’n Persoonlike blik op die lewe en loopbaan van Paul Eilers

  • 10

My eerste kennismaking met Paul Eilers op 2 Januarie 1975 was onortodoks en uniek. Geen gemaklike hand-om-die-skouer-koekeloer-gesprekkie nie. Dit was ’n op-die-plek-sit-onderhoud – ’n warm kooltjie wat tussen jou onervare bakhande rondgegooi is. En terwyl hy gepraat het, het hy gedurig sy kuif van sy voorkop weggevee, amper asof uit irritasie.

Ek was natuurlik van hom as akteur, radio-omroeper en radio-regisseur bewus, en het ook geweet van die kunsprogramme wat hy op die destydse Afrikaanse diens van die SAUK aangebied het. Vars uit die universiteit word ek toe aan hom voorgestel in die gange van die destydse Uitsaaihuis in Commissionerstraat, Johannesburg.

“Weet jou ma al jy is uit die cot?” vra hy aan ’n 21-jarige bleeksiel wat tien jaar jonger gelyk het as wat hy was, en boonop nog ’n militêre haarstyl gehad het, pas uit ’n weermagkamp. “En wat is sy naampie?” vra hy.

“Leon van Nierop,” kon ek dit uitkry.

“Nee wat, bokkie. Dit klink soos lewertraan. Van vandag af is jy Lewers. Niemand gaan ooit daai van onthou nie.” En Lewers was my bynaam van daardie dag af.

Eilers het altyd daardie skerp, deurdringende raaksienblik vol eiesoortige duiweltjies op my gefokus. “Jy is die duiweltjie wat my ma my altyd gesê het op my skouer sit,” waag ek dit eendag. Dit moes ek nie gesê het nie, want van toe af het Paul elke Dinsdag- en Donderdagmiddag, wanneer hy die markberigte en vleispryse op kortgolf moes lees, dit voor my neergesit. Hy het weerloosheid vinnig raakgesien!

“Alle nuwe omroepers moet hierdie ding vir die oumanne lees.” Ek het weke lank gedwee deur 45 minute se syfers en verwikkelde inligting geworstel, tot iemand gesê het dat jong omroepers dit net as deel van hul skofte moes doen. “Jy hoef dit nie vir iemand anders te doen nie.” Ek het Paul met ’n paar oorfone gegooi toe ek van die “misbruik van my talente” verneem, waarop hy my summier teruggegooi het.

“Een ding, Lewers. Jy het geleer om foutloos te lees. Jy sal my eendag bedank daarvoor.”

Ek onthou ook die lang weerberig vir kusskeepvaart destyds 10 oor 11 in die aande. Wanneer Paul nuus gelees het en ek kontinuïteit gedoen het, het hy ingesluip terwyl ek op die lug was en dus nie beswaar kon maak nie, die papiere voor my neergesit en na die nuusateljee verkas om die bulletin te lees. Ek kon dit dus nie teruggee nie, al was dit sy werk om dit te lees.

“Mens begin heel onder in uitsaai,” was sy kommentaar na die tyd.

Paul het my baie van stemtegnieke, radiodrama-regie en spel geleer. Hy het, om die waarheid te sê, die eerste keer voorgestel dat ek dalk regie kan doen. Ek kry toe op ’n jeugdige ouderdom my eerste radiodramateks om op te voer met Paul (en Roelf Jacobs, hoof van radiodrama), wat leiding gegee het. “Diep kant inspring, seun, diep kant,” was Paul se kommentaar voordat ek 12 van die grootste akteurs en aktrises in die bedryf deur ’n drama moes lei.

Dit is wat ek van Paul onthou. Al die deure wat hy onverwags en skielik vir my oopgemaak het. Ook die kanse wat hy my gegee het om, na die ysingwekkende ervarings om vir Suzanne van Wijk in Seepunt in radiodramas te speel, in Johannesburg voort te sit. “Lewers. Moenie met daai voice beautiful na my ateljee toe kom nie. Wéés die rol, voel die rol, moenie na jou eie mooi stem luister nie, man! Dis in elk geval net jou ma wat dink jy’t ’n mooi stem.”

Ja. Paul kon kwaai wees, maar altyd met daardie vonkel in sy oog wat verklap het: Jy is eintlik orraait, pel.

Hy het my ook in 1976 aangemoedig om ’n boek vir Springbok Radio as vervolgverhaal te verwerk, en dit is hoe ek vir die radio begin skryf het.

Paul het ook dikwels van “tant Anna” gepraat – die formidabele professor Anna Neethling-Pohl wat, dink ek, ’n soort mentor was, en saam met wie hy dikwels opgetree het as akteur. Destyds nog op die verhoog, mits my geheue my nie in die steek laat nie, maar later ook op radio. Maar toe hy eers in die SAUK beland het (hy het sy debuut in 1972 as omroeper-regisseur gemaak), het hy onmiddellik uitgeblink. Eers voor die mikrofoon, toe agter die kameras, waar hy vir Jan Scholtz aan die tegniese kant gehelp het in die begindae van televisie, en natuurlik later as akteur.

Vyfster het hom natuurlik op televisie bekend gemaak. Ook Song vir Katryn en Die dood van Elmien Adler, om maar enkeles te noem.

Gedurende daardie baanbrekersdae het ek eendag nuus gelees met ’n verwysing na die laaste direkteur-generaal van die destydse Nuwe Nederlandse kolonie, Peter Stuyvesant. Die berig was skaars gelees, of die telefoon lui. Dit was nog voordat die destydse hoof van die Afrikaanse diens, Morkel van Tonder, my ook na die rooi tapyt ontbied het en die “oortreding” op my lêer ingeskryf is.

“Lewers! Is jy gerook?” skree Paul oor die foon vir my. Ek ontken dat ek rook. “Jy spreek die man se naam op Afrikaans uit, bokkie. Hy was ’n Nederlander, nie ’n Engelse sigaret nie!” Van Tonder se uittrapsessie daarna was ’n vulletjie in vergelyking met Paul se bykomende kommentaar!

Paul het in daardie jare die Afrikaanse diens se kunsteprogram, In die voorportaal, aangebied, en toe hy te besig begin raak, dit aan my toevertrou, waarna ek dit vir vyf jaar lank behartig het. “Moet dit net nie ’n vlooifliekprogram maak nie!” was sy waarskuwing. “Ek watch vir jou!” Dit was nóg ’n deur wat oopgemaak is, want so kon ek teaterresensies en -onderhoude doen vir ’n program wat die kunste, ballet, opera en teater in Afrikaans bevorder het. So het ek met vele Afrikaanse teaterlegendes radio-onderhoude gevoer. En terloops, hy het daardie mooi kenwysie, “Villa rides”, glo self gekies. “Mense moet net nie dink dit was jy nie, Lewers!”

Ek het sy loopbaan as akteur met belangstelling dopgehou. Nadat hy met die vervaardiger Piet de Jager en regisseur Sallas de Jager bande gesmee het, is drie rolprente daaruit gebore: Roepman (2011), Verraaiers (2012) en Stuur groete aan Mannetjies Roux (2013). Ek het bewoë na Roepman gekyk en ’n regisseur aan die toppunt van sy talente daaragter raakgesien. Paul sou vele staaltjies vertel oor hoe moeilik dit was om ’n rolprent te maak, veral wat die tegniese aspekte betref, maar het net lof gehad vir die ondersteuning wat hy van die vervaardigers en tegnici gekry het.

“Clint Eastwood het gesê: ‘Dit is maklik vir dié wat nie kan nie, maar dêm moeilik vir dié wat kan,” het Paul herhaaldelik opgemerk.

Menslikheid, ’n fokus op die sosiopolitieke probleme van daardie tyd, die armblankevraagstuk, apartheid en die rol van treine in die sestigerjare was van die temas wat hy ontgin het. Maar hy het ook vreesloos kommentaar gelewer op die patriargale stelsel, gesinne wat in vrees vir ouers geleef het, en die Verwoerd-era. Dit het alles in die visuele subteks gelê – iets wat destyds selde ná Jans Rautenbach in die Afrikaanse film gebeur het.

Eilers se regie was sober, sonder clichés en versuikerde sentiment, en oopkop op die man af eerlik. Toe ons na ’n vertoning ’n gesprek daaroor gevoer het, was ek verbaas om nie geroskam te word omdat ek gewaag het om ’n mening oor die rolprent te lug nie. “Ek stem volkome saam met wat jy gesê het. Jy is ’n yster,” is woorde wat my vir lank bygebly het.

Ons het dikwels daarna weer gepraat, ook oor hom as omroeper in die Suid-Kaap, en eendag, nadat ’n bekende gesterf het, sê hy vir my oor die foon: “Lewers. Hulle kap nou in ons wingerd.” Min wetende dat ek dié woorde weer op 28 Junie 2019 sou onthou.

Nog ’n herinnering: Toe Paul met vakansie gegaan het in 1975, het hy my en Leon Schuster gevra om sy huis op te pas. “Julle is rêrig ’n odd-vriende-couple,” het hy met sy kenmerkende skewe grinnik gesê.

“Maar hoekom juis ons?” waag ek om te vra.

“Want Schuster gaan mors en jy gaan opruim, dan weet ek my huis staan darem nog na die tyd!” was sy skewebek-glimlag-antwoord.

Dit was Paul. Dikwels kwaai (as regisseur), maar nooit brutaal nie. Soms sarkasties, veral wanneer ek ooglopende en slordige nuusleesfoute gemaak het, maar altyd met daardie fyn nuanse in die stem wat eintlik verklap het: Jy is oukei.

Hy het my die moed en selfvertroue gegee om in die bedryf te begin, en waar baie mense die deur brutaal in my gesig toegeklap het en vele onnodige struikelblokke op my pad geplaas het, was Paul die teenoorgestelde. Hy het potensiaal raakgesien en help ontwikkel. Hy het die eerste noot ingesit. Ek het net in die koor gevolg en later my eie stem ontdek.

Ek sal Paul Eilers altyd daarvoor eer en dankbaar wees.

Daar is van 28 Junie af ’n reuseleemte in die vermaaklikheidsbedryf.

  • 10

Kommentaar

  • Evert F. Bakkes

    Wat 'n hartseerdag en verlies is dit nie vir Afrikaans en die vermaaklikheidsbedryf nie!

  • Gustaf Claassens

    Dis 'n huldeblyk wat 'n blik op albei se 'ratwerking' as mense is. 'n Goeie voetnota vir toekomstige verwysings oor grotes en legendes wat ons kultuur staande en lewendig hou. Goed so.

  • Leon, jy is 'n meester met die woord! Soveel respek en waardering vir 'n mentor van faam! Dankie!

  • Gustaf Pienaar

    Knap gedaan, Leon! Eilers op sy beste. Ek onthou hom ook uit die Commissionerstraat-dae. Stout! Later het ons nou saamgewerk met die totstandkoming van Suid-Kaap Stereo, met ateljees op Oudtshoorn en George. Ek was die stasie se prokureur - wat telkens vure moes help doodslaan. Dit was Paul en Marina se uiters ambisieuse spanpoging, wat oplaas nie geslaag het nie. Eilers was uit sy diepte om 'n radiostasie te bestuur. Maar solank SKS op die lug was, was dit radio op sy beste. Ek eer sy nagedagtenis.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top