Die poppe dans in Wolwedans – Naomi Meyer gesels met Leon van Nierop

  • 2

Wolwedans in die Skemer herleef. Dié film het pas by die Silwerskermfees vertoon en word in Oktober landwyd uitgereik. Naomi Meyer het Leon van Nierop oor die wolf in al sy gedaantes uitgevra.

Hallo Leon, en baie dankie vir die geleentheid tot gesprek. Dis toe ek onlangs in die Afrikaanse Skryfgids gesien het jy hanteer die afdeling grillers en rillers dat ek oor jou werk begin dink het. Noudat Wolwedans in die Skemer as film gou landwyd gaan begin draai, móét ek jou eenvoudig ’n paar vrae vra: Wolwedans in die Skemer was in 1982 op die radio en ongeveer twee jaar later op televisie. Nou word dit ’n film. Hoe verskil die oorspronklike teks in jou kop van wat in al drie hierdie genres met die storie gebeur? En waar voel Wolwedans in die Skemer het hy tuisgekom?

Wolwedans het oorspronklik op 6 Augustus 1980 op Springbokradio begin, en het daarna ’n vervolg beleef in 1982 omdat die reaksie so oorweldigend was. Die storie bly basies dieselfde, maar die manier van vertel, die invalshoek, hoe die geheime openbaar gemaak word en die woorde wat die karakters gebruik, verskil. Op radio praat hulle aanhoudend. In die film is daar omtrent net 35% dialoog, want die beeld vertel alles. In die roman kan ek in die karakters se koppe inkom en dit het nuwe uitdagings gestel.

Onthou: Wolwedans bly eintlik primêr ’n radioverhaal wat in klank vertel word, maar omdat dit so gewild was en legendariese status bereik het, wou mense dit ook sién. Ek voel Wolwedans is tuis in elke medium, want ek het dit spesifiek vir daardie mediums geskryf en die reëls vir daardie mediums probeer gehoorsaam. Dit het die storie ook vir my vars en interessant gehou ... Dus het elkeen (elke weergawe) hopelik sy eie sjarme. Wolwedans is sy eie dier en sal in sy bewonderaars se koppe iewers tuiskom. Hulle moet self besluit waar dit is.

Al wat Wolwedans nog moet word, is ’n musical!

Wolwedans het ontstaan vir die radio. Dink jy – wat ondervinding het van film en hoorbeelde – dat die visuele ewe sterk in hoorbeelde beklemtoon moet word? Of hoe verskil die aanbieding van die visuele? Die een is die insinuasie van beeld, die ander blatante en voor die hand liggende aksie. Of oorvereenvoudig ek? Wat is vir jou die grootste verskille as mens iets skryf vir ’n kyker en vir ’n leser en vir ’n aanhoorder?

Ja. Die oorspronklike radioverhaal het baie sterk op byklanke en stemwerk staatgemaak. Ek het probeer om klankprentjies te teken sodat mense dit kan sién gebeur. Die enigste verandering met die filmmedium is dat mense nou gaan sien hoe die karakters lýk – dus is dit ’n plus-faktor. Maar Jozua Malherbe het soveel respek vir die storie en sy atmosfeer gehad, en hy het na van die episodes geluister, dat hy probeer het om daardie presiese atmosfeer in sy regie oor te dra, want uiteindelik is die rolprent vir die bewonderaars (fans) gemaak en nie ek of hy wou hê dat hulle teleurgesteld moet wees nie.

Hier is die potgooi van die eerste episode van die nuutste Wolwedans in die skemer op die radio.

Wolwedans in die Skemer word nou pas weer deur RSG as radiodrama uitgesaai. Hoe ywerig luister mense nog radiodramas, dink jy, in ’n tyd waar die visuele so sterk aanspraak maak op ’n hele geslag kykers wat van kleins af met televisie gevoer is (en nou met XBox en iPad, ensovoorts)?

Die reaksie is tot dusver geweldig positief, veral van die oorspronklike bewonderaars wat daarna geluister het. Hulle het net ’n rukkie geneem om aan die nuwe stemme gewoond te raak, soos dit my ’n rukkie geneem het om aan die nuwe gesigte gewoond te raak, en ’n nuwe geslag akteurs wat met ’n totaal nuwe en vars styl speel in vergelyking met die akteurs van die jare 80.

Ek dink met TV en iPads, ensovoorts, staan die verhaal nie veel van ’n kans by die jonger geslag op radio nie, omdat radio bloot nie cool genoeg is vir hulle nie. Ek dink egter dat word of mouth die jonger geslag sal aanmoedig om dit op film te gaan kyk, want dit is die medium waarin die jonges die tuisste voel. Onthou, ek skryf al vir vier jaar ’n jeugverhaal vir RSG (Ratels) wat Maandae-aande om halfagt uitgesaai word en wat ’n kultusgevolg onder jonges het. (Sien Facebook en tik in “Ratels op RSG”.) Daardie dialoog, storie, karakters en aanslag is 100% verskillend van Wolwedans en trek derduisende jonges, maar hulle luister net Maandae-aande daarna, nie noodwendig die res van die tyd na ander programme nie. Ratels verskyn in Meimaand as roman by Human & Rousseau.

Wolwedans in die Skemer het ontspring in ’n era voor almal so behep geraak het met weerwolwe en vampiers. Maar was die wolwe hier van die begin af vir jou ook ’n bonatuurlike soort simbool?

Ja, beslis, en hy is ook ontleen aan die Rooikappie-sprokie, wat in die filmweergawe baie sterk figureer en nie oorspronklik in die radioverhaal so sterk was nie. Ek trek ook ’n parallel tussen die moordenaar en die wolf. En beklemtoon die feit dat die sondes van die vaders aan die kinders toegegee sal word. Kinders betaal altyd erger vir hul ouers se sondes as die ouers destyds.

Van grillers en rillers gepraat: is dit wat jy self die graagste skryf, lees en kyk?

Ek lees wyd en kyk wyd, dus hou ek eintlik van enige genre, behalwe kommin kleinhuisiekomedies. Ek is geneig tot rillers omdat dit ’n mens se verbeelding vrye teuels gee. Maar as ek moet kies, sal ek ’n goeie drama bo enigiets anders verkies.
  
Jy skryf in die Afrikaanse Skryfgids oor wat die impetus vir Adrenalien was (jy wat alleen in die bioskoop was een nag en die onverwagse gedagte: sê nou die hele teater sit vol dooies?). In Adrenalien is daar vir my raakpunte met die teks van Wolwedans in die Skemer – iemand daag op op ’n plek en skielik is daar ’n bonatuurlike konneksie. In Andrenalien beland die hoofkarakter ook in ’n huis waar dinge nie heeltemal pluis is nie. Is jy baie ingestel om die bonatuurlike of die onaardse, of smokkel jy met mense se koppe omdat jy wéét dit gaan hulle bang maak?

Ek maak mense bang met dit wat mý bang maak. En ja, omdat my familie (ouma, tante, ma) in die bonatuurlike geglo het, het ek daarmee grootgeword en gefassineer na hulle stories geluister. Vandaar dat dit ’n raakpunt in my geword het wat in my stories uitgekom het.

Ek het ook al twee of drie onverklaarbare en bonatuurlike ervarings gehad – en een wat Wolwedans direk geïnspireer het.

Maar dan ook: die reeks waaroor mense van my generasie, wat in die sewentigs gebore is, nog steeds praat: Ballade vir ’n Enkeling. Nie ’n griller nie. Maar ’n sielkundige riller, op ’n sekere vlak. En ongetwyfeld ook een waar jy met jou kykers se koppe smokkel. Waar het hierdie storie ontspring?

Ek het in ’n bedryf begin en grootgeword waarin mense van jou sien wat hulle wíl sien en hoe dit hulle pas.  Verskillende mense het dus verskillende sienings van my gehad, en toe ek besef wat hulle (foutiewe) indrukke van my was, het ek gedink: dit moet lekker wees om iemand soos ’n joernalis of ’n biografis te kry wat perspektief gee aan jouself, ook oor jouself. Want as jy self probeer om daardie miskonsepsies reg te maak, sal dit tog nie help nie.  En daarom het ’n joernalis in Ballade na ’n skrywer gaan soek wat verdwyn het, omdat hy wou hê dat sy die waarheid oor hom moet uitvind en aan die publiek moet verkondig. En so ontmoet hy toe ook sy sielsgenoot, wat hom leer ken het soos hy werklik is en nie soos sy vyande of sogenaamde "vriende" en mense wat hom gebruik het, dit wou sien nie.

Met Wolwedans in die Skemer kan mens aanvoel  hierdie sal werk op ’n skerm. Maar met Ballade vir ’n Enkeling wat so in mense se koppe beweeg – veral in die hoofkarakter en sy boesemvriend s’n – hoe het jy dit toeganklik geskep vir ’n visuele medium soos die televisie?

Ek het Ballade eerstens en primêr vir televisie geskryf en het dus die storie so uitgedink dat dit op televisie sou werk. En omdat Jacques Rynhard so lief vir die natuur was (soos ek), maar sku is vir mense (soos ek), was dit interessant om hom uit ander mense se oogpunte te sien en dan, reg aan die einde, te wys soos hy werklik is. Dit was dalk my lekkerste skryfervaring nog. Ek dink veral kinders het geweldig met die storie geïdentifiseer, want weer eens is ’n kind gestraf vir die sondes van sy ouers waarmee hy niks te doen gehad het nie, en baie kinders het daarmee geïdentifiseer (het hulle later as grootmense vir my vertel).

Wolwedans in die Skemer bly my insgelyks by uit my jeug, veral die televisiereeks – daar was ’n atmosfeer hier wat mens net nie wou laat los nie. Spookagtig en vreesaanjaend. As jy ’n karakter in jou storie word (en sekerlik gebeur dit ook, want hoe anders skryf jy dit so suksesvol?), hoe kry jy dit reg om snags te slaap? Sukkel jy nooit met slaapprobleme nie?

Hoegenaamd nie. My stories is my manier om die werklikheid te hanteer, daarop kommentaar te lewer of daarvan weg te kom. Niks wat ek kan uitdink, is erger as wat tans in ons land  gebeur nie. Daarom ontsnap ek in my verhale uit die trauma van die werklikheid. En nee, ek het nooit slaapprobleme nie, alhoewel my roman Insomnia oor ’n insomniak handel. Toe ek hoof van die Filmskool by TUT was, kon ek my kop snags nie afskakel nie en het toe slaapterapie ontvang om te slaap, maar dit was maar kortstondig. Daar het Insomnia toe ontstaan.  

Al wat werklik by my spook,  is my roman Verklikker, waar ek Ludwig Benauw geskep het, wat so vreesaanjaend was dat ek snags in angs van hom wakker geskrik het. Ek het daardie karakter op ’n trein in Suidwes geskep en hy het my helder en duidelik en brutaal in my kop besoek. Ek weet nie waar hy vandaan gekom het nie. Ek was ook so bang vir hierdie fiktiewe nagmerrieman dat ek die roman glad nie weer kan lees nie – ek word te bang vir hom. Ek dink nie ek sal ooit weer na daardie soort donker plek kan of wil gaan nie, want hy het my na ’n grusame donkerte geneem waarheen ek nie weer wil gaan nie.

Jy skryf so baie en so wyd en vir soveel verskillende genres en mediums. Hoekom liefdesverhale onder ’n vroulike skuilnaam skryf? Lees mans en vroue, volgens jou, totaal verskillende boeke? Vroue lees tog baie dikwels ook manlike skrywers – dink maar aan Ian McEwan of selfs DH Lawrence ... Of hoe dink jy?

Die sogenaamde hygromans destyds was ’n eksperiment en Cecilia Britz, vir wie ek geskryf het, het voorgestel dat ek onder ’n vrouenaam skryf, omdat mense ’n sekere soort storie van my verwag het en dus nie maklik by die storie sou aanklank vind as dit deur mý (in teenstelling met ’n vrou) geskryf is nie.

Wolwedans in die skemer is ook op Facebook.

 

  • 2

Kommentaar

  • Goeie dag,
    Ek het onlangs saam met my suster na RSG begin luister. Nou het ek begin Google oor die radiostasie. En met teleurstelling gesien dat ek die 2012 se heruitsending van die 80's se gewilde Wolwedans in die skemer wat ek as kind nie genoeg kon kry nie, gemis het. Is daar erens 'n manier waar ek dit op RSG kan kry om te luister?
    Baie dankie.

  • Hi Yolande,
    Ek weet nie of jy intussen na Wolwedans op die radio kon luister nie. Dis nou 2019 en ek het Wolwedans van 2012 op RSG se potgooi gevind. Sterkte - jy gaan Wolwedans so geniet!!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top