Leon van Nierop is ’n skrywer, TV-aanbieder, resensent, regisseur, rolprentnavorser, vervaardiger, radio-omroeper, rubriekskrywer en dosent. Hy is reeds vir 50 jaar in die bedryf en het begin as omroeper/regisseur by die SABC.
Hy skryf rolprentresensies vir verskeie publikasies, tans vir Rapport. Maar hy resenseer ook reekse wat gestroom kan word op RSG se oggendprogram Op en wakker as Stroomaf. Hy resenseer ook tans rolprente vir LitNet, onder die titel Skermgreep.
Sy TV-reeks Ballade vir ’n enkeling en sy vervolg is in die tagtigerjare gebeeldsend.
Hy het Ballade vir ’n enkeling en Wolwedans in die skemer se draaiboeke geskryf en albei rolprente was groot treffers. Hy het ook vyf TV-dramas geskryf en verwerk, onder andere CM van den Heever se Laat vrugte in 1984.
Die rolprentweergawe van Ballade vir ’n enkeling wen die Tempo-toekenning as beste rolprent in 2015, ook vir hom as medevervaardiger daarvan.
Van sy bekendste verhale is Stralerjakkers wat vir ses jaar as radioverhaal uitgesaai is, asook die jeugverhaal Ratels wat vir nege jaar op RSG was. Sy mikro-vervolgverhaal Hartebreker is vir agt jaar lank op dieselfde stasie uitgesaai.
Hy het vir 25 jaar rolprentontleding by TUT aangebied en was vir vier jaar hoof van die rolprentakademie, later die TUT Filmskool. Hy was ook professor in film aan die universiteit.
Leon het 40 romans geskryf, waaronder Moord op Lake Panic, Duiwelsroos, die Plesierengel-trilogie (wat hy in ’n eenmanverhoogstuk verwerk het) en Droomjagter. Ook vier akademiese boeke, naamlik Seeing sense: On film analysis, Movies made easy, Druk speel en ’n boek oor die geskiedenis van die Afrikaanse rolprent Daar doer in die fliek.
Dit is gebaseer op sy dokumentêre TV-reeks met dieselfde titel vir kykNET wat hy ook op TV aangebied het. Hy het Het van Verlangekraal as TV-reeks in 1984 verwerk, daarna as radiovervolgverhaal op RSG in 2022 en toe in ’n meer moderne roman verwerk. Sy radioverhaal wat in ’n skool vir blindes afspeel, Op die oog af, was ’n reusetreffer in 2024.
Hy doen steeds regie van radioteaters en vervolgverhale vir RSG, het ook twee vervolgverhale vir Maroela Media, Briekaandraai, geskryf. Hy bied rolprentresensies op kykNET se Saterdagoggend ontbytSAKE-program aan, fliektydSAKE, en gee gereeld lesings oor films en bied skryfskole aan. Hy was ook onlangs in Rusland waar hy vandaar verslag gedoen het oor die KinoBraVo-Rolprentfees.
Hy word in 1999 deur die reklamebedryf vereer met ’n spesiale medalje vir sy bydrae tot die rolprentbedryf in Suid-Afrika. Hy word in 2018 met ’n medalje van die Akademie vir Wetenskap en Kuns vereer vir sy rolprentresensies, met spesifieke verwysing na die TV-reeks en boek, Daar doer in die fliek.
Hy wen ’n spesiale toekenning vir sy bydrae tot die TUT Filmskool in 2008. Ook ’n ATKV-veertjie vir beste dokumentêre radioprogram vir sy program oor die Afrikaanse rolprent in 2010. Daarna wen hy ’n ATKV-veertjie as beste regisseur vir die radiodrama Hirosjima, Mon Amour in 2011.
Hy wen die Caxton-toekenning drie keer as beste rubriekskrywer vir die reeks Sê amen in Vrouekeur. Hy was ook die naaswenner as beste skrywer van die RSG Radiodrama-skryfkompetisie vir sy drama Twyfelberg in 2009.
Sy boek Vuurvreter is in 2010 benoem as beste spanningsroman, terwyl Daar doer in die fliek ook vir ’n kykNET-Rapport-boekeprys benoem is.
Hy is in 2023 vir ’n Naledi-toekenning benoem vir sy verhoogverwerking van Plesierengel.
Leon het intussen Het van Verlangekraal as verhoogstuk verwerk wat deur Frans Swart opgevoer is. Hy het in November 2024 by die NFVF (Nasionale Film- en Videostigting) as raadslid aangesluit, en is in November 2025 bevorder tot voorsitter van die raad.
In 2024 verskyn sy roman Die Volmaakte Moord by Penguin Randomhouse. Sy jongste roman Legkaart verskyn in November 2025 by NB-Uitgewers. Hy is ook in Meimaand 2026 deur die NFVF na die Cannes Rolprentfees in Frankryk gestuur om verslag te doen en die Raad daar te verteenwoordig.