Filmresensie: The half of it

  • 0

The half of it
Met Leah Lewis en Daniel Diemer
Regisseur: Alice Wu
Resensie: Leon van Nierop

Moenie dat enige simpel tienerfliek vir jou romantiese ore aansit of lipstiek oor die waarheid plaas nie. Dit suggereer mos gerieflikheidshalwe dat liefde prettig, resepmatig en beeldskoon is. Maar hulle lieg mos! Dit gebeur net in storieboeke.

Daarom: Indien daar (gewoonlik op Netflix) ’n tienerfliek opgehemel word soos die onuitstaanbare The kissing booth (2018), of enigiets met vleispaleis van die dekade Noah Centineo in die hoofrol, is die eerste wat waai die hemp. En kort daarna logika en realiteit.

Maar skielik doen Netflix ’n welkome regsomkeer en stel ’n tienerrolprent vry wat 90% van die clichés mistas. Goed, dit leen natuurlik by Cyrano de Bergerac, maar op so ’n vernuftige en byna naïewe wyse dat Edmond Rostand die regisseur Alice Wu sekerlik die spoeg-en-plak-lenery sal vergewe. Want dit plaas suikerstokkieliefde in die tuimeldroër tussen vuil onderklere en gebruikte kondome, en bewys dat ware liefde morsig, wreed, chaoties en moeilik is. En moenie dat enige tienerfliek vol versiersuiker jou anders wysmaak nie.

Die vorige rolprent wat tienerromanse só oopkop en eerlik aangespreek het, was The perks of being a wallflower (2012), waarin onomwonde verklaar is: Ware liefde steur hom/haar nie aan kleur, seksuele oriëntasie, rykdom of bultende biseps nie. Nog minder aan uitpeulbloesies en uitgerafelde kortbroekies. Dit gaan oor een siel wat ’n ander soek en telkemale bedroë daarvan afkom en in die Melkweg van emosies verdwaal.

Dit is The half of it se pluspunt. Dit is geen meesterstuk nie, en moenie die klassieke The Breakfast Club (1985) of Ferris Bueller’s day off (1986) verwag nie. Hierdie sobere, plat-op-die-aarde-tienerromanse ruk die idealisering uit hormoongedrewe liefde en druk ’n puisie of twee blatant in nabyskote uit. Dit gee ’n servet aan om die morsigheid van ’n mislukte tienerromanse af te vee, maar behou steeds genoeg substansie om reg aan onontginde romanse te laat geskied.

Ellie Chu (gespeel deur die uitstaande Leah Lewis – dalk ’n bietjie te volwasse vir die rol van ’n tienerskoolmeisie) pas nie in ’n verwaande Amerikaanse skool nie. Sy ervaar liefde deurgaans tweedehands, want sy is Chinees en haar pa leer Engels deur romantiese flieks soos Casablanca te kyk. Ellie probeer aanvaarding verdien deur geld te maak, daarom skryf sy haar klasmaats se opstelle vir hulle oor – teen vergoeding natuurlik! En dit is hoe ’n outjie wat die retina se aandag vinnig sou trek, maar ook geen Noah Centineo is nie, op haar spoor kom.

Die uitstekende Daniel Diemer is nommerpas as die verliefde maar lomp Paul. Hy is gek oor die skool se mooiste meisie en probeer vir haar liefdesbriewe skryf, maar sy sinskonstruksie laat hom in die steek, laat staan nog sy liefdeskonstruksie. En so beland Ellie in sy visier as ’n helpende briefskrywende hand.  

Maar nes jy gedink het jy kan die storie voorspel, net so vinnig swaai dit om en oorrompel jou. Ellie stort haar hart in die seun se briewe uit, maar sy maak eintlik vrede met haarself en die liefde. Sy ontdek en aanvaar wie sy eintlik is, verwerk haar seksualiteit en vind haar weg tussen die miljoene sterre in die Melkweg deur. Die ironie is: Sy is eintlik self verlief op die mooi meisie aan wie sy skryf, en stort haar wanhopige emosies en versugtinge op geduldige papier met ’n omweg uit.

Meer wil ’n mens nie verklap nie, behalwe om te sê dat hierdie koelkop, realistiese en melancholiese romanse jou telkens aan die hakskeen byt. Daar is soveel temas wat gelyktydig ontwikkel word dat sommige tussen die sterre deurval en selfs die maan mistuimel. Die mooie Aster (Alexxis Lemire) neig om ’n ster aan die hemeltrans te bly en nooit aarde toe te val nie. Sy hoort, in hierdie gedaante, eintlik in ’n inkleurboek tuis, en haar karakter benodig ’n stewige herbedinking en sielsuiwering.

Maar die res van die karakters is netjies afgerond, duidelik omlyn en volkome tiener. Amper soos in The Edge of 17 (2016), nog ’n tienertriomf, kry tienerneurose hier status en houding, veral wanneer ons uitvind dat die heldin ’n ateïs is (maar sy speel orrel in die kerk vir ekstra geld!) en die meisie op wie sy verlief is, ’n predikantsdogter! Die pap word net dikker en lekkerder aangemaak.

Voeg daarby die doodgewone weglêkuifheld (Diemer), en ’n driehoeksituasie ontstaan waarvan die hoeke so skerp raak dat dit bloed trek.

Moenie afgeskrik word deur die etiket “tienerromanse” nie. Die net word veel wyer gegooi. Hier blom die tieners – hulle rol nie bloot hul oë tot hul wenkbroue moeg raak daarvan nie, en die klere waai nie as ’n hand laer as ’n brabandjie sak nie.

Die storie word kundig opgesom in raakvat-tienersêgoed met so ’n tikkie oorspronklikheid soos: “Probeer om minder soos jy te wees.” Clichés worstel nie hier met groot, skewe neuse nie, maar word besweer deur filosofiese briewe wat tienerideologieë respekteer en netjies ontrafel.

Selfvertroue word met elke sin in ’n koddige dog lewegewend-potente briefwisseling ontwikkel, en die film bevry veral miskende vroue wat so gewoond is daaraan om op film misbruik te word.

Die rolprent verklaar onomwonde: “Swaartekrag is die aarde se reaksie op eensaamheid”, nes die briewe Ellie se reaksie op uitsluiting is. En liefdesbriewe raak ’n tiener se manier om dieper te delf as die oppervlak.

The half of it is ’n verrykende film wat ’n paar trappies bokant die blatant-gemiddelde tienerborrelgom-liefdesliedjie is. Waag ’n kans! Dit is geen Ladybird (2017) of Eighth Grade (2018) nie, maar mag ’n vars asempie oor jou voos rusbank blaas. En jou dalk deur nuwe oë na jou tiener laat kyk.

Kyk die lokprent hier:

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top