Katelknaap: ’n onderhoud met Leon van Nierop

  • 3

Foto van Leon van Nierop: © Joanne Olivier

Katelknaap
Leon van Nierop
ISBN: 9781485903550
Penguin Randomhouse South Africa

Christiaan J de Swardt gesels met Leon van Nierop oor sy roman Katelknaap.

Die veelsydige skrywer, rolprentresensent en vermaakpersoonlikheid Leon van Nierop se jongste roman – sy stomendste nóg – Katelknaap, wat ook in Engels as Toy Boy vertaal is, het pas by Penguin verskyn.

Dit vertel die verhaal van Tristan Hansen, amper 27, aantreklik en ’n engel van plesier: ’n gigolo vir  wie Johannesburg se rykste vroue duisende rand betaal. Oor die liefdespel kan niemand hom iets vertel nie.

In sy weelderige dakwoonstel in Maboneng reik sy herinneringe terug na die vroue wat hom as jong man gevorm en van genot geleer het. Dit was veral saam met een vrou, Christina, ver weg in Positano, ’n dorp in Italië, dat hy hom kon loswikkel van die beklemming van sy ma wat hom ná sy pa se dood alleen grootgemaak het.

Maar Tristan word deur foonoproepe vol dreigende stiltes geteister en iemand hom hou dop. Terwyl sy verlede soos ’n Johannesburgse storm oor die horison aanrol, verlang hy terug na gelukkiger dae …

Is lesers gereed daarvoor?

Ek merk die afgelope tyd by kunstefeeste op dat gehore baie meer volwasse is en nie meer so dikwels soos in die verlede vir taalkruheid, naaktheid en seks op die verhoog lag en/of daaroor geskok is nie. Is dit ook ʼn leserstendens?

Ek dink ons het geleer om gemaklik met seks (en ander veelbesproke onderwerpe) te raak. Dit het veral gekom met die wegval van die oormatige sensuur wat ons gehad het – ook verspotte en preutse sensuur. Seks en ander warm onderwerpe moet egter deel van die storie wees en nie net in graffiti agter op ’n toiletdeur opgesom kan word nie. Seks met subteks! Nou ja. Ons het, in die Suid-Afrika van 2018 met al sy uitdagings en probleme, waaragtig nou meer dinge om bekommerd oor te wees as twee mense wat seks het. Ek merk in die reaksie op my resensies (en ek kry baie) dat mense net kla oor laster, hoegenaamd nie meer oor sekstonele nie. Interessant. Ek dink ook mense kan gou sien as seks op die verhoog bloot vir effek gebruik word, byvoorbeeld om ’n bekende se agterstewe te sien, teenoor die seks of naaktheid wat inherent deel van die storie is. Soos ons al hoe meer rolprentgeletterd raak, raak ons nou ook meer teatergeletterd en begin meer krities kyk na hoekom sekere veelbesproke tonele of naaktheid of taal gebruik word. Dink byvoorbeeld aan die eksplisiete seks in die plaaslike rolprent The wound (Inxeba) wat in goeie smaak aangebied is en dalk emosioneel kan skok, maar nie oor die daad self nie. Ons kan skynbaar steeds nie eksplisiete seks in ons plaaslike rolprente gebruik nie. Ek weet regtig nie hoekom nie.

Die voorloper, Plesierengel, is in 1997 uitgereik en in 2013 hersien. Dit het gegons. Tyd het verloop en dinge het verander. Hoe verskil Katelknaap van Plesierengel? Wat kon jy in 2018 doen wat jy nie destyds kon doen nie?

Nie veel nie. Ek het geweldige respek vir my leser. Elke keer wanneer ek van die tonele na my vriendinne gestuur het, het hulle geantwoord dat daar deesdae (en hulle het name genoem) baie meer eksplisiete luskry-sekstonele is en dat hulle Katelknaap s’n nie so ervaar nie. Dit vorm deel van die storie. In 1997 was daar skaars woorde vir sekere seksdade of liggaamsdele; ek moes selfs enkeles skep! In 2013 was dit bietjie meer direk (teenoor eksplisiet), en in 2018 het die aard van die sekstonele verander. Dus is daar ’n groter vryheid in wát die karakters met mekaar doen en hoe ek dit beskryf as tevore. Ek weet mense raak nie meer so erg geskok nie. Dit beteken nie ek het alles by die naam genoem soos ’n skoolseun wat vir die eerste keer ’n erotiese bekentenis maak nie, maar (hoop ek) ’n verantwoordelike uitbeelding daarvan gedoen. Ek moet ook my uitgewer, Fourie Botha, en my redigeerder, Elzebet Stubbe, loof in hierdie verband. Ek het spesifiek baie direkte en pertinente vrae aan hulle oor die sekstonele gevra en is gelei deur hulle baie vleiende kommentaar daaroor.

Wat is jou benadering tot seks in romans: blote prikkeling of kuns?

Plesierengel en Katelknaap is op die werklikheid gegrond en ek het destyds lank met die mense (ook vroue) gepraat wat deel daarvan was. Die vroue se ervarings (wat hulle oor die foon met my gedeel het) en hoe hulle Tristan ervaar het en wat hy hulle gebied het, was van kardinale belang. Ek het met die kliënte gepraat wat bereid was om (oor die foon) te praat en ek het sterk gesteun op vriendinne se kommentaar en my uitgewers/keurders se reaksie. En dan natuurlik Tristan se verduidelikings. Interessant, hy het dikwels van buite na homself gekyk asof na ’n ander mens, en dit is daardie ervarings en beskrywings wat ek probeer weergee het.

Seks moet funksioneel wees en dit moet deel van die storie wees – nie net ’n uitlaatklep of iets wat op ’n romantiese toneel volg nie. Wat aanleiding gee tot die seks en hoe dit ervaar word, is vir my baie belangriker as die fisieke daad. Seks kan kuns wees, want vir Tristan is dit ’n kuns wat hy vervolmaak het omdat hy respek het vir elke vrou by wie hy is, en hy behandel elkeen anders en soos sy graag behandel wil word. Hy doen ook intense navorsing oor sy kliënte waar hy kan voordat hy na hulle toe gaan. Onthou ook: baie kliënte soek nie noodwendig seks nie, maar geselskap of ’n maat om die aand saam mee uit te gaan. Ek sou sê 40 persent van Tristan se kliënte wil nie seks hê nie, anders stereotipeer ’n mens hulle.

Wat is die doel met dié roman en hoe verantwoordelik gaan jy met die gegewe om?

Een van my doelstellings met die boek is om persepsies en wanopvattings te weerlê oor mense wat hul lyf en dalk ook siel vir geld verkoop. Veral in Tristan se geval is daar ’n baie goeie rede. Maar dit is wat dit aan sy “siel” doen, by gebrek aan ’n beter beskrywing, en wat dit aan die vroue se “siele” doen, wat my geïnteresseer het.

Ek probeer om elke kliënt se storie op ’n verantwoordelike wyse te vertel en die karakter nie net te laat stuiptrek van plesier nie. Dit is wat die twee mense albei saam uit die daad kry wat belangrik is en ek probeer ook sosiale kommentaar lewer oor hoekom die vroue Tristan bespreek. Maar die rede hoekom hy dit doen, is baie belangrik.

Is daar ʼn verskil tussen jou roman en byvoorbeeld boekklubs se hygromans?

Dit is nie net iets wat geskryf is om te tituleer of mense lus te maak of fantasieë uit te leef nie, maar is, hoop ek, realisties en verantwoordelik. Dit verduidelik wat aanleiding gee tot die daad en watter effek dit op die mense het. Ook hoekom sekere mense bereid is om daarvoor te betaal of wat net kan funksioneer wanneer hulle betaal, of wanneer hulle betaal word. Elke sekstoneel is met die uitgewer bespreek asook met die redigeerders, sodat dit nooit bloot vir effek daar is nie. Die aard van romanse wat uitloop op seks of seks en romanse wat veronderstel is om dieselfde ding te wees, word ondersoek. Dit gaan ook oor vroue wat emosioneel verwaarloos is of wat nie van ’n man afhanklik wil wees daarvoor nie, maar wel ’n behoefte het – dus byvoorbeeld dat dit nie gedwonge is soos ’n vrou in ’n liefdelose huwelik wat seks het maar net om die huwelik te regverdig of te laat voortbestaan nie.

Hoe eksplisiet teenoor implisiet is Katelknaap?

Daar is enkele eksplisiete sekstonele in Katelknaap, veral een waarin ek probeer verduidelik wat elke vrou (in hierdie geval ’n avontuurlustige sportvrou wat nêrens kan kry wat sy soek nie, behalwe by Tristan) uit die seks kry en hoekom sy juis op daardie manier seks het: dit is ’n manifestasie van wie sy is. In Katelknaap is dit baie meer implisiet as eksplisiet. Die innerlike landskap was vir my baie belangriker as die uiterlike. En dan is daar sekstonele waarmee ek doodgewoon en hopelik nie té selfbewus met uitroeptekens omgegaan het nie (!) – soos die tonele waar Tristan sy groot liefde vind en hoe terloops en waarderend seks daar voorkom. Ek het dit ook so terloops en doodgewoon en onselfbewus probeer beskryf, teenoor die besigheidsaspek later, gemeng met romanse, by sy kliënte. Weer eens is die réde hoekom hy geld vra, hiperbelangrik, en vir mense wat nie Plesierengel gelees het nie, kan ek dit nie verklap nie.

En dan is daar die vrou Christina. Wie het haar begeester?

Christina is geïnspireer deur die mooiste vrou wat ek in my lewe in Positano gesien het en wat T-hemde verkoop het wat sy self gemaak het en in die straat opgehang het. Ek het onbeskaamd op haar verlief geraak en besluit dat dit Christina is. Voeg daarby die prentjiesmooi agtergrond en jy het die perfekte plek (setting) waar romanse kan afspeel. Ek gaan in Meimaand weer Positano toe en weer na daardie T-hempwinkel toe, soos ’n stalker (dit is in ’n piazza, terloops), net om seker te maak of sy nog bestaan. Die vrou het my doodeenvoudig begeester en het die karakter laat ontstaan. Ek het nog een van haar T-hemde in my besit en dra dit dikwels. Dit het die naam Positano daarop.

Randfigure word dikwels as stereotipes en selfs karikature uitgebeeld. Hoe vergelyk jou uitbeelding van jou held Tristan Hansen?

Ek het probeer om hom as volkome mens en man uit te beeld met swakhede, versugtings en demone waarmee hy spook. Baie van die vroue het hom gehelp om van daardie demone ontslae te raak. Katelknaap gaan ook oor die verlies aan onskuld, en ek het baie moeite gedoen met die toneel waar Tristan vir die eerste keer betaal word en eintlik “opgelei” word. Daardie toneel het my baie, baie lank geneem om, hoop ek, op ’n verantwoordelike manier te skryf. Ek het ook probeer om die stigma van seks-teen-betaling te verwyder.

Hoe verskil jou benadering tot seks in byvoorbeeld ʼn radioverhaal, TV- en rolprentteks van jou benadering in die roman?

Elke genre het sy eie dissiplines. Ek het pas ’n rolprentdraaiboek voltooi waarin daar nogal ’n eksplisiete sekstoneel is, wat ’n mens heeltemal anders beskryf as in ’n roman. Ek laat die uitvoering daarvan aan die regisseur oor, en gee net leidrade sonder om voorskrywerig te wees. Ek sal nie skryf: “Sy sit haar arm om my gespierde bolyf en sidder van ekstatiese genot nie.” Ek sal net skryf: “Hulle maak liefde.” (Nie “Hulle het seks” nie. Dit is te tegnies.)

Op radio is seks uiteraard moeilik, omdat kinders enige tyd kan luister, dus het ek dit nog nooit op radio gedoen nie, behalwe om mense te laat soen. En ook wil mens op radio tog seker nie net na ’n gesteun en gekreun luister nie.

’n Roman gee jou absolute vryheid om in die karakters se koppe in te kom en dit was vir my van kardinale belang – nie die gesteun of gespierde sespak nie, maar die genot sonder ’n skuldgevoel.

Liefde is egter deurgaans in al dié genres belangrik.

  • 3

Kommentaar

  • Ek is tans besig om Katelknaap te lees, baie goeie skryfstyl. Die storie is aaneenlopend, geensins vervelig nie. Dit wek beslis nie begeertes nie, maar prikkel wel die leser se belangstelling en ek kan nie wag om verder te lees nie. Wil graag weet of daar 'n fliek gaan wees?

  • Dit is ’n uitstekende bespreking. Mense wat nie gereed is om ’n boek oor seks, veral gay seks te lees nie, moet gewoon maar net nie die boek lees nie.

  • Dis 'n heerlike roman. Die rede waarom Tristan doen wat hy doen, maak mens se oë oop. Daar is geen Afrikaanse skrywer wat sulke (funksionele, prikkelende) sekstonele soos Van Nierop kan skryf nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top