Bong Joon Ho: genie sonder grense

  • 0

Die man met die naam wat niemand aanvanklik kon uitspreek nie, Bong Joon Ho van Parasite-faam, is sy eie dier. ’n Instinktiewe genie wat in geen gleufie pas wat Hollywood vir hom geskep het nie, alhoewel die droomfabriek aangekondig het dat Parasite klaarblyklik in ’n TV-reeks omskep gaan word, natuurlik in Amerikaans. O wee! Mens kan jou beswaarlik voorstel hoe daardie meesterstuk as ’n Big Mac met ekstra slaptjips opgedis gaan word.

Bong Joon Ho verduidelik dat hy al dikwels rolprente gemaak het, maar dat niemand belanggestel het om dit in Amerika te versprei nie, met die uitsondering van Snowpiercer (2013), en dat dié fliek maar power by die loket gevaar het. Wysneusresensente (daar was uitsonderings) het die rolprent 1 ster gegee en voorspel dat ons nooit weer saam met Bong gaan bokspring nie.

En toe kom 2019 se Parasite.

Daarom sal dit jou die moeite loon om na twee van sy vorige rolprente te gaan kyk. Dit is altyd bedenklik (en gevaarlik) om na films as “meesterstukke” te verwys. Dié term word deesdae te los vir veral plaaslike pogings, wat die orgasmiese lofsange hoegenaamd nie verdien nie, gebruik. Akira Kurosawa en Ingmar Bergman (om maar twee te noem) het volbloedmeesterstukke geskep. Dalk moet daar weer gekyk word na die definisie van daardie woord wat deesdae amper ’n soort luiskryf geword het wanneer ’n rolprent “goed” of bo gemiddeld is in ’n resensent se oë.

’n Meesterstuk is seldsaam en moet aan sekere vereistes voldoen.

Bong Joon Ho se vorige rolprente openbaar ’n sluimerende uitsonderlike aanslag wat as ’n voorspel en vingeroefeninge dien tot die meesterlike Parasite. Sy Mother (2009), wat tog nie verwar moet word met Darren Aronofsky se gemorskospoging Mother! (2017) nie, bewys dat hierdie regisseur ’n fyn oog het vir komposisie, mise-en-scène, produksieontwerp, klank, musiek, kunsregie en ’n rustelose kamera as verteller, in plaas van ’n passiewe waarnemer of ’n besete tor wat ’n regisseur se visuele ego streel.

Wanneer Bong Joon Ho sy kamera laat kaperjol, is daar ’n rede voor. Want soms is ’n passiewe verteller (Bergman) of fyn-gekoreografeerde oog (Kurosawa) baie meer kragtig as ’n huppelende hommel wat oor vlugtende mense swiep.

In Mother stel die regisseur ons bekend aan ’n oënskynlik passiewe Suid-Koreaanse ma wat lief is vir haar “gestremde” seun. Die woord word tussen aanhalingstekens geplaas, want Won Bin (wat Yoon Do-joon speel) is onskuldig, ’n bietjie traag om te dink en naïef in sy siening van ’n selfsugtige wêreld wat nou, ironies genoeg ná die koronavirus, gelykgemaak is. Ryk, arm, slim of dom, of bemoei met kultuur- en klasseverskille maak nie vir hom saak nie. Hy sien net die goedheid in mense raak.

Juis daarom word hy misbruik deur boelies wanneer ’n meisie aan wie hy kortstondig aandag gegee het, vermoor word. Hy is ’n gerieflike swartskaap ? sondebok? wat gebrandmerk word as moordenaar, en die briljante Hye-ja Kim as sy ma storm deur die res van die rolprent met ’n koppige doelgerigtheid om sy onskuld te bewys. Niks stuit haar nie. Hierdie Mutter Courage gee gestalte aan die frase “onselfsugtige moederliefde”, maar die aktrise, vir wie die regisseur die rol geskryf het, druk deur.

Dit mag jou inspireer en wys dat genialiteit hier reeds in die regisseur gesluimer het wat net op die regte voertuig gewag het om geboorte te gee aan ’n donker komedie soos die wêreld nog nooit gesien het nie.

The host (2006) se plakkaat, daarenteen, het my aanvanklik bevooroordeel gelaat, want dit het gelyk na Hollywoodse B-graad-eksploitasie of Hammer-monster-flieks, of selfs die onlangse smartlike Crawl (2019). Maar niks kan verder van die waarheid wees nie.

Ironies dat hierdie rolprent juis nou weer ontdek word, want ’n monster word in die water geskep na erge besmetting, nes ons goeie vriend Godzilla wat al soveel dekades lank deur Hollywood misbruik en verkrag is. Die glibberige tentakeltierlantyn neem dan wraak deur die mensdom met ’n virus te besmet (onderontwikkel in die draaiboek) en die natuur te reinig, want mense het Moeder Natuur lank genoeg verrinneweer. Dis vergeldingstyd.

Klink dit bekend?

Maar hier is geen goedkoop truuks nie. Die monster is seker die mees skrikwekkende gedierte sedert die Alien en in ’n mate die Predator. ’n Mens wil nie te veel verklap nie, behalwe om te sê dat Bong Joon Ho, nes in Mother en Parasite, op die gesin as kern van oorwinning klem lê. Wanneer ’n dogtertjie deur die onvernietigbare grieselgees ontvoer word, sit ’n gesin hul verskille eenkant om haar te probeer red. Dit gaan dus oor gesinsbande, ouer- en broederlike liefde, maar ook die wete dat die natuur nou terugveg.

Die spesiale effekte is briljant (onthou, hier is geen Hollywood-geld-droommasjien wat miljarde spandeer op ’n stert wat klap nie), maar ’n ondersteuning van die gruwels waarvoor die selfsugtige mensdom verantwoordelik is. Suid-Koreaanse spesiale effekte blink uit.

Die regisseur het onlangs bely dat hy “maar net flieks maak, gesukkel het om ’n merk te maak en nie verstaan waaroor al die bohaai gaan nie”. Na hierdie twee rolprente (The host is op Netflix en Mother gaan jou vyf dollar op iTunes kos om te huur) kan jy gerus wees. ’n Meesterstuk sluimer dikwels in ’n regisseur se onderbewuste en bars dan vreesloos na vore in een geniale produk soos Parasite.

Maar hiermee die kersie op die parasiet of Host se stert. Bong Joon Ho kan met niemand anders vergelyk word nie. Hy is nie soos iemand anders nie. Hy is sy eie dier. Mag hy die Hollywoodse monumente vroeg-vroeg inmekaar laat tuimel met intelligente, weldeurdagte en stylvolle, uhm, meesterstukke. Hy het die moderne rolprent loshande herontwerp.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top