kan jy wel lekker met jou hondjie gaan speel, ’n blokkie sjokolade en ’n slukkie koeldrank geniet as jy klaar voorberei het.)
Graad 10: Wiskundevraestel en memo, tweede kwartaal
2023-05-12"I am sixteen going on seventeen ..." Nee, dis nie die lirieke van The sound of music wat hier beskikbaar is nie, maar wel ’n Wiskunde-vraestel, toegespits op (sestienjarige) graad 10-leerders wat deur Lee-Ann West opgestel en gratis hier beskikbaar is. Laai dit af en as jy hierdie kwartaal jou eksamenpunte ontvang, sal jy sommer jolig met die musiekblyspel saamsing.
Graad 8: Wiskundevraestel en memo, tweede kwartaal
2023-05-04As jy in graad 8 is, weet jy wat ’n identiteitselement, ’n priemgetal en ’n algebraïese uitdrukking is. Maar het jy geweet dat warmbrakbroodrolletjies gewoonlik in groepe van agt verpak word? Berei gerus een voor terwyl jy hierdie gratis vraestel deur Lee-Ann West gebruik om ook vir jou eksamen voor te berei. (As jy nie weet wat 'n warmbrak is nie, kan jy LitNet se Afrikaans-vraestelle aanwend om jou taalkennis vir die eksamen op te skerp; hier onder volg ’n lys van nog vraestelle vir graad 8.)
Graad 6: Wiskundevraestel en -memo, tweede kwartaal
2023-04-24Hulle sê ’n kat het nege lewens, maar sê nou maar daar is ses katte? As jy in graad 6 is, is ek seker jy sal hierdie som kan oplos. Hierdie vraag kom nie in hierdie gratis Wiskundevraestel voor nie, maar daar is baie ander prettige somme wat jy kan oefen as jy hierdie toets en memo deur Lee-Ann West aflaai. Begin sommer nou al voorberei vir jou eksamen aan die einde van die kwartaal en ’n slegte punt het nie ’n kat se kans op jou rapport nie!
Graad 4: Algemene wetenskappe (NWT), tweede kwartaal
2023-04-19Is jy vanjaar in graad 4? Dan is jy nou al slim genoeg om iets te weet van water as vloeistof, vaste stof (ys) en gas (stoom). Jy is ook slim genoeg om hierdie kwartaal eksamen te skryf. In hierdie Natuurwetenskappe-vraestel deur Rita Engelbrecht is daar voorbeelde van die soort vrae wat jy in die eksamen kan verwag. Die goeie nuus is dis gratis beskikbaar en die ander goeie nuus is dat jy goeie punte sal kan kry as jy jou werk hiermee hersien.

