Filmresensie: Hollywood

  • 0

Hollywood
Met David Corenswet en Jake Picking
Regisseurs en skeppers: Ryan Murphy en Ian Brennan

’n Ruk gelede het Quentin Tarantino die Charles Manson-moorde vrolik herskryf. Sy wraak was selfs meer gewelddadig as die ware moorde. Hy het die menseslagting stylvol opgedis soos hy verkies het dit moes gebeur het in Once upon a time ... in Hollywood (2019).

Nou trippel Ryan Murphy in sy voetspore met sy herwaardering van die goue Hollywood-era nadat 1946 die gewildste rolprentjaar in die geskiedenis was. Maar in die proses het hy lipstiek oor die waarheid gesmeer waarteen fynproewers, veral siniese fliekgangers, beswaar kan maak. Diegene wat glo daar lê ’n goue pot onder die Hollywood-reënboog, soos Judy Garland dit in The Wizard of Oz (1939) besing, sal alles vir soetkoek opeet.

Indien jy dus jou afstandbeheerder op hierdie Netflix-reeks rig en “speel” druk, weet net: Slegs ’n kantsakdoekie-oppervlakte hiervan is waar. Die res is opgetert. Daar is omtrent soveel waarheid in die geïdealiseerde episode 7 as wat daar tequila in jou huis op die laaste dag van die fase 4-grendelgreep was.

Almal is bewus van die troetelbankie (casting couch) in Hollywood wat onlangs weer supersterstatus bereik het nadat Harvey Weinstein dit deurgerits het, oop kamerjas en al. Maar die manlike spelers destyds, soos Troy Donahue, het na die Tweede Wêreldoorlog selde daardie troetelkussinkies onder hul boude gevoel op pad na roem toe. Hulle moes genadeloos op hul knieë neersak of wankelend staande probeer bly om rolle te kry, soos arme Roy Fitzgerald uitgevind het. Nadat hy ’n paar ritteltit-oudisies geslaag het, het hy Rock Hudson geword, en die res is Pillow talk-geskiedenis.

Hollywood gebruik hom, die ene naïwiteit en versiersuikervoorkoms, om gewig aan die Hollywood-sprokie te gee soos Ryan Murphy dink dit moes gewees het. En, ja, hét die geskiedenis maar so verloop, het Brokeback Mountain (2008) dalk vroeër sy tentpenne opgeslaan, en het die #MeToo-beweging vroeër begin.

In hierdie esteties bevredigende weergawe van hoe die pompjoggies by ’n vulstasie meer as brandstof in klante se tenks gegooi het (en dit is waar volgens Hudson se biografie), beland ’n fiktiewe heteroseksuele jongman met ’n ken soos ’n aambeeld (puik gespeel deur David Corenswet) by die pompstasie. Jack Castello ontdek ’n groep joggies met kruise groter as ’n kasregister. En so slaap hy sy pad oop na roem, vrou en kind veilig by die huis.

Met die arme Rock Hudson het dit moeiliker gegaan, en hierdie deel van die storie is grootliks waar. Hy het ’n vernielsugtige agent ontmoet wat sommer van meet af aan katel-eise gestel het. Henry Wilson (’n knap en grillerige Jim Parsons) het hierdie middernagcowboy herskep in ’n superster. In die werklike lewe het Hudson in die huwelik getree om sy beeld te beskerm, maar nie hier nie.

Swart mense is ook gruwelik misbruik en daar is woes teen hulle gediskrimineer – iets waarna die reeks verwys. Rassisme het geseëvier, en dit beeld Hollywood reg uit, maar net tot op ’n punt. Daarna word ’n droomkombers oor die feite getrek.

Al hierdie surigheid in die resensie kritiseer die glanslagie wat oor die reeks gesmeer is. Dit dien as waarskuwing dat die storie vir die oningeligtes is wat net kreukelpapiermooie vermaak soek. Dis gemaak vir kykers wat genotvol wil staar na wat hulle dink in Hollywood gebeur, maar nie altyd waar is nie. In daardie opsig is Hollywood omtrent so na aan die waarheid as ons aan internasionale lugreise op die oomblik. Wás dit maar so gewees, was die droomfabriek die paradys waaroor jong, ambisieuse sterre kon droom – kitsroem met ’n skeutjie katelplesiertjies op pad boontoe. En dit is inderdaad ’n wegsink-in-die-rusbank-reeks, veral vir gay kykers, wat veel vir die oog sal kry. Dit is immers ’n Ryan Murphy-reeks.

Dis so goed geolie (pun intended) soos ’n sportmotor wat deur Hollywood se strate jaag. Die kinematografie dartel deur kleurryke stelle, oor strate vol sterre, deur fluweelslaapkamers tot by troetelbankies, en rus dan bewonderend op kaal bolywe. O ja, dit bied gewis waarde vir die maandelikse fooi wat jy vir Netflix moet opdok.

Die spel is voortreflik. Die legendariese Patti LuPone as die eerste vrou wat ’n ateljee bestuur het, is weergaloos. (Haar Emmy-toespraak is seker alreeds geskryf!) Voeg daarby Holland Taylor, en veral Dylan McDermot as die eienaar van die pompjoggiekartel, asook Jake Picking as die onskuldige plattelandse seun Rock Hudson, en jy het ’n rolverdeling wat skrik vir niks. Murphy weet hoe om die regte mense vir stewige rolle te kies en om hulle so af te rig dat hulle die korrekte note slaan. In daardie opsig is Hollywood ’n fees. Darren Criss, Joe Mantello en veral Laura Harrier as ’n swart aktrise wat in Hollywood probeer naam maak, verdien ook vermelding.

Maar as jy die geskiedenis bestudeer en bewus is van die brutale waarheid, mag jy gelate sug: “Wolhaarstories!” Die oorgrote meerderheid van Hollywood is fiktief en fyntjies rondom die waarheid geweef.

Hierdie glansreeks lieg die waarheid van troetelbankie tot ratelende katel. Lekker man, lekker! Maar neem die lekkerte met ’n knippie sout.

Kyk die lokprent hier:

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top