Die klagtes stapel soos taxi’s se spoedboetes in William Nicholl op. Geweld kraai tans koning met bloed wat uit sy versnipperde hanekam stroom – nie net in ons gewelddeurdrenkte land wat wemel van wanbestuur nie, maar ook in rolprentteaters. Dit is asof plaaslike gehore geweld geniet om die onbekwaamheid in ons land op dié manier te verwerk. Iemand moet Eskom ’n slag in die martelstoel plaas. Maar dit sal ongelukkig nie help nie. Die skade is 12 jaar gelede reeds aangerig. Toe moes die marteltange al ’n paar toonnaels uitgetrek het en skokterapie deur enkele breine gestuur het.
“Geweld” was nog altyd ’n modewoord. Sedert Sam Peckinpah in die sestigerjare ’n orgie van bloeddorstige geweld in The wild bunch (1969) en Straw dogs (1971) laat seëvier het, en A man called Horse (1970) vir Richard Harris aan sy tepels aan drade opgehys het, was geweld die juweel in Hollywood se skewe kroon. Een van die koerantopskrifte in die sewentigerjare in ons land was ironies genoeg: “Seks is uit. Geweld is in.”
Maar seks is nog altyd in daardie jare in ons land uit films verwyder, veral wanneer die geringste verwysing na die seksuele, laat staan nog ’n tepel, gewys is. Selfs soene en die ligte koestering van ’n bobeen is uitgesny of verban. Ek was in ’n teater waarin ek skelm ingesluip het om na die “niemand onder 21”-Women in love te gaan kyk waar ’n tepel op skerm deurgeglip het. Die polisie het die rolprent onmiddellik gestaak en dit as pornografie gekonfiskeer, terwyl gruwelike geweld in die teater laer af in Eloffstraat geseëvier het.
Daardie slegte ou Jannie Kruger-dae is gelukkig verby, veral danksy die liberale en oopkop Kobus van Rooyen wat Basic instinct (1992) destyds ongeskonde deurgelaat het. (Arme Michael Douglas was nie so gelukkig nie!) Ek onthou ook dat ’n woordvoerder van die sensuurraad ons as resensente destyds spesiaal in 1979 kom toespreek het met die vertoning van Al Pacino se “gewaagde” And justice for all, waarin die persoon dramaties aangekondig het: “Julle gaan vandag iets in hierdie rolprent hoor wat nog nie tevore in Suid-Afrika op die silwerdoek gehoor is nie.”
Die f-woord het vyf keer deur die teater weerklink gedurende die rolprent, en die mure van die Ster-Kinekor-voorvertoningsteater het nie ineengetuimel nie. En dieselfde woorde agter duisende skooltoiletdeure het liggies gebewe. Dis waar ons dit die eerste keer op sewejarige ouderdom gesien het, terloops. Toe mag almal oor 18 dit uit Pacino se mond gehoor het.
Mag ons nooit weer daardie donker era ingaan toe sensors besluit het wat jy mag sien en nie mag hoor nie. Jou delikate wandelinge onder die jakarandas kon nie versteur word deur herinneringe aan ’n kaal bobeen nie, en jou “wandelinge langs die plaasdam”-psige moes ongeskonde gebly het.)
Maar in 2020 het twee rolprente hulle as grensgevalle aangemeld. Ek preek in geen omstandighede vir sensuur nie. Allermins. Nooit! Maar ’n mens begin wonder of regisseurs so desperaat geword het om mense in teaters te kry (wat vinnig, te wyte aan Netflix, aan die leegloop is) dat hulle deesdae geweldallegaartjies opdis waar jy derms vir ontbyt, afgesnyde kele vir middagete en verwronge geslagsdele vir aandete saam met jou daaglikse glas donkerrooi bloed afsluk. En as slaapdrankie: uitwerpsel deur ’n gemartelde siel wat uit ’n wasbak as poeding opgeskep word.
Die twee rolprente wat in hierdie geval werklik aanstoot gee en opnuut ’n debat kan ontketen oor waarheen rolprentgeweld en eksplisiete taal heen beweeg, is The informer (2019) met die aantreklike en sensitiewe Joel Kinnaman, en stoutseun Guy Ritchie se brutaal-verheerlikende The gentlemen (2019).
Nou is dit waar dat Ritchie, nes Quentin Tarantino, bekend is om ekstreme rolprentgeweld. Dalk het Ritchie se huwelik met Madonna hom steeds so die hoenders in gemaak dat hy nou op ons wraak neem! Maar Tarantino se koel (!) geweld het darem nog subteks en ’n dieper betekenis, soos die masochistiese uitwissing van die Manson-bende in Once upon a time … in Hollywood (2019) bewys het. Dit was ’n bloeddeurdrenkte sprokie wat uiting aan die gehoor se opgekropte vergeldingsdrange gegee het deur die geweldenaars op die gruwelikste manier denkbaar te straf. Durf ek erken dat ek met ’n mate van versigtige genot (al blosend) en bevrediging uit hierdie bloedbad gestap het wat Peckinpah na Urbanol sou laat gryp het?
Maar so daag Deon Taylor fluit-fluit op met The intruder, ’n tronkdrama wat selfs die mees geharde tronkvoël se tatoeëermerke sou laat snik. Joel Kinnaman se fraaie gelaatstrekke vertrek vir langer as ’n minuut in groteske pyn terwyl hy verwurg word, maar in ’n liefderyke nabyskoot. ’n Skurk se oor word vir langer as ’n minuut met ’n soort mes deurboor, en reëlmatige kakebeen-knakkende gevegte speel uitbundig af en raak soms so oordrewe dat die gehoor hierdie geweld grynslaggend en met gimnasiumgeoefende vuiste triomfantelik in die lug vier.
Die res van die rolprent handel oor mense wat, dikwels in nabyskote, lewend verbrand en vermink word, wie se beendere uitmekaar gemoker word en wat die mees groteske martelings denkbaar ondergaan.
Nou weet selfs oningeligtes dat tronke geen Sondagskoolkpiekniek langs die leliedam is nie. Maar hierdie soort onverantwoordelike opeenstapeling van geweld maak ons so geweldvoos dat dit die sensitiwiteit uitkanselleer en jou visuele pyngrens oorskry. Is dit regtig nodig om so lank op geweld te fokus waar selfs die Richterskaal knak? Natuurlik moet geweld in sulke situasies uitgebeeld word, maar wanneer die regisseur masochisties lekkerkry oor wat hy wys en nie weet wanneer om weg te sny nie, is sy motiewe bedenklik.
Dieselfde geld Ritchie se selfvertroetelende The gentlemen (2019), waarin ’n klomp gewetenlose grieselmense mekaar verkul, in die rug steek, nonchalante leuens opdis en kragwoorde werp soos konfetti op Megan Markle terwyl sy uit die kerk gestap het na ’n toekoms in Hollywood.
Die c-woord om vroue te beskryf word seker 25 keer gebruik, soms sommer ’n hele blerts in ’n ry. En natuurlik sal die manne nie sê: “Oe, my alla mapstieks, ek sal jou piets, jou nare biets!” nie, maar enige mens se vloekgrens word in so ’n mate oorskry dat jy later nie meer jou c-woord van jou lolliepop kan onderskei nie.
En die f-woord (gemotiveerd in sekere gevalle) se snaar word aanhoudend en tot vervelens toe getokkel tot die klaviersnaar breek. (Was dit Pieter-Dirk Uys wat die sensuurraad destyds berispe het dat daardie woord met ’n f en nie ’n v nie gespel word toe hulle hom geroskam het oor vloektaal in ’n teks?)
Nou wonder ’n mens net: Het rolprente ’n geweldbesmette versadigingspunt bereik? Kan die uitryg van derms en die breek van hakskene in nabyskoot te ver gedryf word indien dit by herhaling voorkom om die regisseur se ego skynbaar te streel? Want hy/sy het al verskeie voorgangers beleef waar die geweld net erger en erger word. Dus word elke voorafgaande voorbeeld oortref.
Quo vadis, geweld? Wanneer is te veel te veel? En wanneer oortref vloekwoorde selfs jou woordeskat wanneer beurtkrag jou onverwags tref of ’n taxi voor jou rem aanslaan?
Kyk die lokprent vir The intruder hier:





